Skip to main content

Levitikus 27 – Geloftes in buitengewone en tiendes in normale omstandighede

Levitikus 27 vul die Heiligheid Gedragskode aan met ‘n uitgebreide bydrae oor geloftes – Lev. 27:1-29 – en ‘n kort bydrae oor die gee van tiendes – Lev. 27:30-34 – wat hulle verpligtinge in buitengewone omstandighede (geloftes – voorwaardelik of onvoorwaardelik) sowel as in die normale gang van die lewe (tiendes) gereël het.  Daar was in baie gevalle die moontlikheid van ‘n los- of terugkoop van iets wat as ‘n gelofte of ‘n tiende belowe of gegee is.  Die hoofstuk word afgesluit met ‘n finale opmerking dat dit saam met al die vorige voorskrifte van die boek Levitikus die gebooie is wat die Here deur Moses by die Sinaiberg vir die Israeliete gegee het.

Geloftes in buitengewone omstandighede – Lev. 27:1-29

Let op dat geloftes in besondere of buitengewone omstandighede gemaak is. So staan dit in vers 1 in die Hebreeus: ’n besondere of buitengewone gelofte.”

  • In die geval van mense wat aan die Here in ‘n gelofte gewy is (bv. Simson en Samuel) kon hulle op die voorgeskrewe manier losgekoop word. Die ouderdom en geslag van die persoon wat toegewy is word in ag geneem sowel as die vermoë van die persoon wat die gelofte gemaak het.
  • In die geval van ‘n rein dier wat geoffer is, kon die dier nie omgeruil word nie. ‘n Poging daartoe het beteken dat jy die plaasvervanger dier ook moes offer.  In die geval van ‘n onrein dier kon die priester ‘n beslissing vel.
  • In die geval van ‘n huis kon die huis ook losgekoop word volgens die toestand van die gebou. Die een wat die gelofte gemaak het, kon dit terugkoop vir die waarde plus twintig persent.
  • In die geval van grond het die drakrag en nabyheid al dan nie aan die Jubeljaar die loskoopwaarde bepaal. As dit egter nie teruggekoop is in die Jubeljaar nie, het dit deel van die priesters se grond geraak, behalwe in die geval van erfgrond wat weer teruggegaan het na die oorspronklike eienaar.

Eerstelinge het nie getel nie, want hulle het in elk geval aan die Here behoort.  Dieselfde het dinge en persone wat geban is, gegeld.

Voorbeelde van geloftes in die OT en NT

Ons lees by een van die voorvaders, Jakob, van ‘n gelofte wat afgelê is vir beskerming, hoewel daar uiteraard nog geen voorskrifte was vir hoe dit nagekom is nie.  Ons lees wel daarvan dat dit die Here se goedkeuring weggedra het (Eks. 28:20; 31:13).

Die nakom van geloftes vir vroue het van hierdie voorskrifte verskil deurdat ‘n pa ‘n vetoreg ten opsigte van ‘n gelofte van sy ongetroude dogter gehad het.  Dieselfde het gegeld vir ‘n man ten opsigte van sy vrou.  As die mans nie saamgestem het met die gelofte nie kon hulle dit ongeldig verklaar, behalwe as hulle nie betyds opgetree het nie (Num. 30).  Weduwees en geskeide vroue was hiervan uitgesluit en is aan hulle geloftes gehou.

Moses het later die volk baie spesifiek geleer om nie te talm om geloftes na te kom nie, en eerder geen gelofte te maak as wat hulle in gebreke bly om dit na te kom (Deut. 23:21-23).  Hierby het die Prediker ook aangesluit en gewaarsku teen ligsinnige geloftes wat nie betaal word nie.  Dit kon jou suur bekom (Pred. 5:3).  Maleagi het ook gewaarsku teen ‘n gelofte offer wat van minderwaardige kwaliteit was: “en dan ’n verminkte ding aan die Here offer.” (Mal. 1:14).

Die verhaal van die rigter Jefta wat sy dogter geoffer het weens ‘n gelofte wat hy gemaak het, bly ‘n raaisel vir my, aangesien hierdie loskoop voorskrifte van Levitikus beskikbaar was en hy haar sou kon loskoop. Hy het óf hom nie daaraan gesteur nie, óf net nie daarvan geweet nie.  Voorwaar ‘n tragiese deel van die geskiedenis van Israel (Rigt. 10:6-12:7).

Die verhaal van Hanna is egter ‘n wonderlike voorbeeld van die waarde van geloftes soos Levitikus dit aan die volk voorgehou het.  Sy het die Here vertrou en belowe dat Samuel aan God gewy sal wees.  Die Here het haar gebed verhoor met die geboorte van Samuel, waarna Elkana, haar man, namens hulle albei die voorgeskrewe gelofteoffer gebring het (1 Sam. 1:11-23).

Dieselfde geld koning Lemuel van Massa oor wie sy ma ‘n gelofte gedoen het (Spr. 31:2) om hom te begelei om die regte vrou te trou, wat ‘n neerslag gevind het in die beskrywing van die besondere knap vrou van Spreuke 31.

Nasireërs wat hulle aan die Here toegewy het of ‘n verpligting op hulle geneem het (Num. 30:2), het ook bykomend ‘n gelofte afgelê om geen alkohol te gebruik nie, nie te skeer nie, en nie naby lyke te kom tydens hulle gelofte tydperk nie.  Hierdie gelofte kon ook vir ‘n mens se hele lewe geld, soos in die geval van Simson, ‘n onvoorwaardelike gelofte (Rigt. 13).  Vgl. ook die Rekabiete wat ‘n soortgelyke gelofte afgelê het om geen alkohol te gebruik of huise te bou en gewone boere te word nie.  Hulle het in tente gebly en met hulle vee rondgetrek uit lojaliteit aan hulle voorvader Jonadab (Jer. 35).

Dawid se verbintenis aan die Here om vir Hom ‘n tempel te bou, is ook met ‘n gelofte belowe, hoewel die Here in die geval die gelofte omgekeer het – soos mans dit met hulle dogters of vroue kon doen – en Dawid nie toegelaat het om sy gelofte na te kom nie, aangesien die Here self vir Dawid sou seën met ‘n dinastie van konings uit sy geslag, en Dawid se hande nie rein genoeg was om dié heilige plek te bou nie (2 Sam. 7).  Die gesprek tussen God en Dawid is verewig in ‘n pelgrimslied Psalm 132.

Ons lees twee keer in die NT van die nakom van geloftes hoewel die presiese omstandighede nie uitgespel word nie.  Albei kere is Paulus betrokke, een keer as die een wat die gelofte gemaak het, en ‘n ander keer as iemand wat ‘n gelofte namens ander betaal het.  Dit getuig egter daarvan dat geloftes nog van krag was in die NT bedeling (Hand. 18:18; 21:23).

Tiendes in normale omstandighede – Lev. 27:30-33

‘n Kort opsomming van die gee van tiendes in normale omstandighede word ook gegee met die oog op die voorskrif vir ‘n “terugkoop” wat jy kon doen deur die waarde te betaal plus twintig persent.  Dit het graan, vrugte, beeste en kleinvee gegeld.  Interessant is dat die keuse ewekansig gedoen is sonder om te kyk of bv. ‘n dier nou goed of sleg is.  As jy egter probeer het om ‘n dier om te ruil, het jy albei diere verloor!

Hierdie voorskrif sal nog uitgebrei word in Numeri 18 en Deuteronomium 26 waaruit dit duidelik sal blyk dat die tiendes aan die Leviete en priesters behoort het, omdat hulle deur die Here opdrag gegee is om nie ekonomies aktief te wees nie, maar hulle lewe volledig te wy aan die diens van die heiligdom.  Hulle moes egter op hulle beurt ‘n tiende vir die Here uit die tiendes van die Israeliete gee, waarvan ‘n deel die hoëpriester toegekom het (Num. 18:21-32).  Elke derde jaar se tiendes het ook die vreemdelinge, weeskinders en weduwees gebaat (Deut. 26:12-15).

Lees meer oor tiendes in my vroeëre bydrae daaroor sowel as die wyse waarop die profete dit aangespreek het in Maleagi 3.  Jy kan ook meer lees oor die enigmatiese figuur Melgisedek in my bydrae oor Genesis 14 sowel as Psalm 110 en die NT verbintenis aan die Here Jesus Christus in my bydrae oor Hebreërs.  Geniet!

Boodskap: Geloftes en Tiendes verbind gelowiges aan God se voorsiening en betroubaarheid

Levitikus 27 is ‘n gepaste afsluiting van die boek.  Elke gelofte wat iemand gemaak het, het vertroue in die Here se voorsiening uitgespreek sowel as ‘n verbintenis om Hom te dien, kom wat wil. Wanneer die gelofte sy doel gedien het, is die Here vir sy betroubaarheid geloof met die voorgeskrewe offer.  Dieselfde het die tiendes gegeld.  Elke tiende wat iemand gebring het, het ‘n dankbaarheid vir die Here se voorsiening uitgespreek en as verbintenis gedien om die Here te dien, kom wat wil.

Die feit dat die wet voorsiening gemaak het vir die los- of terugkoop van persone, diere of besittings het wel ‘n genadige omgang daarmee verteenwoordig, maar steeds die verbintenis van die gelofte en die tiende bevestig.  Geloftes maak skuld!  Dieselfde het die tiende gegeld.  Geloftes was vrywillig.  Tiendes was steeds gewillig, maar verpligtend.

Daarom is geloftes nie sommer ligsinnig gemaak nie. Dit kon jou suur bekom.  In sommige gevalle kon dit selfs tragies wees vir ander, soos in die geval van Jefta se dogter.  Die Here het dus geloftes verwelkom, tiendes geëer, maar telkens in sy aanvaarding daarvan gelowiges gewys op die erns van hulle verbintenis aan Hom.  Dat hulle dit vrywillig gemaak het, of gewillig gebring het, het hulle nie kwytgeskeld van die verpligting wat hulle self op hulle geneem het nie.  Die genade van ‘n loskoop voorskrif het nie die uitvoering van die gelofte of die betaling van die tiende gesystap nie.

Die NT maak meer van die tiendes as van geloftes, maar albei het steeds gegeld as maniere om jou verbintenis aan en afhanklikheid van die Here mee uit te druk.  Tiendes speel ‘n belangrike rol in die ekonomie van ‘n gemeente se roeping om hierdie wêreld met die evangelie te bereik.  Geloftes speel ‘n belangrike rol in die verbintenis wat gelowiges maak aan ‘n roeping of taak wat hulle in opdrag van die Here aanvaar.

Geloftes verbind ons aan God se voorsiening en Tiendes vier dit.  Die God wat ons dien, kan vertrou word om ons verbintenis aan Hom te eer en ons sy seën te gee, soos die vorige hoofstuk reeds uitgespel het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Levitikus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…