Skip to main content

Levitikus 17 – Aan God alleen word geoffer en gehou by die verbod op die eet van bloed

Levitikus 17 begin die tweede hoofdeel van die boek, die Heiligheid Gedragskode.  Vier dinge sal in hierdie tweede hoofdeel van die boek aan die orde kom, ‘n heilige lewe (Lev. 17-20), aanbidding (Lev. 21-25), seën en straf (Lev. 26) en geloftes en tiendes (Lev. 27).  ‘n Heilige lewe sal veral gedefinieer word deur offers wat net vir God geslag word, sowel as om nie bloed te eet nie (Lev. 17), en deur hoë moreel-etiese standaarde in hulle seksuele verhoudings in familieverband te handhaaf (Lev. 18-20).

Daar word ‘n totale verbod geplaas op die offers van diere op enige ander plek as by die Tabernakel in die teenwoordigheid van die Here.  Op dié manier is nie net gesorg dat al die voorskrifte nougeset nagekom is nie, maar het die verdeling van die offer gesorg dat die Here sy voorgeskrewe deel gekry het (vet en bloed) sowel as die priesters (vleis).

Daar is verskil van mening of hierdie wet beteken het dat diere wat vir huishoudelike gebruik geslag is ook by die Tabernakel geslag moes word.  As dit só sou wees sou dit net prakties in die woestyn kon wees en verder onmoontlik om na te kom, al is dié wet as ‘n vaste reël vir komende geslagte gemaak.

Deuteronomium moet egter hiermee saamgelees word, want daar word verlof gegee dat kos by die huise geslag kan word: “Vir kos mag julle egter op enige plek waar julle woon ’n dier slag en die vleis eet wat die Here julle God vir julle gee deurdat Hy julle voorspoedig maak.” (Deut. 12:15; vgl ook Deut. 12:20-27).  Die verbod op die eet van bloed word wel steeds gehandhaaf (Deut. 12:16).

Dit beteken dat Levitikus 17 se verbod net op offers van diere van toepassing was en nie op diere wat by die huis vir huishoudelike gebruik geslag is nie.  As jy ‘n offer aan die Here wou bring, moes jy die dier by die Tabernakel slag en al die voorskrifte daar rondom nakom.

Die hoofmotivering vir dié reëling was om te voorkom dat die Israeliete vir die veldgode offers bring – d.w.s gode waarvan hulle geglo het dat hulle in die vorm van bokke verskyn het (vgl. Jes. 13:21; 34:14; 2 Kron. 11:15).  Hierdie riglyn het hierdie bygeloof besweer en hulle verbintenis aan die Here, en Hom alleen, verseker.

Let op dat hierdie voorskrif vir alle Israeliete en vreemdelinge gegeld het wat ‘n offer vir die Here wou bring.  Die wyse waarop hulle almal op dieselfde wyse aan die kultus deelgeneem het, het beteken dat die Israeliete en vreemdelinge geestelik saamgesnoer is, al was daar talle ander dinge en gebruike wat hulle van mekaar onderskei het.  Voor God was hulle egter gelyk in terme van die deelname aan die offerkultus en die vergifnis en reiniging van sondes wat hulle daardeur verkry het.

Dieselfde voorskrif het die nakoming van die derde gebod rondom die gebruik van God se Naam (Eks. 20:7; Lev. 24:16), die vierde gebod rondom die hou van die Sabbatdag (Eks. 20:10) en die verbod op kinderoffers (Lev. 20:2) gegeld.  Met die voorskrif van Levitikus 17 is vreemdelinge dus ook verbied om vir enige ander gode offers te bring en hulle lojaliteit slegs aan Jahwe te bewys wat implisiet met die eerste twee gebooie saamhang (Eks. 20:2-6 – geen afgode, en geen afgodsbeelde nie).

Die verbod op die eet van die bloed kom ‘n lang pad, want ons lees reeds by Noag dat God die verbod op die eet van bloed ingestel het (Gen. 9:4).  Levitikus 17 is egter die enigste teks in die Bybel wat regtig ‘n motivering gee waarom die verbod só sterk beklemtoon is.  Die rede vir die verbod op die eet van bloed lê in die feit dat die Here die bloed bedoel het as ‘n middel tot versoening vir sondes vanweë die feit dat elke lewende wese se “lewe” in die bloed is (vgl. Deut. 12:23).  Bloed was dus die fisiese teken van die lewe, omdat geen mens of dier kon lewe sonder bloed nie, en ‘n geskikte middel om as teken van versoening te dien.

Daarom was bloed só belangrik in die bring van die offers, want dit is deur die lewe wat in die bloed is wat daar versoening kan kom tussen God en die persoon wat ‘n offer bring.  ‘n Lewe vir ‘n lewe deur die bloed.  Só het die Here dit bepaal.

Hartley haal Gese (Essays on Biblical Theology) aan wat die volgende hieroor te sê het: “The decisive factor for the cultic act of atonement is that this sacrifice of life is not a mere killing, a sending of life into nothingness, but it is a surrender of life to what is holy, and at the same time an incorporation into the holy, given expression throughout contact with blood.

Hierdie beginsel is nie net in die OT van belang nie, maar ook in die NT.  Die is immers die beginsel waarop die hele teologie van versoening met die bloed van Jesus ook in die NT gebaseer is.  Sy bloed is gestort sodat ons kan lewe.  Sy kruisdood word daarmee as ‘n offer beskou en nie maar net as ‘n teregstelling deur die Jode of Romeine nie.

Dit is waarom Hebreërs ons in lyn met Levitikus 17 leer dat: “Byna alles word volgens die wet met bloed gereinig, en sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie.” (Hebr. 9:22).  Hy verkondig ook dat die bloed die pad na die lewe by God vir ons oopmaak: “Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom.” (Hebr. 10:19).

Dit is ook waarom die nagmaal in die NT van soveel belang is en saam met die doop as sakramente – sigbare tekens van God se genade – vir ons gegee is.  Só praat Jesus oor sy eie bloed wat versoening bring waarvan die wyn in die nagmaal die teken is (Luk. 22:20).  Trouens, Hy verseker ons: “As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie.” (Joh. 6:53).

Diere moes ook doodgemaak word deur hulle te laat uitbloei, wat deel van die kosjer reëls van die Jode geraak het.  Dit het enige ander metode soos verwurging uitgesluit, iets wat ook in die NT belangrik geag is met die riglyne wat die “sinode” in Handelinge 15 vir alle gelowiges gegee het.

Boodskap: Die blywende betekenis van bloed in die NT

Levitikus 17 is ‘n uiters belangrike hoofstuk in die sin dat dit ‘n agtergrond verskaf vir twee sleutelgebeure in die NT.

1.  Die eerste is die sakrament van die Nagmaal. Jesus kon met sy eie bloed as offer versoening bring vir ons en ons in die regte verhouding met God bring, eens en vir altyd.  Die wyn in die nagmaal is daarvan die teken (Luk. 22:20).  Die bloed van sy offer aan die kruis gee aan ons die lewe: “As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie.” (Joh. 6:53).  Die beginsel waarop Jesus dit begrond is dus die voorskrifte wat God reeds in Levitikus 17 gegee het oor die blywende betekenis wat die lewe wat in die bloed is vir gelowiges sal hê.

2.  Die tweede is die keersy hiervan waarin die verbod op die eet van afgodsvleis en bloed deel geword het van ‘n baie belangrike uitspraak in die NT toe die geloofsgemeenskap moes besluit watter van die riglyne uit die wet op gelowiges uit die heidene van toepassing gemaak moet word.

Dat hulle van die riglyne uit Levitikus 17 gebruik – saam met Levitikus 18-20 in terme van onsedelikheid – kan waarskynlik verklaar word uit die feit dat hierdie riglyne vir Israeliete en vreemdelinge wat die Here wou dien, gegeld het.  Omdat dié voorskrif só oud was en van altyd af ook op vreemdelinge van toepassing gemaak is, het die geloofsgemeenskap van Jerusalem dit in die nuwe bedeling gehandhaaf.

Die verbod op die eet van bloed word dus een van die standaarde uit Levitikus 17 wat in die NT as noodsaaklike verpligtinge vir gelowiges uit die heidennasies uitgesonder is soos ons in Handelinge 15:1-35 lees.  Die gelowiges in Jerusalem het vier standaarde uitgelig en in ‘n brief aan al die gelowiges reg oor die bekende wêreld van daardie tyd gestuur:

  1. om geen vleis te eet wat aan ’n afgod geoffer is nie – dis gebaseer op Levitikus 17 wat gesê het dat vleis net aan God geoffer word mag word, nie aan die veldgode nie, hoewel die offers as sodanig nie meer belangrik was nie (Jesus se offer was voldoende), net die waarskuwing teen afgodery;
  2. om geen dier te eet wat verwurg is nie – dis gebaseer op Levitikus 17 wat gesê het dat diere geslag moet word sodat hulle kan uitbloei;
  3. om geen bloed te eet nie – dis gebaseer op Levitikus 17 wat presies dieselfde gesê het dat bloed nie geëet mag word nie;
  4. om alle onsedelikheid te vermy – dit is gebaseer op die omvattende aantal verbode seksuele verhoudings uit Levitikus 18-20.

Hierdie voorskrifte bly tot vandag toe nog van krag vir Christene reg oor die wêreld.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Levitikus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar