Skip to main content

2 Samuel 3-4 – die pad na die troon is morsig

Die lys seuns wat vir Dawid in Hebron gebore is (die lys word in 1 Kron 3 aangevul) is nie om dowe neute hier geplaas nie.  Drie van die ses seuns sou Dawid in die skande steek.  Amnon, die oudste, sou sy suster Tamar verkrag.  Absalom, die derde seun, sou nie net vir Amnon doodmaak daaroor nie, maar Dawid uitdaag vir die koningskap.  En Adonia, die vierde seun, sou Salomo uitdaag vir die koningskap, en deur Salomo doodgemaak word.

Dawid het dus onderliggend dieselfde probleme met sy seuns as wat Eli en Samuel met hulle s’n gehad het.  Ironies dat dit juis Salomo is, gebore na Dawid se donkerste uur, wat die patroon deurbreek, en so die eerste word wat met onderskeiding die koningskap erf.  Let ook op dat Absalom se ma ‘n Aramese prinses was, ‘n dogter van koning Talmai van Gesur, ‘n stadstaat net noord van Galilea.  Laat ‘n mens wonder oor die wysheid van sulke politiese huwelike gegewe Absalom se geskiedenis.  Hierdie tipe verbintenisse word eintlik deurgaans afgekeur (1 Kon 11:4).

Die gevolge van Abner se keuse vir Is-Boset, Saul se seun, in hoofstuk 2, het hier ‘n ironiese en tragiese nadraai.  Deur ‘n verbintenis met Rispa, die byvrou van Saul, van wie ons later weer gaan hoor (2 Sam 21), maak Abner eintlik ‘n aanspraak op die troon, soos Absalom ook later sou doen.  Die gevolglike breukspul tussen hom en Is-Boset verenig ironies genoeg die Benjaminiete en die res van Israel onder Dawid se koningskap, maar lei op tragiese wyse tot Abner se dood aan Joab se hand uit weerwraak vir sy broer Asael se dood.  Is-Boset word ook wreed deur twee bendeleiers vermoor.  Let op hoeveel detail die skrywer oor Dawid se onskuld en smart oor albei gebeure gee.  Dit is die enigste optrede wat kan sorg dat die brose verenigingsproses nie uitmekaar val, voor dit nog behoorlik gebeur het nie.

Twee goed tref my:

  • die smart van Palti oor sy vrou Mikal wat deur Dawid teruggeneem word.  Midde-in die groter politiese spel, kry doodgewone mense seer, en dit roer my hart.
  • die inkonsekwentheid van Dawid in 1) sy vrees vir sy susterskinders, die seuns van Seruja, “Hulle is vir my te hard”, wat lei tot ‘n “hands-off” benadering teenoor Joab, teenoor 2) sy onmiddelike teregstelling van die twee bendeleiers.  ‘n Mens kan nie help om te dink aan die feit dat Dawid deurgaans militêre, politiese en strategiese voordeel uit dié wrede leiers se optredes sou trek nie.  Eers aan die einde van Dawid se lewe sou hy vir Joab terugkry deur Salomo opdrag te gee om Joab vir sy wandade te vergeld.  Dit bly ‘n uitdaging om konsekwent die regte ding te doen, veral as ‘n mens voordeel kan trek daaruit om sekere dinge oor te sien.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Samuel


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar