Levitikus in die Nuwe Testament
Dit beteken natuurlik nie dat ons alles wat in Levitikus staan slaafs moet navolg nie, soos onder andere NGB 25 alreeds duidelik gemaak het. Die verhouding tussen die OT en die NT is immers nie net een van kontinuïteit nie, maar ook van diskontinuïteit. Die NT skrywers het wel die breë boodskap van die OT gehandhaaf, maar dit ook in ‘n nuwe konteks geplaas aan die hand van die openbaring in Jesus Christus.
Dit beteken dat die OT steeds vir die kerk in die eerste eeu die Woord van God gebly het, maar ook aangevul en uitgebrei is met die boodskap van die NT: die evangelies van Markus, Matteus, Lukas en Johannes, die onderskeie briewe van Paulus, die briewe van die twee dissipels, Petrus en Johannes, die briewe van die twee broers van Jesus, Jakobus en Judas, die brief-boodskap Hebreërs van die skrywer-leier van die gemeente in Italië (moontlik Rome), en uiteindelik die Openbaring van Johannes, die geliefde dissipel.
Die kontinuïteit word gesien in die eerste Christene se beklemtoning van die aarde as God se goeie skepping; van God se soewereine hantering van die probleem van die sonde en boosheid (Genesis 1-11 – Romeine 1-11); van die verbond met Abraham wat steeds die raamwerk bly waarbinne God die hele mensdom met die versoening in Christus bereik (Genesis 12-50; Gal. 1-3); van die onontwykbare roeping tot heiligheid waarbinne ons egte en nuutgemaakte mense raak, teenoor die effek wat die wêreld van afgodery en onsedelikheid op mense gehad het, wat hulle menswaardigheid aangetas het, soos die Handelinge 15 “sinode” uitgespel het vir alle Christene (begrond op veral Eksodus en Levitikus).
Daarby kom nog die geloofsvormende belang van die Psalms (Kol. 3; Ef. 5) en die etiek van die Tien Gebooie (Matt. 5-7; Rom. 13; 1 Tim. 1) wat ook steeds hoog aangeslaan word in die NT, sowel as die profete (regdeur die evangelies en Paulus se briewe) en die wysheidsliteratuur (bv. Jakobus). Die OT bly dus steeds die Woord van God.
Die diskontinuïteit lê veral in die Joodse reinheid- en burgerlike wette van Levitikus wat nie langer as relevant gesien is nie in ‘n gemeenskap wat saamgestel is deur gelowiges uit die heidene en die Jode en waarin hulle as gelykwaardige vennote in die koninkryk gesien is (Mark. 7; Hand. 15; Gal. 2). Die middelmuur van skeiding tussen heidene en Jode is deur die Here Jesus Christus afgebreek en in die plek daarvan het Hy een nuwe mensheid geskep (Ef. 2).
Die primêre plek van die tempel in Jerusalem het deurslaggewend geskuif na die huise van die gelowiges en hulle huiskerke waar die teenwoordigheid van die Here beleef kon word (vgl. die skuif in Lukas na Handelinge), en die hele offerkultus is vervang met die volkome versoening wat Jesus as Hoëpriester vir ons bewerk het (Hebreërs). In die nuwe Jerusalem, sê Johannes, sal daar immers nie meer ‘n tempel wees nie, want God self kom by sy mense bly (Openb. 21-22).
Die sabbat en ander feeste was daarom nie langer verpligtend nie (Rom. 14:5-6; Kol. 2) en die belofte van die Beloofde Land is uitgebrei dat dit nou die hele aarde insluit, trouens die hele skepping (Rom. 8; Openb. 19).
Uiteraard is daar dinge wat nie meer op jou van toepassing is in die nuwe bedeling nie. Jy kan maar kreef en barber eet as dit jou smaakkliere kielie! Jesus het immers alle kos rein verklaar (Mark. 7:19). Dieselfde geld mense wat om verskillende redes as kulties onrein en onheilig geag is in Levitikus. God het vir Petrus: “gewys dat (hy) geen mens as onheilig of onrein mag beskou nie.” (Hand. 10:28).
