Skip to main content

Levitikus 19 – Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig

Dit is insiggewend dat Levitikus 19 ingebed is tussen die voorskrifte oor allerhande ongeoorloofde seksuele verhoudings in Levitikus 18 en die soortgelyke ongeoorloofde seksuele verhoudings met hulle strawwe in Levitikus 20.  Dit dra die betekenis dat heiligheid in die huwelik van onskatbare belang is vir die geloofsgemeenskap in die lig van die volle boodskap van die Tien Gebooie uit Eksodus 20, want ons vind elke enkele een van die Tien Gebooie hier gereflekteer.  Daarom begin Levitikus 19 met die oorhoofse beginsel: “Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig.

Die hele uitleg van die Tien Gebooie in hierdie hoofstuk word dus op God se heiligheid gebaseer.  Die voorskrifte word egter nie in die volgorde van die Tien Gebooie gegee nie.  Trouens, dit is baie moeilik om die hantering van die voorskrifte in ‘n sinvolle struktuur te orden.

Dit wil voorkom asof daar ‘n losserige tematiese samehang is rondom voorskrifte vir:

  1. aanbidding – eerste tafel van die wet rondom afgode, sabbat en die skuldoffers van Levitikus;
  2. verhoudings – tweede tafel van die wet rondom steel, leuens, bedrog, berowing, haat, wraak, armes, vreemdelinge, en selfs landbou;
  3. regspraak – wat onpartydig, regverdig, en billik moet wees (Hartley).

Maar selfs in só ‘n indeling is dit eintlik die verbintenis aan die Tien Gebooie wat deurslaggewend is, soos gesien kan word dat die regspraak eintlik ook met die tweede tafel van die wet te make het.

Interessant genoeg is daar ‘n ooreenkoms tussen dele van Levitikus 19 (en dele van hfst. 18 en 20) en Esegiël 22:1-22.  In Esegiël lyk dit asof die oortredings van voorskrifte uit Levitikus 18-20 gebruik word om die oordeel oor Israel in die ballingskap van die sesde eeu v.C. te regverdig, maar op ‘n manier ook nie in volgorde nie, maar as’t ware in ‘n “preekvorm”.

Miskien moet ‘n mens daarom ook aan Levitikus 19 dink as ‘n uitgebreide toepassing van die Tien Gebooie wat duidelik as die basis hiervoor gedien het, maar in ‘n soort “preek” oor die Tien Gebooie gelewer is.

Ek dink die beste is daarom om die voorskrifte steeds te behandel soos dit in Levitikus 19 gegee word – om só die “preekvorm” te eer – en dit te verbind aan die relevante gebod waar moontlik, maar dié verbintenisse aan die Tien Gebooie ook aan die einde te sorteer in die orde van die Tien Gebooie om die verband duidelik te toon.  Dit sluit ongeveer 32 moets en moenies in:

  1. Julle moet eerbied hê vir julle ma’s en pa’s – vers 3 – vyfde gebod.
  2. Julle moet die Sabbat gebooie gehoorsaam – vers 3 – vierde gebod.
  3. Julle mag nie afgode dien nie – vers 4 – eerste gebod.
  4. Julle mag nie afgodsbeelde maak nie – vers 4 – tweede gebod.
  5. Julle moet maaltydoffers op die voorgeskrewe manier bring en eet – vers 5-8 – Lev. 3.
  6. Julle moet koring en druiwe los in die lande vir die armes en vreemdelinge – vers 9-10 – Lev. 25 sal uitspel dat God die eintlike eienaar van die land is.
  7. Julle mag nie steel nie – vers 11 – agste gebod.
  8. Julle mag nie lieg of bedrieg nie – vers 11 – negende gebod.
  9. Julle mag nie God se Naam ontheilig met vals eedswerings nie – vers 12 – derde gebod.
  10. Julle mag nie julle naaste uitbuit of beroof nie – vers 13 – agste en tiende gebod.
  11. Julle mag nie ‘n dagloner se loon terughou tot die volgende dag nie – vers 13 – agste gebod.
  12. Julle mag nie dowes of blindes benadeel nie – vers 14.
  13. Julle mag nie partydig of bevooroordeeld wees in die regspraak nie – vers 15 – negende gebod.
  14. Julle mag nie skinder en só julle medemens se lewe in gevaar stel nie – vers 16 – negende gebod.
  15. Julle mag nie haatdraend wees teenoor julle volksgenote nie en geskille openlik uitmaak – vers 17 – sesde gebod.
  16. Julle mag nie wat mense verkeerd gedoen het, teen hulle bly hou nie – vers 17 – sesde gebod.
  17. Julle mag nie wraak neem nie – vers 18 – sesde gebod.
  18. Julle mag nie ‘n grief koester teen julle volksgenote nie – vers 18 – sesde gebod.
  19. Julle moet julle naaste liefhê soos julleself – vers 18 – die hele tweede tafel van die wet.
  20. Julle mag nie diere of saad kruis nie of klere van verskillende materiale maak nie. Die basiese beginsel is dat daar nie vermenging van diere, sade of klere sal wees nie, maar met egte produkte in veeteelt, landbou en klere gewerk sal word – vers 19.
  21. Julle mag nie ‘n slavin benadeel in onderhandelinge met ander eienaars nie. Skadevergoeding vir slavinne met wie eienaars ‘n buite-egtelike verhouding aanknoop, betaal word.  ‘n Skuldoffer moes ook vir hierdie sonde gebring word na die Tabernakel toe. – vers 20-22 – sewende en tiende gebod.
  22. Julle mag eers van die vyfde jaar af self van julle vrugteboorde se opbrengs eet – vers 23-25.
  23. Julle mag nie aan heidense offermaaltye deelneem nie – vers 26 – Lev. 3 (maaltydoffers).
  24. Julle mag nie waarsêery of towery beoefen nie – vers 26.
  25. Julle mag nie heidense rougebruike navolg nie. Die heidene het uit vrees vir die bose magte van die dood hulleself vermom en onherkenbaar probeer maak deur hulle hare of baard te knip en allerhande snye en merke op hulle liggame te maak. Omdat Israel aan die Here behoort het, het húlle egter nie nodig gehad om bang te wees vir die magte van die dood en die onderwêreld nie.  Hulle moes hulleself ongeskonde hou vir die diens van God. Dit is dus nie ‘n algemene verbod op bv. tatoeëermerke as sodanig nie – vers 28.
  26. Julle mag nie julle dogters vir tempelprostitusie gee nie – vers 29.
  27. Julle moet die Sabbat gebooie gehoorsaam – vers 30 – vierde gebod
  28. Julle moet eerbied hê vir die heiligdom – vers 30.
  29. Julle mag nie hulp soek by geeste (bv. voorvadergeeste – vgl. ook Deut. 18:10-11; 1 Sam. 28:3-14; Jes. 8:19) of waarsêers nie. Hulle moes nie daardeur insig in die onbekende probeer verkry soos die heidennasies nie (vgl. Gen. 44:5,15;  2:6;  Eseg. 21:21)  – vers 31.
  30. Julle moet oumense met eerbied en respek hanteer – vers 32 – vyfde gebod.
  31. Julle moet vreemdelinge liefhê soos julleself – vers 33-34 – die hele tweede tafel van die wet.
  32. Julle mag nie bedrog pleeg met mates en gewigte nie – vers 35-36 – negende gebod.

Soos uit bogenoemde gesien kan word, is die verbintenisse aan die Tien Gebooie duidelik.  Daarom sorteer ek dit ook hier in die orde van die Tien Gebooie om die verband duidelik te toon.

Die ooreenkomste van Levitikus 19 met die orde van die Tien Gebooie

  1. Eerste gebodgeen ander gode – vers 4;
  2. Tweede gebodgeen afbeelding van God mag aanbid word nie – vers 4;
  3. Derde gebodGod se naam mag nie misbruik word nie – vers 12 (eedswerings);
  4. Vierde geboddie hou van die Sabbatdag – vers 3, 30;
  5. Vyfde gebodeer jou ouers – vers 3, 32 (pa’s en ma’s en oumense);
  6. Sesde gebodmoenie moord pleeg nie – vers 6, 18 (haatdraend in geskille, boekhou van die kwaad, wraak neem, grief bly koester);
  7. Sewende gebodmoenie egbreuk pleeg nie – vers 20-22 (slavin buite-egtelik benadeel);
  8. Agste gebodmoenie steel nie – vers 11, 13, 35 (steel, uitbuit, beroof, loon terughou);
  9. Negende gebodmoenie valse getuienis lewer nie – vers 11, 15, 16 (lieg, bedrieg, partydig, bevooroordeeld, skinder);
  10. Tiende gebodmoenie begeer nie – vers 13, 20-22 (uitbuit, beroof, slavin buite-egtelik benadeel).

Die meeste van hierdie voorskrifte is moreel-etiese beginsels wat eintlik net so gehandhaaf kan word vandag, selfs al is dit vir ‘n ander tyd geskryf.  Uiteraard is die voorskrifte oor maaltydoffers, die kruising van diere en sade, die meng van materiale (waaroor ek in ‘n volgende hoofstuk iets sal sê) en rougebruike nie meer van toepassing nie.  Hulle word ook nie aan een van die Tien Gebooie gekoppel nie.

Vier van hierdie voorskrifte is egter steeds van krag, naamlik dié oor heidense offermaaltye (vgl. 1 Kor. 10:14-22), waarsêery (vgl. Hand. 16:16-18), (voorvader)geeste (vgl. 1 Kor. 10:20-21; 1 Tim. 4:1; Openb. 9:20), en towery (Gal. 5:20; Openb. 9:21).  Die rede daarvoor is waarskynlik dat dit met ‘n verbintenis aan die Here en die Here alleen te make het en dat dit daarom duidelik steeds in die NT afgewys word.

Die meeste van hierdie voorskrifte is egter ‘n uitleg van die Tien Gebooie en self-evidente voorskrifte wat steeds deur gelowiges vanuit die dubbele liefdesgebod nagekom behoort te word.  Daarom verwys Jesus eksplisiet na die liefde vir die naaste (Mark. 12:31), soos Paulus (Gal. 5:14; Rom. 13:9) en Jakobus (Jak. 2:8) dit ook doen. Selfs voorskrifte soos dié rondom die sorg vir armes en vreemdelinge deur hulle in die opbrengs van jou oeste te laat deel, is navolgingswaardig, omdat dit gebaseer is op God se soewereine eienaarskap van die land (Lev. 25).

Boodskap:  Julle moet julle naaste liefhê soos julleself

Dit is duidelik dat dié “preek” aan Moses, en deur hom aan die volk, ‘n groot impak op Jesus en Paulus uitgeoefen het.  ‘n Mens sien ook spore daarvan in Johannes se Openbaring en Jakobus se uitleg van die wet.

Jesus som uit dié gedeelte die wet van die Here op met ‘n direkte aanhaling uit vers 18 oor die liefde vir die naaste: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” (Mark 12:30-31; Matt. 22:37-39; Luk 10:27).  Interessant genoeg word op dieselfde wyse die liefde vir die vreemdeling eksplisiet in vers 34 met dieselfde bewoording uitgespel, net vir in geval iemand sou dink die naaste is net mense wat deel is van hulle eie mense: “Wanneer daar ‘n vreemdeling by julle in julle land woon … moet julle hom soos ‘n mede-burger behandel en hom liefhê soos julleself.”

Die liefde vir God waarna Jesus in sy opsomming van die wet verwys, word ook in Levitikus 19 uitgespel in vier van die verse oor die eerste vier gebooie, hoewel die direkte aanhaling wat Jesus gebruik in die NT om God se liefde te beskryf uit Deuteronomium 6:5 aangehaal word: “Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.

Paulus handhaaf ook op vyf plekke direk van die voorskrifte uit Levitikus 19 (Gal. 5:14,20; 1 Kor. 10:14-22; Hand. 16:16-18; Rom. 13:9; 1 Tim. 4:1), soos ‘n mens ook in Johannes se Openbaring (Openb. 9:20-21) en Jakobus kan sien (Jak. 2:8).  ‘n Mens kan selfs op twee plekke in Paulus se hoofstuk oor die liefde in 1 Korintiërs 13 indirekte ooreenkomste met Levitikus 19 aantoon.  Hy spel die verpligting wat die liefde op ons lê in vyftien eienskappe uit waarvan twee verband hou met Levitikus 19.  Die liefde is:

  • geduldig,
  • vriendelik,
  • nie afgunstig nie,
  • nie grootpraterig nie,
  • nie verwaand nie,
  • om nie onwelvoeglik te handel nie,
  • om nie jou eie belang te soek nie,
  • om nie liggeraak te wees nie,
  • om nie boek te hou van die kwaad nie – Lev. 19:17,
  • om nie oor onreg bly te wees nie – Lev. 19:15,
  • om verheug te wees oor die waarheid,
  • om alles te bedek,
  • om alles te glo,
  • om alles te hoop,
  • om alles te verdra.

Dit tref my hoe integraal die Skrif in die OT met die Skrif in die NT verbind is.  Ons sal goed doen om die verbande nie net te begin lê tussen die voorskrifte van God in die OT en dié van die NT nie, maar om inderdaad die pad na heiligmaking wat dit uitlig met ons hele wese te omarm en na te volg.

Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig.”  Dit bly God se standaard vir ons (1 Pet. 1:16).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Levitikus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar