Skip to main content

Levitikus 11 – Die onderskeid rein en onrein help Israel om daagliks in God se teenwoordigheid te lewe

Die reeks opdragte van God uit die tabernakel aan Moses en nou ook aan Aäron (Lev. 10:8; Lev. 11:1) oor die offers (Lev. 1-7) en die priesterlike orde (Lev. 8-10) word nou opgevolg met die beskrywing van rituele reinheid geïllustreer in terme van reinheid en onreinheid soos dit in hulle dieet, geboortes, siektes, uitskeidings sowel as die hantering van die tabernakel gehandhaaf moet word – Levitikus 11-15.  Die eerste deel van die Levitiese Kodeks sal met die beskrywing van die Groot Versoeningsdag in Levitikus 16 afgesluit word.

Onthou dat heiligheid aan die een kant die betekenis gehad het van afgesonder of gewyd teenoor algemeen of gewoon (ongewyd).  Hoe nader jy aan die Here – die volmaakte Heilige – gekom het, hoe groter was die voorskrifte vir jou afsondering of heiliging aan Hom.

Heiligheid was soos konsentriese sirkels vanaf die Allerheiligste deel van die Tabernakel wat uitkring van volmaak heilig na volledig onheilig.  Heiligheid is dus gedefinieer in terme van die nabyheid of afstand van die Heilige, Jahwe.

Gekoppel hieraan was die onderskeid tussen rein en onrein. Iets wat rein was, was iets wat in die breë aan sy normale funksie of riglyne voldoen het, ‘n staat van heelheid en volmaaktheid, sonder gebreke of siektes.  Iets wat onrein was daarenteen, was iets wat in die breë abnormaal, gebroke of onvolmaak geword het deur siekte, misbruik of sonde.

Rein en onrein was daarom ‘n polariteit van normaal of abnormaal, heel of gebroke, volmaak of onvolmaak, in orde of buite orde, hetsy deur intrinsieke eienskappe (bv. velsiektes soos in Lev. 13) of ekstrinsieke eienskappe (bv. deur God se bevel soos hier in Lev. 11).

In hoofstuk 11 sien ons dan dat herkouende diere met gesplete hoewe rein was en geëet mag word.  Diere wat óf nie herkou nie (vark), óf nie gesplete hoewe het nie (kameel, dassie, haas), óf kruipende diere is, was onrein en mag nie geëet word nie.  Dieselfde geld karkasse, mak diere en wilde vierpotige diere waarvan die pote nie volledig gesplete is en wat ook nie herkou nie (leeus, bv., hoewel daar geen voorbeelde gegee word nie)..

Soutwater en varswater visse met skubbe en vinne (galjoen en kabeljou bv., hoewel geen voorbeelde gegee word nie) kon geëet word.  Hulle was rein.  Visse sonder skubbe (barber bv., hoewel daar geen voorbeelde gegee word nie) of vinne (paling bv., hoewel daar weereens geen voorbeelde gegee word nie) was egter onrein en mag nie geëet word nie.

In die geval van diere met vlerke word slegs die onrein voëls gelys (arende, lammervangers en visarende; aasvoëls en valksoorte; al die kraaisoorte; volstruise, nagvalke, see-meeue en alle soorte roofvoëls; uile, visvangers, ibisse, flaminke, pelikane, swane, ooievaars, al die reiersoorte, hoep-hoepe en vlermuise).

In die geval van insekte met vlerke wat kan spring met hulle pote word hulle rein verklaar (alle soorte sprinkane en krieke).  Alle ander insekte met vlerke, maar nie pote waarmee hulle kan spring nie, is verbode.

‘n Hele klomp ander diertjies word ook as onrein verklaar, hoewel daar nie ‘n rede voor gegee word nie (molle, muise en al die akkedissoorte soos geitjies, sandakkedisse, boomakkedisse, gewone akkedisse en ook verkleurmannetjies).

Selfs waar hierdie diertjies doodgaan en op gebruiksartikels val (geitjies bv.), was die gebruiksartikels onrein en moes op die voorgeskrewe manier gewas word, in die geval van kleipotte of -oonde, selfs gebreek word.  Moontlik weens die poreuse aard van ‘n kleipot.  Die enigste uitsondering was ‘n fontein of saad wat nie daardeur onrein gemaak is nie.

Dieselfde geld enige ander klein diertjie wat volop voorkom in die veld of hulle nou seil (bv. slange, hoewel voorbeelde nie genoem word nie), of op vier of selfs baie pote loop nie (bv. ‘n duisendpoot, hoewel voorbeelde nie genoem word nie), mag die Israeliete hulle nie daarmee besoedel het dat hulle onrein word nie.

Hoewel ‘n mens allerhande kreatiewe interpretasies kan probeer gee van die intrinsieke redes waarom al dié reëls die geval was – higiëniese redes bv. in die geval van kleipotte – het die motivering na my mening doodgewoon gelê in God se bevel, d.w.s. ekstrinsiek aan die diere of die mens self.  Dit gaan oor sy Heiligheid en sy Voorskrifte wat gehoorsaam moet word, net omdat Hy dit op soewereine manier van hulle gevra het.

Maar daar is nog redes vir dié reëls.  Die Here het hiermee aan die een kant vir hulle helder reëls gegee waarmee hulle almal kon onderskei tussen rein en onrein in terme van hulle dieet.  Soos wat hulle dit daagliks nougeset nagevolg het en hulle soms ‘n paar keer deur die dag hierdie tipe keuses moes maak, het dit hulle aan God en aan sy wil vir hulle lewens herinner.  So kon hulle bewus lewe van sy teenwoordigheid, selfs in die mees gewone dele van hulle lewens.  ‘n OT manier van: “Practising the Presence of God.

Dit het hulle as geloofsgemeenskap aan die ander kant ook ‘n gevoel van solidariteit gegee wat hulle onderskei het van die ander nasies wat nie God se wil vir die lewe nagekom het nie.  Dit was daarom ‘n uiters belangrike deel van hulle gesamentlike identiteit om hieraan gehoorsaam te lewe.

Die feit dat die reëls egter ekstrinsiek was, is waarskynlik ook waarom hierdie reëls rondom rein en onrein kos in die NT opgehef kon word, omdat God dit in die eerste plek beveel het en Hy die bevel in die nuwe bedeling opgehef het, en inderdaad kon ophef, omdat die skaduwee van die seremoniële dele van die wet vervul en vervang is met die volmaakte bedeling van sy Seun wat reinheid van hart gebring het (Mark. 7:19).  Alle kos is daarom deur Jesus as rein verklaar.

Die teenwoordigheid van die Here het nou deur die Heilige Gees ‘n inwonende werklikheid geword, waarin die uiterlike reëls vervang is met ‘n intieme verhouding met God vanuit die kern van ons bestaan.  En dit het nie net die persoonlike verhouding met God gekenmerk nie, maar ook die geloofsgemeenskap s’n.  Elke gelowige was nou ‘n tempel van die Heilige Gees, sowel as die hele gemeenskap van gelowiges.

Deur hierdie helder reëls kon elke Israeliet egter in die ou bedeling streef na ‘n staat van heelheid en volmaaktheid deur die voorskrifte wat die Here in Levitikus neergelê het rondom die gedragskode by die tabernakel en by hulle eie tente.  Hulle kon sy teenwoordigheid indra in hulle lewens deur Sy riglyne vir die lewe na te kom.  Hulle kon hulle band met mekaar behou in die stryd om aan God gehoorsaam te bly in ‘n vyandige en onheilige samelewing.

In van die volgende gevalle in hoofstuk 13 kan ‘n mens oor rein en onrein ook dink as ‘n polariteit van lewe of dood, iets wat al sigbaar is in die hantering van karkasse in hoofstuk 11, maar wat nog helderder uitgespel sal word.  Dit wat lewe gegee en bevorder het, was rein.  Dit wat die lewe bedreig en die dood gebring het, was onrein.  Daarom het die aanraking van ‘n lyk of ‘n dooie dier jou onrein gemaak.  Soortgelyk een of ander velsiekte of gebrek.  Daaroor later meer.

Boodskap: Om te wandel in God se teenwoordigheid met alles wat jy doen

Hierdie strewe na volmaaktheid in die navolging van bv. God se wil in terme van reinheid en onreinheid, is ook ‘n fundamentele deel van die Here Jesus se riglyne vir die lewe in die Bergrede waarin Hy absolute klem lê op die innerlike en uiterlike geregtigheid wat in terme van gedagtes en gedrag deel van gelowiges se lewe moet word: “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.” (Matt. 5:48).

Jesus gebruik heel spesifiek die uitsprake in die wet van Eksodus 19-24 sowel as Levitikus en Deuteronomium om hierdie volmaaktheid te illustreer in Matt. 5:17-48 in terme van sy riglyne rondom moord (Eks. 20:6), owerspel (Eks. 20:14), egskeiding (Deut. 24:1), eedswering (Lev. 19:12), vergelding (Lev. 24:20), en vyande (Lev. 19:18).

In terme van dieet het Jesus egter alle kos rein verklaar, omdat sy fokus was op die reinheid van hart waarsonder Hy geweet het niemand God sal kan sien nie (Mark. 7:14-23; Matt. 5:8).  Ook Paulus verklaar in sy brief aan die Romeine: “Omdat ek die Here Jesus ken, weet ek en is ek daarvan oortuig dat niks vanself onrein is nie.” Hy is egter ook duidelik daaroor dat persoonlike keuses ‘n rol mag speel, iemand wat bv. nie vark of barber wil eet nie: “Maar as iemand iets as onrein beskou—vir hom is dit dan onrein.

Waaroor hy egter ook duidelik is, is dat jy nie deur jou keuse van kos ander aanstoot mag gee nie: “As jy met wat jy eet, jou broer aanstoot gee, leef jy nie meer volgens die liefde nie. Moenie deur wat jy eet, iemand vir wie Christus gesterf het, laat verlore gaan nie.

Dit is só belangrik dat die fokus in die geloofsgemeenskap op die regte dinge moet wees: “Moenie dat die goeie wat julle het, ’n slegte naam kry nie. Die koninkryk van God is nie ’n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee. Wie op hierdie manier vir Christus dien, geniet die guns van God en die agting van die mense.” (Rom. 14:14-18; vgl. Tit. 1:15 waar hy dieselfde gedagtes besig: “Vir die reines is alles rein, maar vir die besoedeldes en ongelowiges is niks rein nie, want hulle verstand en hulle gewete is besoedel.”).

Daarom is met die groot “sinode-sitting” in Jerusalem net na onsedelikheid en afgodery verwys as dinge wat gelowiges moet vermy wat uit die heidendom by die geloofsgemeenskap aangesluit het (Hand. 15).  Die dieet reëls, besnydenis, Sabbatdag en die verskillende Joodse feeste is nie op hulle van toepassing gemaak nie.

Daarin sien ‘n mens aan die een kant die vryheid van seremoniële en burgerlike Joodse reëls, maar aan die ander kant die duidelike aandrang op ‘n moreel-etiese voorbeeldige lewe in hierdie wêreld (geen onsedelikheid) sowel as ‘n kompromielose lojaliteit aan God self (geen afgodery).

Dit het ons alreeds gesien in Jesus se gebruik van die terme rein en onrein (en besoedeling) as hy praat oor die gedrag wat vanuit ‘n gereinigde hart gelewe moet word.  Dit sluit die volgende dinge uit: “onkuisheid, diefstal, moord, owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid. Al hierdie slegte dinge kom van binne af en dit maak ’n mens onrein.” (Mark. 7:21-23). ‘n Mens sien ‘n hele paar van die wette van die tweede tafel van die Tien Gebooie in hierdie uitspraak van Jesus gereflekteer.

Ook Paulus praat oor die moreel-etiese onreinheid wat ten alle koste deur gelowiges vermy moet word.  Hy gebruik die term akatharsia vir die tipe onsedelikheid wat die heidene gepleeg het en wat hulle van God vervreemd het.  Dit mag uiteraard nooit deel van die gedragskode van die geloofsgemeenskap word, soos Paulus uitvoerig in Romeine 1:18-32 uitspel (vgl. ook 1 Tess. 4:7; 2 Kor. 12:21; Rom. 6:19; Ef. 4:17-19; 5:3, 5).

Alle gelowiges word daarom opgeroep om rein te lewe in liggaam en gees: “Laat ons ons dan reinig van alles wat liggaam en gees verontreinig, en ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toewy.” (2 Kor. 7:1).

View all posts in this series

Levitikus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar