Levitikus 15 – Rituele reiniging weens seksuele afskeidings

Die voorskrifte vir reinheid wat nou al vir kos (Lev. 11), geboortes (Lev. 12), velsiektes (Lev. 13), gebruiksartikels en huise (Lev. 14) gegee is, word afgesluit met voorskrifte rondom afskeidings wat met genitalieë verband hou (Lev. 15).  Daarmee het die Here gewys dat normale seksualiteit binne die huwelik sy seën wegdra, maar dit nie iets is wat binne die ruimte van die Tabernakel hoort nie.

Daarom het normale seksuele aktiwiteit ‘n mens onrein in terme van die toegang tot die Tabernakel gemaak.  Uiteraard het dit enige abnormale afskeidings ingesluit soos dit hier uitgespel word.  Hierdie voorskrifte wys dus ook eksplisiet enige seksuele aktiwiteit by die heiligdom af soos dit wydverspreid in die ander godsdienste beoefen is, bv. verskillende vorme van prostitusie (vgl. Deut. 23:17-18). Seks het geen geestelike konnotasie gehad soos wat dit in ander godsdienste die geval was.

Enige normale saadstorting sowel as enige abnormale afskeiding uit sy genitalieë maak ‘n man onrein, bedoelende dat hy nie toegelaat word in die Tabernakel vir die normale liturgiese en kultiese deelname nie.  Dit maak nie saak of dit uit normale seks of saadstorting (Deut. 23:10-11) voortgespruit het nie, en of dit ‘n abnormale afskeiding was wat óf aanhoudend (bv. ‘n seksuele oordraagbare siekte) of periodiek was nie (wat moontlik op ‘n verstopping van een of ander aard kan dui, bv. die prostaat).  Hy was onrein.

Ook enige kontak daarmee maak die ander persoon of voorwerp onrein.  Dit geld selfs as die persoon met ‘n afskeiding op iemand anders spoeg, ‘n teken van minagting, maar ook ‘n wyse waarop van die “eienskappe” van dié persoon na ‘n ander oorgedra kan word.  In ‘n wêreld waar die oordrag van siektes deur spoeg nog nie regtig goed verstaan was nie, was dit nogal ‘n belangrike insig.

Dieselfde geld vroue met normale menstruasie of abnormale bloedvloeiing. Die mans word later beveel om nie doelbewus met ‘n vrou wat menstrueer seks te hê nie (Lev. 18:19), maar hier gaan dit waarskynlik om ‘n man wat dit waag in die hoop dat daardie tyd van die maand nog nie voluit aan die gang was nie.  Die man is daarom vir dieselfde tydperk as die vrou onrein, d.w.s. hulle kon nie aan die normale liturgiese en kultiese bedrywighede by die Tabernakel deelneem nie.

Die Hebreeuse woord bāśār (vlees/liggaam) word hier gebruik om die genitalieë met ‘n eufemisme te beskryf, want die woord word gewoonlik gebruik vir die beskrywing vir ‘n deel van die liggaam (vel of vleis – Gen. 2:21; Ps. 102:6; 1 Sam. 2:13; 17:44).  ‘n Mens kom slegs uit die konteks agter watter deel bedoel word.  Die woord word elders gebruik om die voorhuid (Gen. 17:11) of geslagsorgane (vgl. Eks. 28:42 – NAV vertaal daar eufemisties: “naaktheid”) aan te dui.  Hier in Levitikus 15 word bāśār gebruik om beide die geslagsorgaan van die man (Lev. 15:2) en die vrou (Lev. 15:19) aan te dui.

Terloops, hierdie riglyne is ook waarna Dawid en die priester Agimelek by die heiligdom in Nob verwys.  Die priester wou nie vir die honger manne van die gewyde brood van die heiligdom gee weens die gevaar dat hulle onreinheid hulle in gevaar sou stel dat die Here teen hulle optree nie.  In wese stel Dawid die priester gerus dat sy mans nie seksueel aktief was nie, en selfs al sou hulle die vorige aand ‘n nagtelike saadstorting gehad het, was hulle teen hierdie tyd al rein soos die wet dit bepaal het: “Soos altyd wanneer ek gaan oorlog maak, is vrouens vir ons verbode en daarom is die liggame (bāśār) van die manskappe rein. Al is dit ook ’n gewone onderneming, is die liggame (bāśār) vandag tog rein.” (1 Sam. 21:4-5).

Vir normale afskeidings kon lopende water (klere of gebruiksartikels van hout word gewas; die persoon kan bad) gebruik word in die reinigingsproses.  Die volgende dag was ‘n mens weer rein.  Kleipotte wat daarmee in aanraking kom, moes egter gebreek word.

Vir abnormale afskeidings het daar strenger reëls gegeld met ‘n langer tydperk van afsondering wat nodig was om reinheid te herstel.  Die reiniging word in hierdie abnormale gevalle ook voltooi met offers vir versoening by die Tabernakel: twee duiwe as ‘n sondeoffer en ‘n brandoffer.

In ‘n laaste mededeling van die Here aan Moses en Aäron word dié reinheidsvoorskrifte afgesluit met ‘n allesomvattende opdrag wat eintlik ook die hele rituele reinheidsgedeelte van Levitikus 11-15 afsluit:  “Julle moet die Israeliete streng laat hou by hierdie reinheidsvoorskrifte, anders sal hulle dalk my heiligdom wat by hulle is, ontwy. As dit gebeur, sal hulle sterwe.”

Dit is duidelik dat al die wette net een doel voor oë het, en dit is om die Israeliete te beskerm teen God se heiligheid in die Tabernakel, sodat hulle die heiligdom nie miskien deur hulle onreinheid ontheilig nie, en as gevolg daarvan sterwe nie.

Boodskap: Jesus roep ons op tot eerbaarheid en reinheid in die huwelik

Ons het in hoofstuk 12 kennis geneem van die feit dat die reëls vir bloedvloeiing in die NT deur Jesus opgehef is met sy genesing van die vrou wat vir twaalf jaar aan abnormale bloedvloeiing gely het (Mark. 5:25-34).  Die boodskap van die NT is daarom by wyse van die verband wat in hierdie hoofstuk tussen bloedvloeiing en die ander afskeidings getrek word, ook op enige afskeidings van seksuele aard van toepassing, of dit nou normaal of abnormaal gebeur.  Jesus genees en verklaar rein.  Hy het gelowiges vrygemaak van die bande waarmee die reinheidsvoorskrifte hulle gebind het.

Dit beteken egter nie dat die beginsels van die reinheidsvoorskrifte daarmee versaak word nie.  Elke gelowige word nog steeds deur die NT opgeroep om met verantwoordelikheid om te gaan met hulle seksualiteit, hetsy in die huwelik of daarbuite.

Soos Paulus skryf: “Julle ken die voorskrifte wat ons op gesag van die Here Jesus aan julle oorgedra het. Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid (porneias – seksuele immoraliteit van enige aard, insluitende prostitusie). Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe.”  (1 Tess. 4:2-5).  Taal wat herinner aan Levitikus se klem op heiligheid en eksplisiet met die voorskrifte van die Here Jesus self verbind word.

Daarom beveel die Hebreërskrywer ook alle gelowiges: “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.” (Hebr. 13:4 – OAV).

Hy spoor gelowiges hiermee spesifiek aan om in hulle seksuele gedrag altyd die keuse teen ongetroude seks (pornous – fornication – enige seks tussen ongetroudes) en owerspel (moichous – enige buite-huwelikse seks van getroudes) te maak.  Hy gebruik die taal van die “onbesmette bed” (koitē amiantos) wat duidelik ‘n metafoor begrond op die reinheidsvoorskrifte van Levitikus 15 is.  Amiantos beteken om rituele onrein te vermy, in dié geval seksuele onreinheid, maar word in dié konteks gebruik om die gelowiges teen morele onreinheid van óf seks vóór die huwelik óf buite die huwelik te waarsku.  Die agtergrond is die Levitiese reinheidsvoorskrifte vir seksualiteit.

En let op dat hy verder duidelik uitspel dat mense wat nie eerbaar is in die huwelik nie en die “bed besmet” onder die oordeel van God staan.

Ons sal goed doen om ons swak etiese standaarde rondom seksualiteit en die huwelik te lig en in lyn te bring met die God wat enige seks as ongetroude of enige owerspel as getroude ten sterkste afkeur.  Dit begin by ons eie gehoorsaamheid.  Dit sluit in wat ons ons kinders leer.

View all posts in this series

Levitikus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

  • Dankie Chris andermaal vir hierdie artikel. Jy gee leiding en agtergrond oor wetgewing wat vir ons vreemd is vandag en kan lei tot misverstand, asof daar ‘n sondigheid aan die seksuele is.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: