Kan God van gedagte verander?

Die vraag is by die Bybelskool gevra, Kan God van gedagte verander?

Die kort antwoord is die volgende, soos een kommentaar (Klein) skryf hieroor:

Daar is ‘n paradoks tussen God se vryheid, om van gedagte te kan verander, en God se betroubaarheid, om nie van gedagte te kan verander nie.  Albei is tegelykertyd waar: God verander nie sy gedagte nie, en tog doen Hy dit!

Ek wil twee aspekte in my langer antwoord uitlig:

1)  God verander nooit in sy wese of karakter nie – Hy is onveranderlik in terme van bv. sy liefde en trou.

Vergelyk bv. Hosea 11:8: “Hoe kan Ek jou vernietig … Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk.”

2)  God kan wel van gedagte verander, omdat Hy in verhouding is met ons.

Dit sien ‘n mens bv. in die bekende Pottebakker verhaal in Jer 18.  Soos klei in die hande van die pottebakker is, so is ons in God se hand.  Wanneer Hy ‘n oordeel uitspreek en mense luister (is plooibaar soos klei), SIEN HY AF van die kwaad, en omgekeerd as Hy seën uitspreek en mense luister nie (is nie plooibaar soos klei nie), SIEN HY AF van die goeie wat Hy wou doen.

God verander dus van gedagte BINNE die verhouding met ons, soos ons ook onderling met mekaar werk, hoewel Hy nooit van karakter verander nie. 

Vincent Brümmer (What are we doing when we pray? On prayer and the nature of faith – 2008 – Andrew Murray pryswenner vanjaar) skryf hieroor en sê dat gebed eintlik die sleutel is om God se wese te verstaan (Ebeling se gedagtes).

“God gives us some things, not only as we wish, but because we wish.”

Dit beteken nie dat ons gebed God se arm draai nie, of dat dit outomaties gebeur nie, maar dat Hy in vryheid op ons versoeke reageer, omdat ons dit vra en Hy in verhouding is met ons.

Teenoor die statiese idee van God as onveranderlik, wys Vincent uit hoe gebed die verhouding tussen God en die bidder verander wat daardeur ‘n werklike veranderings effek op beide het.  (On)veranderlikheid is altyd ‘n dinamiese begrip omdat dit ‘n onvolledige konsep is – God is onveranderlik in sy goedheid en getrouheid, maar veranderlik ten opsigte van gebeurlikhede.  Anders sou hy nie ‘n persoon wees nie.

In ‘n besondere gedeelte in sy boek, Asking an omniscient God, sê hy die volgende:

Hy skiet die populêre gedagte van Boethius af dat God alwetend ten opsigte van die toekoms is, deur van buite ons realiteit, uit die ewigheid, na ons gebeure in tyd te kyk en dus te reageer op die gebeure soos dit gebeur, en dus nie voor die dinge gebeur nie. Dit maak nie logiese sin volgens Vincent nie, want ons ervaring van tyd sal dan ‘n illusie word.    Selfs die verlede, hede en toekoms sal dan van God se perspektief een punt in tyd word en ononderskeibaar.

Vincent stel eerder voor dat God se alwetendheid ten opsigte van die toekoms gesien moet word as dat Hy te alle tye van alle toekoms moontlikhede bewus is, en ook die relatiewe waarskynlikheid van elke gebeurlikheid ken.  Hy kan dus die toekoms antisipeer,

1) omdat Hy ons intensies ken, maar

2) ook sy eie bedoeling tot uitvoer kan bring.

Ten opsigte van die feit dat God ons behoeftes ken, kan ‘n mens aanvaar dat God baie van ons behoeftes vervul sonder dat ons vra, maar weens sy behoefte om met ons in ‘n verhouding te lewe, sommiges net gee omdat ons vra.  Anders sou ons óf oorweldig wees deur die vervulling van ons onuitgesproke behoeftes óf bederf deur te dink dat ons behoeftes outomaties, sonder ‘n verhouding, bevredig word.

Hy sê ook volgende ongelooflike ding:

God se goedheid is die onderbou van die bidder se vertroue om te vra!

Daarvoor het die bidder die gawe van enlightenment (om sy wil te ken), empowerment (om sy wil te kan doen) en taste for the good (om sy wil uit liefde te doen) nodig.  Hierdie trinitariese verklaring (enlightenment – Jesus; empowerment – Vader; motivation [soos hy dit verderaan noem] – Gees) is kenmerkend van sy teologie.

Vincent gebruik ook John Lucas (Freedom and Grace) se briljante voorbeeld as ‘n metafoor vir gebed as samewerking tussen ons en God, dié van Persiese tapytmakers.

In elke familie werk die pa aan die eenkant en die kinders aan die ander kant.  Die kinders faal baie keer daarin om presies te doen wat die pa sê, maar die pa is vaardig genoeg om sy patrone aan te pas om hulle foute te inkorporeer en in ‘n fassinerende, konstant-ontwikkelende ontwerp te verander.

God se werk moet dus nie as ‘n bloudruk verstaan word nie, maar eerder as ‘n goddelike projek wat God ontwikkel in gemeenskap met menslike deelnemers.  Dit het ‘n effek op hoe ons die eskatologie sien – in stede van ‘n vaste uitkoms, is die eschaton iets waaraan ons as medewerkers met God saamwerk.

Om terug te keer tot die vraag oor God se verandering van gedagte:

Numeri 23:19 sê wel van God die volgende: “God is nie ’n mens dat Hy sou lieg nie, ’n mens dat Hy van gedagte sou verander nie.”  Maar daar moet ons onthou dat dit uit die mond van Bileam kom, wat nie gesagvol oor God ‘n uitspraak kon lewer nie.  Daarby interpreteer Bileam dit self, deur daaraan by te voeg: “Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?”

Dit beteken dat al wat Bileam sê, is dat God se woorde en sy dade ooreenstem, Hy doen wat Hy sê.

Dieselfde geld die gedeelte in 1 Samuel 15:29, waar Samuel die oordeel oor Saul se koningskap uitspreek en dit verbind aan God wat nie van gedagte verander nie, maar doen wat Hy sê.  In 1 Samuel 13:15 sê Samuel immers dat God se plan eintlik was om Saul se koningskap vir altyd te bevestig het, maar omdat Saul nie gehoorsaam was nie, het Hy sy plan verander.  Die frase “nie van gedagte verander nie” bedoel dus eintlik net, dat God doen wat Hy sê.

Daarteenoor, moet ons ook sê, soos Jeremia die gesagvolle profeet van die Here, God reageer ook op hoe mense na Hom luister of nie, en verander sy optrede in reaksie daarop.

DUS: Albei stellings is tegelykertyd waar: God verander nie sy gedagte nie, en tog doen Hy dit!

View all posts in this series

betroubaarheid, gebed, God, Samuel, vryheid


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Beste Chris,
    N.a.v. die stellings: God verander nie sy gedagte nie, en tog doen Hy dit!

    Uit: Die vreemde God en sy mense (Willem de Klerk)

    ” Alles van Hom is so onuitsêbaar dat ons Hom alleen in teenstrydighede kan verbeeld.
    Albei is waar:
    sy genade en geregtigheid
    sy almag en die mens se vrye wil
    sy eenheid en drieheid
    sy vreemdheid en bekendheid.

    As ons (die ondervraers) nie die kloutjie by die oor kan kry oor al die teenstrydighede wat die Bybel oor God te sê het nie, is paradoksale denke 'n ruspunt.” (p. 157).

    “As God vir jou net verborgenheid en buitewêreldse misterie is, verloor jy sy nabye bekendheid. As Hy net inwonende Vriend is, verloor jy siddering, ontsag en afstand in 'n te grote familiariteit met die Heilige…albei die pole laat jou in ewewig met God wandel.” (p. 156).

    Groete,
    Jenny

  • Dit vul my met verwondering dat die groot God van hemel en aarde sy skepsels toelaat om saam met Hom (maar natuurlik ondergeskik aan sy almag), aan die toekoms te werk, en om so Sy Wil te laat uitwerk, en selfs om Sy Wil teen te werk. Mens sien dit vanaf Genesis dat God dinge laat gebeur, en dan wag Hy in sy groot liefde vir mense om reg daarop te reageer, en dikwels moet Hy dan die gemors wat mense gemaak het kom hanteer.
    Die groot tragedie is natuurlik dat ons deur verkeerde keuses ellendige gevolge vir onsself op die hals kan haal, en die nog groter tragedie is dat die verkeerde dinge wat mense doen ellendige gevolge vir ander mense kan veroorsaak. Wat ons saai sal ons maai, en die wet van oorsaak en gevolg loop sy gang. God se genade is groot geneog dat ons vergifnis kan kry, en ons verhouding met Hom herstel kan word, maar dikwels bly die onaangename gevolge van ons dwaasheid by ons, en by ander mense.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Eksodus 36:2-38👍
  • Dave on Eksodus 36:2-38Moses was voorwaar 'n baie bevooregte man. Maak mens amper jaloers. Die offers laat my dink....
  • Chris van Wyk on Eksodus 26Hi Faan, ja, hulle het gebruik wat beskikbaar was, hoewel van die materiaal natuurlik ook saam gekarwei kon gewees het op trek van die Rooi See af. Di…
  • Chris van Wyk on Eksodus 27Hi Isaac, die Israeliete word in Jesaja 52:11 die opdrag gegee om niks onheiligs van Babel met hulle saam te neem terwyl hulle terugkeer na hulle land…
  • Chris van Wyk on Jesus se Ek is-uitsprakeHi Isaac, daar is baie materiaal by hierdie webtuiste. Dit is alles gratis.
  • Isaac Davids on Eksodus 27Goeiemore. Hoop dit Gaan goed. Ek Wil weet wat is die betekenis of openbaring in hierdie skrif Vir vandag in Jesaja 52:11 spesifiek "draers van die He…
  • Faan de Wit on Eksodus 262 dinge wat my opval is die gebreide dolfyn of Tornyn velle as buitenste bedekking van die tabernakel. Dit beteken bemagtigde vissers moes van Sinai w…
  • Isaac Davids on Jesus se Ek is-uitsprakeHi. Ek Wil van u studie materials he asb. Dankie.
  • Chris van Wyk on Eksodus 26👍
  • Marius on Eksodus 26Amen,net so en so moet ons verstaan wie ons nou in Christus is,sodat ons so kan wandel elke dag.
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieDie punt van die gedeelte is dat Christus naby is. 'n Mens kan in Hom glo, want Hy het eers uit die hemel neergedaal en mens geword. Hy het toe gester…
  • Chris van Wyk on Eksodus 21Hi Frans, jy sou enige Bybelboek met die hulp van my bydraes op die webtuiste met hulle kon deurwerk. Veritas het ook 'n boek wat spesifiek op jongmen…
  • Petrus on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieGoeie More Chris Dus, om the se "Wie sal opvaar, " beteken nie gelowiges en regeverdiges, maar praat van Christus in die teks? Ook, "wie sal neerdaal,…
  • Frans Joseph Scheepers on Eksodus 21Goeie more my naam is Frans Scheepers en ek het laat verlede jaar hierdie besonderse ontdekking gemaak van wat u vir die Christen wêreld doen. Ek is '…
  • Chris van Wyk on RomeineHi Mariaana, jy kan Romeine lees by hierdie skakel: http://bybelskool.com/romeine/. Volg net die skakels aan die onderkant van daardie bydrae. Oor God…
%d bloggers like this: