Skip to main content

Waarom vier ons nie meer die sabbat soos dit in die wet gebied word nie?

Ek het reeds hieroor geskrywe vanuit die hoek van die historiese ontwikkeling daarvan. Ek wil dit nou uit die hoek van die Tien Gebooie en die NT hantering van die sabbatdag bekyk.

Die vierde gebod word Bybelsgesproke deur twee goed gemotiveer.

  • Israel moes die sabbatdag vier, om hulle te herinner daaraan dat God alles goed gemaak het, soos Hy op die sewende dag gerus het na al sy werk aan die skepping (Eks. 20). Met die viering van die sabbatdag het hulle erkenning aan God gegee vir alles wat Hy gemaak het.
  • Israel moes ook die sabbatdag vier, om hulle te herinner daaraan dat hulle God se volk is, soos God hulle uit die slawerny van Egipte verlos het (Deut. 5). Met die viering van die sabbatdag het hulle erkenning aan God gegee vir die verlossing wat hulle in die regte verhouding met God gebring het.

Die NT beskou die sabbatdag as ‘n skaduwee van wat sou kom. Die werklikheid is Christus. Dié wat dus in Christus is, vier hulle afhanklikheid van God (skepping) elke dag, nie net op een dag nie. Hulle vier ook hulle rus van die sonde (verlossing) elke dag, nie net op een dag nie. Hulle het dus nie meer nodig om een dag bó ‘n ander te vier nie, hoewel hulle welkom is om dit te doen, en dit ‘n gesonde ritme van rus en werk kan skep. Niemand mag Christene egter voorskryf daaroor nie.

Drie NT Skrifgedeeltes dra dié boodskap.

  • Paulus sê: “Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus. Moenie dat iemand wat behae skep in danige nederigheid en in die aanbidding van engele en wat voorgee dat hy allerhande visioene gesien het, julle daarmee mislei nie. So iemand verhef hom oor wat hy in eiewaan van homself dink, en hy hou nie aan die hoof, aan Christus, vas nie. Uit Christus groei die hele liggaam, ondersteun deur die gewrigte en saamgebind deur die spiere, soos God dit laat groei.” (Kol. 2:16-19).
  • Paulus sê ook: “Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil … Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ’n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting. Die een wat ’n bepaalde dag op ’n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God. Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword: om Here te wees van die dooies en die lewendes. Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn, want daar staan geskrywe: ‘So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.’ (Jes. 45:23). Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.” (Rom. 14:1-12).
  • Die Hebreërskrywer skryf: “Daar wag dus nog steeds ’n sabbatsrus vir die volk van God, want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand hulle voorbeeld van ongehoorsaamheid navolg en ook omkom nie.” (Hebr. 4:9-11).

Paulus het op sy sendingreise saam met die Jode die sabbatdag gevier in ‘n poging om die evangelie aan hulle te verkondig. (Hand. 13:42 44; 16:13; 18:4). Saam met die Christene het hy egter die eerste dag van die week nagmaal gevier, in herinnering aan die kruisdood en opstanding van die Here Jesus, en die ander kerklike dinge, soos die insamelinge van die dankoffer, nagekom (Hand. 20:7; 1 Kor. 16:2).

Dit lê agter die ontwikkeling in die Christelike kerk om op Sondag bymekaar te kom eerder as op die sabbatdag.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…