Skip to main content

Levitikus 1 – Almal moes volmaakte en aanneemlike brandoffers bring vir die Here

Die eerste hoofstuk gee die raamwerk waarbinne die hele boek van Levitikus verstaan moet word.  Dit is Jahwe wat uit die Tabernakel, die tent van ontmoeting, met Moses praat.  Hy is die Bevelvoerder en Wetgewer.  Sy woorde gaan die deurslag gee in die wyse waarop Hy aanbid en gehoorsaam moet word in die geloofsgemeenskap.  Dit is ook opmerklik hoe nieseksistiese en nierassistiese taal gebruik word wat beteken mans en vroue kon offer, sowel as Israeliete en vreemdelinge.  Daar is selfs vir arm mense voorsiening gemaak.  Die offers moes uiteraard aan Jahwe alleen geoffer word en volmaak en aanneemlik aangebied word.

Mans en vroue kon offer

Jahwe se eerste woorde is uiters belangrik.  In sy eerste bevel aan die volk gebruik Hy die term āḏām wat in die NAV as “een” (van julle) vertaal word.  Dit is die algemene term vir ‘n mens wat mans en vroue as beeld van God insluit (Gen. 1:26-27) en vir alle nasies gebruik is (Gen. 1-11).  Jahwe gebruik dus nieseksistiese nierassistiese insluitende taal wat beteken dat mans en vroue kon offer, soos dit blyk uit die praktyk van die offers (offers deur vroue by geboorte: Lev. 12:6-8; offers van mans en vroue by die benadeling van iemand en ontrou aan die Here: Num. 5:5-7; offers van mans en vroue by geloftes of verpligtinge: Lev. 7:16-17; Num: 30).

Israeliete en vreemdelinge kon offer

Mense van enige ras of nasie kon ook offer, solank hy of sy natuurlik deel van die volk van Israel geword het.  Daarom kon vreemdelinge wat aangesluit het by die volk van Israel deelneem aan die kultus, maak nie saak van watter afkoms hulle was nie (Lev. 17:8).  Trouens, hulle is aan dieselfde strawwe van die verbond blootgestel ongeag hulle gemengde afkoms (vgl. die man met ‘n Egiptiese pa en ‘n Israelitiese ma in Lev. 24:10-23 wat die Godsnaam lasterlik gebruik het).

Offers was alleen aan Jahwe aangebied

Só ‘n offer kon egter net vir Jahwe aangebied word wat uiteraard enige ander afgod uitgesluit het.  Israel se offerkultus was van die begin af monoteïsties.  Die offerkultus was dus eksklusief geskep vir die aanbidding van en verhouding met Jahwe.

Die brandoffer was gemik op versoening

Die brandoffer was gemik op versoening tussen die persoon wat offer en Jahwe.  Dit gaan hier nie noodwendig oor ‘n spesifieke sonde waarvoor versoening gedoen word nie.  Dit is meer die algemene sondigheid van die persoon wat in die kollig is waarvoor gereeld versoening gedoen moes word.

Dit was bekostigbaar

Waar die offer ‘n bloedoffer moes wees, soos hier met ‘n brandoffer, moes dit ook kom uit die besittings van die aanbidder, uit sy beeste of kleinvee.  Die koste vir die persoon wat offer was betekenisvol.  Dit het ‘n beduidende impak gehad op jou besittings.  Vir iemand wat só ‘n groot offer egter nie kon bekostig nie kon ‘n duif aangebied word as ‘n offer.  Vir arm mense is dus ook voorsiening gemaak.  Duiwe was volop en is ook later aangehou in Israel (2 Kon. 6:25 – duiwemis is bv. te koop aangebied).

Die offer moes volmaak wees

Die dier moes aan die een kant tāmîm wees, d.w.s. “sonder gebrek” of “volmaak”.  Later in Levitikus word die tipe gebreke wat ‘n dier ongeskik sou maak, uitgespel (Lev. 22:17-25: blind, afpoot, seerplek, vratjies, brandsiek, velkwaal, gekastreer – sulke diere kon wel as vrywillige gawes geoffer word, maar nie as brandoffers nie; vgl. ook die Paaslam wat tāmîm moes wees – Eks. 12:5).  Dit was deel van die polariteit tussen volmaak en onvolmaak, normaal en abnormaal.

Die offer moes vir die Here aanneemlik wees

Die dier moes aan die ander kant nirṣāh wees, d.w.s. vir die Here “aanneemlik”.  In die konteks beteken dit dat dit “volmaak” moes wees, soos hierbo aangedui, maar ook dat dit op die regte plek in die voorhof naby die ingang van die Tabernakel moes geskied en dat die hand van die persoon wat offer daarop moes wees wanneer dit geslag word, waarskynlik met een of ander vorm van belydenis.

Die persoon wat offer moes ook self die dier slag.  Dit het die band bevestig tussen die persoon wat offer, die offer wat gebring is, sowel as die Here aan wie die offer gebring is.  Alleen só kon versoening bewerk word deur die brandoffer.

In die geval van die brandoffer is die bloed rondom die altaar gesprinkel, die binnegoed en pootjies skoongemaak voor die dier in stukke gesny en verbrand is om versoening te doen vir die persoon wat offer.  In die geval van duiwe is die krop en vere (dit kan ook die inhoud van die krop of die derms wees) egter heeltemal verwyder en die res verbrand as ‘n brandoffer.

Die brandoffer was ‘n geskenk van lieflike geur

Só ‘n brandoffer word in die oorspronklike Hebreeus in vers 9 beskryf as ‘n “geskenk van lieflike geur” wat vir die Here aanneemlik is.  Ons weet dat ons geheue deur geur aangewakker word.  Daarom kan ‘n mens die konnotasie maak dat die geur van die brandoffer die Here aan sy verbintenis tot versoening sou herinner, ‘n besondere kragtige metafoor vir versoening.

Die priesters was begeleiers

Die rol van die priesters word ook van die begin af uitgespel as begeleiers in die proses van aanbidding en versoening.  Die verantwoordelikheid vir die offer was op die persoon wat dit gebring het.  Die verantwoordelikheid vir die proses was egter op die priester wat dit begelei het.  Hy moes toesien dat die offer volmaak en aanneemlik was.  Die priester was dus die liturg van die offerkultus, die Israeliet die deelnemer aan die liturgie in God se teenwoordigheid.

Die boodskap vir vandag

Talle van die aspekte wat hierbo genoem is, sal jou gedagtes stimuleer as parallelle vir gebruike wat ons vandag nog in die kerk het, bv. die verhouding tussen lidmate aan die een kant en liturge en begeleiers aan die ander kant. Ek wil egter net twee belangrike aspekte beklemtoon.

  1. Jesus is ons “brandoffer”

Aan die een kant is die parallel wat die NT trek tussen hierdie brandoffer en die offer van die Here Jesus Christus aan die kruis waarskynlik die belangrikste betekenis van hierdie gedeelte vir ons as gelowiges.  Jesus moes tāmîm wees, “volmaak” of teleios soos die Hebreërskrywer dit in Grieks uitspel, om vir ons sondes versoening te doen: “Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer.”(Hebr. 9:14).

Ook Petrus eggo dit: “Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.” (1 Pet. 1:19).  Daarom is Jesus se offer steeds ‘n lieflike geur vir God wat ons versoening met Hom waarborg.  Hy het namens ons ons “brandoffer” geword.

  1. Ons offer ons liggame – in gedagtes en gedrag – aan die Here

Aan die ander kant kan ons ook ‘n parallel trek tussen die wyse waarop die brandoffers gebring is in die OT en die wyse waarop ons onsself in die NT aan God offer.  Vir ons eie offers aan die Here in die nuwe bedeling is dit ook belangrik dat ons offers nirṣāh sal wees, d.w.s. vir die Here “aanneemlik”, soos Paulus in Romeine 12 so helder uitspel: “Gee julle liggame aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.” (Rom. 12:1 – soos dit in die oorspronklike Grieks staan).

Die fokus is hier nie soseer op die volmaaktheid in terme van gebreke al dan nie, maar op die volhardende lewe in heiligheid, wat veral ons weiering om te konformeer aan die sondige wêreld in ons gedagtes en moreel-etiese gedrag insluit: “Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” (Rom. 12:2).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Levitikus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…