Sewe betekenisvolle gebruike van Levitikus in die NT
Maar, daar is ten minste sewe betekenisvolle gebruike van Levitikus in die Nuwe Testament wat die blywende waarde van die boek as die Woord van God in ons lewe bevestig in terme van: versoening, voorbidding, koninklike priesterskap, heilig te wees soos God, dienswerk en dissipelskap, heilig te leef in alle verhoudinge, en om te lewe as tempel van die Heilige Gees. Levitikus was immers ‘n belangrike deel van die Bybel wat die NT gelowiges gebruik het in die vorm van die LXX, die Griekse vertaling van die OT.
- VERSOENING
Die inligting oor die versoening van die offerkultus in Levitikus is onontbeerlik om die plaasvervangende sterwe van Jesus Christus as Hoëpriester aan die kruis van Golgota te kan verstaan.
Die perspektief wat dit gee op sonde en versoening is noodsaaklik om die behoefte aan en betekenis van Jesus se soendood te kan verstaan. Kyk bv. na Romeine 3:21-28 waarin die probleem van die sonde aan die versoeningsdood van die Here Jesus Christus gekoppel word: “Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo.” (Rom. 3:26; vgl. ook Matt. 26:28; Joh. 6:54; 2 Kor. 5:18; Ef. 1:7; Kol. 1:20). Jesus is dus die “sondoffer” van die NT wat Aäron se bediening op die Groot Versoeningsdag in die Tabernakel (Lev. 16) vervang het.
Sonder hierdie offer van die Here Jesus Christus sou God nie sy barmhartigheid en genade aan gelowiges kon uitdeel nie, anders sou Hy nie aan sy eie eis van geregtigheid voldoen het nie. Die beginsel van Eksodus 34 dat God barmhartig en genadig is, maar niks ongestraf laat bly nie, word dus met Christus se kruisdood gehandhaaf. In Hom het elkeen wat glo toegang tot die geregtigheid wat Hy vir hulle bewerk het (Rom. 3:21-28; 2 Kor. 5:21; Gal. 5:5; Fil. 3:9; 2 Tim. 4:8; Hebr. 11:7; Jak. 2:23; 1 Pet. 2:24; 1 Joh. 3:7).
Dit is die eerste en primêre funksie van Jesus Christus as die Hoëpriester par excelence. So spel die skrywer van die Hebreërbrief dit uit in sewe hoofstukke: 3-5 en 7-10. Hierdie hoëpriester, Jesus, moes met sy eie heilige lewe Homself as geskik vir dié roeping bewys waarin Hy die wet, ook die riglyne van Levitikus, nougeset nagekom het: “Want so ’n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het.” (Hebr. 7:26).
Op grond van sy eie offer het Hy die hemelse tabernakel vir dié wat in Hom glo, oopgemaak sodat hulle ‘n ewige verlossing van hulle sonde kon ontvang: “Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ’n ewige verlossing teweeggebring.” (Hebr. 9:11-12).
- VOORBIDDING
Volgens die NT is Jesus as die Hoëpriester die voorbidder by uitnemendheid.
Maar dit is nie al nie! Hy het sy plek in die tweede plek die hemelse tabernakel in geneem deur sy hemelvaart om nie net in te staan vir die ewige verlossing van die gelowiges nie, maar ook om daar vir ons te kan intree as Hoëpriester: “Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.” (Hebr. 7:25). Hy is nou ons Voorspraak in die hemel, soos die Heilige Gees dit op aarde is: “Christus het nie ingegaan in ’n heiligdom wat deur mense gemaak is en net ’n namaaksel van die ware is nie. Nee, Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn.” (Hebr. 9:23-24; vgl. Joh. 14:16,26,; 15:26; 1 Joh. 2:1).
Levitikus gee vir die begrip van die voorbidding wat hierdie Hoëpriester vir ons doen ’n uiters noodsaaklike onderbou. Een manier om dit uit Levitikus se offerkultus te verstaan is om aan Jesus as die “vredesoffer” te dink, soos Paulus daaroor skryf in Rom. 5:1-11. Dit berus op die beskrywing van die graanoffer van Lev. 3:1 wat in die oorspronklike as ‘n “vredesoffer” beskrywe word (vgl. Ef. 3:13-18; Kol. 1:18-20). Jesus is dus die “vredesoffer” wat vrede tussen ons en God gebring het, vir altyd. Dit is ook die basis van sy intrede vir en namens ons by die Vader.
- KONINKLIKE PRIESTERDOM
In die verlengde hiervan word elke gelowige in ’n priesterlike rol geteken, beide in hierdie bedeling as in die toekomstige.
1 Pet. 2:9 gebruik die voorbeeld van die priesterlike en Levitiese geslag as ‘n analoog vir alle gelowiges in die nuwe bedeling. Ons is almal nou priesters vir God wat vir Hom afgesonder en geheilig is: “Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.”
Trouens, dit is iets wat in die hiernamaals voortgesit sal word, soos Openb. 20:6 dit vir ons uitspel: “Geseënd en heilig is dié wat aan die eerste opstanding deel het. Oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom die duisend jaar lank regeer.” Let op die beskrywing van gelowiges as priesters wat geseënd en heilig is. Trouens, “heiliges” is ‘n voorkeur term vir gelowiges regdeur die NT.
- WEES HEILIG SOOS GOD
Die oproep in Levitikus om heilig te wees soos God heilig is, word eweneens helder verwoord en toegepas in die NT.
’n Mens sien dit by Jesus in die Bergrede (Matt. 5:48), en by Petrus in sy eerste brief (1 Pet. 1:15-17). Trouens dit is die onderbou van Petrus se hele brief. Gelowiges word ook gereeld beskryf as “heiliges” in die NT. Dit word 55 keer gebruik. Hier is ‘n paar verwysings: Matt. 27:52; Hand. 9:13,32,41; 26:10; Rom. 1:7; 8:27; 12:13; 15:25-16; 16:2,15; 1 Kor. 6:2; 14:33; 16:15; 2 Kor. 8:4; 9:1,12; 13:12; Ef. 1:15,18; 2:19; 3:8,18; 4:12; 5:3; 6:18; Fil. 4:22; Kol. 1:4,12,26; 3:12.
Jesus het wel weggedoen met die wette oor rituele reinheid (Mark. 7:14-23; Matt. 15:10-20), maar daardeur eintlik nog ’n groter appèl gemaak op gelowiges om heilig te lewe in alles wat hulle doen, vanuit ’n hart wat rein is. Jesus radikaliseer die rituele reinheidsbeginsels van Levitikus en leer ons om vanuit ‘n rein hart onkuisheid, diefstal, moord (ook met woorde), owerspel, losbandigheid, hoogmoed ensomeer te vermy.
Want dít is die dinge wat jou onrein maak in die nuwe bedeling (Mark. 7:21-22). Dit beteken dat ons Paulus moet navolg wat ons oproep: “Laat ons ons dan reinig van alles wat liggaam en gees verontreinig, en ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toewy.” Dit sluit in dat ons nie met ongelowiges in een juk mag trek nie (1 Kor. 6:14-7:1 in ‘n vermaning teen heidense invloed), soos Levitikus dit ook in terme van die kultiese en gemeenskapsreëls eenmaal voorgeskryf het.
Levitikus gee dus ’n noodsaaklike onderbou vir ons verstaan van wat dit alles behels, veral die opdrag om heilig te lewe, persoonlik en in alle verhoudinge.
Daarom ook die oproep aan gelowiges in Romeine 12:1-2 om hulleself as ‘n heilige offer aan God te gee, gebaseer op die heilige verhoudingslewe waarvan Levitikus 18-20 skrywe: “Gee julle liggame aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
- DIENSWERK EN DISSIPELSKAP IS OFFERS AAN GOD
Die riglyne wat Levitikus gee vir die geloofsgemeenskap om te verstaan hoe hulle God kan en behoort te aanbid, volg en dien, is eweneens ’n belangrike onderbou van ons verstaan van die hemelse heiligdom binne die konteks van die Nuwe Verbond.
Die aardse tabernakel – op voetspoor van Eksodus 25-40 en die hele boek Levitikus – word gebruik as die voorbeeld van die hemelse tabernakel waartoe ons nou deur die Here Jesus Christus as Hoëpriester as geheiligdes toegang het om God te aanbid: “Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water.“ (Hebr. 10:19-22).
Dit is waarom die dienswerk en dissipelskap van die gelowiges in die NT telkens in terme van offers aan God verstaan is. Dit sluit ons liggame, geloof, gawes, getuienis, belydenis, aanbidding, verkondiging, gedrag, en gebede in.
- Paulus praat van ons liggame as ‘n lewende en heilige offer aan God (Rom. 12:1), soos hierbo genoem, en van ons geloof as: “’n offer in diens van God” (Fil. 2:17 – met ‘n verwysing na Levitikus se “drankoffers”: “Selfs al word my bloed daarby as drankoffer uitgegiet.”). Hy praat ook van ons gawes as iets wat: “voor God ’n offer met lieflike geur (is), vir Hom aanneemlik en welgevallig” (Fil. 4:18) sowel as die getuienis van ons lewe as: “die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as dié wat verlore gaan.“ (2 Kor. 2:15). Ons hele lewe en bediening is dus ‘n offer aan God.
- Die Hebreërskrywer stem saam dat ons gawes van goed doen en mededeelsaamheid ‘n offer aan die Here is: “Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dít is die offers wat vir God aanneemlik is.” (Hebr. 13:16). En voeg daarby dat ons belydenis van Jesus as die Here ‘n lofoffer is aan God: “Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ’n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely.” (Hebr. 13:15).
- Petrus brei daarop uit deur ons aanbidding, verkondiging en gedrag as geestelike offers te beskryf: “Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis, om ’n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.” (1 Pet. 2:5 – vgl. dit saam met vers 9-11 en 12-17).
- Johannes interpreteer ook ons gebede as iets wat in die goue wierookbak op die goue altaar voor God se troon in die hemel aan God geoffer word: “’n Ander engel het toe gekom en by die altaar gaan staan met ’n goue wierookbak. Daar is baie wierook aan hom gegee om dit saam met die gebede van al die gelowiges op die goue altaar voor die troon te offer. Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God.” (Openb. 8:3-4 – vgl. Eks. 30:1-10; 37:25-28; dit word ook met die “graanoffer” en “sondeoffer” verbind: Lev. 2:1; 6:15; 16:13; 24:7).
- LEEF HEILIG IN ALLE VERHOUDINGE
Gelowiges moet dus ook in alle verhoudinge heilig optree. Ons lewe is nie net ‘n offer aan God nie, maar ‘n gawe aan ons medemense. Die beginsels wat Levitikus vir ons daaroor leer, bly steeds van krag – in terme van ongeoorloofde seksuele verhoudings, gemeenskapsverhoudings en misdaad (Lev. 17-20).
Interessant genoeg verval die onderskeid tussen rein en onrein in terme van die beoordeling van beide mens en dier in die NT. Vgl. maar net Petrus se ervaring in Handelinge 10 waar God alle diere en mense rein verklaar en verlossing kom vir elkeen wat in Jesus glo, selfs al was hulle nie Jode nie.
Die onderskeid was nou nie meer tussen dié wat ingesluit is by die Joodse volk en dié wat daarbuite was nie, of tussen dié wat normaal of abnormaal was nie (vgl. die aanvaarding van eunugs in Matt. 19 en Hand. 8 wat Lev. 21:20 ophef soos Jes. 56:3 al voorspel het), maar tussen dié wat in Jesus geglo het en dié wat dit nie gedoen het nie.
Dit is egter nog maar net een kant van die muntstuk, want die oproep om heilig en rein te lewe, verval nie met die ophef van die OT onderskeid tussen rein en onrein nie. Ons word steeds opgeroep om in ons persoonlike lewe heilig en rein te lewe. Die problematiek van reinheid lê immers nie net in die uiterlike nakoming van die wet van die Here nie, of in jou uiterlike gebreke al dan nie, maar veral in die innerlike verbintenis aan Hom al dan nie wat jou heiligheid en reinheid in al jou verhoudinge beslissend raak.
Soos Jesus daaroor opmerk: “’Begryp julle nie dat niks wat van buite af in ’n mens ingaan, hom onrein kan maak nie, omdat dit nie in sy hart ingaan nie maar in sy maag, en daarna uit sy liggaam uitgaan?’ Daarmee het Hy alle kos rein verklaar. ’Maar,’ het Hy verder gesê, ‘wat van binne af uit ’n mens kom, dit maak ’n mens onrein.’” (Markus 7:18-20).
Dit sluit dinge in, sê Jesus, soos onkuisheid, diefstal, moord, owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid wat hom wreek in terme van die onderlinge verhoudinge in die geloofsgemeenskap sowel as in die wêreld daarbuite.
Dit is waarom Paulus die Levitikus konsepte van rein-onrein gebruik om moraliteit in die nuwe bedeling te beskrywe vanuit die innerlike, vanuit die hart van die mens. Wat in jou hart aangaan, bepaal of iets rein of onrein is al dan nie. Paulus gebruik veral die woord akatharsia – onreinheid – om in dié konteks die tipe onsedelikheid wat gelowiges in hulle verhoudinge moet vermy, te beskrywe (Rom. 1:24-25; 6:19; 2 Kor. 7:1; 12:21; Ef. 4:17-19; 5:3,5; 1 Tess. 4:7). Ook Johannes skryf daaroor (1 Joh. 1:7,9).
Jesus se oplossing vir reinheid en heiligheid in die hart van die mens was in die vasgryp en toewyding aan sy woorde: “Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het.” (Joh. 15:3; vgl. Ef. 5:26). Die doel vir elke gelowige was immers om ’n rein hart voor God te hê (Matt. 5:8). Jesus vervolg daarom in sy laaste toespraak aan sy dissipels met die gebed: “Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid.” (Joh. 17:17).
Dit is hierdie gebed van Jesus wat die hoop aansteek in ons harte dat ons soos Jesus kan en sal wees, ook in terme van ons reinheid van hart en lewe: “En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.” (1 Joh. 3:3). Elkeen wat fokus om hulle lewe aan God toe te wy deur sy Woord, het die belofte dat die reinigingswerk in hulle harte en lewens daardeur aan die gang gesit is en sal bly. God self staan daarvoor in soos sy Gees die werke van die vlees in ons lewe doodmaak en ons deur die Gees lei om die wil van God te doen (Rom. 8:1-17).
Ons streef dus steeds daarna om met ons hele lewe toegewyd aan Hom te lewe in gehoorsaamheid, ‘n oproep wat wyd deur die res van die NT aan gelowiges gemaak word, bv. deur Paulus aan Timoteus: “Vermy die begeertes wat ’n jongmens in gevaar bring, en streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede, saam met almal wat uit ’n rein hart die Here aanroep.” (2 Tim. 2:22 – vgl. ook Matt. 5:8; Rom. 14:20; 2 Kor. 7:11; Fil. 1:10; 4:8; 1 Tim. 1:5; 3:9; 5:22; 2 Tim. 1:3; Tit. 1:15; Hebr. 10:22; Jak. 3:17; 1 Pet. 1:22).
Ons streef ook daarna dat dit alle verhoudings waarin ons lewe sal deursuur. Dit sluit die gehoorsaamheid aan die “goue reël” van naasteliefde in soos Jesus op ons van toepassing maak uit Lev. 19:18 in sy opsomming van die tweede liefdesgebod in Matt. 22:39 (vgl. ook Matt. 19:19; Mark. 12:31; Luk. 10:27) sowel as in Matt. 7:12: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.” Paulus gebruik Lev. 19:18 ook in twee van sy briewe (Rom. 13:9; Gal. 5:14).
- LEWE AS TEMPEL VAN DIE HEILIGE GEES
Die beskrywing van die Heilige Gees in die NT wat in elke gelowiges sowel as in die gemeenskap van gelowiges woon, steun ook swaar op die onderbou wat Levitikus gee.
In 1 Korintiërs 6 word elke gelowige, en in 2 Korintiërs 6 en Efesiërs 2 die hele geloofsgemeenskap, beskrywe as ‘n tempel van die Heilige Gees. God woon nou nie meer in die Tabernakel of tempel nie, maar in sy mense.
In 1 Korinte 6 word die inwonende Gees gebruik as motivering waarom enige seksuele losbandigheid vermy moet word: “Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie. Elke ander sonde wat ’n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam. Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.” (1 Kor. 6:18-20).
In Efesiërs 2 word die eenheid wat die Gees gee gebruik as motivering vir die kerk om die onderlinge band te koester sodat ons saam ‘n heilige tempel vir die Here kan wees: “Julle is ’n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ’n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ’n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou word as ’n geestelike huis waarin God woon.” (Ef. 2:20-22).
Dieselfde geld 2 Korinte 6 waar gelowiges verbied word om met ongelowiges in een juk te trek met verwysing na Levitikus 26:12: “Ek sal by julle bly en julle God wees, en julle sal my volk wees.” Daarom moedig Paulus die gelowiges in Tessalonika aan om nie die Heilige Gees te weerstaan nie en alles te toets, te behou wat goed is, en weg te bly van alles wat sleg is (1 Tess. 5:19). Hy moedig die gelowiges in Efese aan om onsedelikheid, onreinheid en gierigheid te vermy, omdat dit die Heilige Gees bedroef (Ef. 4-5).
Levitikus is steeds die Woord van God
Daar is nog ‘n hele aantal ander aspekte in die NT wat ‘n mens sou kon uitlig, die klem op seën en straf, die belang van geloftes en tiendes en nog talle meer. Hierdie sewe aspekte is egter genoeg om vir jou ‘n idee te gee van die relevansie van die boek van Levitikus vir die geloofslewe ook van die NT geloofsgemeenskap.
Die OT – en baie spesifiek ook Levitikus – is dus steeds die Woord van God vir ons. Daarsonder kan jy die sleutel uitsprake wat die NT maak oor Jesus, die Heilige Gees, en die geloofsgemeenskap se heilige lewe in hierdie wêreld nie na behore verstaan nie. ‘n Mens kan Levitikus daarom nie ignoreer in jou fokus op dienswerk en dissipelskap in jou lewe voor God nie.
View all posts in this series
- Die gebruik van Levitikus in die Nuwe Testament - June 20, 2016
- Lees Levitikus saam met my van 12 April af - April 10, 2017
- “Wees heilig, want Ek is heilig” - April 12, 2017
- Jahwe is ‘n God wat beveel
- Indeling
- Levitikus in die Nuwe Testament
- “Volgende jaar is Jerusalem!” – Liturgie gebaseer op elemente van die Joodse Paasmaaltyd
- Levitikus 1 – Almal moes volmaakte en aanneemlike brandoffers bring vir die Here - April 20, 2017
- Levitikus 2 – Suurdeeg word verbied en sout gebied by die graanoffer - April 21, 2017
- Levitikus 3 – Die maaltydoffer as gemeenskap met God en mekaar - April 24, 2017
- Levitikus 4:1-5:13 – Die sondeoffer as reiniging en vergifnis van konkrete sondes - April 25, 2017
- Levitikus 5:14-6:7 – Die skuldoffer as restitusie en regstelling van konkrete sondes - April 26, 2017
- Levitikus 6:8-7:38 – Riglyne vir priesters oor prosesse rondom die offers - April 27, 2017
- Levitikus 8 – Aäron word ingehuldig as Hoëpriester en sy seuns as priesters - April 28, 2017
- Levitikus 9 – Israel word geseën met die teenwoordigheid van die Here - May 1, 2017
- Levitikus 10 – Die dood van Nadab en Abihu illustreer God se onverbiddelike heiligheid - May 2, 2017
- Levitikus 11 – Die onderskeid rein en onrein help Israel om daagliks in God se teenwoordigheid te lewe - May 3, 2017
- Levitikus 12 – Rituele reiniging ná geboorte weens bloedvloeiing - May 4, 2017
- Levitikus 13-14 – Rituele reiniging ná onreinheid deur velsiektes, brandwonde, skimmel of swamme - May 8, 2017
- Levitikus 15 – Rituele reiniging weens seksuele afskeidings - May 9, 2017
- Levitikus 16 – Die Groot Versoendag bring versoening met God en reiniging van die sonde - May 10, 2017
- Levitikus 17 – Aan God alleen word geoffer en gehou by die verbod op die eet van bloed - May 11, 2017
- Levitikus 18 – Enige seksuele verhouding buite die huwelik word afgekeur - May 12, 2017
- Levitikus 19 – Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig - May 15, 2017
- Levitikus 20 – Die hele gemeenskap moet sorg dat God se voorskrifte nagekom word - May 16, 2017
- Levitikus 21 – Voorskrifte vir priesters rondom die dood, die huwelik en gestremdheid - May 17, 2017
- Levitikus 22 – Die priesters moes sorg dat alle offers vir God aanneemlik is - May 18, 2017
- Levitikus 23 – Vyf feeste om saam in die teenwoordigheid van die Here te vier - May 19, 2017
- Levitikus 24 – Die gemeenskap van God en sy mense beïnvloed hulle hele lewe - May 20, 2017
- Levitikus 25 – God se eienaarskap van die land word met die Sabbatsjaar en Jubeljaar gevier - May 22, 2017
- Levitikus 26 – Vier seëninge en vyf strawwe word aan hulle gehoorsaamheid in die land gekoppel - May 23, 2017
- Levitikus 27 – Geloftes in buitengewone en tiendes in normale omstandighede - May 24, 2017