Levitikus 5:14-6:7 – Die skuldoffer as restitusie en regstelling van konkrete sondes

Die vyfde en laaste offer is die skuldoffer wat steeds ook tot vergifnis lei, maar meer klem lê ook op die restitusie en regstelling van die skade wat die persoon aangerig het.  Dit kon gebeur het deur sy troueloosheid teenoor die heilige dinge van God (5:14-16 – dinge wat met die heiligdom geassosieer is), of deur sy onnadenkendheid teenoor God se gebooie (5:17-19) of deur die skade wat hy ‘n ander volksgenoot skade berokken het wat in wese as troueloosheid teenoor die Here beskryf word (6:1-7).

Dit gaan oor skade wat sonder opset aan bv. die seremoniële reëls van die heiligdom of aan die besittings van ‘n volksgenoot gedoen is, bv. deur belediging, nalatigheid of berowing, waarvoor restitusie – die skade plus 20 % – gedoen moes word.  Daarom praat sommige van die skuldoffer as ‘n hersteloffer.  Uiteraard gaan dit ook oor die oortreding van God se gebooie.

Anders as met die sondeoffer wat altyd na die heiligdom gebring is, kon die skuldoffer daarom in sekere gevalle op die voorgeskrewe manier direk aan die benadeelde persoon besorg word om die verhouding onderling te herstel.

Alle sondes, selfs dié wat jy teenoor ‘n ander persoon begaan het, was egter in die diepste instansie iets wat aan God gedoen word.  Alle mense is immers sy verteenwoordigers.  Die skuld moes daarom in die eerste plek teenoor God met ‘n skuldoffer vereffen word, gekoppel aan restitusie en regstelling waar dit nodig was.  Die rede daarvoor was dat die dinge van God heilig was, d.w.s. afgesonder vir hom.  Ook sy gebooie was heilig.  Ditto iemand anders se besittings.  Dit was heilig in die sin dat dit afgesonder was vir hom of haar en met respek en betroubaarheid deur almal hanteer moes word.

Die NT Saggeus se besluit om restitusie te doen, kom waarskynlik uit hierdie agtergrond van die besef van die skuld wat op ‘n manier vereffen moet word deur regstelling van die disrespek vir ander.  Saggeus gee egter nie net 20 % nie, maar 400% (Luk. 19)!

Maar die getuienis van die OT is uiteindelik ook sterk dat die skuldoffer as sodanig wel herstel gebring het, maar nie die harte van die mense kon verander nie, veral waar die lyn tussen onopsetlike sondes en doelbewuste benadeling van ander so fyn was.

Daarom bid Dawid presies daarvoor in Psalm 51 na sy sonde met Batseba dat Hy teen God alleen gesondig het en God se werk in sy hart nodig het: “Maar U verwag opregtheid diep in ’n mens se hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe.  Neem tog my sonde weg dat ek rein kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees.  Laat my weer blydskap en vreugde belewe.  U het my verbrysel; laat my weer jubel.  Moet tog nie ag slaan op my sondes nie, wis al my skuld uit!  Skep vir my ’n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.  Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie!  Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U weer met toewyding dien.  Dan sal ek oortreders leer wat U van ’n mens verwag; dat die sondaars hulle tot U sal bekeer.” (Ps. 51:8-15).

Boodskap vir vandag: Slegs ‘n hartsverandering kan ons skuld volledig uitwis

Aan die een kant is die beginsel van restitusie en regstelling – die skade plus 20 % is ‘n goeie riglyn – iets wat steeds nagevolg kan word, hoewel die seremoniële dele van die skuldoffer uiteraard nie meer nodig of van krag is nie.  ‘n Mens kan dit nie afdwing nie, maar die geestelike waarde hiervan sal steeds groot dividende lewer.

Aan die ander kant dui die skuldoffer egter op die dieper probleem van die mens.  Dit gaan nie net oor die uiterlike dinge waarin ons mekaar te na kom of waarin ons God se wil vir ons lewe oortree nie.  Dit gaan veral oor ons binnekant, oor die effek wat die sonde vanuit ons hart oor ons hele lewe uitoefen.

Trouens, die NT is baie helder daaroor dat dit waar is van alle mense.  Die hele wêreld gaan gebuk onder die skuld van die sonde, soos Jesus dit in sy laaste gesprek met sy dissipels voor sy kruisiging uitspel: “En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het.  Die wêreld is skuldig aan sonde, want die wêreld glo nie in My nie.” (Joh. 16:8-9).

Deur sy kruisdood het Hy egter die skuld van die sonde uitgewis en elkeen wat in Hom glo lewend gemaak: “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael.” (Ko. 2:13-14 – OAV).

Hy is dus ons skuldoffer wat nie net ons verhouding met God herstel nie, maar ons van binne af reinig en herstel sodat ons God kan dien met ons hele lewe (1 Joh. 1:7-9).  Dit is in dié boodskap wat die blywende betekenis van die skuldoffer uit Levitikus bestaan.

View all posts in this series

Levitikus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Skakel in by Veritas!Hi Hanneke, ek het die skakel gestuur.
  • Hanneke Meyer on Skakel in by Veritas!Ek fasiliteer reeds vir n geruime tyd modules 1 en 2, maar sou graag tog n paar van die zoom-byeenkomste bywoon vir verryking. Ek het n handleiding. Vriendelike groete Hanneke Meyer
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
%d