Skip to main content

Kevin deYoung | Reexamining Perspicuity

If the Bible Is So Clear, Why Are There So Many Different Interpretations?

Kevin deYoung het by die onlangse internasionale konferensie “Geen Ander Evangelie” die volgende praatjie gelewer Reexamining Perspicuity met die subtitel: “If the Bible Is So Clear, Why Are There So Many Different Interpretations?”  Jy kan dit hier luister.  Ek gee ‘n kort opsomming daarvan.

Kevin begin met ‘n hele smorgasbord van verskillende interpretasies van Bybelverhale – bv. iemand wat 17 verskillende interpretasies van Johannes 4 se verhaal van die Samaritaanse vrou onderskei – en van dogmas en vra die vraag oor hoe ‘n mens daarop reageer, veral as iemand sê jou interpretasie is maar net jou mening.

Hy gee tien response op die vraag hoekom daar só baie verskillende interpretasies is:

  1. Ons het ‘n ordentlike begrip nodig van die genoegsaamheid van die Skrif.  Die Skrif is genoegsaam om God te verheerlik, om tot redding te kom, om te glo en vir Hom te lewe.  Die Bybel sê egter nie alles oor alles nie.  Baie keer is ons verskille oor dinge wat op die periferie lê of wat glad nie daarin aangespreek word nie.  Die Bybel is egter genoegsaam vir die dinge wat met God, ons saligheid, geloof en ‘n lewe voor God te make het.
  2. Ons het ‘n ordentlike begrip nodig van die helderheid van die Skrif.  Nie alles in die Bybel is so helder dat almal dieselfde verstaan daarvan sal hê nie.  Daar is dinge wat regtig helder is en ander wat baie obskuur is, soos bv. dele van Paulus se briewe, soos Petrus op ‘n plek sê.  Hierdie obskure dinge is die dinge waaroor mense verkeerde interpretasies kan hê, omdat hulle dit misinterpreteer of verdraai.  Dit beteken egter nie dat alle interpretasies reg is nie. Daar is regte en verkeerde interpretasie.
  3. Ons het ‘n ordentlike begrip nodig van wat sola Scriptura beteken.  Dit beteken nie dat ‘n mens nie aan die tradisionele verstaan van die Skrif kan torring nie, maar die onus lê op dié wat dit anders wil interpreteer om die kerk te oortuig dat ‘n nuwe interpretasie ‘n nuwe konsensus tot gevolg kan hê. Dit beteken ook nie dat sola Scriptura beteken dat net die Skrif gesag het in ons lewens nie.  Ouers en ouderlinge sowel as die prediking het ook gesag in ons lewe soos ook samelewingswette.  Wat ons wel kan sê oor sola Scriptura is dat dit beteken dat die Skrif die enigste absolute gesag oor ons lewens het.  Ons interpretasies van die Skrif moet dus aan die gesag wat ons toeken aan die Skrif gemeet word.
  4. Ons het ‘n ordentlike begrip nodig van die geskiedenis van die kerk.  Dit is maklik om foute deur die geskiedenis van die kerk se interpretasies oor allerlei uit te wys.  Dit beteken egter nie dat die kerk nooit enige goeie interpretasies gehad het nie.  Inteendeel.  Bv. die plat aarde idee van die Middeleeue was ‘n afwyking van die vorige eeue se idee dat die aarde ‘n sfeer was.  Daaroor kan die kerkvaders nagegaan word.  In my eie navorsing het ek al kennis geneem van Job wat al lank v.C. geskryf het oor die rondheid van die aarde en dat die aarde hang in die niks.  Die feit dat sommige die Bybel verkwalik dat dit slawerny goedkeur beteken nie dat die Bybel daarmee gediskrediteer kan word nie, want die kerk het darem al vir twee eeue lank besef dat slawerny nie deur die Bybel ondersteun word nie.  Die kerk het sy interpretasie van wat die Bybel regtig sê verander.
  5. Ons moet verstaan dat ons meer het wat ons saambind as wat ons uitmekaar hou.  Selfs op die vlak van denominasies.  Selfs al is daar historiese redes waarom denominasies apart ontwikkel het, beteken dit nie noodwendig dat hulle oor fundamentele goed verskillende perspektiewe het nie.  Ons moenie verskille oorbeklemtoon nie.
  6. Ons moet verstaan dat ons in ‘n pluralistiese samelewing leef wat baie verskillende interpretasies van die lewe het.  Daar is selfs in die wetenskap verskillende interpretasies van wat werk en wat werk nie, bv. in diëte en ander gesondheids- en samelewingkwessies, bv. aardverwarming.  Ons samelewing ly aan: “pervasive interpretative pluralism”.
  7. Ons moet tussen betekenis – meaning – en betekenis – significance – onderskei. Bv. in eksegese en die toepassing daarvan.  En ons moet waak daarteen om die toepassing terug te lees in die eksegese en daarmee die betekenis (meaning) van die teks uiteindelik te verander.
  8. Ons het verskillende interpretasies van die Skrif om verskillende redes.  Soms is dit weens tradisies wat verskil. Soms is dit weens sonde en sondige gedrag in ons lewens.  Soms is dit omdat sommige reg is en ander verkeerd. Ons moet eerlik genoeg word om dit te kan erken.  Die kerkvaders het verskil.  Dit is nie nuut nie!  Ketters het altyd die Bybel gebruik en ‘n ander interpretasie van sleuteltekste aangegryp, tot die konsensus van die geloofsgemeenskap ‘n einde daaraan gebring het.  Ons mag en moet egter opstaan vir ons eie verstaan van en oortuigings oor die Skrif sonder om daarvoor apologie te maak, maar dit ook altyd weer blootstel aan kritiek en selfs korreksie.
  9. Ons moet onthou dat almal op een of ander tyd wil sê dat die Skrif helder is oor wat ook vir hulle belangrik is.  Aanvaar dit.  Ons almal het die behoefte om sekere fundamentele dinge vanuit die Skrif te sê oor dié dinge wat vir ons belangrik is.  Maar ons kan ook van mekaar verwag dat diegene hulle interpretasie sal motiveer en aan ondersoek en gesprek sal blootstel.  Dit is hoe die gemeenskap van geloof werk.
  10. Ons moet dieselfde vertroue hê in die Bybel as wat Jesus gehad het.  Jesus het ‘n absolute vertroue in die Skrif gehad.  Vergelyk wat Hy in Matteus 19 gesê het oor die vrae oor menswees en geslagtelikheid: “Het julle nie gelees dat … dat God gesê het …”  Hy vertrou dus dat Genesis 1-2 se uitsprake oor menswees en geslagtelikeheid as sola Scriptura gebruik kan en sal word.  Jesus het die Bybel absoluut vertrou vir die perspektief wat dit gehad het oor menswees en geslagtelikheid sowel hoe dit toegepas kan word op die huwelik en op enkellopendes (eunugs).  Ons kan Hom in daardie vertroue in die Skrif navolg.  Sola Scriptura is nie ‘n epistemologiese kwessie nie – d.w.s. hoe weet ons dat ons weet – maar ‘n teologiese een – d.w.s. hoe leer ons God se wil daarin ken.  God sê in die Skrif hoe goed moet wees, nie op grond van ons of ander se kennis nie, waar dit ook al vandaan mag kom en hoe belangrik dit ook al mag wees, maar op grond van hoe Hy daaroor dink.  Kevin gebruik die voorbeeld van die blindes wat verskillende idees het oor die olifant in die vertrek.  En stimuleer ons verbeelding om te dink aan ‘n olifant wat kan praat, en wat vir die blindes kan sê wat en wie hy is!  Jy kan nie dan met hom stry en sê, maar ek dink steeds jy is net ‘n boomstomp omdat dit jou ervaring van die olifant is nie!  Die olifant het ‘n beter idee van homself as die blindes.  Op soortgelyke wyse, wat daarvan dat ons in die Bybel met ‘n God te make het wat vir ons kan sê hoe dinge is en moet wees, omdat Hy die gesag het om dit te sê?  Dit is immers die storie van die Hervorming.  Die Hervormers het gewerk met die idee dat God in die Woord gepraat het en die gesag het om ons tot gehoorsaamheid aan sy Woord te begelei.  Dit is hierdie perspektief wat die idee van sola Scriptura gevorm het, die absolute gesag wat die Woord het om God se wil vir geloof en die lewe aan ons te kommunikeer.

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Marius smit on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieHoekom beskerm die Here jou juis aan jou regterkant?
  • runawayjoyous2427b27b07 on Eenjaar Bybelleesprogram – 366 daeBaie dankie!