“Volgende jaar is Jerusalem!” – Liturgie gebaseer op elemente van die Joodse Paasmaaltyd

Levitikus verduidelik kortliks die Paasfees vieringe in hfst. 23 as een van die feeste wat die Israeliete gevier het.  Daar word natuurlik meer inligting gegee oor hierdie fees in Eksodus 12: Deur viering en toewyding word die herinnering aan bevryding lewend gehou.

Omdat dit hierdie naweek Paasfees is, deel ek met julle ‘n liturgie wat ek lank terug gebruik het en wat vir my baie kosbaar was.  Dit is breedweg gebaseer op elemente van die Joodse Paasmaaltyd soos dit deur Messiaanse Jode gevier word.  Ek sluit ook ‘n preek oor Psalm 22 in vanuit die Leesrooster 1999.

“Volgende jaar is Jerusalem!”

Votum

Voorganger: Kom laat ons saam tot Jesus nader, Hy wat gehoorsaam was tot in die dood.

Gemeente: Ja, die dood aan die kruis. Amen.

Seëngroet

Sang: Ps. 116:1, 7 en 10

Stil gebed

Verootmoediging

Voorganger: Genadige God, ons het U nie liefgehad met ons hele hart en ons hele siel en met al ons krag en ons hele verstand nie.

Gemeente: Here, ontferm U oor ons.

Voorganger: Liefdevolle Here, ons het ons naaste nie liefgehad soos U ons geleer het nie.

Gemeente: Christus, ontferm U oor ons.

Voorganger: Hemelse Vader, ons het nie in volle oorgawe aan U gelewe nie.

Gemeente: Here, ontferm U oor ons.

Voorganger: Mag die Here genade aan julle betoon.

Mag Hy julle vergewe in sy troue liefde.

Mag Hy aan julle vrede gee.

Gemeente: Amen. Aan God die dank.

Sang: Lied 245:1 en 2

Gebed

Skriflesing: Psalm 22

Prediking: Psalm 22 preekriglyn – leesrooster 1999

Stil gebed

Voorbereiding van die tafel

Sang: Lied 532:1 en 2

Twaalf persone wat vooraf aangewys is, kom na vore en neem hulle plekke op stoele in die liturgiese ruimte in.  ’n Ekstra stoel aan die tafel word oop gelaat.

Die eerste beker: die beker van heiliging

Vraag en antwoord (kind uit die gemeente)

Die tweede beker: die beker van danksegging (almal drink van die tweede beker)

Die eet van die brood: (almal eet daarvan)

Die derde beker: die beker van verlossing (almal drink daaruit)

Die vierde beker: die beker van Elia

Sang: Lied 453

Gebed

Voorganger: “Volgende jaar is Jerusalem!”

Gemeente: “Volgende jaar is Jerusalem!”

Wegsending: “Staan op, laat ons hiervandaan weggaan” en daarna verlaat die gemeente die kerkgebou in stilte.

Verduideliking van die bekers

Die eerste beker: die beker van heiliging: Die voorganger skink wyn in die beker en terwyl hy dit omhoog hou, sê hy: Prys die Here ons God, die ewige Koning! Hy is die Een wat die vrug van die wingerd voortbring. Daarna word die wyn uitgedeel en almal aan die tafel drink van die eerste beker.

Vraag en antwoord: Een van die kinders van die gemeente kom na vore en vra vir die persone aan die tafel: Waarom is hierdie dag anders as al die ander dae? Een van die persone aan die tafel antwoord dan: Ons was in Egipte die farao se slawe, en die Here het ons daar deur sy magtige dade bevry toe Hy voor ons oë tekens en groot wonderdade gedoen het. Op hierdie dag dink ons terug aan daardie dag toe die Here ons gered het uit die mag van Egipte. Een van die ander persone aan die tafel sê dan: Ons was ook slawe van die sonde. Maar God het aan ons genade bewys. Deur die bloed van sy Seun Jesus Christus is ons verlos en is ons oortredinge vergewe. Op hierdie dag dink ons ook terug aan daardie dag toe die Here Jesus oorgelewer is om vir ons te sterwe.

Die tweede beker: die beker van danksegging: Die voorganger vul die tweede beker met wyn en sê: Die tweede beker wat ons drink, is die beker van danksegging en ons drink dit as ’n danksegging vir God se verlossingsdade. Neem, drink en dank God vir die verlossing wat Hy vir ons bewerk het. Prys die Here, die ewige Koning. Hy het ons trane in gelag verander, ons smart in vreugde. Die wyn word uitgedeel en almal drink van die tweede beker.

Die eet van die brood: Die voorganger haal die instellingswoorde van I Korintiërs 11:23–24 aan en sê: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Dit is my liggaam: dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis. Neem, eet, dink daaraan en glo dat die liggaam van ons Here Jesus Christus gebreek is tot ’n volkome versoening van al ons sonde. Die brood word uitgedeel en almal eet daarvan.

Die derde beker: die beker van verlossing: Die voorganger vul die derde beker met wyn en sê: Die derde beker by die Paasmaal is die beker van verlossing. Na die maaltyd het Jesus hierdie beker geneem en gesê: Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Nadat die wyn uitgedeel is hou die voorganger die beker omhoog en sê: Prys die Here ons God, die ewige Koning! Hy is die Een wat ons verlos. Neem, drink, dink daaraan en glo dat die bloed van ons Here Jesus Christus gestort is tot ’n volkome versoening van al ons ons sonde. Daarna drink almal van die derde beker.

Die vierde beker: die beker van Elia: Die voorganger skink die vierde beker en verduidelik: U sal oplet dat daar een oop plek aan tafel is. Dis vir die Messias, ingeval Hy onverwags, gedurende die ete sou kom. Ons weet dat die Messias reeds gekom het, maar om ons te herinner dat Jesus weer kom, sal iemand vir ons gaan kyk of Hy nie al reeds by die deur staan nie?  Een van die persone aan tafel gaan uit en kyk of die Messias nog nie gekom het nie. As hy terugkom en sê dat daar niemand is nie, sê die voorganger: Die vierde en laaste beker rig ons oë na vore na die wederkoms van Jesus. Mag dié dag spoedig kom waarvan Jesus self gesê het: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink tot op dié dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink nie. Die wyn word uitgedeel en daarna hou die voorganger die beker omhoog en sê: Prys die Here ons God, die ewige Koning. Neem, drink en leef vanuit die verwagting dat die Here Jesus spoedig weer sal kom. Daarna drink almal van die vierde beker.

Gebed

Na die gebed verduidelik die voorganger dat die tradisionele Paasmaaltyd afgesluit word met die uitroep “Volgende jaar is Jerusalem!” en nooi almal uit om dit saam hardop uit te roep.

WEGSENDING

Die voorganger sê: “Staan op, laat ons hiervandaan weggaan” (Johannes 14:31b) en daarna verlaat die gemeente die kerkgebou in stilte.

View all posts in this series

Levitikus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: