Levitikus 27 – Geloftes in buitengewone en tiendes in normale omstandighede

Levitikus 27 vul die Heiligheid Gedragskode aan met ‘n uitgebreide bydrae oor geloftes – Lev. 27:1-29 – en ‘n kort bydrae oor die gee van tiendes – Lev. 27:30-34 – wat hulle verpligtinge in buitengewone omstandighede (geloftes – voorwaardelik of onvoorwaardelik) sowel as in die normale gang van die lewe (tiendes) gereël het.  Daar was in baie gevalle die moontlikheid van ‘n los- of terugkoop van iets wat as ‘n gelofte of ‘n tiende belowe of gegee is.  Die hoofstuk word afgesluit met ‘n finale opmerking dat dit saam met al die vorige voorskrifte van die boek Levitikus die gebooie is wat die Here deur Moses by die Sinaiberg vir die Israeliete gegee het.

Geloftes in buitengewone omstandighede – Lev. 27:1-29

Let op dat geloftes in besondere of buitengewone omstandighede gemaak is. So staan dit in vers 1 in die Hebreeus: ’n besondere of buitengewone gelofte.”

  • In die geval van mense wat aan die Here in ‘n gelofte gewy is (bv. Simson en Samuel) kon hulle op die voorgeskrewe manier losgekoop word. Die ouderdom en geslag van die persoon wat toegewy is word in ag geneem sowel as die vermoë van die persoon wat die gelofte gemaak het.
  • In die geval van ‘n rein dier wat geoffer is, kon die dier nie omgeruil word nie. ‘n Poging daartoe het beteken dat jy die plaasvervanger dier ook moes offer.  In die geval van ‘n onrein dier kon die priester ‘n beslissing vel.
  • In die geval van ‘n huis kon die huis ook losgekoop word volgens die toestand van die gebou. Die een wat die gelofte gemaak het, kon dit terugkoop vir die waarde plus twintig persent.
  • In die geval van grond het die drakrag en nabyheid al dan nie aan die Jubeljaar die loskoopwaarde bepaal. As dit egter nie teruggekoop is in die Jubeljaar nie, het dit deel van die priesters se grond geraak, behalwe in die geval van erfgrond wat weer teruggegaan het na die oorspronklike eienaar.

Eerstelinge het nie getel nie, want hulle het in elk geval aan die Here behoort.  Dieselfde het dinge en persone wat geban is, gegeld.

Voorbeelde van geloftes in die OT en NT

Ons lees by een van die voorvaders, Jakob, van ‘n gelofte wat afgelê is vir beskerming, hoewel daar uiteraard nog geen voorskrifte was vir hoe dit nagekom is nie.  Ons lees wel daarvan dat dit die Here se goedkeuring weggedra het (Eks. 28:20; 31:13).

Die nakom van geloftes vir vroue het van hierdie voorskrifte verskil deurdat ‘n pa ‘n vetoreg ten opsigte van ‘n gelofte van sy ongetroude dogter gehad het.  Dieselfde het gegeld vir ‘n man ten opsigte van sy vrou.  As die mans nie saamgestem het met die gelofte nie kon hulle dit ongeldig verklaar, behalwe as hulle nie betyds opgetree het nie (Num. 30).  Weduwees en geskeide vroue was hiervan uitgesluit en is aan hulle geloftes gehou.

Moses het later die volk baie spesifiek geleer om nie te talm om geloftes na te kom nie, en eerder geen gelofte te maak as wat hulle in gebreke bly om dit na te kom (Deut. 23:21-23).  Hierby het die Prediker ook aangesluit en gewaarsku teen ligsinnige geloftes wat nie betaal word nie.  Dit kon jou suur bekom (Pred. 5:3).  Maleagi het ook gewaarsku teen ‘n gelofte offer wat van minderwaardige kwaliteit was: “en dan ’n verminkte ding aan die Here offer.” (Mal. 1:14).

Die verhaal van die rigter Jefta wat sy dogter geoffer het weens ‘n gelofte wat hy gemaak het, bly ‘n raaisel vir my, aangesien hierdie loskoop voorskrifte van Levitikus beskikbaar was en hy haar sou kon loskoop. Hy het óf hom nie daaraan gesteur nie, óf net nie daarvan geweet nie.  Voorwaar ‘n tragiese deel van die geskiedenis van Israel (Rigt. 10:6-12:7).

Die verhaal van Hanna is egter ‘n wonderlike voorbeeld van die waarde van geloftes soos Levitikus dit aan die volk voorgehou het.  Sy het die Here vertrou en belowe dat Samuel aan God gewy sal wees.  Die Here het haar gebed verhoor met die geboorte van Samuel, waarna Elkana, haar man, namens hulle albei die voorgeskrewe gelofteoffer gebring het (1 Sam. 1:11-23).

Dieselfde geld koning Lemuel van Massa oor wie sy ma ‘n gelofte gedoen het (Spr. 31:2) om hom te begelei om die regte vrou te trou, wat ‘n neerslag gevind het in die beskrywing van die besondere knap vrou van Spreuke 31.

Nasireërs wat hulle aan die Here toegewy het of ‘n verpligting op hulle geneem het (Num. 30:2), het ook bykomend ‘n gelofte afgelê om geen alkohol te gebruik nie, nie te skeer nie, en nie naby lyke te kom tydens hulle gelofte tydperk nie.  Hierdie gelofte kon ook vir ‘n mens se hele lewe geld, soos in die geval van Simson, ‘n onvoorwaardelike gelofte (Rigt. 13).  Vgl. ook die Rekabiete wat ‘n soortgelyke gelofte afgelê het om geen alkohol te gebruik of huise te bou en gewone boere te word nie.  Hulle het in tente gebly en met hulle vee rondgetrek uit lojaliteit aan hulle voorvader Jonadab (Jer. 35).

Dawid se verbintenis aan die Here om vir Hom ‘n tempel te bou, is ook met ‘n gelofte belowe, hoewel die Here in die geval die gelofte omgekeer het – soos mans dit met hulle dogters of vroue kon doen – en Dawid nie toegelaat het om sy gelofte na te kom nie, aangesien die Here self vir Dawid sou seën met ‘n dinastie van konings uit sy geslag, en Dawid se hande nie rein genoeg was om dié heilige plek te bou nie (2 Sam. 7).  Die gesprek tussen God en Dawid is verewig in ‘n pelgrimslied Psalm 132.

Ons lees twee keer in die NT van die nakom van geloftes hoewel die presiese omstandighede nie uitgespel word nie.  Albei kere is Paulus betrokke, een keer as die een wat die gelofte gemaak het, en ‘n ander keer as iemand wat ‘n gelofte namens ander betaal het.  Dit getuig egter daarvan dat geloftes nog van krag was in die NT bedeling (Hand. 18:18; 21:23).

Tiendes in normale omstandighede – Lev. 27:30-33

‘n Kort opsomming van die gee van tiendes in normale omstandighede word ook gegee met die oog op die voorskrif vir ‘n “terugkoop” wat jy kon doen deur die waarde te betaal plus twintig persent.  Dit het graan, vrugte, beeste en kleinvee gegeld.  Interessant is dat die keuse ewekansig gedoen is sonder om te kyk of bv. ‘n dier nou goed of sleg is.  As jy egter probeer het om ‘n dier om te ruil, het jy albei diere verloor!

Hierdie voorskrif sal nog uitgebrei word in Numeri 18 en Deuteronomium 26 waaruit dit duidelik sal blyk dat die tiendes aan die Leviete en priesters behoort het, omdat hulle deur die Here opdrag gegee is om nie ekonomies aktief te wees nie, maar hulle lewe volledig te wy aan die diens van die heiligdom.  Hulle moes egter op hulle beurt ‘n tiende vir die Here uit die tiendes van die Israeliete gee, waarvan ‘n deel die hoëpriester toegekom het (Num. 18:21-32).  Elke derde jaar se tiendes het ook die vreemdelinge, weeskinders en weduwees gebaat (Deut. 26:12-15).

Lees meer oor tiendes in my vroeëre bydrae daaroor sowel as die wyse waarop die profete dit aangespreek het in Maleagi 3.  Jy kan ook meer lees oor die enigmatiese figuur Melgisedek in my bydrae oor Genesis 14 sowel as Psalm 110 en die NT verbintenis aan die Here Jesus Christus in my bydrae oor Hebreërs.  Geniet!

Boodskap: Geloftes en Tiendes verbind gelowiges aan God se voorsiening en betroubaarheid

Levitikus 27 is ‘n gepaste afsluiting van die boek.  Elke gelofte wat iemand gemaak het, het vertroue in die Here se voorsiening uitgespreek sowel as ‘n verbintenis om Hom te dien, kom wat wil. Wanneer die gelofte sy doel gedien het, is die Here vir sy betroubaarheid geloof met die voorgeskrewe offer.  Dieselfde het die tiendes gegeld.  Elke tiende wat iemand gebring het, het ‘n dankbaarheid vir die Here se voorsiening uitgespreek en as verbintenis gedien om die Here te dien, kom wat wil.

Die feit dat die wet voorsiening gemaak het vir die los- of terugkoop van persone, diere of besittings het wel ‘n genadige omgang daarmee verteenwoordig, maar steeds die verbintenis van die gelofte en die tiende bevestig.  Geloftes maak skuld!  Dieselfde het die tiende gegeld.  Geloftes was vrywillig.  Tiendes was steeds gewillig, maar verpligtend.

Daarom is geloftes nie sommer ligsinnig gemaak nie. Dit kon jou suur bekom.  In sommige gevalle kon dit selfs tragies wees vir ander, soos in die geval van Jefta se dogter.  Die Here het dus geloftes verwelkom, tiendes geëer, maar telkens in sy aanvaarding daarvan gelowiges gewys op die erns van hulle verbintenis aan Hom.  Dat hulle dit vrywillig gemaak het, of gewillig gebring het, het hulle nie kwytgeskeld van die verpligting wat hulle self op hulle geneem het nie.  Die genade van ‘n loskoop voorskrif het nie die uitvoering van die gelofte of die betaling van die tiende gesystap nie.

Die NT maak meer van die tiendes as van geloftes, maar albei het steeds gegeld as maniere om jou verbintenis aan en afhanklikheid van die Here mee uit te druk.  Tiendes speel ‘n belangrike rol in die ekonomie van ‘n gemeente se roeping om hierdie wêreld met die evangelie te bereik.  Geloftes speel ‘n belangrike rol in die verbintenis wat gelowiges maak aan ‘n roeping of taak wat hulle in opdrag van die Here aanvaar.

Geloftes verbind ons aan God se voorsiening en Tiendes vier dit.  Die God wat ons dien, kan vertrou word om ons verbintenis aan Hom te eer en ons sy seën te gee, soos die vorige hoofstuk reeds uitgespel het.

View all posts in this series

Levitikus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Francois Conradie

    Ds,
    Dankie vir die wonderlike reeks oor Levitikus. Dit is verbasend wat mens agterkom in ‘n Bybelboek geskryf is as jy deur ‘n kundige begelei word.
    Sterkte en seën.

    • Dankie! Ek leer natuurlik ook by die meesters van die eeue. Wonderlik om hierdie werk as ‘n lewensroeping te doen. Ek is my gemeente ewig dankbaar vir die geleentheid wat hulle my gun om ‘n deel van my tyd aan die Bybelskool af te staan.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
%d bloggers like this: