Levitikus 4:1-5:13 – Die sondeoffer as reiniging en vergifnis van konkrete sondes
Waar die brandoffer gehandel het met die sondigheid van die Israeliete van nature, handel die sondeoffer oor die meer konkrete sondes wat – let wel – onopsetlik, onnadenkend of nalatig gepleeg word. Dit gaan hier oor die oortreding van God se gebooie soos dit in die Skrif vir hulle opgeteken is, of hulle nou bewus was daarvan of nie.
En vir elkeen van dié oortredings moet daar versoening en vergifnis gesoek word as dit bekend word, maak nie saak hoe dit gebeur het of wat die intensie daarvan was nie. Sonde het ‘n mens skuldig gemaak of jy nou daarvan geweet het of nie. “Ignorance of the law is no excuse!”
Daarom vertaal sommige hierdie sondeoffer as ‘n reinigingsoffer of vergifnisoffer wat die klem op die effek van die offer plaas. Die offer reinig en bring vergifnis. Die woord wat in die Hebreeus gebruik word is egter ḥǎṭ·ṭā(ʾ)ṯ wat “sonde” beteken, so “sondeoffer” is die vertaling wat naaste is aan die oorspronklike. Ek hou dus daarby.
Daar word verder ‘n duidelike onderskeid gemaak in hierdie gedeelte tussen:
- sondes wat ‘n groot impak op die hele volk het, d.w.s. publieke sondes (4:1-21), en
- sondes wat ‘n kleiner impak het as gevolg van die meer persoonlike aard daarvan (4:22-35),
- sondes wat ‘n nog kleiner impak het as gevolg van die kleiner belang daarvan (5:1-13).
Publieke sondes – 4:1-21
Die sondes wat die hoëpriester – die “gesalfde priester” – onopsetlik begaan het, betrek die hele volk by verstek, omdat hy hulle verteenwoordiger by God is, en moet dit daarom baie publiek met ‘n sondeoffer bely word. Daarom word die bloed anders gehanteer as met die maaltydoffer en op die voorkant van die voorhangsel van die heiligdom gesprinkel sowel as op die wierookaltaar in die Heiligste in die teenwoordigheid van die Here.
Die sondes van die hoëpriester het dus ‘n baie groter impak op die verhouding tussen God en die volk as wat enige ander priester, leier of burger van die volk s’n het.
Ook die sondes wat die hele volk begaan, word met ‘n bul as sondoffer vergewe waarby al die leiers van die volk betrek word. Die oortreding waarvoor die offer nodig is, word nie gespesifiseer nie, maar het waarskynlik met die navolging van verkeerde raad te make, soos bv. met die eerste abortiewe Intog in Israel weens die meerderheidsverslag van die tien agterbakse verspieders (Num. 13), of die verbond wat met die Gibeoniete aangegaan is sonder om die Here te raadpleeg (Rigt. 9).
Die grootte van die offer – ‘n bul vir sondes wat die hele volk betrek, en ‘n bokram, bokooi of skaap vir sondes wat net ‘n ampsdraer (verkose leier) of ‘n enkel Israeliet betrek – dui daarom die relatiewe gewig van die sonde aan. Iets wat ons gerus vandag van kennis kan neem. Sonde is sonde, en alle sonde bring skuld mee, maar die effek van die sonde verskil na gelang van die invloed wat mense in die gemeenskap van gelowiges het.
Die res van die reëlings vir die offers is min of meer dieselfde as vir die vorige maaltydoffer, so ek gaan nie verder daaroor uitbrei nie.
Persoonlike sondes – 4:22-35
Die onopsetlike sondes van ampsdraers of selfs gewone leiers van die volk – let wel ons praat nie van doelbewuste sondes nie – is dus in die oë van die Here van minder belang as dié van die godsdienstige leiers, hoewel dit natuurlik ook vergewe moet word. Die rede daarvoor is dat die verhouding van die geloofsgemeenskap met God baie meer diepsinnig geskaad word deur geestelike leiers se oortredings as deur gewone leiers of gewone gelowiges s’n.
Geestelike leiers kan gerus hiervan kennis neem, want dit is presies hoe Jesus ook hieroor praat in sy waarskuwing in die gelykenis van die waaksame slaaf dat: “van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word; en van hom aan wie baie toevertrou is, sal meer gevra word.” (Luk. 12:35-48). Ook Jakobus, sy broer, waarsku op soortgelyke wyse: “Julle moenie almal leermeesters wil wees nie, want julle moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word.” (Jak. 3:1).
Kleiner daaglikse oortredings – 5:1-13
Die sondeoffer is in die volgende hoofstuk – dit het steeds te make met die sondeoffer en nie met die skuldoffer nie, anders as wat die NAV dit aandui, soos ek verderaan sal verduidelik – ook bedoel vir sondes wat van nog kleiner belang is, in woord en in daad, selfs al is dit soms opsetlik, bv. deur nie te praat wanneer jy moes nie, of ‘n onbesonne ding wat jy gesê het of eed wat jy afgelê het, of enigeen van die ander kleiner daaglikse handelinge wat jou onrein kon gemaak het (5:1-13).
Weereens kom ons agter dat alle sonde skuld aan die oortreder besorg, maar ook dat hierdie tipe sondeoffer selfs nog kleiner is in lyn met die gewig van die oortreding, al bly dit steeds iets wat vergifnis nodig het. In dié geval sal ‘n paar duiwe genoeg wees, as kleinvee nie bekostig kan word nie, of selfs net twee kg meel.
Die onderskeid met die skuldoffer wat hierna as vyfde tipe offer genoem gaan word (5:14-6:7), is waarskynlik dat die sondeoffer duidelik meer te make het met vergifnis en reiniging van die sonde en die skuldoffer meer met restitusie en regstelling van die skade wat die oortredinge die volk, die heiligdom of ‘n enkele persoon berokken het.
Daarom is die sondeoffer altyd na die heiligdom gebring, maar kon die skuldoffer in sekere gevalle op die voorgeskrewe manier direk aan die benadeelde persoon besorg word. Die skuldoffer word daarom ook deur sommige vertaal as die hersteloffer, hoewel dit uiteraard op die effek van die offer fokus, eerder as op die betekenis van die woord self, ʾāšām, wat “skuld” beteken. “Skuldoffer” is dus die vertaling wat die naaste is aan die oorspronklike betekenis.
Die woord vir skuldoffer, ʾāšām, kan daarom doodgewoon as “skuld” of “boetedoening” vertaal word, afhangende van die konteks, soos op ander plekke in die Bybel (Gen. 26:10; Num. 5:7), wat dan dui op die skuld wat die sonde op iemand gelaai het of op die boetedoening wat iemand gedoen het om van die skuld ontslae te raak.
Dit is waarom ek die indeling só gedoen het en die skuldoffer eers vanaf vers 14 hanteer.
‘n Woord oor opsetlike sondes
Opsetlike sondes is van altyd af op ‘n heel ander manier hanteer, omdat dit vergifnis fundamenteel in gedrang gebring het. Daarom, wanneer jy iemand onopsetlik doodgemaak het, was daar reëlings om genade te ontvang, maar nie in die geval van opsetlike moord nie. Daar was geen genade vir sulke moordenaars in die wet nie (Eks. 21:14).
Soos Samuel die volk in Saul se tyd waarsku: “Wees net gehoorsaam aan die Here en dien Hom opreg en met julle hele hart. Let op die groot dinge wat Hy vir julle gedoen het. Maar as julle opsetlik verkeerd doen, sal julle sowel as julle koning uitgewis word.” (1 Sam. 12:24-25).
Daar was uitsonderings in die OT op hierdie harde reël, soos met die genade wat iemand soos Dawid van die Here ontvang het met sy sonde met Batseba, hoewel die genade teen ‘n geweldige prys gekom het, vir hom en sy volk (2 Sam. 12).
En hoewel dit presies hierdie prys is wat in die NT met die kruisdood van die Here Jesus betaal is, sodat daar vergifnis en reiniging kon kom vir dié wat hulle op die genade van die Here Jesus verlaat het, selfs in die geval van moordenaars – soos Jesus aan die kruis geïllustreer het met die genade aan die moordenaar wat saam met Hom gehang het – weerklink die waarskuwing oor opsetlike sondes steeds helder in die NT. Sien hieronder hoe Hebreërs daarop uitwy.
Boodskap vir vandag: reiniging en vergifnis
Ek dink baie van ons vergeet dat Jesus die wet in elke detail daarvan nagekom het. Anders sou Hy dit immers nie kon vervul en die vrug van sy geregtigheid aan ons kon uitdeel nie. Hy gee dus opdrag aan die melaatse man wat genees is om die offers vir sy reiniging te bring soos Moses dit beveel het, in navolging van Levitikus se riglyne (Luk. 5:14). Ook Paulus kom dié gebruik na selfs ná sy bekering onder aansporing en goedkeuring van die leiers van die gemeente van Jerusalem (Hand. 21:26). In albei gevalle het dit waarskynlik met hierdie sondeoffer te make.
Jesus se kruisdood word daarom ook as ‘n sondeoffer beskrywe: “Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.” (Hebr. 1:3). Die Hebreërskrywer gaan eintlik nog verder en trek die verband tussen die deel van die sondoffer wat buitekant die kamp verbrand is en die kruisdood van Jesus buite die stad Jerusalem: “Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om die volk deur sy eie bloed van hulle sonde te reinig.” (Hebr. 13:12).
Paulus herinner daarom ook vir Titus aan die impak wat Jesus se kruisdood op gelowiges het, nie net in terme van vergifnis nie, maar in terme van die vrymaking en reiniging van alle sonde sodat hulle vir God kan leef: “Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen.” (Tit. 2:14). Dit is die hart van die gesonde leer (hfst. 2) wat hy aan die gemeente op Kreta moet verkondig om hulle te help om gesond in geloof (hfst. 1) en lewe (hfst. 3) te kan wees.
Ook Johannes maak dit ‘n sentrale saak in sy appèl – waarskynlik in ‘n preek aan die gemeente in Efese – dat hulle in die lig moet lewe, want: “as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.” (1 Joh. 1:7). ‘n Duidelike uitleg van die effek van die kruisdood van Jesus as ‘n sondeoffer vir sy mense, nie net persoonlik nie, maar ook in die geloofsgemeenskap, presies soos Levitikus dit in hoofstuk 4 vir die hele volk en vir individue uitgespel het.
As hulle egter sou: “beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.” (1 Joh. 1:8). Hy moedig hulle aan om, soos dit die geval was van alle tye af in die geloofsgemeenskap, ook dié van Levitikus, hulle sonde te bely, want daar is vergifnis en reiniging beskikbaar in só ‘n oop verhouding met die Here: “Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” (1 Joh. 1:9).
Dit is daarom goed om te onthou dat sondebelydenis ‘n daaglikse deel van ons spiritualiteit moet bly, en dat ons opsetlike sondes in sy geheel moet vermy, soos die Hebreërskrywer ons waarsku: “Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie. Daar bly alleen ’n verskriklike verwagting oor van oordeel en ’n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer.” (Hebr. 10:26-27).
Die probleem van opsetlike sondes is dat ons die Here Jesus se kruisdood verag en minag, en die genade wat die Gees ons gegee het, beledig: “As iemand die wet van Moses oortree, en twee of drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie, hy word doodgemaak. Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het?” (Hebr. 10:28-29).
Die punt van die Hebreërskrywer se betoog is dat God die Vader net op geen manier genoeë neem met sonde nie, veral nie opsetlike sondes nie: “Ons weet tog wie Hy is wat gesê het: ‘Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld;’ (vgl. Deut. 32:35) en verder: ‘Die Here sal oor sy volk oordeel’ (vgl. Deut. 32:36; Ps. 135:14). Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val.” (Hebr. 10:30-31). ‘n Verskriklike werklikheid waarvan ons moet kennis neem.
Gelukkig het ons die getuienis van die krag van God se genade wat juis onweerstaanbaar in ons werk om sy wil te doen, soos Paulus ons in sy brief aan die Filippense herinner: “Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.” (Fil. 2:12-13). Maar dan moet ons ons op sy genade verlaat en elke sonde, soos ons daarvan bewus word, bely en sy vergifnis vir ons toe-eien, en deur sy Gees die werke van die vlees in ons lewe doodmaak (Rom. 8).
View all posts in this series
- Die gebruik van Levitikus in die Nuwe Testament - June 20, 2016
- Lees Levitikus saam met my van 12 April af - April 10, 2017
- “Wees heilig, want Ek is heilig” - April 12, 2017
- Jahwe is ‘n God wat beveel
- Indeling
- Levitikus in die Nuwe Testament
- “Volgende jaar is Jerusalem!” – Liturgie gebaseer op elemente van die Joodse Paasmaaltyd
- Levitikus 1 – Almal moes volmaakte en aanneemlike brandoffers bring vir die Here - April 20, 2017
- Levitikus 2 – Suurdeeg word verbied en sout gebied by die graanoffer - April 21, 2017
- Levitikus 3 – Die maaltydoffer as gemeenskap met God en mekaar - April 24, 2017
- Levitikus 4:1-5:13 – Die sondeoffer as reiniging en vergifnis van konkrete sondes - April 25, 2017
- Levitikus 5:14-6:7 – Die skuldoffer as restitusie en regstelling van konkrete sondes - April 26, 2017
- Levitikus 6:8-7:38 – Riglyne vir priesters oor prosesse rondom die offers - April 27, 2017
- Levitikus 8 – Aäron word ingehuldig as Hoëpriester en sy seuns as priesters - April 28, 2017
- Levitikus 9 – Israel word geseën met die teenwoordigheid van die Here - May 1, 2017
- Levitikus 10 – Die dood van Nadab en Abihu illustreer God se onverbiddelike heiligheid - May 2, 2017
- Levitikus 11 – Die onderskeid rein en onrein help Israel om daagliks in God se teenwoordigheid te lewe - May 3, 2017
- Levitikus 12 – Rituele reiniging ná geboorte weens bloedvloeiing - May 4, 2017
- Levitikus 13-14 – Rituele reiniging ná onreinheid deur velsiektes, brandwonde, skimmel of swamme - May 8, 2017
- Levitikus 15 – Rituele reiniging weens seksuele afskeidings - May 9, 2017
- Levitikus 16 – Die Groot Versoendag bring versoening met God en reiniging van die sonde - May 10, 2017
- Levitikus 17 – Aan God alleen word geoffer en gehou by die verbod op die eet van bloed - May 11, 2017
- Levitikus 18 – Enige seksuele verhouding buite die huwelik word afgekeur - May 12, 2017
- Levitikus 19 – Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig - May 15, 2017
- Levitikus 20 – Die hele gemeenskap moet sorg dat God se voorskrifte nagekom word - May 16, 2017
- Levitikus 21 – Voorskrifte vir priesters rondom die dood, die huwelik en gestremdheid - May 17, 2017
- Levitikus 22 – Die priesters moes sorg dat alle offers vir God aanneemlik is - May 18, 2017
- Levitikus 23 – Vyf feeste om saam in die teenwoordigheid van die Here te vier - May 19, 2017
- Levitikus 24 – Die gemeenskap van God en sy mense beïnvloed hulle hele lewe - May 20, 2017
- Levitikus 25 – God se eienaarskap van die land word met die Sabbatsjaar en Jubeljaar gevier - May 22, 2017
- Levitikus 26 – Vier seëninge en vyf strawwe word aan hulle gehoorsaamheid in die land gekoppel - May 23, 2017
- Levitikus 27 – Geloftes in buitengewone en tiendes in normale omstandighede - May 24, 2017
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar