Skip to main content

Levitikus 6:8-7:38 – Riglyne vir priesters oor prosesse rondom die offers

Die laaste twee hoofstukke van die eerste deel van Levitikus fokus op verskillende fyner reëlings rondom die vyf offersbrandoffers, graanoffers, maaltydoffers, sondeoffers, en skuldoffers – vir die aandag van die priesters.  Dit handel veral oor die prosesse wat gevolg moet word, om bv. die vure aan die gang te hou en die altare skoon te maak, en wat die priesters moet doen met dié dele wat vir hulle gebruik bedoel is.

Dit is ook moontlik dat van hierdie reëlings mettertyd bygevoeg is by die oorspronklike opdragte aan Moses soos ‘n mens kan aflei uit die feit dat uit die nege perikope in dié twee hoofstukke, vyf daarvan as opdragte aan Moses vanuit die Tabernakel gegee word, aangedui met die formule: “die Here het vir Moses gesê” en vier van die perikope heel in die algemeen as “reëlings oor” of “waar …” aangedui word.  Hier is ‘n lys daarvan:

Die Here het vir Moses gesê

  • 6:8 – brandoffers;
  • 6:19 – hoëpriester se rol;
  • 6:24 – sondeoffer;
  • 7:22 – verbod op vet en bloed;
  • 7:28 – priesters se aandeel aan die maaltydoffers.

Reëlings oor” of “waar …

  • 6:14 – graanoffers;
  • 7:1 – skuldoffer;
  • 7:8 – priesters se aandeel aan die brandoffers en graanoffers;
  • 7:11 – maaltydoffers.

Let op hoe dit duidelik is dat die brandoffer die hele tyd aan die gang gehou is, selfs regdeur die nag.  Versoening vir die volk se sondes was dus ‘n voortdurende vereiste.  Die vuur op die altaar mag nooit doodgegaan het nie.

In die geval van dié dele wat deur die priesters geëet word, is dit duidelik dat die dele wat wel verbrand word ‘n simbool is van die hele offer wat deur die Here aanvaar is, soos dit eksplisiet by die graanoffer uitgespel word.

Dit is ook heel gepas dat die offers wat die priesters gebring het volledig geoffer is sonder dat daar eers ‘n deel daarvan teruggehou is vir hulle eie gebruik.  Die priesters kon immers nie baat uit hulle eie offers nie.

Die reëlings dat vleis nie langer as op die derde dag geëet mag word nie, het duidelike gesondheidsimplikasies gehad.  Daarom word sulke vleis as onrein beskou.

Boodskap: Jesus het eens en vir altyd ‘n offer vir die sondes gebring

As ‘n mens nou die hele offerkultus in oënskou neem en veral die herhalende en voortdurende karakter daarvan – die vuur mag nooit op die brandofferaltaar doodgegaan het nie, en daar moes te alle tye versoening vir die volk se sondes met brandoffers gedoen word – dan het ‘n mens ‘n nuwe waardering vir die wonderlike werklikheid van die Here Jesus se eens en vir altyd offer vir ons sondes in die NT, soos die Hebreërskrywer dit vir ons uitlig.

Vir ons was so ’n hoëpriester nodig, een wat heilig, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars en verhoog bo die hemele, een wat nie, soos die hoëpriesters, elke dag offers hoef te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir dié van die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd ’n offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het.” (Hebr. 7:26-27).

Hoe wonderlik die reëlings vir die offers in die OT ook al was, en hoe konkreet die rituele en reuke van die offerkultus die versoening en vergifnis ook al vir die geloofsgemeenskap was, dit kon nie die harte van die gelowiges reinig nie.

Die wet van Moses met sy offers was dus: “slegs ’n skadubeeld van die weldade wat sou kom, nie ’n werklike beeld daarvan nie. Voortdurend, jaar na jaar, word dieselfde offers gebring, en tog kan die wet dié wat die offers bring, nooit volkome van sonde vrymaak nie.” (Hebr. 10:1).

Die Here Jesus Christus: “het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit.” (Hebr. 10:12).  “Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak.” (Hebr. 10:14).  Daarom kan ons God van binne af dien, vanuit ons hart.

Trouens, “ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam.” (Hebr. 10:19-21).  Die Hebreërskrywer moedig ons aan om die hemelse heiligdom in gebed en saam met die geloofsgemeenskap te betree, terwyl ons Jesus as groot priester oor die huis van God het: “laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water.” (Hebr. 10:22)

Dit sluit ook ons fokus op die hiernamaals sowel as die hiermaals in: “Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het.  Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.” (Hebr. 10:23-25).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Levitikus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms