Levitikus 3 – Die maaltydoffer as gemeenskap met God en mekaar
Waar die brandoffer versoening gebring het tussen God en sy mense (vgl. die riglyne oor bloed en verbranding), en die graanoffer die verbond met God bevestig het (vgl. die riglyne oor suurdeeg en sout), het die maaltydoffer die gemeenskap met God en mekaar gevier. Daarom is die vet van die binnegoed verbrand vir God en die vleis geëet deur die familie. Selfs die priesters het daarin gedeel (Lev. 7). Almal kon deel in die gemeenskap wat die verbond tussen hulle tot stand gebring het.
Die beskrywing van die maaltydoffer is aan die hand van die tipe dier wat geoffer word, ingedeel, telkens afgesluit met die beskrywing daarvan as ‘n vuuroffer: ‘n bees – vers 1-5; ‘n skaap – vers 6-11; ‘n bok – vers 12-16. Vers 17 rond dit af met die opmerking dat dit vir altyd só in die geslagte nagekom moet word.
Hierdie offers is by die ingang van die tent van ontmoeting geslag, want dit is waar die grootste deel van die offer deur die deelnemers gekook en geëet sou word.
Die vet is verbrand
Die vet van die organe is aan die Here geoffer, uiteraard nie die vet wat onder die vel en in die res van die dier teenwoordig was nie. Laasgenoemde het die Here bedoel as ‘n lekkerny vir die familie, soos Moses in Deut. 32:14 verkondig. Dit het egter die vetstert uitgesluit. Die vetstert is ook aan die Here geoffer. En dit was nogal besonders. Die skaapras waarmee hulle merendeels geboer het, het ‘n prominente stert gehad wat ongeveer 7 kg geweeg het!
Daar is nie duidelikheid oor die presiese rede waarom die vet van die organe en die vetstert aan die Here behoort het nie. Dit kan te make hê met die idee dat daar krag in vet gelê het, soos Dawid in sy treurlied oor Saul en Jonatan metafories te kenne gee: “die vet van helde.” Omdat God gereken is as die enigste bron van krag, was dit moontlik ‘n erkenning daarvan (Hartley).
Die niere en die punt van die lewer is verbrand
Die niere – setel van gevoelens en die gewete (Ps. 73:21: “Toe my hart bitter gestemd en ek in my niere geprikkel was”; Ps. 16:7: “selfs in die nag vermaan my niere my” – OAV) soos dit ook gegeld het van die hart (Jer. 17:10: “Ek, die HERE, deursoek die hart, toets die niere” – OAV) – en die punt van die lewer – wat in voorspellings gebruik is – is saam met die vet aan die Here geoffer.
Dit het dus aan die een kant gesimboliseer dat die Here die binnekant van die deelnemers suiwer en aan Hom verbind. Aan die ander kant het hulle simbolies hulle afgekeer van heidense gebruike deur nie die wil van die Here op enige ander manier as wat Hyself voorskryf, te probeer bekom nie.
Die motivering was dankbaarheid, ‘n gelofte of ‘n vrywillige offer
Levitikus 7:15–18 spel die motivering vir dié offer verder uit – dankbaarheid, gelofte of vrywillig – en Levitikus 7:28-34 dat die bors en regterboud die priesters toegekom het. Hierdie maaltydoffer was dus ‘n dankoffer vir al die goeie gawes wat God gee en ‘n viering van die vrede wat Hy vir hulle bring in hulle verhouding met Hom en met mekaar. Daarom het dit ook bekend gestaan as die vredeoffer.
Die priesters het in die vreugde daarvan gedeel en jy kon ook gaste saamnooi om in die feestelikheid te deel (Deut. 12:18), soos ons dit ‘n paar keer in die bediening van Samuel sien in sy verhouding met Saul (1 Sam. 9:12-13) en Dawid (1 Sam. 16:1-3).
Die waarde het in die gemeenskap gelê wat tussen God en mense tot stand gekom het
Die waarde van dié offer sou dan ook telkens deur die loop van die geskiedenis van Israel beklemtoon word, soos ons bv. by Hanna (1 Sam. 1) en Salomo (2 Kon. 8) se verhale lees. Dit was immers ‘n offer wat bedoel was vir feesviering en vreugde in die gemeenskap met die Here, soos by Salomo, en soms juis as ‘n gebed daartoe, soos by Hanna.
Salomo het die tempel met ‘n maaltydoffer ingewy. Die feesviering hiermee was só groot dat hulle spesiale reëlings moes tref om die massa maaltydoffers – 22 000 beeste en 120 000 kleinvee – in die voorhof te offer, aangesien die bronsaltaar te klein was (1 Kon. 8). Die reëling volgens Levitikus was in elk geval dat die diere van die maaltydoffers by die opening van die Tabernakel geslag word en net dié dele wat verbrand moes word, is op die altaar geoffer. Die res het die families en die priesters geëet.
Let op dat al die offers daar ‘n maaltydoffer genoem word, maar dat dit brandoffers en graanoffers ingesluit het. Al die diere is ook nie op een slag geslag nie, want die oorblyfsel na ‘n dag se feesviering moes volgens die wet verbrand word, en hulle het vir veertien dae fees gevier!
Hanna het só ‘n maaltydoffer as ‘n geleentheid vir gebed gebruik. Dit is die agtergrond waarteen ‘n mens die verhaal van Elkana en Hanna in 1 Sam. 1:4-8 moet lees. Hanna se kleiner deel van die maaltydoffer het haar kinderloosheid geïllustreer. En by só ‘n offergeleentheid het sy die Here gesmeek vir ‘n kind en is een van die grootste profete van Israel gebore, Samuel. Die gemeenskap met die Here wat deur die maaltydoffer tot stand gekom het, was die basis waarop sy die Here om ‘n ingryping in haar lewe kon vra.
Die feit dat ‘n deel van die offer verbrand is as ‘n gawe aan die Here terwyl die res deur die families en ook die priesters geëet is, het egter ook die boodskap gedra dat daar steeds ‘n fundamentele onderskeid tussen God en sy mense gehandhaaf is. Die gemeenskap wat hulle via die offer kon geniet, het nie die grense tussen God en sy mense opgehef nie. Hy het God gebly en hulle sy mense.
Maaltydoffers het ‘n nasionale impak gehad
Dit was ook die tipe offer wat met die salwing van konings geassosieer is, soos ‘n mens by Dawid sien (1 Sam. 16:1-3) en selfs met die abortiewe pogings van Absalom (2 Sam. 15:7-12) en Adonia (1 Kon. 1:9) wat probeer het om hulleself as konings te kroon.
Dié offers moes dus op die korrekte wyse gebring word, soos Saul tot sy spyt agter gekom het toe hy sy koningskap verloor het omdat hy sy manskappe se guns met brandoffers en maaltydoffers op ‘n ongeoorloofde manier wou koop (1 Sam. 13:9). Dawid daarenteen het juis die wonder van die vrede wat God gee, beleef toe hy ná sy straf vir die sonde met Batseba brandoffers en maaltydoffers gebring het. Die Here het nie net die plaag in Israel gestop nie, maar ook weer Israel se gebede begin verhoor (2 Sam. 24:25).
Maaltydoffers het krisisse beredder
By geleentheid is hierdie maaltydoffer ook gebruik as ‘n manier om as volk saam te kom om saam die Here se aangesig te soek. Ons lees in die Rigterstyd dat die hele volk met die grusame verkragting van die Leviet se byvrou in Gibea in die gebied van Benjamin bymekaarkom en oorlog verklaar het teen Benjamin. Hulle word egter twee keer verslaan totdat hulle besluit om die riglyne van Levitikus te volg. Nadat hulle hulleself verootmoedig het voor God met brandoffers en maaltydoffers het hulle met die derde probeerslag oorwin.
Maaltydoffers is ook as metafoor vir God se oordeel gebruik
Daar is egter ook ‘n ontstellende gebruik van hierdie maaltydoffer as ‘n metafoor vir God se oordeel oor die nasies (Eseg. 39:17) en oor Israel (Sef. 1:7) waarin die offers die mense self is. ‘n Grusame prentjie van die effek wat die sonde en ongehoorsaamheid in mense se lewens kan hê.
Boodskap vir vandag: gemeenskap met God en mekaar by die nagmaal en liefdesmaaltye
Dit is dus geen wonder dat Jesus se bediening in die NT baie keer rondom maaltye gebeur het nie. Daar is ‘n duidelike verband tussen die gemeenskap wat tussen God en die families, priesters en uitgenooide gaste tot stand gekom het rondom die maaltydoffers by die tabernakel in die OT en die gemeenskap wat in die NT rondom Jesus tot stand gekom het. Ons sien dit reeds in die verhaal van die roeping van die tollenaar-dissipel Matteus (Levi) waar Jesus by hom in die huis gaan eet het en talle tollenaars en sondaars by hulle aangesluit het (Matt. 9:9-13) en waarskynlik ook in die verhaal van Saggeus waar Jesus by hom tuis gaan (Luk. 19:1-10).
Selfs in die wonderwerke van broodvermeerdering (al vier evangelies vermeld dit: Mark. 6:35-44; Matt. 14:15-21; Luk. 9:12-17; Joh. 6;5-14) is daar ‘n klem op die gemeenskap wat met Jesus en mekaar – hulle gaan sit “klompies-klompies” om te eet (Mark. 6:39) – rondom ‘n maaltyd tot stand kom. Jesus gebruik ook in sy gelykenisse soms ‘n maaltyd as metafoor vir die gemeenskap wat in die koninkryk van God tussen Hom en sy mense tot stand kom (Luk. 14:15-24), soms uitgedruk as ‘n bruilofsmaaltyd (Matt. 22:1-14) en waarin die gereedheid vir die maaltyd (die vyf verstandige en vyf onverstandige meisies: Matt. 25:1-13; die man sonder bruilofsklere: Matt. 22:11-14) belangrik is. Dieselfde geld die nagmaal (Luk. 22:14-23) en die bruilofsmaaltyd van die Lam aan die einde van die tyd (Openb. 19:9).
Dit was nie anders in die vroeë kerk nie. Soos gelowiges in die OT rondom die maaltydoffers gemeenskap met God en mekaar geniet het, het gelowiges in die NT gemeenskap met God en mekaar by die nagmaal en liefdesmaaltye geniet. Daarom het gelowiges gereeld brood gebreek met die gemeenskaplike maaltyd en: “hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys.” (Hand. 2:46-47).
Dit het ook gebeur met die viering van die nagmaal soos Paulus aan die Korintiërs skryf en hulle ook wys op die tipe riglyne wat hulle in die proses moet nakom, sodat almal in die vreugde daarvan kon deel (1 Kor. 10-11). Anders as met die maaltydoffers in die OT waar die bloed nie vir die gelowiges beskore was nie, het die bloed van Christus in die NT juis ‘n prominente plek op sy bevel ingeneem met die wyn van die nagmaal wat saam met die brood die tekens van en gemeenskap met sy bloed en liggaam geword het.
Daardeur het ons nie net die voordele van die verbond wat die Here Jesus met ons gesluit het, ontvang nie, maar is Hy nou self ons vrede, soos Paulus in sy briewe aan Efese en Kolosse skrywe (Ef. 2:14,17; Kol. 1:20).
Hierdie maaltye is daarby ook nie meer by die tempel gehou nie, maar in die huise van gelowiges, want op dié manier het God deur sy Gees die gemeenskap met Hom binne bereik van elke gelowige gebring waar hulle ook al gebly of gereis het.
View all posts in this series
- Die gebruik van Levitikus in die Nuwe Testament - June 20, 2016
- Lees Levitikus saam met my van 12 April af - April 10, 2017
- “Wees heilig, want Ek is heilig” - April 12, 2017
- Jahwe is ‘n God wat beveel
- Indeling
- Levitikus in die Nuwe Testament
- “Volgende jaar is Jerusalem!” – Liturgie gebaseer op elemente van die Joodse Paasmaaltyd
- Levitikus 1 – Almal moes volmaakte en aanneemlike brandoffers bring vir die Here - April 20, 2017
- Levitikus 2 – Suurdeeg word verbied en sout gebied by die graanoffer - April 21, 2017
- Levitikus 3 – Die maaltydoffer as gemeenskap met God en mekaar - April 24, 2017
- Levitikus 4:1-5:13 – Die sondeoffer as reiniging en vergifnis van konkrete sondes - April 25, 2017
- Levitikus 5:14-6:7 – Die skuldoffer as restitusie en regstelling van konkrete sondes - April 26, 2017
- Levitikus 6:8-7:38 – Riglyne vir priesters oor prosesse rondom die offers - April 27, 2017
- Levitikus 8 – Aäron word ingehuldig as Hoëpriester en sy seuns as priesters - April 28, 2017
- Levitikus 9 – Israel word geseën met die teenwoordigheid van die Here - May 1, 2017
- Levitikus 10 – Die dood van Nadab en Abihu illustreer God se onverbiddelike heiligheid - May 2, 2017
- Levitikus 11 – Die onderskeid rein en onrein help Israel om daagliks in God se teenwoordigheid te lewe - May 3, 2017
- Levitikus 12 – Rituele reiniging ná geboorte weens bloedvloeiing - May 4, 2017
- Levitikus 13-14 – Rituele reiniging ná onreinheid deur velsiektes, brandwonde, skimmel of swamme - May 8, 2017
- Levitikus 15 – Rituele reiniging weens seksuele afskeidings - May 9, 2017
- Levitikus 16 – Die Groot Versoendag bring versoening met God en reiniging van die sonde - May 10, 2017
- Levitikus 17 – Aan God alleen word geoffer en gehou by die verbod op die eet van bloed - May 11, 2017
- Levitikus 18 – Enige seksuele verhouding buite die huwelik word afgekeur - May 12, 2017
- Levitikus 19 – Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig - May 15, 2017
- Levitikus 20 – Die hele gemeenskap moet sorg dat God se voorskrifte nagekom word - May 16, 2017
- Levitikus 21 – Voorskrifte vir priesters rondom die dood, die huwelik en gestremdheid - May 17, 2017
- Levitikus 22 – Die priesters moes sorg dat alle offers vir God aanneemlik is - May 18, 2017
- Levitikus 23 – Vyf feeste om saam in die teenwoordigheid van die Here te vier - May 19, 2017
- Levitikus 24 – Die gemeenskap van God en sy mense beïnvloed hulle hele lewe - May 20, 2017
- Levitikus 25 – God se eienaarskap van die land word met die Sabbatsjaar en Jubeljaar gevier - May 22, 2017
- Levitikus 26 – Vier seëninge en vyf strawwe word aan hulle gehoorsaamheid in die land gekoppel - May 23, 2017
- Levitikus 27 – Geloftes in buitengewone en tiendes in normale omstandighede - May 24, 2017
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar