Levitikus 23 – Vyf feeste om saam in die teenwoordigheid van die Here te vier

Waar Moses die vorige voorskrifte direk aan die adres van Aäron en die priesters gerig het, word hierdie laaste vyf hoofstukke van Levitikus 23 tot 27 gerig aan die hele geloofsgemeenskap van Israel.  Wat hy hier te sê het in opdrag van die Here geld vir hulle almal.  In hoofstuk 23 word begin met die gereelde viering van die Sabbatdag waarna die vyf hoof feeste van Israel aangekondig en beskryf word (vgl. Num. 28-29 wat meer detail hieroor bevat).

Die Sabbatdag word as ‘n rusdag beskryf – van sononder tot sononder – sowel as ‘n dag waarop ‘n gewyde byeenkoms vir die Here gehou moet word.  Dit moes gehou word ongeag waar die Israeliete sou woon.  Dit sou hulle unieke kenmerk as geloofsgemeenskap wees in al die gemeenskappe waar hulle sou woon.

Die vyf feeste word as volg uitgespel:

  1. Die Paasfees en die fees van die ongesuurde brood is vanaf die veertiende van die eerste maand gevier in die lente – Lev. 23:4-8. Dit was ‘n week van offers aan die Here wat met ‘n Sabbatdag afgesluit is.  Dit was ook een van die pelgrimsfeeste waar van alle Israeliete verwag is om in Jerusalem saam te trek. Die ander was die (Loof)huttefees;
  2. Die Fees van die weke is sewe weke ná die Paasfees gevier met die oesfees (graan) in die somer – Lev. 23:9-22 vgl. Num. 29:26). Dit het bekend geword as Pinkster, omdat dit op die “vyftigste dag” gehou is (Pinkster beteken vyftig).  Die eerstelinge van die oes moes na die Tabernakel gebring word om as teken van dankbaarheid teenoor die Here te dien.  Hulle mag op geen manier van die oes gebruik het vóór dié offer nie.  Hulle moes tydens die oes ook aan die armes dink.  Let op dat hierdie offer hulle vir die Here aanneemlik gemaak het.  Hulle offers het ook ‘n brandoffer ingesluit, sowel as ‘n graanoffer en ‘n een liter wyn as drankoffer.  Interessant is dat dié fees mettertyd aan die gawe van die Tien Gebooie op Sinai gekoppel is, omdat dit drie maande ná die Uittog, en gevolglik die eerste Paasfees, gehou is (Eks. 19:1).  Daarom het hierdie fees ook ná die ballingskap die Fees van die wet geword;
  3. Die dag vir die blaas van die trompet (sjofar) was ook die Nuwejaarsfees en is op die eerste dag van die sewende maand gehou as ‘n herinnering aan al God se beloftes – Lev. 23:23-25 (vgl. Num. 29:1-6);
  4. Die Groot Versoendag was op die tiende dag van die sewende maand as ‘n verootmoedigende vasdag gehou – Lev. 23:26-32;
  5. Die (Loof)huttefees was aan die fees van die insameling van die oes (vrugte soos olywe en druiwe) gekoppel en op die vyftiende dag van die sewende maand in die herfs gehou – Lev. 23:33-26 (vgl. Num. 29:12).  Met dié fees sou hulle die tyd in die woestyn herdenk deur in hutte te bly vir ‘n week.  Dit was die ander pelgrimsfees saam met die Paasfees.  Vergelyk die vyftien Pelgrimspsalms wat mettertyd vir hierdie reis geskryf is: Psalm 120-134.

Hierdie vyf feeste was ‘n uitbreiding van die drie feeste van:

  1. Eksodus 23:14-17 (fees van die ongesuurde brood wat direk na die Paasfees gehou is, die oesfees, en die fees van die insameling);
  2. Eksodus 34:18-26 (dieselfde drie met die oesfees wat ook die fees van die weke genoem is);
  3. Deuteronomium 16:1-17 (die Paasfees en die fees van die ongesuurde brood, die fees van die weke wat ‘n aanvang neem met die oesfees, en die (loof)huttefees wat aan die insameling van die oes gekoppel is).

Twee dae is dus as feeste bygevoeg.  Die Groot Versoendag omdat dit met die hele offerkultus saamgehang het wat in Levitikus 16 beskryf is.  Die Nuwejaarsfees wat hier as die dag vir die blaas van die trompet bekendgestel word.

Boodskap: Jesus vervul met sy lewe en bediening die vyf feeste en sluit hulle betekenis vir ons op ‘n nuwe manier oop

Die Sabbat en hierdie feeste was van groot belang om die gemeenskap van Israel rondom die groot dade van God in die verlede sowel as die groot gebeure in hulle eie lewe rondom hulle oeste te verenig.  Daarin lê hulle rus en hulle vrede opgesluit.  Dit het nie net as ‘n herinnering gedien van wie God vir hulle is nie, maar het ‘n baie groot gemeenskapskeppende funksie gehad.

Dié funksie kan ook in die lewe en bediening van Jesus gesien word:

  1. Hy besoek saam met sy ouers Jerusalem vir die Paasfees op ‘n pelgrimstog uit Nasaret as twaalfjarige kind en tree in gesprek met die geleerdes (Luk. 2:41-52).
  2. Hy vier getrou die Sabbatdag en gebruik dit om sy boodskap van genesing en genade aan die hele Joodse gemeenskap te bring. Hy verruim ook die Jode se gedagtes oor die betekenis van dié dag.
  3. Hy reinig die tempel op die Paasfees (Joh. 2:13-22) waartydens baie mense tot geloof in Hom gekom het.
  4. Hy reis na Jerusalem, waarskynlik vir die (Loof)huttefees waar hy onder andere die verlamde man by die bad van Betesda genees (Joh. 5:1-17).
  5. Hy vermeerder die brood net voor ‘n volgende Paasfees (Joh. 6:1-15) en leer die mense dat Hy die brood van die lewe is.
  6. Hy lewer sy groot uitnodiging dat almal wat dors het na Hom toe moet kom om te drink (as teken van die Heilige Gees) op die laaste dag van die (Loof)huttefees (Joh. 7:1-52).
  7. Hy wek Lasarus op uit die dood net voor ‘n derde Paasfees waaraan Hy sy lering van die opstanding uit die dood koppel (Joh. 11:1-57).

Trouens, Johannes beskryf eintlik Jesus se hele openbare Joodse bediening in Johannes 1:19-12:50 binne die raamwerk wat die twee pelgrimsfeeste van die Paasfees en die (Loof)huttefees bied.  Daarmee bevestig Hy sy ware identiteit as die Seun van God met nie net die talle wondertekens nie, maar ook binne die konteks van die Joodse feeste.

Johannes doen dieselfde met die laaste deel van sy boek waar hy die persoonlike bediening van Jesus aan sy dissipels – wat uitmond in sy verheerliking deur sy lyding, kruisdood en opstanding – as publieke getuienis aan die wêreld binne die konteks van Jesus se laaste Paasfees beskryf – Johannes 13:1-20:31.

Maar nog dieper as dit.  Elkeen van hierdie vyf feeste kan met die betekenis wat die Here Jesus Christus vir die kerk tot aan die einde van die tyd gaan hê, verbind word.  Ek gee net ‘n kort opsomming daarvan.  Die eerste drie feeste het ‘n direkte verband.  Die laaste twee ‘n indirekte verband:

  1. PAASFEES: Jesus is ons Paaslam (1 Kor. 5:7). Hy sterf op die Paasfees.  Ons vier dit deur die Nagmaal wat Hy op die Joodse Paasfees – “die eerste dag van die ongesuurde brood, die dag waarop die Jode altyd die paaslammers geslag het” – ingestel en vir ons as ‘n sakrament nagelaat het om te vier (Mark. 14:12-25; Matt. 26:17-35; Luk. 22:7-38).
  2. PINKSTERFEES: Jesus stort die Heilige Gees op die kerk uit op Pinksterdag (Hand. 2:1-42). Dit is op die oesfees aan die einde van die fees van die weke, die vyftigste dag soos dit in Levitikus 23 vir die fees bepaal is.  Die feit dat Jesus die Eersteling uit die dood is, word ook met die fees van die eerstelinge verbind (1 Kor. 15:20).
  3. GROOT VERSOENDAG: Jesus word op ‘n baie besondere manier die vervulling van die Groot Versoendag deurdat Hy die volmaakte offer bring om eens en vir altyd versoening vir alle gelowiges se sondes te bewerk, soos ek reeds by Levitikus 16 uitvoerig aangetoon het. Vergelyk my bydrae en lees Hebreërs 7-10, veral 9:23-10:31.
  4. NUWEJAARSTROMPET: Daar is ook ‘n interessante indirekte verband wat tussen die dag vir die blaas van die trompet, die viering van die Nuwejaar, en die opstanding van die dooies met die “laaste trompet” waarvan Paulus praat, getrek kan word (1 Kor. 15:50-58).
  5. (LOOF)HUTTEFEES – die insameling van die oes: Dieselfde geld die indirekte verband tussen die fees van die insameling van die oes ([Loof]huttefees]) wat met die insameling en onderskeid tussen gelowiges en ongelowiges aan die einde van die tyd verbind kan word. Jesus vertel ‘n paar gelykenisse wat daarmee verbind kan word (die boere en die wingerd – Mark. 12:1-12; Matt. 21:33-46; Luk. 20:9-19; die onkruid en die koring – Matt. 13:24-43).  Hy sien sy bediening ook as ‘n tyd vir die oes, soos Hy aan sy dissipels verduidelik in sy gesprek met die Samaritaanse vrou (Joh. 4:35-38; vgl. Matt. 9:35-38).  Trouens, die werk van sy dissipels vorm deel van sy eie insameling van die oes (Luk. 10:1-24).  Paulus gebruik die metafoor van die oes om die gelowiges tot ‘n heilige lewe op te roep (Gal. 6:8-9; 2 Kor. 9:10).  Johannes gebruik oes metafore om dieselfde boodskap in die Openbaring te bring (vgl. Openb. 14 en 19).
View all posts in this series

Levitikus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

    • Hi Anna-marie. Die oorspronklike gelofte by Bloedrivier was bedoel as ‘n gebed van die Voortrekkers wat teen Dingaan in ‘n “straf-ekspedisie” opgetrek het weens die verbreking van sy verdrag met hulle dat hulle ‘n stuk grond van hom sou ontvang.

      Dit was in reaksie op die feit dat Piet Retief en 90 mans wreedaardig vermoor is in Umgungundhlovu, Dingaan se hoofstad, sowel as nog 600 mans, vroue en kinders by die Bloukrans- en Boesmansrivier deur die Zoeloe-impis. Al die Voortrekkers in Natal se voortbestaan was dus bedreig.

      Die meer as 500 mans het by Bloedrivier ‘n laer getrek in voorbereiding vir die geveg met meer as 10 000 Zoeloe soldate en het die volgende gelofte afgelê in die week voor die slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838:

      “dat hy aan den Almagtigen eene gelofte doen wilde (indien allen wel wilden),—’om zoo de Heere ons de overwinning geven mogt, een Huis tot zynes Grooten Naams gedachtenis te stichten, alwaar het Hem zal behagen’— en dat zy ook moesten afsmeken, de hulp en bystand van God, om deze gelofte zeker te kunnen volbrengen, en dat wy den dag der overwinning, in een boek zullen aantekenen, om dezelve bekend te maken, zelfs aan onze laatste nageslachten, op dat het ter Eere van God gevierd mag worden.”

      Dit is die oorspronklike Nederlandse gelofte wat JG Bantjes ‘n week voor die slag van Bloedrivier in sy dagboek opgeteken het en wat in huisgodsdiens deur die manne afgelê is tot en met die slag van Bloedrivier.

      Belangrik, daar is in die oorspronklike weergawe van die gelofte nie sprake van die viering van dié dag as ‘n Sabbat nie. Net ‘n voorneme om die uitkoms van die dag as gebedsverhoring te vier.

      Soos ons uit die geskiedenis weet, is die gebed verhoor, en het die Voortrekkers ‘n oorwinning behaal, sonder lewensverlies aan hulle kant. 3 000 Zoeloes is egter dood. Die uitkoms was dat die Voortrekkers ‘n veilige ruimte in Natal vir hulleself bekom het. Dit het ook ruimte verskaf vir die uitbreiding van die evangelie. ‘n Kerk is later daar gebou sowel as ‘n Kweekskool in die omgewing.

      Dié uitkoms van dié dag kan dus gevier word op die 16de Desember, in die eerste plek deur hierdie groep mense se nageslag, maar ook deur almal wat kan identifiseer met God wat uitkoms gee as gebedsverhoring.

      Die idee dat Geloftedag as ‘n Sabbat gevier moet word, is egter problematies. Die gedagte vind sy oorsprong in die joernaal van Sarel Cilliers wat eers 30 jaar na die slag van Bloedrivier die gelofte opgeteken het. Hy het daarin bygevoeg dat die dag as ‘n Sabbat gevier moet word.

      Hierdie idee het egter nie regtig posgevat tot in die volgende eeu nie, toe die dag in 1952 deur die Suid-Afrikaanse regering as ‘n Sabbat verklaar is waarmee Geloftedag ‘n Christelik-nasionale betekenis gekry het.

      Geloftedag het verder met die nuwe bedeling van 1994 in ons land verander in Versoeningsdag waarin die idee van die versoening tussen mense in ons land die voorrang kry, waarmee die verband met Geloftedag verminder is.

      Gelowiges is dus steeds welkom om die gelofte en sy uitkoms te vier, hetsy as nasate van die oorspronklike Voortrekkers óf as mense wat kan identifiseer met die God van die gelofte wat uitkoms as gebedsverhoring gee.

      Jy kan na ‘n breër verduideliking luister by die praatjie van Ds Marnix Boersema, predikant in die Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: