Skip to main content

Indeling

Die boek Levitikus is opgebou uit twee hoofdele:

A.  Die Priesterlike en Levitiese Gedragskode in hoofstuk 1-16

Dit is ‘n reeks opdragte van God uit die tabernakel aan Moses (Lev. 1:1) en later ook aan Aäron (Lev. 10:8) en aan hulle albei (Lev. 11:1).  Dit handel oor:

  1. offers: instruksies vir die Israeliete rondom vyf offers: die brandoffer, graanoffer, maaltydoffer, sonde- of reinigingsoffer, skuld- of hersteloffer saam met instruksies vir die priesters vir die hantering daarvan – Levitikus 1-7;
  2. die priesterlike orde: instruksies vir die inhuldiging van die priesters volgens Eks. 29 se opdragte, die eerste offers van Aäron en die oordeel oor twee van Aäron se twee seuns, Nabab en Abihu – Levitikus 8-10;
  3. rituele reinheid: die beskrywing van rein en onrein geïllustreer in terme van diere, geboortes, siektes, uitskeidings en die reiniging daarvan sowel as van die tabernakel – Levitikus 11-15;
  4. die Groot Versoeningsdag: wat ‘n funksie van die Hoëpriester Aäron was – Levitikus 16.

B.  Die Heiligheid Gedragskode in hoofstuk 17-27

Dit fokus op:

  1. ‘n heilige lewe: waarin die volk se verhouding met mekaar fundeer word in hulle verhouding met God rondom hulle dieet, seksuele verhoudings, gemeenskapsverhoudings en die probleem van misdaad – Levitikus 17-20;
  2. hulle aanbidding: by die feeste en die tabernakel wat riglyne insluit vir die sabbatsjaar en hersteljaar sowel as vir die werk van die priesters en Leviete – Levitikus 21-25;
  3. die seën en straf van die verbondsbepalinge en ‘n bylae oor geloftes en tiendesLevitikus 26-27.

As jy as getroue en gehoorsame Israeliet dus wou weet hoe jy moet handel met jou offers, was Levitikus die boek wat jy sou raadpleeg by die tabernakel.  As jy wou weet hoe jy moet optree binne familieverband in julle onderlinge verhoudinge, was Levitikus die boek wat jy sou raadpleeg by die tabernakel.  Die belang van die boek vir die praktiese geestelike lewe van die hele volk kan eintlik nie oorbeklemtoon word nie. Dit het alles wat hulle gedoen en gedink het, geraak.

Riglyne vir lees

Onthou twee dinge met die lees:

  1. Die fokus op offers, reinheid en heiligheid het alles te make met verhoudinge, met God en met mekaar. Daarom brei dit albei tafels van die Tien Gebooie op Sinai op ‘n praktiese manier uit.
  2. Die boek maak meer sin as mens die verband met die ander boeke van die Pentateug, beide die voriges, veral Eksodus, as dié wat volg, veral die profete, in gedagte hou. Dit het selfs ‘n beduidende invloed op die teologie van die NT soos ons in Jesus se hantering van die dubbele liefdesgebod raaksien.  Ek sê iets meer daaroor in die volgende gedeelte.

Israel moes dus leer wat dit beteken om volk van God te wees.  Hulle groot behoefte, as voormalige slawe, was om twee stelle verhoudinge reg te kry, met God en met mekaar.

In hulle verhouding met God

In hulle verhouding met God moes hulle rekening hou met die feit dat Hy heilig is, want hulle moes sy natuur weerspieël, soos dit in die eerste tafel van die Tien Gebooie uitgespel is.

Daarom die klem op 5 tipe offers (brand-, graan-, maaltyd-, sonde- en skuldoffers), wat alles met hierdie verhouding te make het.

Dit het drie funksies gehad:

  1. as ‘n geskenk aan God,
  2. as ‘n manier om gemeenskap met Hom te hê, dit het as’t ware die deur na Hom toe oopgemaak, en
  3. as ‘n manier om ‘n gebroke verhouding met Hom te herstel (versoen).

In hulle verhouding met mekaar

In hulle verhouding met Hom, moes hulle ook rekening hou met hoe hulle teenoor mekaar optree, soos dit in die tweede tafel van die Tien Gebooie uitgespel is.

  1. Aan die een kant was daar riglyne vir wie in die kamp by God mag wees en wie nie, wat met rituele reinheid voor God te make het, nie met sosiale aanvaarbaarheid al dan nie. Dit sluit die persoonlike, sosiale en religieuse (kultus) arenas in.
  2. Aan die ander kant was daar riglyne van hoe met deernis teenoor die naaste (19:18 – “jy moet jou naaste liefhê soos jouself”!) opgetree moet word, billik en genadig, veral ook met uitvoerige reëlings oor hoe seksualiteit binne familieverband hanteer moet word.

As ‘n mens dié struktuur van die boek raaksien – dat dit oor die liefde vir God en die liefde vir die naaste gaan – kan ‘n mens verstaan hoekom Jesus in die NT juis in sy opsomming van die liefdesgebod uit Lev. 19:18 aanhaal.  Soos Levitikus die Tien Gebooie van Eksodus 20 verder uitbrei, som Jesus die uitbreiding van Levitikus sowel as die Tien Gebooie in sy verwoording van die dubbele liefdesgebod op.  Dit is immers die essensie van wat God van ons vra.

View all posts in this series

Levitikus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar