Skip to main content

Levitikus 8 – Aäron word ingehuldig as Hoëpriester en sy seuns as priesters

Na die reeks opdragte van God uit die tabernakel aan Moses met instruksies oor die vyf tipe offers wat die Israeliete moet bring in hoofstuk 1-7 volg in hoofstuk 8-10 die instruksies vir die priesterlike orde wat die inhuldiging van die priesters volgens Eksodus 29 se opdragte, die eerste offers van Aäron, en die oordeel oor twee van Aäron se twee seuns, Nabab en Abihu, gaan insluit.

Eerste aan die beurt is die inhuldiging van die priesters, Aäron as hoëpriester en sy seuns as priesters.  Hulle word afgesonder, gereinig (met water, wat ‘n mens laat dink aan die NT doop), beklee, gesalf, en bevestig vir hulle dienswerk.  Die detail van die verrigtinge is reeds in Eksodus 29 beskrywe en kom dus in hoofsaak ooreen daarmee.  Vergelyk my bydrae: Eksodus 29 – Afgesonder en bevestig as God se verteenwoordigers.  Die hele gemeente van Israel is daarom teenwoordig as getuies van Moses se uitvoering van God se opdragte rondom die priesterlike orde.

Die urim en tummim word in Aäron se borssak gesit wat gaan dien as hulpmiddel in die onderskeiding van God se wil.  Die verbranding van die punt van die lewer met die offers, het hierby moontlik die boodskap gedra dat die lewer wat soms vir voorspellings gebruik is (vgl. bv. Eseg. 21:21), juis nie deel is van die wyse waarop God geraadpleeg mag word nie.  Die tulband met die goue blom aan die voorkant word op Aäron se kop gesit as teken van die genade waarmee God sy volk bejeën.

Met die salfolie word die tabernakel aan die Here gewy sowel as Aäron waarna hulle hulle plekke inneem om die diens van die priesterskap te begin uitvoer.  Die verskillende offers wat hulle eie sonde versoen en heilig om hulle werk te kan doen, word gebring presies soos dit in die vorige paar hoofstukke uitgespel is – die sondeoffer, brandoffer, graanoffer, en maaltydoffer (vir die priesterwyding).  Die enigste offer wat nie gebring is nie, was die skuldoffer wat net nodig sou word in die geval van restitusie of regstelling, wat uiteraard nie nou al hier nodig was nie.

Hiermee is die gesag van die Here aan die priesters oorgedra en het hulle op ‘n besondere wyse nie net die ervaring van God se teenwoordigheid geniet nie, maar Hom ook verteenwoordig by die Godsvolk.  Voorwaar ‘n besondere voorreg, maar ook ‘n uitdagende verantwoordelikheid.

Let op hoe die gemeenskap wat Aäron en sy seuns voortaan met die Here sou geniet, gesimboliseer word deur die sewe dae lange feesmaal by die ingang van die tent van ontmoeting.  Dit verseël die priesterlike funksie wat hulle voortaan deur die geslagte namens God en namens die volk sou verrig.  Hulle status is hierdeur verander van gewone lede van die volk na afgesonderde en geheiligde amptenare in diens van God self.

Boodskap: Jesus Christus is ons Hoëpriester en ons is ‘n koninklike priesterdom

Weereens is die boek Hebreërs die vanselfsprekende metgesel in die interpretasie van die betekenis van Levitikus se skildering van die inhuldiging en bevestiging van die priesterlike orde.  Maar daar is ‘n rykdom van ander gedeeltes in die Bybel wat dié boodskap hiervan verder uitpak en op ons hele Christelike lewe van toepassing maak.  Ek lys ‘n paar daarvan:

  • Die Hoëpriester van die kerk van die NT is die Here Jesus Christus (Hebr. 3:1; 5:5).
  • Hy het Hom met ons vereenselwig deur die reinigende doop in die Jordaan (Matt. 3:13-15).
  • Hy is deur God gesalf vir sy bediening deur die Gees wat in die vorm van ‘n duif op Hom neergedaal het (Matt. 3:16-17).
  • Hy het Homself as ‘n offer aan die kruis laat spyker om eens en vir altyd vir die sonde van sy mense versoening by God te doen (Hebr. 12:2; 1 Pet. 2:24).
  • Deur die feesmaal van die nagmaal kan ons nou almal aansit en die gemeenskap met God geniet, nie net vir sewe dae soos hier met die maaltydoffer in Levitikus 8 nie, maar vir ewig by die feestelike samekoms: “die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is” (Hebr. 12:22-24).
  • Hy het vir ons toegang gegee tot die hemelse heiligdom (Hebr. 9:11-12; 10:19-22).
  • Sy eenmalige offer het ‘n blywende krag wat nooit tot niet sal gaan nie (Hebr. 7:23-25).
  • Hy tree vir ons as die ewige Hoëpriester en Voorspraak in by God (1 Joh. 2:1-2).
  • Ons is nou ‘n koninklike priesterdom wat deur God ingespan word as sy gestuurdes op aarde om sy lof en heerlikheid te verkondig (1 Pet. 2:9-10).
  • Dit is waarom ons ook self geheilig word in ons dienswerk in terme van ons gewete (Hebr. 9:14), ons sonde (Hebr. 13:12), die ongeregtigheid (2 Tim. 2:21), en ons gedrag (Gal. 5:25) om die Here te kan dien as heiliges sodat ons “na gees, siel en liggaam”, so bewaar kan word dat ons: “onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom!” (1 Tes. 5:23). Soos Paulus aan Titus dit stel: “Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen.” (Tit. 2:14).
  • Dié dienswerk sluit lofprysing en verkondiging in (1 Pet. 2:9), voorbidding (Ef. 3:14-21), vermaning (Jak. 5:19-20), gebed vir genesing (Jak. 5:14-15) en vergifnis (Jak. 5:16; 1 Joh. 5:16) wat ons doen met die gesag wat die Here Jesus self as Hoëpriester aan ons verleen (Matt. 16:19; 18:18-20).

Soos Hartley dit opsom in sy uitstekende kommentaar op Levitikus:

The primary function of the church is to serve a deeply troubled world as priests, mediators of God’s grace and instructors of the way to God.” (Word kommentaar).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Levitikus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…