Kanonvorming
Die woord kanon kom van die Hebreeuse qaneh en die Griekse kanon, wat beide maatstaf of meetstok beteken. Die woord word gebruik in die Joods-Christelike tradisie om die versameling geskrifte aan te dui wat as die Woord van God gereken word. Die Joodse (en OT) kanon is geskryf in Hebreeus en Aramees en die Christelike kanon sluit dit in en voeg die NT by, geskryf in Grieks.
Ten diepste word hierdie proses aan die werk van die Heilige Gees toegeskryf wat die kerk deur geestelike onderskeiding gehelp het om die seleksie van kanonieke boeke te maak (1 Kor 2:13 – “Dit verkondig ons ook, nie met geleerde woorde wat die menslike wysheid ons leer nie, maar met die woorde wat die Gees ons leer. So verklaar ons geestelike dinge aan mense wat die Gees het.”; 14:37 “Iemand wat dink dat hy ‘n profeet is of ‘n ander gawe van die Gees besit, moet erken dat wat ek aan julle skrywe, ‘n bevel van die Here is.”; Gal 1:8-9 – “As iemand aan julle ‘n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat julle ontvang het – die vloek van God sal hom tref!”; 1 Tes 2:13 – “Ons dank God dan ook gedurig daarvoor dat julle die boodskap van God wat julle van ons gehoor het, ontvang en aangeneem het in die oortuiging dat dit nie mensewoorde is nie maar die woord van God. En dit is ook inderdaad die woord van God, soos die uitwerking daarvan op julle wat glo, bewys.”).
‘n Aantal kriteria is gebruik deur gemeentes en die kerkvaders om die kerk se keuse van die Nuwe Testament se kanonieke boeke te begelei (bv Irenaeus), waarvan die eerste die belangrikste was:
- Jesus Christus – Dit is die allesbepalende gestalte van NT kanonisiteit. Elke boek in die NT word beoordeel deur die oriëntasie rondom die persoon van Jesus Christus. Dit het beide met die objektiewe kant, Jesus as Verkondigde, en die subjektiewe kant, Jesus Christus as Verkondiger, te make. Die NT gaan dus nie in die eerste plek om ‘n boek nie, maar om ‘n persoon. Vergelyk hiervoor bv. die belangrike proloog van die Johannes evangelie wat Jesus met die Woord van God verbind. Dit is ook die rede hoekom ‘n boek soos Hebreërs, wat nie met ‘n apostel verbind kan word nie (vgl die tweede kriterium), maar die duidelike verband tussen die OT en Jesus Christus uitspel, uiteindelik kanonieke status verkry het. Interessant: die Heilige Gees word daarom nie as ‘n bykomende kriterium vir kanonisiteit gebruik nie, omdat Hy die een is deur wie Christus sy werk in en deur die kerk voortsit. Dit is dus genoegsaam om net van Jesus Christus as kanonieke beginsel te praat. Dieselfde argument geld die Triniteit.
- Apostolisiteit – Boeke wat deur die apostels geskryf is, was geredelik aanvaar as kanoniek. Sommige kerke was om die rede aanvanklik huiwerig om boeke waarvan die outeur nie as apostel bekend was nie, bv. Markus, Lukas, Handelinge en Hebreërs (onbekende outeur). Maar dit was nie die alfa en omega van kanonisiteit nie, soos ‘n mens in die argumente hieroor by die kerkvaders lees. Hulle het baie meer geskryf oor die akkuraatheid van die getuienis oor Jesus Christus, en die leerstellige inhoud van ‘n gegewe boek (vgl. bv. Serapion se verwerping van die Evangelie van Petrus), as oor die outeurskap as sodanig.
- Apostoliese inhoud – Boeke wat in inhoud apostolies was, en van mense ná aan die apostels gekom het, al is dit geskryf deur nie-apostels, soos Markus en Lukas, is ook mettertyd aanvaar as kanoniek, hoewel dit langer geneem het en die oriëntasie rondom Jesus Christus steeds die primêre kriterium was. ‘n Boek soos Openbaring, hoewel geskrywe deur ‘n apostel, het langer geneem om aanvaar te word, omdat die teologiese inhoud anders as die res van die NT was. Johannes maak egter in die boek só ‘n sterk aanspraak op sy geskrif as ‘n openbaring van Jesus Christus self, dat dit die kerk uiteindelik oortuig het om dit in die kanon in te sluit. ‘n Boek soos Hebreërs het ook langer gevat om aanvaar te word, omdat sommige (Tertullianus) dit aan Barnabas as skrywer toegeskryf het, hoewel die verband tussen die OT en Christus uiteindelik die deurslag gegee het.
- Goddelike Inspirasie – Boeke wat ‘n aanspraak op Goddelike Inspirasie gemaak het, is ook vroeg aanvaar, hoewel dit steeds sekondêr was aan die sentrale vraag rondom Jesus Christus. Hierdie inspirasie is organies verstaan, d.w.s., die skrywer is gereken deur God geïnspireer te wees in die skrywe van die teks, met sy verstaansraamwerk en vermoëns. Dit staan teenoor die verbale inspirasie-leer, waar geleer is dat die woorde van die teks deur God self gedikteer is.
- Gemeentelike aanvaarding – Dit was ‘n belangrike verdere oorweging, veral ten opsigte van die briewe. Die houding van die gemeente aan wie die brief gerig is, was belangrik vir die breër kerk se aanvaarding daarvan, bv. die gemeente van Efese se houding oor die brief aan die Efesiërs. Dit is egter ‘n meer subjektiewe oordeel, wat ondergeskik was aan die Christologiese kriterium.
- Egtheid – die innerlike (subjektiewe) getuienis van die Heilige Gees oor die egtheid van ‘n bepaalde Bybelboek was ook belangrik, hoewel steeds met erkenning van die eerste allesbepalende maatstaf van Jesus Christus. Baie het die boek Openbaring om daardie rede bevraagteken, sowel as die boek Ester, omdat die naam van God nie daarin voorkom nie.
Anders as die Rooms-Katolieke OT, wat ‘n aantal apokriewe bevat, is die Protestantse Ou Testament kanon gelyk aan die Joodse TENAK, ‘n akroniem wat saamgestel word uit die drie eerste letters van die Hebreeuse name vir die Wet (Torâh), die Profete (Nevi’îm) en die Geskrifte (Ketuvîm). Sommige geleerdes stel voor dat ons nie van die OU Testament praat nie, maar van die EERSTE Testament, omdat dit die kanonieke status van die OT beter uitdruk.
Die vernaamste rede hiervoor is dat die Hervormers die oorspronklike Hebreeuse teks verkies het as bron vir hulle vertalings, terwyl die Rooms-Katolieke die Griekse OT, wat die apokriewe bevat het, verkies het. Interessant genoeg word die orde van die Rooms-Katolieke OT gevolg, wat anders is as die Joodse kanon, hoewel die apokriewe uitgelaat word.
Die Hebreeuse kanon is oor meer as ‘n 1000 jaar gevorm, met die Pentateug wat vroeg kanonieke status geniet het. Die Profete en die Geskrifte is oor ‘n hele aantal eeue geskryf en het mettertyd hulle plek in die harte van mense verower.
Sommige bronne verwys na ‘n Farisese konsilie wat in 90 n.C. in Jamnia bymekaar gekom het as die datum waar die Joodse kanon afgesluit is. Hoewel sommige boeke van die Tenak wel daar bespreek is, was die kanon as sodanig nie eintlik op die tafel nie. Joodse geleerdes het die kanon as afgesluit beskou sedert die skryf van die boek van Maleagi, wat die totaal van OT boeke op 39 bring. Hulle het juis nie die apokriewe ingesluit nie, omdat dit na dié datum geskryf is.
Die Nuwe Testament kanon, soos die Ou Testament kanon, was ‘n proses eerder as ‘n eenmalige gebeure of besluit by ‘n kerkvergadering. Vergelyk bv. die opmerking in 2 Petrus 3:16 waar na die briewe van Paulus verwys word wat deur sommige verkeerd uitgelê word. Petrus verwyt die mense dat hulle dit ook doen met die res van die Skrif. Hy gebruik die woord vermoedelik in die sin wat ons dit self vir die kanon gebruik, wat dui op die prosesmatige aanvaarding van die kanonieke omvang van die Skrif.
Nie alle bronne waarna in die teks van die Nuwe Testament verwys word, is ook ingesluit in die uiteindelike kanon nie. Paulus verwys bv. na ‘n vorige brief van hom aan die Korinte (1 Kor 5:9) en ‘n brief aan die Laodisense (Kol 4:16). Ons het geen getuienis waarom dié briewe nie ingesluit is in die kanon nie. Óf dié briewe het verlore geraak, óf die kerk het nie gereken dat dit van dieselfde universele kanonieke status was as sy ander briewe nie.
Oral in gemeentes was daar plaaslike kanons. Twee van ons beste manuskripte van die Griekse Nuwe Testament het bv. meer boeke in as wat ons vandag as kanon aanvaar. Die kodeks (papirus-boek) Sinaiticus (ongeveer 350 n.C.) bevat die boeke van Hermas en Barnabas, en kodeks Alexandrinus (ongeveer 450 n.C.) bevat 1 en 2 Clement. Dit verteenwoordig heel moontlik die Alexandrynse gemeenskap se kanon. Die Muratoriese kanon het ander boeke by en onderskei bv. tussen boeke wat in die publiek vir almal gelees mag word, en ander wat net vir persoonlike toewyding gebruik mag word. Dit verteenwoordig weer die kerk in Rome se kanon, ongeveer in die tweede eeu n.C.
Soos vroeër genoem (2 Pet 3:16), Paulus se briewe is heel gou as ‘n eenheid versamel wat kanonieke status geniet het, en publiek in die gemeentes gelees is. Die oudste versameling hiervan, die Chester Beatty papiri, dateer uit die tweede eeu n.C. Hy gee ook opdrag dat die briewe uitgeruil word en gelees word in verskillende gemeentes. Dieselfde opdrag is ook in die Openbaring van Johannes gegee aan die sewe gemeentes, aan wie die briewe daarin gerig is.
Die proses van versameling en bewaring van die NT dokumente was dus belangrik reg van die begin af. En elke gemeente sou vrae oor die egtheid en apostolisiteit daarvan gevra het. Dit het gelei tot hulle eie lokale kanons. Soos lyste van ander gemeentes bekend geword het, en dit algaande verfyn is, is plaaslike kanons vervang met die kanons wat meer algemeen aanvaar is deur gemeentes in ander dele van die Romeinse ryk.
Dié kanonieke beweging was dus aanvanklik ‘n gemeente beweging waarin gesoek is na outentieke apostoliese dokumente wat in die gemeentebediening gebruik kon word. Eers later sou die kerk ‘n volgende kriterium vir Nuwe Testamentiese kanonisiteit begin aanlê, waar dit nodig geraak het in die debatte oor die Christologie, die aard van die natuur van Christus, en die Triniteit, naamlik, watter van die boeke kan met reg gebruik word in die beantwoording van Christologiese en Trinitariese vrae. Dit het gelei tot die vierde eeuse proses waar die uiteindelike kanon finaal vasgestel is.
Eusebius skryf hieroor in sy Kerkgeskiedenis en onderskei vier groepe boeke: 1) aanvaar (die meeste van ons 27 boeke), 2) betwis (Jakobus, Judas, 2 Petrus, 2 en 3 Johannes), 3) verwerp (apokriewe), 4) ketters (pseudepigrafiese werke). Openbaring was in beide kategorie 1 en 2, omdat daar meningsverskil daaroor was.
Die eerste eksklusiewe lys van ons 27 boeke, soos dit vandag wyd deur die Christelike kerk aanvaar word, kom uit ‘n brief van Athanasius (ongeveer 367 n.C.).
View all posts in this series
- WEEK 1: Bybelskool – Karakters na God se hart in 1 & 2 Samuel
- 1 Samuel – God werk altyd “behind the scenes”
- 1 Samuel 1 – en die Here het aan haar gedink
- 1 Samuel 2 – Hy beskerm sy troue dienaars op hulle pad
- 1 Samuel 3 – Ek gaan ‘n ding doen wat ore sal laat tuit
- 1 Samuel 4 – Ikabod :: die eer is weggevat uit Israel
- 1 Samuel 5 en 6 – Wie kan bestaan in die teenwoordigheid van die Here?
- 1 Samuel 7 – Rig julle harte op die Here en dien Hom alleen. Dan sal Hy julle red …
- WEEK 2: 1 Samuel 8 – Samuel se kinders was nie soos hy nie
- 1 Samuel 9 – 10 – God verander Saul se gesindheid en roer die harte van die dapperes
- 1 Samuel 11- Vandag het die Here uitkoms gegee
- 1 Samuel 12 – om na God te luister is die essensie van die geestelike lewe
- 1 Samuel 13 – Saul minag die Here
- 1 Samuel 14 – Hy kan red, deur baie of deur min
- 1 Samuel 15 – om te luister is beter as die vet van ramme
- WEEK 3: 1 Samuel 16 – die Here kyk na die innerlike
- 1 Samuel 17-18 – van skaapwagter tot soldaat
- 1 Samuel 19 – die Gees maak Saul kragteloos
- 1 Samuel 20-21 – Mag die Here by jou wees soos Hy by my pa was
- 1 Samuel 22-23 – Jonatan bemoedig Dawid in sy vertroue op God
- Die karakter van Dawid
- WEEK 4: 1 Samuel 24 – Jy moet jou vyande liefhê
- 1 Samuel 25 – om met vrygewigheid te leef
- Kan God van gedagte verander?
- 1 Samuel 26-27 – in swaar tye word oorwinnings gebore
- 1 Samuel 28-29 – Saul se koningskap wankel
- 1 Samuel 30-31 – God bewaar ons nie VAN gevaar nie, maar IN gevaar
- WEEK 5: 2 Samuel 1 – hoe het die helde geval
- 2 Samuel 2 – daar was ‘n langdurige oorlog tussen die nageslag van Saul en Dawid
- 2 Samuel 3-4 – die pad na die troon is morsig
- 2 Samuel 5 – ons is tog almal u eie mense
- 2 Samuel 6 – God se wil moet in alles die deurslag gee
- 2 Samuel 7 – God sluit ‘n langtermyn verhouding met Dawid en sy nageslag
- WEEK 6: 2 Samuel 8-10 – Dawid is ‘n regverdige en billike koning, by wie die Here is net waar hy gegaan het
- 2 Samuel 11-12 – die diepste ellende van die sonde lê in die minagting van die Here
- 2 Samuel 13 – dis ontstellend dat Tamar geen geregtigheid kry met haar gewelddadige verkragting nie
- WEEK 7: 2 Samuel 14-15 – Dawid bid tot God EN beplan strategies om die opstand van sy seun Absalom die hoof te bied
- 2 Samuel 16-18 – God is agter alles besig om sy wil uit te werk in die doen en late van mense
- Kanonvorming
- Die ontstaan van die Bybel
- Interessante feite oor die Bybel
- 2 Samuel 19-21 – die politieke pendulum swaai terug na Dawid, maar die onderliggende konflik bly voortbestaan
- 2 Samuel 22-23 – Dit is God wat die oorwinning gee – al my hulp en vreugde kom van Hom af
- 2 Samuel 24 – dis beter om in die hande van God te val as in dié van mense – Hy is genadig!
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Heinrich, die term apokaliptiek is afgelei van ‘n Griekse woord wat “openbaring” beteken. Dit verwys na literatuur wat geskryf is oor die toekomstige oordeel aan die einde van die tyd. Dit word gekenmerk deur simboliek en hemelse agente wat optree. Apokaliptiese geskrifte verwag dat God die ou onvolmaakte orde sal vernietig en die wêreld na sy oorspronkilke paradys-agtige toestand sal herstel. Dit is Bybelse boeke soos Daniël (hfst 7-12) en Openbaring, asook Bybelgedeeltes soos Jesaja 24-27 en Matteus 24-25.
Heinrich Du Preez
| #
Hi
Ek wil graag weet wat beteken apokapliptiese boeke
Chris van Wyk
| #
Hi Kobie,
Jesus leer dat oud en nuut uit die Skrif belangrik is in die koninkryk van die hemele
Matteus is die enigste wat hierdie gelykenis van Jesus vertel (Matt 13:51-52).
Nuwe en ou skatte
51 “Verstaan julle al hierdie dinge?” “Ja,” het hulle geantwoord. 52 En Hy het vir hulle gesê: “Daarom is elke skrifkenner wat ‘n leerling in die koninkryk van die hemele geword het, soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy skatkamer haal.” (Bybel 2020-vertaling).
Daarom rond Jesus ‘n gesprek af wat Hy oor sy geestelike familie gehad het (“Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.” – Matt 12:50). Hy het in die loop van die gesprek sewe gelykenisse oor die koninkryk van die hemele vertel, die gelykenisse van die saaier, onkruid, mosterdsaad, suurdeeg, verborge skat, pêrel en treknet.
Jesus het hierdie gelykenisse vertel, sodat dié wat ore het om te hoor, kan hoor (Matt 13:9-17). Die ongemaklike waarheid was dat daar talle Jode was wat juis nie wou hoor nie, en daarom was die gelykenisse vir hulle onverstaanbaar. Die gelykenisse was net verstaanbaar vir dié wat ore gekry het van sy Vader om te hoor (Matt 13:11), dié wat bereid was om te doen wat God vra (Matt 12:50).
Jesus vra dan die disspels of hulle regtig verstaan wat Hy deur die gelykenisse geleer het. Hy moet seker maak dat hulle verstaan voor Hy verder die evangelie met hulle deel.
Op hulle positiewe antwoord vertel Jesus dan ‘n verdere gelykenis, die gelykenis van die huiseienaar en sy voorraadkamer, om hulle te bevestig in hulle verstaan van die evangelie. Hulle is soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy voorraadkamer haal.
Dit is trouens ‘n beskrywing van wat met elke skrifkenner gebeur wat tot insig kom. Wanneer hy of sy deel word van Jesus se familie, omdat hulle bereid is om die wil van God te doen, word hulle leerlinge in die koninkryk van die hemele. En kry hulle die voorreg om kreatief te werk met beide die nuwe – Jesus se lering – en die oue – die Skrif van die OT. Saam vorm dit die Woord van God.
Boodskap en betekenis
Hierdie gelykenis is ‘n absoluut fundamentele uitspraak oor die relevansie van beide die Skrif – die Ou Testament – en die boodskap van Jesus – die uiteindelike Nuwe Testament. Elkeen wat ‘n leerling word in die koninkryk van die hemele sal nuut kyk na die openbaring van God, sê Jesus.
Aan die een kant sal hulle ‘n nuwe perspektief op die waarde van die oue kry – die OT. Aan die ander kant sal hulle insig kry in die waarde van die nuwe – die NT. Trouens, deur die bril van die openbaring van Jesus – die NT – sal hulle juis die oue nuut kan waardeer – die OT.
Charles Quarles gebruik hierdie gelykenis van Jesus as die invalshoek van sy teologie van Matteus – A Theology of Matthew: Jesus Revealed as Deliverer, King, and Incarnate Creator. Hy sê dat daar ‘n goeie saak uit te maak is daarvoor dat Matteus die gelykenis ook outobiografies verstaan het. Dit is nie net waar van elke skrifkenner nie, maar ook van Matteus wat ‘n kenner van die OT was.
Daarvan getuig die talle aanhalings wat hy uit die OT maak. Onder andere is daar 19 profesieë uit die OT wat Matteus op Jesus van toepassing maak as getuienis dat dit in Hom vervul is.
Vir jou verstaan van die oue en die nuwe en die blywende waarde van albei sal dit die moeite werd wees om die verwysings in hierdie lys na te gaan en te oordink.
Matteus stel Jesus aan ons voor as die vervulling van die volgende OT profesieë:
1. Matteus 1:22-23 sê Jesaja 7:14 is vervul in Jesus dat die Messias uit ‘n maagd gebore sou word.
2. Matteus 2:6 sê Miga 5:2 is vervul in Jesus dat die Messias in Bethlehem gebore sal word.
3. Matteus 2:15 sê Hosea 11:1 is vervul in Jesus dat die Messias uit Egipte geroep sal word.
4. Matteus 2:18 sê Jeremia 31:15 is vervul in Jesus dat ‘n kindermoord in sy tyd sou plaasvind.
5. Matteus 3:3 sê Jesaja 40:3 is vervul in Jesus dat ‘n profeet in die woestyn die koms van die Here sou voorberei.
6. Matteus 4:14-16 sê Jesaja 9:1-2 is vervul in Jesus dat die Messias na die nasies van Galilea sou kom.
7. Matteus 8:17 sê Jesaja 53: 4 is vervul in Jesus dat die Messias ons siektes en swakhede sou dra as ‘n offerlam.
8. Matteus 10: 35-36 sê Miga 7:6 is vervul in Jesus dat die Messias familielede teen mekaar sou draai.
9. Matteus 11: 5 en 15:31 sê Jesaja 26:19; 29:18; 35:5; 42:18; en 61:1 is vervul in Jesus dat die Messias blindes sal laat sien, lammes sal laat loop, die dowes laat hoor, dooies sal opwek en die evangelie aan die armes sal verkondig.
10. Matteus 11:10 sê Eksodus 23:20 en Maleagi 3:1 is vervul in Jesus dat ‘n boodskapper die koms van die Messias sou voorafgaan.
11. Matteus 12:18-21 sê Jesaja 42:1-4 is vervul in Jesus dat die Messias nie luid of pretensieus sou wees nie.
12. Matteus 13:14-15 sê Jesaja 6: 9-10 is vervul in Jesus dat die Messias se leer misverstaan sou word.
13. Matteus 13:35 sê Psalm 78:2 is vervul in Jesus dat die Messias met gelykenisse die mense sal leer.
14. Matteus 15: 8-9 sê Jesaja 29:13 is vervul in Jesus dat God se volk teen hom sou rebelleer en valse dinge oor Hom sal versprei.
15. Matteus 17: 10-13 sê Maleagi 4:5 is vervul in Jesus dat die koms van die Messias voorafgegaan sal word deur die koms van ‘n Elia-figuur.
16. Matteus 21:5 sê Jesaja 62:11 en Sagaria 9: 9 is vervul in Jesus wat die Messias se oorwinning in Jerusalem voorspel.
17. Matteus 26:31 sê Sagaria 13:7 is vervul in Jesus dat die Messias se dissipels hom sou verlaat.
18. Matteus 27: 9 sê Sagaria 11:13 is vervul in Jesus dat die Messias vir dertig silwerstukke verraai sou word.
19. Matteus 27:35,43,46 sê Psalm 22:1-2, 6-8,18 is vervul in Jesus dat mense vir die Messias se klere sou loot en Hom bespot en dat die Vader hom sou verlaat tydens sy lyding vir die kwaad.
Chris van Wyk
| #
Hi Pieter (ek sal nog antwoord oor die doop – net vasgedraai), ek gaan daaroor skryf in my Prontuit die Waarheid reeks vanaf die begin van Julie af.
Pieter
| #
Middag Chris
Jy het nie ‘n skrywe oor Lent wat meer die laaste 40 dae van Jesus na die kruis verduidelik.
Groete
Pieter
Kobie Marais
| #
Verduidelik asb vir my Matteus 13vers 52
Chris van Wyk
| #
Dankie, Jan. Eintlik verstommend hoe diep die Noag-verhaal ingebed is in die hele Bybel. Dit het selfs ‘n invloed op die “sinode”-sitting in Jerusalem (Hand 15) gehad en op ons siening van die doop (1 Pet 3). Noag is nie ‘n liggewig nie. Ons ignoreer hom tot ons skade.
Jan Louw
| #
Baie waardevol. Dankie Chris
Chris van Wyk
| #
Hi Denver, jy kan dit kry by https://bybelskool.com/matteus/
Denver
| #
Ek soek graag meer inligting oor Matteus