2 Samuel 11-12 – die diepste ellende van die sonde lê in die minagting van die Here

Dit is só ‘n bekende verhaal, dat ek verras is met die emosionele impak daarvan op my.  Dit is met ‘n sinkende gevoel van afgryse wat ek lees hoe Dawid al dieper sak, van owerspel tot moord en die gevolglike leuens om die ware toedrag van sake te verdoesel.  En dit net omdat hy in die oorlog teen die Ammoniete nie sy verpligtinge nagekom het nie, en gevolglik aan versoeking blootgestel is.

Attah ha-ish – Jy is die man – weerklink nog steeds in my ore soos toe my Hebreeuse dosent dit jare terug in die klas gelees het.  Die probleem met die sonde is reeds erg in terme van die effek van die mense wat daardeur geraak word, Batseba, Urija, en die ander wat ingespan word om die leuens in stand te hou, bv. Joab.  Vier seuns sou sterf as straf vir hierdie onbesonne daad, Batseba se kind, Amnon, Absalom en Adonia –  Dawid betaal dus viervoudig, soos hy self voorstel!  Selfs Agitofel word daardeur geraak, want Batseba was sy kleindogter (Eliam, Batseba se pa, was sy seun – 2 Sam 23:34), en verklaar moontlik sy ondersteuning van Absalom later in die verhaal.

Maar die diepste ellende van sonde lê in die minagting van die Here, waarmee sy sorg, beskerming en voorsiening in die wind geslaan word om jou eie, gewoonlik korttermyn, belang te dien.

Ons dink baie keer aan Psalm 51 en die vergifnis wat Dawid ontvang het na hy van harte belydenis van sy skuld gedoen het.  Maar die tragiese gevolge van sy dade, en die oordeel van die Here wat hom tref, gooi ‘n groot skaduwee oor die hele loopbaan van Dawid hierna.  Die ligpunt is die intense hertoewyding van Dawid en die geboorte van Salomo, “man van vrede”, of Jedidja, “die Here het hom lief”, soos Dawid hom genoem het.

Dawid kom ook uiteindelik sy verpligtinge in die oorlog teen die Ammoniete na, en verower só die hoofstad Rabba.

View all posts in this series

Samuel


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Middag Chris,
    Wonderlik hoe dat die tegnologie mens kan laat voel jy is sommer naby terwyl die groot Indiese oseaan ons nou skei!
    Ek is so dankbaar dat ek jou kommentaar van elke dag kan volg!
    Ek het vandag nie veel vrae nie,jou dagstukkies het meeste vrae beantwoord.
    Dit val my net op hoe dikwels mense “in die Naam van die Here” uitsprake maak soos selfs ook Akis in vorige week se hoofstukke. Hy wat `n Filistyn is maak die uitspraak oor Dawid: “So seker as die Here leef” (1 Sam 29:6).Sou hy dan weet wie die Here is? Of waar Dawid `n eed aflé :”Mag God my om die lewe bring….”(2 Sam 3:35) en ook “Mag die Here self die saak regstel” (2 Sam 3:38)
    Is dit nie tog op `n manier oneerbiedig om so namens God te praat nie?

    Dan wil ek net noem watter diepe emosionele ervaring ek beleef het rondom Hoofstuk 7 en Hoofstuk 11.Om te dink `n mens kan so `n wonderlike verhouding met die Here hé en nog in swakheid afdwaal! Dan besef mens net opnuut hoe groot die Genade van God is! God wat nooit Sy trou aan ons onttrek nie. Voorwaar, ons kan ook daarvan getuig!

    Nogmaals dankie vir wat jy vir ons by Bybelskool doen!
    Groete aan Lynette
    Van ons hier in Ossieland

  • Akis en Dawid volg die konvensie van hulle tyd om God se hulp in te roep om aan hulle eie woorde gewig te gee. Dit sou net oneerbiedig wees as hulleself nie nakom wat hulle belowe of waaraan hulle hulleself verbind nie. Akis verwys heel moontlik na die Here as die God van Dawid, dws sonder om noodwendig persoonlik in Hom te glo, hoewel sy eerbied vir Dawid hom 'n eerbied ook vir sy God gee (1 Sam 29:9 ).

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: