Skip to main content

Levitikus 21 – Voorskrifte vir priesters rondom die dood, die huwelik en gestremdheid

Waar Levitikus 18 meer op families gerig was, Levitikus 19 op ‘n uitleg van die Tien Gebooie en Levitikus 20 meer op die gemeenskap, vervolg die Here met twee verdere stelle voorskrifte rondom heiligheid.

  • Die eerste is die voorskrifte waaraan alle priesters hulleself moet hou om heilig voor God te kan lewe en bedien, in terme van die dood en die huwelik, waarin die hoëpriester spesiaal uitgesonder word – 21:1-15.
  • Die tweede is die voorskrifte waaraan die hoëpriester homself moet hou in terme van homself – strenger voorskrifte rondom die dood en die huwelik – en sy nageslag en opvolgers – voorskrifte rondom gestremdheid – om nie die Tabernakel in die teenwoordigheid van die Here te ontheilig nie – 21:16-24.

Families en die gemeenskap is alreeds opgeroep om in alles heilig te lewe.  Die verantwoordelikheid van die priesters en hoëpriester om heilig te lewe, was selfs nog groter en meer omvattend.

Voorskrifte vir die priesters en hoëpriester – 21:1-15

Die eerste voorskrif is rondom die dood.  Priesters mag hulle nie met lyke verontreinig het deur daaraan te raak, behalwe met naaste bloedverwante nie.  Hulle moes ook geen rougebruike navolg nie, omdat dit te alle tye duidelik moes wees dat hulle aan die Here gewy is.

Die tweede voorskrif is rondom die huwelik.  ‘n Priester mag net met ‘n meisie getrou het wat ‘n maagd was.  Almal wat voorhuwelikse seks of prostitusie beoefen het of geskei was, was taboe vir die priesters.  Priesters moes mense van onbesproke karakter wees, en slegs in die huwelik tree met vrouens wat ‘n onbesproke karakter gehad het.

Daarvoor moes die geloofsgemeenskap hulle ook eer en ondersteun. Hulle was immers die kontakpunt met die Heilige!  Dit het ook die kinders van priesters ingesluit wat nie voorhuwelikse seks bv. mag beoefen het nie, uit respek vir hulle pa.

Dieselfde het die hoëpriester gegeld in terme van die dood en die huwelik, maar selfs nog strenger reëls.  In die geval van die dood mag hy glad geen kontak met die lyke gehad het nie, nie eers naby familie nie.  Hy mag nie eers die Heiligdom verlaat het vir ‘n sterfgeval nie.  Dieselfde geld die huwelik, want hy mag selfs nie eers met ‘n weduwee getrou het nie.  Alles ter wille van homself en die nageslag wat heilig moet wees.

Voorskrifte vir die hoëpriester en die nageslag – 21:16-24

Die derde voorskrif is rondom gestremdheid.  Die hoëpriester en ook al die priesters mag net diens gedoen het in die Heiligdom as hulle geen liggaamlike gebrek gehad het nie.

Let egter op dat hier net oor die priesterlike geslag gepraat word in terme van hulle diens in die Tabernakel.  Dit word ook as ‘n voorskrif vir die hoëpriester gegee om toe te sien dat dit in die nageslagte uitgevoer word.  Gewone Israeliete wat op een of ander manier gestremd was, kon altyd voluit deelneem aan die liturgie en kultus in die Tabernakel.

Trouens, die Here het spesifiek blindes en dowes uitgesonder as mense wat met eerbied gehanteer moet word en nie weens hulle gebrek uitgebuit word nie (Lev. 19:14).  Dieselfde het priesters gegeld wat soos die volk aan die normale gang van sake deelgeneem het.

Dit is hoe Israel altyd gestremdes gehanteer het.  Vergelyk bv. die kostelike verhaal van Dawid en die gestremde Mefiboset, ’n seun van Jonatan, en die deernis en respek waarmee hy hom hanteer het.  Mefiboset praat van homself as ‘n “dooie hond”, maar Dawid het hom soos ‘n seun in sy eie huis laat tuisvoel en op rojale wyse vir hom gesorg (2 Sam. 9).

Dit gaan hier in Levitikus 21 egter oor die vereistes wat God vir die bediening van die priesters gestel het. Dit is die priesters wat sonder enige liggaamsgebrek moes wees.  D.w.s geen blinde of kreupele of iemand met ’n misvormde gesig of liggaamsdeel, of met ’n gebreekte voet of hand, of met ’n boggel of ’n onderontwikkelde liggaam, of met ’n pêrel op die oog, of met skurfte of veluitslag, of ’n beskadigde geslagsdeel mag as priester in die Heiligste, en as Hoëpriester, in die Allerheiligste diens gedoen het nie

Dieselfde vereiste het natuurlik gegeld vir die offers wat die Israeliete na die Tabernakel gebring het.  Die diere wat hulle gebring het om te offer, moes in ‘n perfekte kondisie gewees het sonder enige liggaamsgebrek.  Só was die reëling al in Egipte met die paaslam.  Dieselfde reëling het vir alle ander offers gegeld.

Daarom moes die priesters ook sonder enige liggaamsgebrek gewees het.  Hulle heiligheid moes ook in hulle liggaamlikheid gewys het.  Maar die reëling het nie gegeld vir enige gewone Israeliet nie.  Die genade van die Tabernakel was toeganklik vir elkeen op die voorgeskrewe manier, ongeag hulle liggaamlike status.  Hulle kon ook van die kos eet wat geoffer is, soos die ander priesters.

Die rede vir hierdie voorskrif oor geen liggaamsgebrek was nie net as ‘n getuienis van die tipe offer en diens wat die Here van mense verwag het om vir hulle sondes versoening te doen nie.  Dit was ten diepste ‘n skadubeeld van die tipe offer wat nodig was om ‘n volkome versoening te bewerk, iets wat met die Messias geassosieer is, en wat die Here Jesus Christus uiteindelik inderdaad sou nakom.

Boodskap: Jesus red ons om heilig van binne en heel van buite vir ewig te wees

Die NT skets Jesus as iemand wat vlekkeloos was en sonder enige liggaamsgebrek, heilig van binne en heel van buite.  Soos Petrus dit stel: “Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.“ (1 Pet. 1:19).

Daarmee het Jesus die vereiste wat God reeds in die offerkultus gestel het, nagekom, eens en vir altyd, sodat Hy vir almal, gestremdes ingesluit, die volkome verlossing kon bewerk en die pad na God kon oopsluit om met Hom vir ewig in gemeenskap te leef.

Onthou dat gestremdheid nie ‘n vloek is of was weens een of ander sonde wat oor iemand gekom het nie, soos Jesus dit duidelik stel in die verhaal van die genesing van die blinde man (Joh. 9).  Gestremdheid, saam met alle siektes en enige ander leed waaraan ons bloot gestel word op aarde, is doodgewoon deel van die verganklikheid en verydeling van hierdie wêreld, presies dít waarvoor Jesus gekom het om alles op te hef en nuut te maak.

Elke gestremde en sieke waaraan Jesus op aarde geraak het – en daar was baie (blindes, dowes, kreupeles, verlamdes, melaatses, dooies) – en elke gestremde en sieke wat Jesus genees en met God versoen het, was ‘n teken van die nuwe bestel wat besig was om in te breek in hierdie wêreld.  Wonderwerke soos genesings was immers een van sy hoof bedieninge, saam met sy onderrig en prediking.

Trouens, Paulus spel God se doel met alle gelowiges soos volg uit: “So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.” (Ef. 1:4).  Christus het ons as sy kerk so liefgehad dat Hy sy lewe daarvoor afgelê het: “Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik.” (Ef. 5:26-27).

Ook ons sal dus eenmaal heilig van binne en heel van buite, heeltemal onberispelik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, voor Hom wees.  Watter visie!  Watter hoop!

En waar ons hierdie genesing vandag nog nie ervaar nie, het ons die hoop op ‘n nuwe hemel en nuwe aarde waar daar geen leed van watter aard ook al sal wees, verseker ook geen gestremdheid nie.  Hoe pragtig sê Paulus dit nie in 2 Korintiërs 4:16-17: “Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.  Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.

Dit is ook ons hoop!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Levitikus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.