Skip to main content

Levitikus 20 – Die hele gemeenskap moet sorg dat God se voorskrifte nagekom word

Levitikus 20 sit die uitleg van die Tien Gebooie voort in die eerste agt verse met spesifieke verwysing na afgode, (voorvader)geeste en waarsêers – 20:1-8.  Daarna keer dit terug na die seksuele oortredings wat in Levitikus 18 genoem is – 20:9-21.  Dit sluit af met ‘n opsommende opmerking oor al die wette van Levitikus 18-20 dat dié voorskrifte gehoorsaam en uitgevoer moet word sodat die Israeliete nie in dieselfde strik val as die Kanaäniete wat weens hulle sondige seksuele en afgodiese gebruike uit die land gedryf is nie – 20:22-27.

Waar die voorskrifte oor seksuele gedrag in Levitikus 18 egter meer pastoraal van aard was met die oog daarop dat elke familie hulle daaraan sou hou, wil dit voorkom asof Levitikus 20 baie meer formeel gerig is op die hele gemeenskap van Israel om hulle nie net te waarsku teen ongeoorloofde seksuele gedrag nie, maar ook die publieke hantering daarvan deur steniging, verbranding of verbanning uit te spel.

Levitikus 18 was dus meer vir die families bedoel. Levitikus 20 was meer vir die gemeenskap bedoel.  Waar dit in ‘n familie nog moontlik was om hierdie dinge geheim te hou, was dit in die gemeenskap onmoontlik.  Almal het die verantwoordelikheid gehad om te waak oor die seksuele gedrag in die gemeenskap en was ook verplig om by die uitvoering van die strafmaatreëls betrokke te raak.

Voorskrifte rondom Molek, (voorvader)geeste en waarsêery – 20:1-8

Die gemeenskap moes optree teen persone wat kinderoffers bring aan Molek sowel as teen dié wat nie op die Here vertrou nie, maar (voorvader)geeste of waarsêers raadpleeg.  In die geval van kinderoffers was die straf steniging of “afsnyding” deur een of ander handeling van God self, moontlik ekskommunikasie of verbanning vanaf die heiligdom.

Molek was die god van die Ammoniete (1 Kon. 11:9) en het ook bekend gestaan as Milkom (1 Kon. 11:5, 33; 2 Kon. 23:13; Jer. 49:1, 3; Sef. 1:5).  Die Ammoniete was die nasate van die bloedskandelike verhouding tussen Lot en sy jongste dogter.  Hierdie Kanaänitiese god is verbind met die son en kinderoffers.  Seuns en dogters is as kinderoffers vir Molek (soms ook vir Baäl – Jer. 19:5) verbrand onder andere by die offerplek by die Ben-Hinnomdal (vgl. Deut. 12:31 wat ook oor verbranding van kinders praat, hoewel die gode nie geïdentifiseer word nie).

Esegiël vertel later dat die kinders eers geslag is en daarna verbrand is (Eseg. 16:21) wat ooreenkom met die beskrywing van Levitikus 18:21 en 20:1 dat die kinders aan hom “gegee” of “toegewy” is.  Dit wil ook voorkom asof dit veral die eersgeborenes was (Eseg. 20:25-26,31), ‘n verwording van die idee dat die eersgeborenes aan die Here “gegee” moes word (Eks. 13).  Josia het dié offerplek met sy hervormings in die tyd van Jeremia verbrand (2 Kon. 23:10; Jer. 32:35).  Jesaja veroordeel ook die offers vir Molek wat met olie en wierook geassosieer is (Jes. 57:9).

Die verwysing in die NT na Molek bevestig dat hierdie kinderoffers al in die woestyntyd ‘n uitdaging was, want Stefanus verwys daarna in sy toespraak voor die Joodse Raad en verkwalik Israel dat hulle al in die woestyn die “tent van Molek” met hulle saamgeneem het en sy afgodsbeeld aanbid het (Hand. 7:43).

Dié verwysing is egter nie sonder sy probleme nie, want Stefanus haal in sy toespraak uit Amos 5:25-27 aan as bewysplaas vir sy interpretasie.  In die Hebreeuse teks van Amos is daar egter nie sprake van die “tent van Molek” nie, maar wel van die beelde van die (Assiriese god): “Sukkot, julle koning”.

Stefanus se interpretasie berus egter op die Griekse vertaling van Amos, die LXX.  Die Griekse vertalers het die frase; “Sukkot, julle koning” vertaal met: “tent van Molek”, soos die Hebreeuse teks inderdaad gelees kan word, wat ‘n heel ander betekenis aan die Amos teks gegee het.

Omdat Stefanus se uitspraak oor Molek ooreenkom met die voorskrif in Levitikus 20 (en 18), en die Griekse vertaling se weergawe van die Hebreeuse teks inderdaad moontlik is, kan ‘n mens Stefanus se interpretasie van Amos steeds as ‘n geldige beskrywing beskou van die feit dat die Israeliete verlei is deur Molek om hulle kinders téén die Here se wil aan hom te offer.

Hoe dit ook al sy, dit is ‘n feit dat Molek nêrens in die Bybel direk met seksuele oortredings soos kinderprostitusie of kultusprostitusie verbind word nie.  Dit beteken dat ‘n mens verseker eerder aan kinderoffers moet dink in Levitikus 18 en 20.

Voorskrifte veral vir ongeoorloofde seksuele gedrag – 20:9-21

Weereens gaan ek ‘n lysie maak van die ongeveer dertien ongeoorloofde dade:

  • ‘n Kind wat sy ma of pa vloek – hy verdien die dood;
  • ‘n Man met enige getroude vrou van sy mede-burger, d.w.s. owerspel of egbreuk op grond van die sewende gebod, soos in Lev. 18 – hy moet doodgemaak word;
  • ‘n Seun met ‘n enige vrou van sy pa, soos in Lev. 18 – hy en die vrou moet albei doodgemaak word;
  • ‘n Pa met sy skoondogter, soos in Lev. 18 – hulle moet doodgemaak word, want dit is iets afskuwelik of pervers (těḇěl) soos dit vroeër ook van bestialiteit gesê is;
  • ‘n Man met ‘n man (zāḵār­ – algemene naam vir ‘n manlike persoon), soos in Lev. 18 – hulle moet doodgemaak word, want dit is afstootlik [tôʿēḇāh] soos dit vroeër in Lev. 18:22 gesê is;
  • ‘n Pa wat met ‘n vrou en haar dogter trou (of moontlik saamwoon, omdat dit nooit publiek goedgekeur sou word nie), effens anders beskryf as in Lev. 18 – hulle moet al drie ‘n vuurdood sterf, omdat sulke afskuwelike sondes nie geduld mag word nie;
  • ‘n Man of vrou met ‘n dier, soos dit ook Lev. 18 beskryf is, hoewel dit hier nie as afskuwelik of pervers (těḇěl) beskryf word nie – hulle moet saam met die dier doodgemaak word;
  • ‘n Broer met sy suster of halfsuster, soos dit in Lev. 18 beskryf is – hulle moet in die openbaar verban of geëkskommunikeer word, want dit is ‘n skande (ḥěsěḏ in die sin van “disgrace”). Dit is net een van twee plekke in die OT waar ḥěsěḏ in hierdie sin gebruik word (vgl. ook Spr. 14:34: “sonde bring skande oor ’n volk”).  Normaalweg dui ḥěsěḏ op liefde, veral God se lojale of verbondsliefde.  Hierdie gebruik van ḥěsěḏ dui op ‘n afskuwelike verdraaiing met hierdie ongeoorloofde seksuele verhouding van “liefde” in “skande”;
  • ‘n Man met ‘n vrou terwyl sy menstrueer, soos dit ook in Lev. 18 beskryf is – hulle moet in die openbaar verban of geëkskommunikeer word
  • ‘n Seun met sy tannie van watter kant ook al, soos dit ook in Lev. 18 beskryf is – hulle moet albei gestraf word, nie net deur die dood nie, maar ook deur alle ander regte, waarskynlik eiendoms- en erfreg, te verbeur;
  • ‘n Man wat sy skoonsuster van sy broer afneem, effens anders as in Lev. 18 – hulle word ook albei gestraf, nie net deur die dood nie, maar ook deur alle ander regte, waarskynlik eiendoms- en erfreg, te verbeur;

Behalwe dat Levitikus 20 nie die generiese bloedskandelike verbod bevat nie, word slegs drie ander ongeoorloofde seksuele verhoudings nie eksplisiet genoem nie, ‘n seun met sy ma, ‘n oupa met sy kleindogter, ‘n man met sy skoonsuster in ‘n poligame huwelik.  Die offer van kinders aan Molek is natuurlik in ‘n aparte mededeling in Levitikus 20 hierbo reeds gehanteer.

Opsommende voorskrifte vir Levitikus 18-20 – 20:22-27

Dit is die somtotaal van wat die Here van sy verbondsvolk verwag.  Al hierdie voorskrifte en bepalings moet gehoorsaam en uitgevoer word. As hulle dit nie sou doen nie, sal die Here toesien dat die land waarheen Hy hulle neem, hulle as’t ware uitspoeg, ‘n metafoor vir ballingskap, soos Hy dit met die Kanaänitiese nasies gaan doen weens hulle sondige praktyke.

Die punt is dat die Here hulle vir Homself uitgekies het, uit Egipte deur die woestyn sou lei, om vir hulle ‘n land te gee wat metafories beskou sal oorloop van melk en heuning.  Hulle is afgesonder vir God en daarom moet hulleself afgesonderd leef vir die Here.  Hulle moet hierdie “heiligheid” wys in hulle onderskeid tussen rein en onrein op alle terreine van die lewe.  “Julle moet heilig lewe, want Ek die Here is heilig.”

Die hoofstuk sluit af met ‘n verdere herhaling van die feit dat hulle slegs op die Here moet vertrou en glad nie iets met die oproep van geeste of met beswering te doene moet hê nie.  Dié wat sulke dinge doen verdien die dood.

Boodskap:  Ons moet versigtig wees dat ons “liefde” nie in God se oë ‘n “skande” is nie

Die boodskap van hierdie gedeelte loop baie in dieselfde voeë as dié van Levitikus 18.  Levitikus 20 brei meer uit oor die problematiek van Molek en maak die hele gemeenskap verantwoordelik om op te tree teenoor ongeoorloofde seksuele praktyke.  Ek gaan dus nie verder daaroor uitbrei nie.

Ek wil net een ding uitlig en dit is die kontras wat daar hier getrek word tussen ḥěsěḏ in die sin van “liefde” en ḥěsěḏ in die sin van “skande” (disgrace).

Die meeste van ons weet dat die Hebreeuse woord ḥěsěḏ normaalweg vir liefde gebruik word, veral in die sin van God se lojale of verbondsliefde.  Dit kan ook vir die liefde tussen mense gebruik word.  Rut het ḥěsěḏ gedemonstreer teenoor haar skoonma Naomi (Rut 1:8) en Boas (2:20).

Die woord ḥěsěḏ word in Levitikus 20:17 egter in ‘n heel ander betekenis gebruik.  Ḥěsěḏ word hier in die sin van “skande” (disgrace) gebruik waar dit die bloedskandelike verhouding tussen ‘n broer en sy suster beskryf: “As ’n man met sy suster of halfsuster se toestemming gemeenskap met haar het, is dit ’n skandelike daad (ḥěsěḏ).”

Wat Levitikus 20:17 dus sê, is dat wat mense as “liefde” tussen twee mense sou kon beskryf, in God se oë eerder as ‘n “skande” beskryf moet word.  God beskou ongeoorloofde seksuele verhoudings as ‘n afskuwelike verdraaiing van sy ḥěsěḏ.  Sulke verhoudings is in sy oë nie “liefde” nie, maar ‘n “skande“, ‘n radikaal ander oordeel as wat mense soms maak in hulle beoordeling van verhoudings.

Maar, voordat ons dink God se beoordeling geld net hierdie spesifieke ongeoorloofde seksuele verhouding van bloedskande.  Die OT skeer eintlik enige sonde onder dieselfde kam.  In Spreuke 14:34 word ḥěsěḏ ook in die betekenis van ‘n “skande” gebruik en aan enige sonde verbind: “sonde bring skande (ḥěsěḏ) oor ’n volk”.  Wat die Bybel dus op enige ander plek in die OT en NT as sonde beskryf, kan ook beskou word as ‘n verdraaiing van God se “liefde” in “skande“.  En die geloofsgemeenskap dra die gevolge van só ‘n afvalligheid.

Ons sal dus mooi moet dink hoe ons met verhoudings omgaan en hoe ons as geloofsgemeenskap die “liefde” beskryf in ‘n wêreld waar God se voorskrifte doelbewus nie meer nagekom word nie.  Ons moet God se ḥěsěḏ navolg, nie die wêreld se idee daarvan nie.  Anders verheerlik ons “skande“.

Paulus roep ons almal daarom op in sy brief aan die Filippense: “Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra.” (Fil. 2:15-16).

Nog helderder spel hy dit in sy brief aan die Efesiërs uit: “Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is, en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak.” (Ef. 5:6-10).

God se wil vir ons lewe laat ons floreer in sy teenwoordigheid.  Dit geld ook God se wil vir die onderlinge verhoudings in die familie en gemeenskap.  Hy wil ons laat floreer by mekaar.  Dit sê Levitikus 18-20.  Dit sê die getuienis van die hele Bybel. Kom ons volg sy leiding na ook in die vermyding van enige ongeoorloofde seksuele verhouding.

View all posts in this series

Levitikus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar