2 Samuel 19-21 – die politieke pendulum swaai terug na Dawid, maar die onderliggende konflik bly voortbestaan

Joab se geslaagde poging om Dawid uit sy treurmare oor Absalom te ruk om waardering vir die lojaliteit en ondersteuning van die manskappe te toon, boemerang aanvanklik op hom.  Dawid stel vir Amasa, neef van Absalom, in die plek van Joab as hoof van sy leër aan om 1) sy misnoë met Joab se optrede te wys, en 2) só Absalom se volgelinge aan sy kant te kry.  Joab maak egter korte mette met Amasa en konsolideer eenvoudig met mag en geweld sy houvas op die hele leër van Israel.

Dis insiggewend dat Dawid vanuit die noorde, uit die stad Maganajim, terugkeer na Jerusalem.  Hoewel dit dieselfde plek is waar Is-Boset vroeër deur Israel koning gemaak is en vanwaar Dawid se koningskap uitgedaag is, word dit nou die basis vanwaar Dawid weer die troon bestyg.  Omdat Absalom se opstand uit die suide geloods was, vanaf Hebron waar Dawid se koningskap amptelik begin het, doen Dawid moeite om die Judese leiers weer aan sy kant te kry.  Hulle aanvaarding van hom lei wel aanvanklik tot konflik met Israel, met Seba wat voordeel daaruit probeer trek.  Seba se opstand word egter deur Joab en ‘n wyse vrou van die stad Abel in die kiem gesmoor.  (Joab het self tevore ‘n wyse vrou gebruik tot Absalom se voordeel.)  Seba se woorde sou egter bly voorbestaan en met die skeuring van die ryk onder leiding van Rehabeam weer aangehaal word om hulle optrede te verwoord (1 Kon 12:16).

Let op hoe twee Benjaminiete,  Saul se mense, in hierdie terugkeer na Jerusalem Dawid se guns probeer wen: Simeï en Mefiboset. Die politieke pendulum het weer teruggeswaai na Dawid met die ondersteuning van al die stamme van Israel, maar die onderliggende konflik sou bly voortbestaan tot Israel ná die regering van Salomo onherstelbaar in twee ryke sou skeur.  Dit is hartseer dat die byvroue, wat op geen manier verkeerd opgetree het, moet boet vir wat Absalom aan hulle en Dawid gedoen het.

Die verhaal van Rispa (byvrou van Saul oor wie Is-Boset en Abner gestry het) en Merab (eers belowe aan Dawid, en toe aan iemand anders gegee) en hulle seuns word nie gedateer nie.  Geleerdes meen dat dit vroeër gebeur het, waarskynlik voor Dawid se begenadiging van Mefiboset (2 Sam 9).  Die hongersnood word gewyt aan die Here se ingrype weens Saul se moord op die Gibeoniete.  Ironies dat Dawid die Here raadpleeg oor die rede vir die droogte, maar nie dieselfde doen om te hoor wat gedoen moet word om die oordeel af te wend nie.  Hy vra die Gibeoniete wat om te doen, en op grusame wyse word dan op hulle aandrang ‘n vonnis op 7 seuns uit Saul se nageslag uitgevoer, nogal “voor die Here”, moontlik in navolging van die wetsvoorskrif: “‘n oog vir ‘n oog”.  Rispa se aangrypende onverpoosde beskerming van die lyke word beloon met ‘n ordentlike begrafnis vir hulle sowel as vir Saul en Jonatan by die graf van Kis, die stamvader.

Die Filistynse oorloë wat hier vertel word, gaan eintlik om vier besondere Filistyne, almal reuse en uit die geslag van die Refaïete (Gen 14), wat deur Israel oorwin is.  Die Goliat episode is in konflik met die bekende Dawid-Goliat verhaal.  Dit kan wees dat hier Goliat se broer, Lagmi, bedoel word (1 Kron 20:5).  Goliat word ook soms as ‘n titel van ‘n baasvegter geïnterpreteer.

View all posts in this series

Samuel


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (4)

  • Dit gaan maar net my verstand te bowe om die kontraste in Dawid se lewe te sien:
    * Dit wat hy toelaat om met Saul se familie te gebeur (Rispa) en net `n bietjie verder aan word na hom verwys as “U wat die lamp van Israel is” (2 Sam 21:17);
    * Die aangrypende lied in 2 Sam 22 waar hy lof aan die Here bring vir die oorwinning en tog in verse 21 tot 25 besing hy sy eie voortreflikheid;
    * en dan die verbond in hoofstuk 23 waar hy bely dat die Gees van die Here deur hom praat!
    * Hy weet so goed dat hy nie `n volkstelling moet deurvoer nie en tog doen hy dit! Hy het so `n persoonlike verhouding met die Here en tog ,nadat hy om vergifnis vra vir die volkstelling (hoofstuk 24) praat God nie direk met hom nie maar wel deur die siener/profeet Gad!

  • Jy is reg – die kontraste is erg. Vannaand by die kerkraadsvergadering het ons weer die verhaal in Lukas 14 gelees van die man wat die maaltyd vir die genooide gaste reggemaak het, en hulle toe so ongeskik en arrogant was om die uitnodiging met verskonings te begroet. Maar dan gaan die slawe uit om dié wat dit nie verdien nie, die armes, kreupeles, blindes en verlamdes in die stad en die buitewyke in te dwing na die feesmaal. Dit sê vir my, niemand verdien die genade nie. Niemand nie! Nie Dawid nie, selfs nie in sy beste oomblikke nie. So Dawid se storie is God se storie, waar God selfs instaan vir sy foute, en dit “terugwerkend” transformeer deur die proses rondom die ware Messias 10 eeue later. Genade is onverdiende guns alleen!

  • Die verhaal van Rispa is my my “vreemd” in baie opsigte, en tog so aangrypend! Ek sukkel om dit te verstaan (of dalk moet mens dit nie hard probeer ontleed maar dit bloot “at face value” aanvaar?). :-
    1. Dawid reageer op die hongersnood deur die Here te raadpleeg. Ons verstaan vandag baie beter die natuurlike oorsaak en gevolg van weerpatrone en sikliese droogtes, en hoe God die natuur beheer deur natuurwette wat Hy geskep het. Nogtans, dink ek, moet mens sonder voorbehoud aanvaar dat die Here wel ook direkte ingrepe maak in Sy natuurwette.
    2. Dawid soek na God se wil/boodskap in die droogte. God praat met mense op verskillende maniere, en een daarvan is seker deur natuurgebeure, en veral in die tyd voor Christus, toe die volle Bybel nog nie ge-openbaar was nie. Dit kan seker vandag nog gebeur, maar ek is baie skepties oor mense wat “verklaar” dat ‘n droogte God se boobskap aan ons is om die een of ander sonde/euwel stop te sit. Ek neem, ons weet mos God wil he ons moet die sonde teenstaan, ons weet dit uit sy Woord.
    3. Dawid kry die antwoord dat ‘n sonde/vergryp van Saul die oorsaak van die droogte is. Die Bybel sê nie hoe David vir God geraadpleeg het, en hoe die antwoord gekom het nie. Deur die priesters en die urim en tumin? Ek het eenkeer ‘n preek van Allan Boesak oor Rispa gelees (ek dink dit was die boodskap wat hy voorberei het vir Adelaide Tambo se begrafnis, maar wat hy deur die ANC verhoed is om te lewer). As ek reg onthou het Boesak gesê dat die Priesters dalk nie die regte boodskap aan David gegee het nie, en dalk hulle eie agenda gevolg het.
    4. Ek onthou die baie dae van verootmoediging en gebed wat oor die dekades deur kerk en staat uitgeroep is, en dat sommige dominees die droogte toesegkryf het as God se boodskap aan ons – van minirokke tot Sondagkoerante het deurgeloop. Nou onlangs sê iemand dis ons laksheid oor homoseksualiteit waaroor God ons straf met die huidge droogte. Om nie van Vigs te praat nie! Dis nie altyd maklik om te navigeer tussen ‘n skeptisisme oor menselike uitsprake en ‘n ontsag vir Gods Woord nie!
    5. David aanvaar die Gibeoniete se voorstel. Met vandag se kennis en insig en voordeel van die hele Bybel kan ons seker maklik oordeel dat David nie God se hart reg verstaan het toe hy hierdie gruwel toegelaat het nie. Maar ons leef nie in ‘n tyd toe bloedwraak die aanvaarde norm was, toe kollektiewe skuld baie meer van ‘n werklikheid was, toe die sondes van die vaders letterlik vertsaan is, voordat die latere profete verduidelik het dat elke mens op sy eie verantwoordelikheid voor God staan, en voordat Christus die liefdesgebod en Gods groot genade vir sondaars benadruk het.
    6. Die veroordeeldes se liggame word “voor die Here” op die berg opgehang. Het die heidense Gideoniete nou gedink dat dat hulle die God van Israel hierdeur sou behaag? Sou dit voor ‘n plek van aanbidding en offerande wees? Of was dit ‘n daad van finale wraak, vernedering en genoegdoening teenoor Saul en sy nageslag?
    7. Rispa se moederliefde. Hier is nou die aangrypende deel van die verhaal – ‘n weduwee, ‘n byvrou van ‘n verslane koning se moederliefde, lojaliteit, versorging, en (man?!)moedigheid. Rispa staan nie daar teenoor slegs die roofdiere en asvoels nie, maar inderdaad teen die Gibeoniete wat hulle daar opgehang het, teen die heersende koning wat die daad goedgekeur het, teen die priesters wat God se oordeel verwoord het, en sommige sou seker ook sê teen God self!
    8. Dawid se reaksie. Hoe wonderlik dat hierdie heldedaad van Rispa ook iets mooi en goeds uit David haal – hy veroordeel haar nie, maar bewys die laaste eer en respek aan Saul en sy seuns en kleinseuns. Hy kry kans om sy woorde van eer teenoor Saul om te sit in dade. (2 Sam1:19-27) En dit laat my sommer graag wil glo dat jy reg is dat dit eers hierna is dat Dawid aan Mefiboset goed doen. Dan pas dit ook in by jou seining dat die merkwaardige van Dawid is dat hy leerbaar was, en sy foute berou en probeer regstel! Dat hy hier reageer op wat Rispa deur haar dade vir hom sê.

  • Jy skets 'n baie moontlik scenario ivm die priesters en hulle interpretasie van God se Woord. Dit is ook opmerklik dat daar nie staan dat Dawid rondom sy uiteindelike optrede die raad van die Here vra nie, maar slegs die Gibeoniete vra (vgl dit met sy vraag oor waar hy sy koningskap moet begin en met die eerste antwoord, Juda, verder vra na waar spesifiek, en die antwoord Hebron kry). Ek dink dit was 'n fout. Maar die heel vreemdste is natuurlik die feit dat die droogte gebreek word deur hierdie publieke genoegdoening (dit is waarom hulle voor die Here opgehang is) sowel as die publieke rousmart (Rispa). Ek weet nou nie of die reën kom agv die teregstelling of die trane van Rispa nie, maar feit is, dit reën hierna. En die verhaal koppel die gebeure aan God se voorsiening in die natuur. Miskien is die uiteindelike wonder van die verhaal, dat in die grusaamheid daarvan, regte interpretasie of nie, Dawid en sy mense leer dat dinge nie só gedoen kan word nie, en hy anders optree teenoor Mefiboset. Dit het nou nie vir Joab gehelp nie, maar darem! Die deurbreking van hierdie vergeldingsteologie kom eers, soos jy tereg opmerk, in die profete en uiteindelik met Jesus. Rispa se verhaal is dus 'n stasie op pad na die volkom openbaring van wie God is en wat Hy regtig van sy mense wil hê: “moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God”(Rom 12:19)

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Skakel in by Veritas!Hi Hanneke, ek het die skakel gestuur.
  • Hanneke Meyer on Skakel in by Veritas!Ek fasiliteer reeds vir n geruime tyd modules 1 en 2, maar sou graag tog n paar van die zoom-byeenkomste bywoon vir verryking. Ek het n handleiding. Vriendelike groete Hanneke Meyer
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
%d