Levitikus 16 – Die Groot Versoendag bring versoening met God en reiniging van die sonde

Die eerste vers van Levitikus 16 verbind die opdragte rondom die jaarlikse Groot VersoendagYôm Kipper – aan die tragedie van Levitikus 10 waar die twee seuns van Aäron, Nadab en Abihu, gesterf het toe hulle ‘n ongeoorloofde offer aan die Here gebring het.  Die Here wil Aäron nou leer hoe om op die regte manier versoening vir homself, die priesters en die hele geloofsgemeenskap van Israel te doen sodat hulle van hulle sonde gereinig kan word. Die hoofstuk sluit dan ook af met die opdrag om dit as ‘n vaste jaarlikse instelling te onderhou.

Levitikus 11-15 het alreeds ‘n groot rol gespeel om die rituele reinheid uit te spel wat nodig is in terme van dieet, geboorte, bloedvloeiing en ander afskeidings sowel as velsiektes wat toegang tot die Tabernakel verleen het.  Hierdie reinheidsvoorskrifte het vir almal gegeld.  Levitikus 16 fokus egter nou op die voorskrifte vir die hoëpriester om sy groot taak om jaarliks versoening vir die volk te doen, uit te voer.  Daarom is die hoofstuk ‘n gepaste afsluiting van die eerste hoofdeel van Levitikus, die Priesterlike en Levitiese Gedragskode.  Dit verskaf ook die basis vir die tweede hoofdeel, die Heiligheid Gedragskode, wat hierna sal volg.

Die datum van dié versoendag word hier aangegee as die tiende van die sewende maand, net voor die huttefees (vgl. Levitikus 23:26-32). Dit was ook ‘n vasdag wat by die verootmoediging van die versoening gepas het.  Levitikus 25:9 spel verder hierdie versoendag as die dag uit wat elke sewende jaar ‘n sabbatsjaar as algehele rustyd vir die landbougrond ingelei het, en elke vyftigste jaar ‘n jubeljaar (hersteljaar), wanneer ‘n algehele landswye afskryf van skuld geproklameer is, elke Israeliet sy grond teruggekry het en elkeen na sy familie toe kon teruggaan.  Numeri 29:7-11 spel dit daarom as ‘n dag van verootmoediging uit.

Die gewigtigheid van hierdie dag word onderstreep deur die feit dat die hoëpriester net een keer ‘n jaar agter die voorhangsel wat die Heiligste van die Allerheiligste geskei het, mag ingegaan het.  Dit is die plek waar God se teenwoordigheid op die versoeningsdeksel van die verbondsark aan Aäron verskyn het.  Hy mag op geen manier “sommer” daar ingegaan het op enige ander dag as die Groot Versoendag nie.

Die versoening en reiniging het soos volg verloop:

  • Aäron – en ná hom een van sy nageslag wat as hoëpriester georden is – moes die gewyde klere van ‘n priester aantrek ná hy homself gereinig het en met ‘n bul as sondeoffer en ‘n ram as brandoffer vir homself en al die priesters versoening gedoen het. Die bloed is agter die voorhangsel ingeneem, op die ark gesprinkel, terwyl ‘n rookwolk van ‘n dubbele handvol wierook die deksel van die ark bedek het.
  • Daarna het die twee bokramme as sondeoffer – geskenk deur lede/leiers van die volk – aan die beurt gekom wat versoening gedoen het vir al die sondes van die Israeliete. Die een bokram is geloot om geoffer te word “vir die Here” en die bloed ook agter die voorhangsel ingeneem as teken van versoening. Die ander bokram wat “vir Asasel” geloot is, moes bly lewe en is die woestyn ingejaag as teken van die reiniging en afstanddoening van die sonde: “So sal die bok al hulle sonde met hom saamdra na ‘n onherbergsame streek toe en daar in die woestyn moet hy agtergelaat word.”  Die naam Asasel beteken “bok wat weggaan” wat moontlik sinspeel op die naam van ‘n vername bose gees, soos dit in die Intertestamentêre literatuur (bv. Henog 8:1) en die Talmoed beskryf word.  Dit dra dan die betekenis dat die sonde teruggegee is aan die bron daarvan en dat die Israeliete van die bose se invloed gereinig is.
  • Heel laaste is ‘n skaapram as brandoffer gebring wat die versoening voltooi het vir die hele volk in die teenwoordigheid van die Here.

Aäron het die instruksies uitgevoer en die hele gemeente het in die teenwoordigheid van die Here die genade van dié eerste Groot Versoendag beleef.

Interessant genoeg is daar ‘n verwysing na die Groot Versoendag op Paulus se reis na Rome (Hand. 27:9).  Die NAV het die woord wat na die Groot Versoendag verwys op onverklaarbare wyse uitgelaat.  Paulus verwys in die oorspronklike Grieks na: “die vastyd” wat al verby was met die gebruiklike Griekse woord nēsteia wat na die Groot Versoendag verwys en vir ons vandag beter bekend is as Yôm Kippur.

Daar is egter geweldig baie raakpunte tussen die boodskap van hierdie gedeelte oor die Groot Versoendag en aspekte van die teologie van die NT waarop ek in die boodskap gedeelte sal ingaan.

Boodskap: Ons vier Goeie Vrydag as die Groot Versoendag

  1. VERSOENING: Die eerste raakpunt is tussen die versoening van die Groot Versoendag en die versoening van Goeie Vrydag met die Here Jesus Christus se kruisdood. Die Hebreërskrywer verwys drie keer na hierdie Groot Versoendag (Hebr. 6:19; 9:7, 11-14) en verbind die offer van die Here Jesus Christus aan die kruis met Goeie Vrydag spesifiek daaraan: “Maar Christus het gekom as Hoëpriester van die weldade wat nou verwesenlik is. Hy dien in die verbondstent wat groter en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê wat nie tot hierdie wêreld behoort nie. Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ’n ewige verlossing tot stand gebring.” (Hebr. 9:11-12).  Hierdie versoening oortref dié van die Groot Versoendag by verre.
  2. VOLKOME: Die tweede raakpunt is die impak wat hierdie versoening op die gelowiges van die NT gehad het. Nie net staan die eenmaligheid van die versoening van Goeie Vrydag in skrille kontras met die herhalende aard van die Groot Versoendag nie, maar die versoening van Goeie Vrydag is volkome: “Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van ’n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer.” (Hebr. 9:13-14).  Die Groot Versoendag kon nooit dié vryheid vir gelowiges bring nie.
  3. BEMIDDEL: Die derde raakpunt tussen die Groot Versoendag en Goeie Vrydag is dat die feit dat dié versoening bemiddel is, in die OT deur die hoëpriesters uit die nageslag van Aäron, in die NT deur die Een Hoëpriester Jesus Christus wat daarmee ook die Middelaar van ‘n nuwe verbond geword het. Jesus se kruisdood is nou die basis van die versoening wat ons met God beleef, nie meer die offerkultus van die Groot Versoendag.  Goeie Vrydag is nou ons Groot Versoendag, die Yom Kipper van die Christelike geloofsgemeenskap.  Deur die Here Jesus Christus se kruisdood het Hy ‘n ewige versoening vir elkeen geword wat in Hom glo: “Daarom is Hy ook die Middelaar van ’n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang.” (Hebr. 9:15).
  4. TOEGANG: Die vierde raakpunt tussen die Groot Versoendag en Goeie Vrydag is die toegang wat dit tot God aan gelowiges verleen het. Toe die Here Jesus aan die kruis op Golgota gesterf het, was daar ‘n aardbewing en het die voorhangsel tussen die Heiligste en Allerheiligste deel van die tempel geskeur (Mark. 15:38; Matt. 27:51; Luk. 23:45), waarmee gesimboliseer is dat die versoening van die Here Jesus Christus aanvaar is en vir altyd die toegang na God vir gelowiges oopgesluit het.  Dit oortref die waarde van die Groot Versoendag by verre.  Só lees ons dit in Hebreërs 10: 19-20: “Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam.”  Goeie Vrydag vervang dus die Groot Versoendag.
  5. REINIGING: Die vyfde raakpunt – en daar is meer – tussen die Groot Versoendag en Goeie Vrydag is die reiniging wat dit van sondes gebring het. Waar die bok “vir Asasel” die woestyn ingejaag is, het Jesus dit op Homself geneem en nie net vir ons versoening gebring nie, maar die sonde van ons verwyder om ons volledig te reinig: “Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” (1 Joh. 1:9).  Uiteraard is dit ‘n voortdurende proses waardeur ons die werke van die vlees in ons lewe deur die werking van die Gees doodmaak (Rom. 8; Gal. 5), maar dit berus op die eens-en-vir-altyd versoening wat Jesus vir ons bewerk het.  Dit kon die Groot Versoendag nooit regkry nie.  Goeie Vrydag wel!
View all posts in this series

Levitikus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: