WEEK 6: 2 Samuel 8-10 – Dawid is ‘n regverdige en billike koning, by wie die Here is net waar hy gegaan het

Met die belofte van die Here as fondament, bevestig Dawid sy koningskap met militêre poste regdeur al die gebiede wat hy verower en onderdanig maak aan hom.  Sommige van dié aksies is grusaam, soos die onderwerping van die Moabiete (volk van sy groot-ouma Rut – vgl 1 Sam 22 waar hulle nog op goeie voet was), ander weer meer diplomaties, soos die ooreenkoms met Toï van Hamat.  Die Filistynse mag word deurslaggewend gebreek, sodat sommige selfs as deel van Dawid se lyfwag aangestel word.  Die Filistyne word hier eintlik die “Kreti en die Pleti” genoem.  Pleti is ‘n verwysing na Filistyne, en Kreti ‘n verwysing na hulle afkoms uit Kaftor, wat vermoedelik die eiland Kreta is (Deut 2:23; Jer 47:4; Amos 9:7).

Telkens word genoem van die ekonomiese waarde wat met die buit tot sy koningskap toegevoeg word: belasting, perde, strydwaens, brons, silwer, goud waarvan hy die meeste aan die Here wy vir die bou van die tempel, soos ons later sal sien.  Hy skep ook deeglike strukture vir die “kerk”, weermag en staatsadministrasie, waarvan Josafat die eerste CEO word, waarvan ons in die Bybel lees.  Die name Abjatar en Agimelek is heel waarskynlik met die teks se oorskrywery omgeruil, sodat 8:17 eintlik moet lees: “Sadok seun van Agitub, en Abjatar seun van Agimelek …” (vgl 1 Sam 22:20).

Daarmee saam word die oorwinnings egter telkens aan die Here toegeskryf, “net waar hy gegaan het”. En Dawid word as ‘n regverdige en billike koning geteken, wat ter wille van Jonatan, sorg vir Saul se familie.  Mefiboset, seun van Jonatan, die een met die gebreklike voet, kry Saul se grond terug, onder bestuur van Siba, maar bly by Dawid in sy huis, heel moontlik om ‘n ogie oor hom te hou.  Mefiboset se seun, Miga, word pertinent hier genoem, omdat Jonatan eintlik deur Miga ‘n baie groot nageslag het (1 Kron 8).  Hoewel Saul dus verwerp is deur die Here, word Jonatan geseën met ‘n groot nageslag.  Dawid bly lojaal aan Jonatan, hoewel hy nie dieselfde lojaliteit aan die ander afstammelinge van Saul bewys nie (vgl die verhaal van Rispa se seuns in hoofstuk 21).

Die oorlog teen die Ammoniete word in meer detail oor die volgende drie hoofstukke vertel, want dis tydens dié oorlog wat Dawid owerspel en moord pleeg.  Dawid probeer eers diplomatieke betrekking met hulle vestig, maar sy gesante word verneder.  Die afskeer van die een kant van hulle baard, die sieraad van mans in die Ou Nabye Ooste, was ‘n groot vernedering, en ‘n parodie op rou-gebruike van dié tyd (Jer 48:37; Job 1:20).  Joab en Abisai gaan dus oor tot militêre aksie.  Aanvanklik bied die Ammoniete teenstand, veral met die terugtrek in hulle stad.  Hulle bondgenote, die Arameërs, sluit egter vrede met Israel in die oorlog en raak aan Dawid onderhorig, wat die Ammoniete so verswak het, dat dit uiteindelik tot Dawid se oorwinning sou lei (hfst 12).  Die “sewe honderd man op strydwaens en veertig duisend oorlogsperde gedood” van 10:18 moet waarskynlik op voetspoor van 1 Kron 19:18 eerder wees: “sewe duisend van die strydwabemanning en veertig duisend voetsoldate”.

View all posts in this series

Samuel


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: