Levitikus 8 – Aäron word ingehuldig as Hoëpriester en sy seuns as priesters

Na die reeks opdragte van God uit die tabernakel aan Moses met instruksies oor die vyf tipe offers wat die Israeliete moet bring in hoofstuk 1-7 volg in hoofstuk 8-10 die instruksies vir die priesterlike orde wat die inhuldiging van die priesters volgens Eksodus 29 se opdragte, die eerste offers van Aäron, en die oordeel oor twee van Aäron se twee seuns, Nabab en Abihu, gaan insluit.

Eerste aan die beurt is die inhuldiging van die priesters, Aäron as hoëpriester en sy seuns as priesters.  Hulle word afgesonder, gereinig (met water, wat ‘n mens laat dink aan die NT doop), beklee, gesalf, en bevestig vir hulle dienswerk.  Die detail van die verrigtinge is reeds in Eksodus 29 beskrywe en kom dus in hoofsaak ooreen daarmee.  Vergelyk my bydrae: Eksodus 29 – Afgesonder en bevestig as God se verteenwoordigers.  Die hele gemeente van Israel is daarom teenwoordig as getuies van Moses se uitvoering van God se opdragte rondom die priesterlike orde.

Die urim en tummim word in Aäron se borssak gesit wat gaan dien as hulpmiddel in die onderskeiding van God se wil.  Die verbranding van die punt van die lewer met die offers, het hierby moontlik die boodskap gedra dat die lewer wat soms vir voorspellings gebruik is (vgl. bv. Eseg. 21:21), juis nie deel is van die wyse waarop God geraadpleeg mag word nie.  Die tulband met die goue blom aan die voorkant word op Aäron se kop gesit as teken van die genade waarmee God sy volk bejeën.

Met die salfolie word die tabernakel aan die Here gewy sowel as Aäron waarna hulle hulle plekke inneem om die diens van die priesterskap te begin uitvoer.  Die verskillende offers wat hulle eie sonde versoen en heilig om hulle werk te kan doen, word gebring presies soos dit in die vorige paar hoofstukke uitgespel is – die sondeoffer, brandoffer, graanoffer, en maaltydoffer (vir die priesterwyding).  Die enigste offer wat nie gebring is nie, was die skuldoffer wat net nodig sou word in die geval van restitusie of regstelling, wat uiteraard nie nou al hier nodig was nie.

Hiermee is die gesag van die Here aan die priesters oorgedra en het hulle op ‘n besondere wyse nie net die ervaring van God se teenwoordigheid geniet nie, maar Hom ook verteenwoordig by die Godsvolk.  Voorwaar ‘n besondere voorreg, maar ook ‘n uitdagende verantwoordelikheid.

Let op hoe die gemeenskap wat Aäron en sy seuns voortaan met die Here sou geniet, gesimboliseer word deur die sewe dae lange feesmaal by die ingang van die tent van ontmoeting.  Dit verseël die priesterlike funksie wat hulle voortaan deur die geslagte namens God en namens die volk sou verrig.  Hulle status is hierdeur verander van gewone lede van die volk na afgesonderde en geheiligde amptenare in diens van God self.

Boodskap: Jesus Christus is ons Hoëpriester en ons is ‘n koninklike priesterdom

Weereens is die boek Hebreërs die vanselfsprekende metgesel in die interpretasie van die betekenis van Levitikus se skildering van die inhuldiging en bevestiging van die priesterlike orde.  Maar daar is ‘n rykdom van ander gedeeltes in die Bybel wat dié boodskap hiervan verder uitpak en op ons hele Christelike lewe van toepassing maak.  Ek lys ‘n paar daarvan:

  • Die Hoëpriester van die kerk van die NT is die Here Jesus Christus (Hebr. 3:1; 5:5).
  • Hy het Hom met ons vereenselwig deur die reinigende doop in die Jordaan (Matt. 3:13-15).
  • Hy is deur God gesalf vir sy bediening deur die Gees wat in die vorm van ‘n duif op Hom neergedaal het (Matt. 3:16-17).
  • Hy het Homself as ‘n offer aan die kruis laat spyker om eens en vir altyd vir die sonde van sy mense versoening by God te doen (Hebr. 12:2; 1 Pet. 2:24).
  • Deur die feesmaal van die nagmaal kan ons nou almal aansit en die gemeenskap met God geniet, nie net vir sewe dae soos hier met die maaltydoffer in Levitikus 8 nie, maar vir ewig by die feestelike samekoms: “die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is” (Hebr. 12:22-24).
  • Hy het vir ons toegang gegee tot die hemelse heiligdom (Hebr. 9:11-12; 10:19-22).
  • Sy eenmalige offer het ‘n blywende krag wat nooit tot niet sal gaan nie (Hebr. 7:23-25).
  • Hy tree vir ons as die ewige Hoëpriester en Voorspraak in by God (1 Joh. 2:1-2).
  • Ons is nou ‘n koninklike priesterdom wat deur God ingespan word as sy gestuurdes op aarde om sy lof en heerlikheid te verkondig (1 Pet. 2:9-10).
  • Dit is waarom ons ook self geheilig word in ons dienswerk in terme van ons gewete (Hebr. 9:14), ons sonde (Hebr. 13:12), die ongeregtigheid (2 Tim. 2:21), en ons gedrag (Gal. 5:25) om die Here te kan dien as heiliges sodat ons “na gees, siel en liggaam”, so bewaar kan word dat ons: “onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom!” (1 Tes. 5:23). Soos Paulus aan Titus dit stel: “Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen.” (Tit. 2:14).
  • Dié dienswerk sluit lofprysing en verkondiging in (1 Pet. 2:9), voorbidding (Ef. 3:14-21), vermaning (Jak. 5:19-20), gebed vir genesing (Jak. 5:14-15) en vergifnis (Jak. 5:16; 1 Joh. 5:16) wat ons doen met die gesag wat die Here Jesus self as Hoëpriester aan ons verleen (Matt. 16:19; 18:18-20).

Soos Hartley dit opsom in sy uitstekende kommentaar op Levitikus:

The primary function of the church is to serve a deeply troubled world as priests, mediators of God’s grace and instructors of the way to God.” (Word kommentaar).

View all posts in this series

Levitikus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Eksodus 26Hi Faan, ja, hulle het gebruik wat beskikbaar was, hoewel van die materiaal natuurlik ook saam gekarwei kon gewees het op trek van die Rooi See af. Di…
  • Chris van Wyk on Eksodus 27Hi Isaac, die Israeliete word in Jesaja 52:11 die opdrag gegee om niks onheiligs van Babel met hulle saam te neem terwyl hulle terugkeer na hulle land…
  • Chris van Wyk on Jesus se Ek is-uitsprakeHi Isaac, daar is baie materiaal by hierdie webtuiste. Dit is alles gratis.
  • Isaac Davids on Eksodus 27Goeiemore. Hoop dit Gaan goed. Ek Wil weet wat is die betekenis of openbaring in hierdie skrif Vir vandag in Jesaja 52:11 spesifiek "draers van die He…
  • Faan de Wit on Eksodus 262 dinge wat my opval is die gebreide dolfyn of Tornyn velle as buitenste bedekking van die tabernakel. Dit beteken bemagtigde vissers moes van Sinai w…
  • Isaac Davids on Jesus se Ek is-uitsprakeHi. Ek Wil van u studie materials he asb. Dankie.
  • Chris van Wyk on Eksodus 26👍
  • Marius on Eksodus 26Amen,net so en so moet ons verstaan wie ons nou in Christus is,sodat ons so kan wandel elke dag.
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieDie punt van die gedeelte is dat Christus naby is. 'n Mens kan in Hom glo, want Hy het eers uit die hemel neergedaal en mens geword. Hy het toe gester…
  • Chris van Wyk on Eksodus 21Hi Frans, jy sou enige Bybelboek met die hulp van my bydraes op die webtuiste met hulle kon deurwerk. Veritas het ook 'n boek wat spesifiek op jongmen…
  • Petrus on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieGoeie More Chris Dus, om the se "Wie sal opvaar, " beteken nie gelowiges en regeverdiges, maar praat van Christus in die teks? Ook, "wie sal neerdaal,…
  • Frans Joseph Scheepers on Eksodus 21Goeie more my naam is Frans Scheepers en ek het laat verlede jaar hierdie besonderse ontdekking gemaak van wat u vir die Christen wêreld doen. Ek is '…
  • Chris van Wyk on RomeineHi Mariaana, jy kan Romeine lees by hierdie skakel: http://bybelskool.com/romeine/. Volg net die skakels aan die onderkant van daardie bydrae. Oor God…
  • Mariaana on RomeineHoe maak ek om die bybelstudie oor die boek Romeine te bekom En ook oor God Se wil asb
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieHi Petrus, FF Bruce verklaar dit in sy kommentaar só: "Moenie in jou hart sê: ‘Wie sal na die hemel opvaar nie?’ – dit wil sê om Christus neer te brin…
%d bloggers like this: