Skip to main content

Levitikus 6:8-7:38 – Riglyne vir priesters oor prosesse rondom die offers

Die laaste twee hoofstukke van die eerste deel van Levitikus fokus op verskillende fyner reëlings rondom die vyf offersbrandoffers, graanoffers, maaltydoffers, sondeoffers, en skuldoffers – vir die aandag van die priesters.  Dit handel veral oor die prosesse wat gevolg moet word, om bv. die vure aan die gang te hou en die altare skoon te maak, en wat die priesters moet doen met dié dele wat vir hulle gebruik bedoel is.

Dit is ook moontlik dat van hierdie reëlings mettertyd bygevoeg is by die oorspronklike opdragte aan Moses soos ‘n mens kan aflei uit die feit dat uit die nege perikope in dié twee hoofstukke, vyf daarvan as opdragte aan Moses vanuit die Tabernakel gegee word, aangedui met die formule: “die Here het vir Moses gesê” en vier van die perikope heel in die algemeen as “reëlings oor” of “waar …” aangedui word.  Hier is ‘n lys daarvan:

Die Here het vir Moses gesê

  • 6:8 – brandoffers;
  • 6:19 – hoëpriester se rol;
  • 6:24 – sondeoffer;
  • 7:22 – verbod op vet en bloed;
  • 7:28 – priesters se aandeel aan die maaltydoffers.

Reëlings oor” of “waar …

  • 6:14 – graanoffers;
  • 7:1 – skuldoffer;
  • 7:8 – priesters se aandeel aan die brandoffers en graanoffers;
  • 7:11 – maaltydoffers.

Let op hoe dit duidelik is dat die brandoffer die hele tyd aan die gang gehou is, selfs regdeur die nag.  Versoening vir die volk se sondes was dus ‘n voortdurende vereiste.  Die vuur op die altaar mag nooit doodgegaan het nie.

In die geval van dié dele wat deur die priesters geëet word, is dit duidelik dat die dele wat wel verbrand word ‘n simbool is van die hele offer wat deur die Here aanvaar is, soos dit eksplisiet by die graanoffer uitgespel word.

Dit is ook heel gepas dat die offers wat die priesters gebring het volledig geoffer is sonder dat daar eers ‘n deel daarvan teruggehou is vir hulle eie gebruik.  Die priesters kon immers nie baat uit hulle eie offers nie.

Die reëlings dat vleis nie langer as op die derde dag geëet mag word nie, het duidelike gesondheidsimplikasies gehad.  Daarom word sulke vleis as onrein beskou.

Boodskap: Jesus het eens en vir altyd ‘n offer vir die sondes gebring

As ‘n mens nou die hele offerkultus in oënskou neem en veral die herhalende en voortdurende karakter daarvan – die vuur mag nooit op die brandofferaltaar doodgegaan het nie, en daar moes te alle tye versoening vir die volk se sondes met brandoffers gedoen word – dan het ‘n mens ‘n nuwe waardering vir die wonderlike werklikheid van die Here Jesus se eens en vir altyd offer vir ons sondes in die NT, soos die Hebreërskrywer dit vir ons uitlig.

Vir ons was so ’n hoëpriester nodig, een wat heilig, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars en verhoog bo die hemele, een wat nie, soos die hoëpriesters, elke dag offers hoef te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir dié van die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd ’n offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het.” (Hebr. 7:26-27).

Hoe wonderlik die reëlings vir die offers in die OT ook al was, en hoe konkreet die rituele en reuke van die offerkultus die versoening en vergifnis ook al vir die geloofsgemeenskap was, dit kon nie die harte van die gelowiges reinig nie.

Die wet van Moses met sy offers was dus: “slegs ’n skadubeeld van die weldade wat sou kom, nie ’n werklike beeld daarvan nie. Voortdurend, jaar na jaar, word dieselfde offers gebring, en tog kan die wet dié wat die offers bring, nooit volkome van sonde vrymaak nie.” (Hebr. 10:1).

Die Here Jesus Christus: “het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit.” (Hebr. 10:12).  “Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak.” (Hebr. 10:14).  Daarom kan ons God van binne af dien, vanuit ons hart.

Trouens, “ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam.” (Hebr. 10:19-21).  Die Hebreërskrywer moedig ons aan om die hemelse heiligdom in gebed en saam met die geloofsgemeenskap te betree, terwyl ons Jesus as groot priester oor die huis van God het: “laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water.” (Hebr. 10:22)

Dit sluit ook ons fokus op die hiernamaals sowel as die hiermaals in: “Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het.  Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.” (Hebr. 10:23-25).

View all posts in this series

Levitikus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar