Die karakter van Dawid
Ek het in my leeswerk oor Dawid, die man na God se hart, op soveel stof afgekom, dat ek besluit het om ‘n deel daarvan eerder net op die webtuiste te plaas. Hier is dus ‘n paar aspekte van Dawid se karakter vir nadenke:
Passie vir God
Uit die Psalms van Dawid kan ‘n mens agter kom dat hy ‘n passie vir God gehad het, soos min ander van sy tyd, trouens soos min voor of na hom. So as hy in Psalm 15 skryf, ” Wie mag op u heilige berg vertoef?” dan is dit met ‘n diep eerlike soeke en begeerte na God.
Hy was lief vir die Here en selfs in sy donkerste uur het hy telkens teruggekeer na die grond van sy bestaan, om God met sy hele wese lief te hê en te dien.
Kunssinnige streep
Daarby het hy kunssinnige streep gehad, wat in musiek en veral lirieke die wêreld verryk het. Nie net kon hy koning Saul kalmeer met sy lierspel (1 Sam 16:23 – voorloper van die ghitaar, sonder ‘n sleutelbord, wat met ‘n plektrum gespeel is) nie. Hy kon ook met passie woorde inspan om God te loof met sy digkuns (in tientalle Psalms).
- “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre … wat is die mens dan dat U aan hom dink?” (Ps 8:4)
- “‘n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.” (Ps 16:6)
- “Ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.” (Ps 23:6).
Met net soveel passie kon hy ook die donkerte van die lewe beskryf en voor God se troon bring:
- “Selfs my boesemvriend op wie ek vertrou het, het my in die rug gesteek.” (Ps 41:10).
- “My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?” (Ps 22:2)
- ” U is tog die Heilige wat woon waar die lofsange van Israel weerklink!” (Ps 22:4)
Dapper vegter
Maar Dawid was ook ‘n dapper vegter, wat lief was vir ‘n uitdaging, veral waar hy hoë risiko’s moes neem. Dink maar aan die keer dat hy nader gekruip het na Saul in die grot, terwyl dié besig was om ‘n draai te loop, en ‘n deel van sy klere afgesny het, om hom die boodskap te gee, dat hy nie vir Saul wil kwaad aandoen nie (1 Sam 24).
Maar sy dapperheid het uiteindelik oorgegaan in ‘n liefde vir bloed, en het Dawid ‘n hele paar gruweldade gepleeg. Op ‘n keer het hy die Moabiete in groepe op die grond laat lê, en vir elke groep wat hy laat lewe het, het hy twee groepe doodgemaak (2 Sam 8:2). En ‘n ander keer het hy toegelaat dat 7 seuns van Saul se nageslag doodgemaak word (2 Sam 21), al het hy anders aan hulle belowe (1 Sam 24:21).
En tog kon hy met deernis optree teenoor manne saam met hom wat nie die pas in die oorlog kon volhou nie. Op ‘n keer wou die manne wat enduit teen die Amalekiete geveg het, nie die buit deel met dié wat agter geraak het nie, en Dawid het net besluit almal kry gelykop van die buit (1 Sam 30:24). ‘n Ware komplekse volronde karakter!
Maar dapper was hy beslis. Geen wonder dat Israel gaande was oor hom nie. ” U is soos tien duisend van ons”, sê die leër op ‘n keer, toe hulle wou keer dat hy teen Absalom uittrek (2 Sam 18:3).
Net vir Joab en sy broers, die seuns van Seruja, Dawid se half-suster, d.w.s. sy susterskinders, was hy versigtig (2 Sam 3:39), al was hulle blind-lojaal aan hom. Hulle sou enigiets doen om Dawid se posisie te verstewig, al kos dit ook wat, en al is dit boos. En Dawid het die voordeel daarvan gehad, hoewel hy nie altyd saamgestem het met hulle metodieke nie. Eers op sy sterfbed het Dawid vir Salomo opdrag gegee om Joab te straf vir sy wandade, toe dié al oud was (1 Kon 2:5-6, 28 vv.).
Wyse man
Maar die belangrikste kenmerk van Dawid was dat hy wys was. Hy het geweet om meer vriende te maak as vyande. En hy kon ongelooflik strategies dink. As Absalom hom laat vlug uit Jerusalem, dan maak Dawid planne soos hy uit die stad saam met sy mense stap, om die raad van Agitofel, die een wat Absalom gehelp het, en self ‘n strateeg van formaat, te verydel. En ook dié opstand word die hoof gebied, al is dit met baie pyn en skade.
En sy keuse van hoofstad was in die kol – 3 000 jaar later is dit nog steeds die hoofsentrum van sy volk.
View all posts in this series
- WEEK 1: Bybelskool – Karakters na God se hart in 1 & 2 Samuel
- 1 Samuel – God werk altyd “behind the scenes”
- 1 Samuel 1 – en die Here het aan haar gedink
- 1 Samuel 2 – Hy beskerm sy troue dienaars op hulle pad
- 1 Samuel 3 – Ek gaan ‘n ding doen wat ore sal laat tuit
- 1 Samuel 4 – Ikabod :: die eer is weggevat uit Israel
- 1 Samuel 5 en 6 – Wie kan bestaan in die teenwoordigheid van die Here?
- 1 Samuel 7 – Rig julle harte op die Here en dien Hom alleen. Dan sal Hy julle red …
- WEEK 2: 1 Samuel 8 – Samuel se kinders was nie soos hy nie
- 1 Samuel 9 – 10 – God verander Saul se gesindheid en roer die harte van die dapperes
- 1 Samuel 11- Vandag het die Here uitkoms gegee
- 1 Samuel 12 – om na God te luister is die essensie van die geestelike lewe
- 1 Samuel 13 – Saul minag die Here
- 1 Samuel 14 – Hy kan red, deur baie of deur min
- 1 Samuel 15 – om te luister is beter as die vet van ramme
- WEEK 3: 1 Samuel 16 – die Here kyk na die innerlike
- 1 Samuel 17-18 – van skaapwagter tot soldaat
- 1 Samuel 19 – die Gees maak Saul kragteloos
- 1 Samuel 20-21 – Mag die Here by jou wees soos Hy by my pa was
- 1 Samuel 22-23 – Jonatan bemoedig Dawid in sy vertroue op God
- Die karakter van Dawid
- WEEK 4: 1 Samuel 24 – Jy moet jou vyande liefhê
- 1 Samuel 25 – om met vrygewigheid te leef
- Kan God van gedagte verander?
- 1 Samuel 26-27 – in swaar tye word oorwinnings gebore
- 1 Samuel 28-29 – Saul se koningskap wankel
- 1 Samuel 30-31 – God bewaar ons nie VAN gevaar nie, maar IN gevaar
- WEEK 5: 2 Samuel 1 – hoe het die helde geval
- 2 Samuel 2 – daar was ‘n langdurige oorlog tussen die nageslag van Saul en Dawid
- 2 Samuel 3-4 – die pad na die troon is morsig
- 2 Samuel 5 – ons is tog almal u eie mense
- 2 Samuel 6 – God se wil moet in alles die deurslag gee
- 2 Samuel 7 – God sluit ‘n langtermyn verhouding met Dawid en sy nageslag
- WEEK 6: 2 Samuel 8-10 – Dawid is ‘n regverdige en billike koning, by wie die Here is net waar hy gegaan het
- 2 Samuel 11-12 – die diepste ellende van die sonde lê in die minagting van die Here
- 2 Samuel 13 – dis ontstellend dat Tamar geen geregtigheid kry met haar gewelddadige verkragting nie
- WEEK 7: 2 Samuel 14-15 – Dawid bid tot God EN beplan strategies om die opstand van sy seun Absalom die hoof te bied
- 2 Samuel 16-18 – God is agter alles besig om sy wil uit te werk in die doen en late van mense
- Kanonvorming
- Die ontstaan van die Bybel
- Interessante feite oor die Bybel
- 2 Samuel 19-21 – die politieke pendulum swaai terug na Dawid, maar die onderliggende konflik bly voortbestaan
- 2 Samuel 22-23 – Dit is God wat die oorwinning gee – al my hulp en vreugde kom van Hom af
- 2 Samuel 24 – dis beter om in die hande van God te val as in dié van mense – Hy is genadig!
Tags: Samuel
Trackback from your site.
Justin
| #
Hi Ek is besig met Psalm 23, en wonder waarom was dit 1 vandie eerste Psalms wat op laer skool vlak aan leerders geleer was?. Sou graag mening hê hieroor.
Reply
Chris van Wyk
| #
Hi – Psalm 23 is só toeganklik. Die prentjies van donkerte wat uitloop op groen weivelde, en die feesmaal terwyl jou vyande toekyk, spreek tot mense reg deur die eeue. Psalm 23 het daarom ‘n diep boodskap oor God geword wat in alle omstandighede vertrou kan word. Ouers weet dit. Onderwysers weet dit. En hulle wil hê kinders moet met daardie wete grootword.
Reply
Annelise Lambrechts
| #
Kan U asb vir my inligting aangaande Dawid epos? Indien U kan soveel as moontlik inligting.
Reply
Chris van Wyk
| #
Ek het nie meer inligting as wat daar staan nie, behalwe in kommentare en handboeke. Jammer.
Reply