Levitikus 21 – Voorskrifte vir priesters rondom die dood, die huwelik en gestremdheid
Waar Levitikus 18 meer op families gerig was, Levitikus 19 op ‘n uitleg van die Tien Gebooie en Levitikus 20 meer op die gemeenskap, vervolg die Here met twee verdere stelle voorskrifte rondom heiligheid.
- Die eerste is die voorskrifte waaraan alle priesters hulleself moet hou om heilig voor God te kan lewe en bedien, in terme van die dood en die huwelik, waarin die hoëpriester spesiaal uitgesonder word – 21:1-15.
- Die tweede is die voorskrifte waaraan die hoëpriester homself moet hou in terme van homself – strenger voorskrifte rondom die dood en die huwelik – en sy nageslag en opvolgers – voorskrifte rondom gestremdheid – om nie die Tabernakel in die teenwoordigheid van die Here te ontheilig nie – 21:16-24.
Families en die gemeenskap is alreeds opgeroep om in alles heilig te lewe. Die verantwoordelikheid van die priesters en hoëpriester om heilig te lewe, was selfs nog groter en meer omvattend.
Voorskrifte vir die priesters en hoëpriester – 21:1-15
Die eerste voorskrif is rondom die dood. Priesters mag hulle nie met lyke verontreinig het deur daaraan te raak, behalwe met naaste bloedverwante nie. Hulle moes ook geen rougebruike navolg nie, omdat dit te alle tye duidelik moes wees dat hulle aan die Here gewy is.
Die tweede voorskrif is rondom die huwelik. ‘n Priester mag net met ‘n meisie getrou het wat ‘n maagd was. Almal wat voorhuwelikse seks of prostitusie beoefen het of geskei was, was taboe vir die priesters. Priesters moes mense van onbesproke karakter wees, en slegs in die huwelik tree met vrouens wat ‘n onbesproke karakter gehad het.
Daarvoor moes die geloofsgemeenskap hulle ook eer en ondersteun. Hulle was immers die kontakpunt met die Heilige! Dit het ook die kinders van priesters ingesluit wat nie voorhuwelikse seks bv. mag beoefen het nie, uit respek vir hulle pa.
Dieselfde het die hoëpriester gegeld in terme van die dood en die huwelik, maar selfs nog strenger reëls. In die geval van die dood mag hy glad geen kontak met die lyke gehad het nie, nie eers naby familie nie. Hy mag nie eers die Heiligdom verlaat het vir ‘n sterfgeval nie. Dieselfde geld die huwelik, want hy mag selfs nie eers met ‘n weduwee getrou het nie. Alles ter wille van homself en die nageslag wat heilig moet wees.
Voorskrifte vir die hoëpriester en die nageslag – 21:16-24
Die derde voorskrif is rondom gestremdheid. Die hoëpriester en ook al die priesters mag net diens gedoen het in die Heiligdom as hulle geen liggaamlike gebrek gehad het nie.
Let egter op dat hier net oor die priesterlike geslag gepraat word in terme van hulle diens in die Tabernakel. Dit word ook as ‘n voorskrif vir die hoëpriester gegee om toe te sien dat dit in die nageslagte uitgevoer word. Gewone Israeliete wat op een of ander manier gestremd was, kon altyd voluit deelneem aan die liturgie en kultus in die Tabernakel.
Trouens, die Here het spesifiek blindes en dowes uitgesonder as mense wat met eerbied gehanteer moet word en nie weens hulle gebrek uitgebuit word nie (Lev. 19:14). Dieselfde het priesters gegeld wat soos die volk aan die normale gang van sake deelgeneem het.
Dit is hoe Israel altyd gestremdes gehanteer het. Vergelyk bv. die kostelike verhaal van Dawid en die gestremde Mefiboset, ’n seun van Jonatan, en die deernis en respek waarmee hy hom hanteer het. Mefiboset praat van homself as ‘n “dooie hond”, maar Dawid het hom soos ‘n seun in sy eie huis laat tuisvoel en op rojale wyse vir hom gesorg (2 Sam. 9).
Dit gaan hier in Levitikus 21 egter oor die vereistes wat God vir die bediening van die priesters gestel het. Dit is die priesters wat sonder enige liggaamsgebrek moes wees. D.w.s geen blinde of kreupele of iemand met ’n misvormde gesig of liggaamsdeel, of met ’n gebreekte voet of hand, of met ’n boggel of ’n onderontwikkelde liggaam, of met ’n pêrel op die oog, of met skurfte of veluitslag, of ’n beskadigde geslagsdeel mag as priester in die Heiligste, en as Hoëpriester, in die Allerheiligste diens gedoen het nie
Dieselfde vereiste het natuurlik gegeld vir die offers wat die Israeliete na die Tabernakel gebring het. Die diere wat hulle gebring het om te offer, moes in ‘n perfekte kondisie gewees het sonder enige liggaamsgebrek. Só was die reëling al in Egipte met die paaslam. Dieselfde reëling het vir alle ander offers gegeld.
Daarom moes die priesters ook sonder enige liggaamsgebrek gewees het. Hulle heiligheid moes ook in hulle liggaamlikheid gewys het. Maar die reëling het nie gegeld vir enige gewone Israeliet nie. Die genade van die Tabernakel was toeganklik vir elkeen op die voorgeskrewe manier, ongeag hulle liggaamlike status. Hulle kon ook van die kos eet wat geoffer is, soos die ander priesters.
Die rede vir hierdie voorskrif oor geen liggaamsgebrek was nie net as ‘n getuienis van die tipe offer en diens wat die Here van mense verwag het om vir hulle sondes versoening te doen nie. Dit was ten diepste ‘n skadubeeld van die tipe offer wat nodig was om ‘n volkome versoening te bewerk, iets wat met die Messias geassosieer is, en wat die Here Jesus Christus uiteindelik inderdaad sou nakom.
Boodskap: Jesus red ons om heilig van binne en heel van buite vir ewig te wees
Die NT skets Jesus as iemand wat vlekkeloos was en sonder enige liggaamsgebrek, heilig van binne en heel van buite. Soos Petrus dit stel: “Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.“ (1 Pet. 1:19).
Daarmee het Jesus die vereiste wat God reeds in die offerkultus gestel het, nagekom, eens en vir altyd, sodat Hy vir almal, gestremdes ingesluit, die volkome verlossing kon bewerk en die pad na God kon oopsluit om met Hom vir ewig in gemeenskap te leef.
Onthou dat gestremdheid nie ‘n vloek is of was weens een of ander sonde wat oor iemand gekom het nie, soos Jesus dit duidelik stel in die verhaal van die genesing van die blinde man (Joh. 9). Gestremdheid, saam met alle siektes en enige ander leed waaraan ons bloot gestel word op aarde, is doodgewoon deel van die verganklikheid en verydeling van hierdie wêreld, presies dít waarvoor Jesus gekom het om alles op te hef en nuut te maak.
Elke gestremde en sieke waaraan Jesus op aarde geraak het – en daar was baie (blindes, dowes, kreupeles, verlamdes, melaatses, dooies) – en elke gestremde en sieke wat Jesus genees en met God versoen het, was ‘n teken van die nuwe bestel wat besig was om in te breek in hierdie wêreld. Wonderwerke soos genesings was immers een van sy hoof bedieninge, saam met sy onderrig en prediking.
Trouens, Paulus spel God se doel met alle gelowiges soos volg uit: “So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.” (Ef. 1:4). Christus het ons as sy kerk so liefgehad dat Hy sy lewe daarvoor afgelê het: “Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik.” (Ef. 5:26-27).
Ook ons sal dus eenmaal heilig van binne en heel van buite, heeltemal onberispelik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, voor Hom wees. Watter visie! Watter hoop!
En waar ons hierdie genesing vandag nog nie ervaar nie, het ons die hoop op ‘n nuwe hemel en nuwe aarde waar daar geen leed van watter aard ook al sal wees, verseker ook geen gestremdheid nie. Hoe pragtig sê Paulus dit nie in 2 Korintiërs 4:16-17: “Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.”
Dit is ook ons hoop!
View all posts in this series
- Die gebruik van Levitikus in die Nuwe Testament - June 20, 2016
- Lees Levitikus saam met my van 12 April af - April 10, 2017
- “Wees heilig, want Ek is heilig” - April 12, 2017
- Jahwe is ‘n God wat beveel
- Indeling
- Levitikus in die Nuwe Testament
- “Volgende jaar is Jerusalem!” – Liturgie gebaseer op elemente van die Joodse Paasmaaltyd
- Levitikus 1 – Almal moes volmaakte en aanneemlike brandoffers bring vir die Here - April 20, 2017
- Levitikus 2 – Suurdeeg word verbied en sout gebied by die graanoffer - April 21, 2017
- Levitikus 3 – Die maaltydoffer as gemeenskap met God en mekaar - April 24, 2017
- Levitikus 4:1-5:13 – Die sondeoffer as reiniging en vergifnis van konkrete sondes - April 25, 2017
- Levitikus 5:14-6:7 – Die skuldoffer as restitusie en regstelling van konkrete sondes - April 26, 2017
- Levitikus 6:8-7:38 – Riglyne vir priesters oor prosesse rondom die offers - April 27, 2017
- Levitikus 8 – Aäron word ingehuldig as Hoëpriester en sy seuns as priesters - April 28, 2017
- Levitikus 9 – Israel word geseën met die teenwoordigheid van die Here - May 1, 2017
- Levitikus 10 – Die dood van Nadab en Abihu illustreer God se onverbiddelike heiligheid - May 2, 2017
- Levitikus 11 – Die onderskeid rein en onrein help Israel om daagliks in God se teenwoordigheid te lewe - May 3, 2017
- Levitikus 12 – Rituele reiniging ná geboorte weens bloedvloeiing - May 4, 2017
- Levitikus 13-14 – Rituele reiniging ná onreinheid deur velsiektes, brandwonde, skimmel of swamme - May 8, 2017
- Levitikus 15 – Rituele reiniging weens seksuele afskeidings - May 9, 2017
- Levitikus 16 – Die Groot Versoendag bring versoening met God en reiniging van die sonde - May 10, 2017
- Levitikus 17 – Aan God alleen word geoffer en gehou by die verbod op die eet van bloed - May 11, 2017
- Levitikus 18 – Enige seksuele verhouding buite die huwelik word afgekeur - May 12, 2017
- Levitikus 19 – Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig - May 15, 2017
- Levitikus 20 – Die hele gemeenskap moet sorg dat God se voorskrifte nagekom word - May 16, 2017
- Levitikus 21 – Voorskrifte vir priesters rondom die dood, die huwelik en gestremdheid - May 17, 2017
- Levitikus 22 – Die priesters moes sorg dat alle offers vir God aanneemlik is - May 18, 2017
- Levitikus 23 – Vyf feeste om saam in die teenwoordigheid van die Here te vier - May 19, 2017
- Levitikus 24 – Die gemeenskap van God en sy mense beïnvloed hulle hele lewe - May 20, 2017
- Levitikus 25 – God se eienaarskap van die land word met die Sabbatsjaar en Jubeljaar gevier - May 22, 2017
- Levitikus 26 – Vier seëninge en vyf strawwe word aan hulle gehoorsaamheid in die land gekoppel - May 23, 2017
- Levitikus 27 – Geloftes in buitengewone en tiendes in normale omstandighede - May 24, 2017
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.