Skip to main content

Levitikus 2 – Suurdeeg word verbied en sout gebied by die graanoffer

Die tweede hoofstuk vervolg met die tweede tipe offer aan die Here, die graanoffer van koring (nie van gars nie).  Weereens word nieseksistiese taal gebruik in die eerste vers: “Wanneer iemand vir die Here ’n graanoffer wil aanbied.”  Die vertaling “iemand” word in die vers gebruik vir die Hebreeuse něp̄ěš wat in hierdie konteks ook met “persoon” vertaal kan word.

Die graanoffer kon uit rou meel bestaan (met olie en wierook daarop), of in die vorm van gebakte broodringbrood in ‘n oond (keramiek pot), of roosterkoeke/platbrode van ‘n bakplaat of rooster af – of gebraaide vorm – diepgebraai, soos met oliebolle, of gerooster in ‘n bakpan, soos met gebraaide koring – aangebied word.

Die graanoffer moes sonder suurdeeg voorberei word, ook sonder heuning – hierdie heuning is waarskynlik eerder die “mos” van bv. druiwe wat gegis het.  Die suurdeeg was ‘n simbool vir die sonde soos ons uit die NT gebruik van hierdie metafoor aflei (vgl. hieronder).  Die suurdeeg van die sonde moes dus vermy word.

Dit kan ook wees dat die verbod op suurdeeg en heuning by die offers ‘n poging is om heidense rites te vermy, want die twee bestanddele was baie in die omringende volkere se rituele gebruik.  Die enigste uitsondering was vir die eerstelingoffer uit die eerste graan of vrugte van die oes waarby suurdeeg en heuning (“mos”) wel gevoeg kon word (Eks. 23:16).

Die graanoffer moes wel met sout voorgesit word. Die sout was weer die herinnering aan die krag van die verbond met God wat heeltemal beslag gelê het op hulle (vgl. ook Num. 18:19).

‘n Deel van die graanoffer is verbrand op die altaar as ‘n simbool van die hele offer.  Die res was vir die priesters om in ‘n gewyde deel van die tabernakel te eet.  Dit herinner aan die nagmaal waar gelowiges die brood van die lewe ontvang in hulle gemeenskap met die Here Jesus.

Later sou dié riglyn verder verfyn word, want ‘n graanoffer kon sonder die olie en wierook ook as ‘n sondeoffer gebring word deur die regtige arm persone, mense wat nie eers duiwe kon bekostig nie (Lev. 5:11-13).

Die boodskap vir vandag: suurdeeg, sout en die brood

Drie aspekte van die graanoffer dra vandag nog vir ons ‘n boodskap, die suurdeeg, die sout en die brood.

SUURDEEG

Jesus gebruik die metafoor van suurdeeg op twee maniere.

  1. In die negatiewe gebruik daarvan waarsku Hy gelowiges in die NT teen die suurdeeg van die Fariseërs en lê dit uit as hulle skynheiligheid (Luk. 12:1) sowel as die leer van die Fariseërs wat dinge voorskryf vir mense, maar nie self daaraan gehoorsaam is nie (Matt. 16:12).
  2. In die positiewe gebruik daarvan moedig Hy gelowiges in die NT aan om deel te raak van die koninkryk wat soos suurdeeg hierdie wêreld verander sodat God se heerskappy oral gevestig kan word (Matt. 13:33).

Paulus gebruik die metafoor van suurdeeg op drie maniere.

  1. In die eerste plek waarsku hy gelowiges teen die suurdeeg van mense wat die besnydenis wil afdwing op gelowiges wat uit die heidene kom (Gal. 5:8). Hulle moet vasstaan in die vryheid wat Christus gebring het.
  2. In die tweede plek waarsku hy gelowiges wat die sonde van die “ou suurdeeg” toelaat, d.w.s. mense soos die man en sy stiefma wat in ‘n bloedskandelike verhouding saamleef met die goedkeuring van die geloofsgemeenskap. Dit is soos “ou suurdeeg” wat die geloofsgemeenskap deursuur en tot onsedelikheid verlei.  Hulle moet die “ou suurdeeg” verwyder sodat daar inkeer kan kom.
  3. In die derde plek beskryf hy ‘n hele aantal ander moreel-etiese sondes – onsedelikheid en “ander sondes” – wat in die gemeenskap van die gelowiges toegelaat word, as die “suurdeeg van onsedelikheid”. In die konteks verwys hy na gelowiges wat onsedelik of geldgierig of ’n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is, en nie deur die geloofsgemeenskap tot orde geroep word nie.  Daarom roep hy hulle almal op om fees te vier: “nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van onsedelikheid en ander sonde nie, maar met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid.” (1 Kor. 5:8).  Dit is duidelik dat Levitikus se riglyne vir reinheid sowel as die waarheid wat hulle in Jesus Christus leer ken het die begronding is vir sy lering.  Almal moet steeds in lyn kom met daardie riglyne, selfs in die nuwe verbond.

SOUT

Jesus gebruik die metafoor van sout op twee maniere wat telkens met hierdie “sout van die verbond” van Levitikus verbind kan word:

  1. Jesus gebruik dit in die eerste plek om die identiteit en roeping van gelowiges uit te spel as die “sout van die aarde” wat smaak gee en bederf teenwerk. Matteus haal Jesus hieroor soos volg in die Bergrede aan: “Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ’n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.” (Matt. 5:13). Lukas verwys na dieselfde uitspraak van Jesus en haal Hom só aan: “Sout is ’n goeie ding. Maar as sout verslaan het, waarmee sal dit weer sout gemaak word? Dit is nie eers bruikbaar vir die grond of vir die mishoop nie. Hulle gooi dit buitekant weg. Wie ore het om te hoor, moet luister!” (Luk. 14:34-35).

Jesus moedig hiermee gelowiges aan om God deur hulle goeie dade sigbaar te maak vir ander veral in hulle stryd vir geregtigheid, die hooftema van die hele Bergrede.  Dit is God se bedoeling met hulle lewe.  Gelowiges moet hulle werk as sout doen, anders is hulle lewe as gelowiges niks werd vir God of hierdie wêreld nie.

Dié metafoor was baie gepas in die lig van die probleme wat mense in daardie tyd ervaar het met die sout wat van die Dooie See af kom. Dit was soms só onsuiwer dat niemand daarmee kon kook nie en dit buite gegooi is en deur die mense vertrap is.  Jesus sê dus, God se mense moet bruikbaar wees in die gemeenskap en doen wat sout doen: smaak gee en bederf teëwerk in hierdie wêreld.

  1. Jesus koppel die metafoor in die tweede plek aan die loutering deur die vuur van beproewing. Markus haal hom só aan: “Almal sal met die vuur van beproewing gelouter word.  Sout is goed, maar as sout sy krag verloor het, waarmee sal ’n mens dit weer sout maak?  Julle moet werklik sout wees en in vrede met mekaar lewe.” (Mark. 9:49-50).  Daarmee word bedoel dat die vuur van loutering – soos die offer op die altaar in die vuur verbrand is – hulle die krag sal gee om hulle roeping as die sout van die aarde na te kan kom. Dit sal hulle ook in staat stel om in die geloofsgemeenskap in vrede met mekaar te lewe, omdat hulle almal dieselfde lot deel.

Paulus gebruik die metafoor van sout uit Levitikus een maal en verbind dit aan die impak van ons woorde: “Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord.”(Kol. 4:6 – OAV).

BROOD

Jesus verklaar oor Homself dat Hy die Brood van die Lewe is, ‘n verwysing na die manna in die woestyn sowel as waarskynlik die graanoffer in Levitikus (Joh. 6:22-59): “Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.” (6:54).  Daar is ‘n duidelike verband tussen die priesters wat in die Tabernakel die gewyde graanoffers geëet het en die gelowiges wat in die NT die nagmaal geniet.  Let ook op die “bloed” wat die verband met die offers van Levitikus verder versterk.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Levitikus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Inleiding op JakobusJesus en Jakobus is halfbroers deur Maria. Hulle het dieselfde ma, maar nie dieselfde pa nie. Josef was Jakobus se pa. God was Jesus se Vader.
  • Betsy Bester on Inleiding op JakobusHoekom word daar verwys Na Jakobus as Jesus Se halfbroer in die 83 vertaling
  • Chris van Wyk on Hosea 4:1-5:7Juda is op hierdie punt gewaarsku (ongeveer 740 vC), en hulle het veral onder koning Hiskia 'n paar dekades later die Here weer gedien. Maar, uiteindelik het hulleself onder die oordeel gekom weens die wydverspreide sondes van die konings, priesters, en gewone mense, en is in ballingskap weggevoer i…
  • Renier on Hosea 4:1-5:7Goeie more. Verstaan ek reg? Die Juda-lyn was gewaarsku, nie ook veroordeel nie? En wat beteken dit vir ons wat daarna verwek was?
  • Chris van Wyk on Lukas 23Ek stuur.
  • Elma Bosch on Lukas 23Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Kan u dit asb vir my email na elmab0708@gmail.com
  • Trudie Vorster on Nuusbrief Mei 2025Prys die Here🙏🙏🙏
  • Chris van Wyk on Matteus 27Ek waardeer die terugvoer. Ek stuur vir jou die lêers per e-pos.
  • briefly31ea27a91f on Matteus 27Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Is dit moontlik om dit ook vir my te stuur. E-pos : heydenrychwilma1961@gmail.com Ek is van die NG Gemeen…
  • Chris van Wyk on Matteus 27Hi Neels, ons lees nie in die NT dat Petrus eksplisiet sy sonde voor die Here bely en om vergifnis vra nie. Ons sien wel dat dit indirek gebeur met sy hartseer in die voorhof ná hy die Here Jesus verloën het (Luk. 22:62). Ons sien dit ook in sy keuse om na Jesus te gaan op die strand en in die gespr…
  • Neels Fourie on Matteus 27Goeie more prof, kan jy vir my die skrif stuur waar Petrus vergifnis gevra het asb
  • Chris van Wyk on Lees Handelinge en die NT briewe kronologies saam met my deur van 7 Junie afEk sien self uit na die reis!
  • Dianne on Lees Handelinge en die NT briewe kronologies saam met my deur van 7 Junie afBaie dankie vir die geleentheid om saam met julle deur die woord te reis.Amen
  • andrebrophy812 on Johannes 17Good day sir. Thank you for the meaningful insight. May the Good Lord bless and keep your own spirit always in connection with the Holy spirit
  • Chris van Wyk on SubscribeWelkom. Ek stuur na jou Inbox.