Die geloofwaardigheid van die getuienis oor die opstanding van die Here Jesus Christus
Matthee, Keith 2010 The Resurrection – a lawyer’s view. Methodist Publishing House: Cape Town.
Laai The Resurrection – a Lawyer’s view hier af (pdf – 500 KB)
Die geloofwaardigheid van die getuienis oor die opstanding
Keith gebruik sy ervaring as advokaat en regter om die getuienis vir die opstanding van die Here Jesus Christus te ontleed op dieselfde wyse as wat hy dit in ’n gewone hofsitting sou doen. Dit doen hy met volle inagneming van die belangrikheid om nie tevrede te wees met die oppervlakkige en oënskynlike interpretasies van feite nie, maar ook nie om sonder meer te swig voor die versoeking van die tydgees van skeptisisme nie.
Hy fokus op die opstanding van die Here Jesus Christus uit die hoek van die geloofwaardigheid van die getuienis waarin ’n mens altyd ook die moontlikheid moet verreken dat jy verkeerd kan wees. Daarom is die bevestiging van die waarheid van die getuienis van die opstanding vir hom wesenlik, iets wat hy mense soos Richard Dawkins, bv. in The God Delusion, verkwalik, dat hulle geen poging aanwend om die waarheid van die NT getuienis te ondersoek nie, maar dit net sonder meer verwerp.
Oor Richard Dawkins sê hy die volgende: “he fails to address the obvious question: even if earlier religions believed in a resurrection, of what evidential value is this when assessing the evidence of the alleged resurrection of Jesus? In a court of law such evidence would be inadmissible for lack of relevance.” (p. 29).
Die NT getuienis as primêre bron
In die regswese is die bronne vir enige argument van wesenlike belang. Hy hanteer daarom die NT getuienis as ’n primêre bron van die “accurate portrayal of what the early Christians believed, taught and lived as regards the resurrection of Jesus.” (p. 30).
Hy verwerp ook met minagting die gewilde argument dat die boeke en briewe van die NT dekades ná die gebeure waaroor dit handel, gefinaliseer is en daarom nie histories betroubaar is nie. Ander antieke dokumente uit dié tyd waarvan daar dramaties minder kopieë bestaan en wat baie langer ná die gebeure geskryf is, word nie op dieselfde wyse as onhistories uitgewys nie, hoekom dan die NT? Die vroegste kopie van Caesar se oorloë dateer 900 jaar ná die oorloë self, teenoor die vroegste kopie van dele van die NT wat 30 jaar ná die gebeure gedateer word. Daar is net 7 kopieë van Plato se manuskripte, 5 van Aristoteles, 10 vir Caeser, maar 4000 vir die NT!
Die rol van ooggetuies
Hy behandel dan die getuienis van die ooggetuies wat só ’n belangrike rol speel in die verhale van die opstanding van die Here Jesus Christus:
- die getuienis van Thomas, die aanvanklike skeptikus en twyfelaar, wat getuig oor die werklikheid van Jesus se opstanding, veral omdat hy aan Jesus kon vat;
- die getuienis van die ander tien dissipels wat dieselfde doen en van verskeie bevestigende gebeure vertel; die geloofwaardigheid van dié getuienis word versterk omdat hulle ook eerlik is oor hulle eie verloëning van Jesus in die aanloop tot sy kruisdood;
- die verskyning aan 500 ander volgelinge van Jesus;
- en veral die getuienis van die vroue, wat eintlik die eerste getuies van die opstanding was en wie se getuienis baie geloofwaardig is, veral in die lig van die feit dat die getuienis van vroue in dié tyd lig geskat is en hulle getuienis onveranderd en sonder teenstem aanvaar is deur die oorwegend manlike dissipelkring. Hy noem dit die coup de grace – “The obvious thing would have been to write the women out of the story…” (p. 67), maar dit is presies NIE wat gebeur het nie.
Keith Matthee vind die getuienis daarom geloofwaardig, veral omdat daar geen enkele ander weergawe van die gebeure uit die eerste eeu n.C. verskyn nie. “To put it in legal terms, at worst for these eyewitnesses who testified to seeing the risen Jesus, they have presented a prima facie case which, it not answered by their adversaries, must lead to a finding that at least on the balance of probabilities, they were telling the truth when they testified that Jesus did rise from the dead.” (p. 58).
Die feit dat daar verskille in die verhale van die onderskeie getuies is, is juis ’n getuienis daarvan dat die getuies nie saamgesweer het om ’n spesifieke weergawe te vertel nie en bewys hulle eerlikheid. Uiteraard moet die getuienis wel in die hoofsake ooreenkom en dít is wel die geval. Nie een van die getuies sê dat Jesus NIE opgestaan het nie. Keith sê: “The important thing is that the material aspects of the versions support one another, and this is the case with the accounts of the resurrection.” (p. 61).
Die rol van sekondêre getuienis
Maar, belangrik, Keith Matthee sê ook: “I will not assume that such belief was accurate or true.” Dié getuienis moet ook deur ander sekondêre getuienis bevestig word.
Van die sekondêre bronne vir die getuienis oor die opstanding wat Keith Matthee ondersoek, is dié van Josephus – 37-100 n.C. – wat met sy Joodse Antikwiteite en Joodse Oorlog die Joodse geskiedenis opgeteken het. Hy haal sy weergawe van die opstandingsgebeure aan uit die meer oorspronklike weergawe van Josephus se boeke, die antieke Arabiese manuskrip wat in 1972 deur Schlomo Pines ontdek is en sonder die 4de eeuse Christelike byvoegings is:
“At this time there was a wise man called Jesus, and his conduct was good, and he was known to be virtuous. Many people among the Jews and the other nations became his disciples. Pilate condemned him to be crucified and to die. But those who had become his disciples did not abandon his discipleship. They reported that he had appeared to them three days after his crucifixion and that he was alive. Accordingly, he was perhaps the Messiah, concerning whom the prophets have reported wonders and the tribe of the Christians, so named after him, has not disappeared to this day.” (p. 35)
Hoewel Josephus self – gegewe dat hy self ’n oortuigde Jood was en tot aan die einde van sy lewe só gebly het – net die moontlikheid dat Jesus die Messias is, aanvaar, maar nie self daarom ’n Christen geword het nie, gee sy beskrywing historiese gewig en geloofwaardigheid aan die getuienis van die ooggetuies van die opstanding van die Here Jesus Christus.
Nog ’n antieke bron waarby Keith Matthee stilstaan, is die van Gaius Cornelius Tacitus, ’n Romeinse senator en geskiedskrywer wat ’n jong seun tydens die vervolgings van Christene in die tyd van Nero in 64 n.C. was. Hy bevestig in Boek XV van sy Die Annale oor Nero se vergrype teen die Christene, die kruisdood van die Here Jesus Christus, en gee daarmee ook historiese gewig aan die verhale oor die Here Jesus Christus. Hy skryf: “Christus, the founder of the name, had undergone the death penalty in the reign of Tiberius, by sentence of the procurator Pontius Pilate ..” (p. 46).
Volharding van die eerste eeuse Christene
Ook die Romeinse goewerneur, Plinius die Jongere, skryf aan keiser Trajan (98-117 n.C.) in sy Boek X, Briewe van Plinius, oor die verspreiding van die geloof in en navolging van die Here Jesus Christus: “For the contagious superstition is not confined tot the cities only, but has spread through the villages and rural districts.” (p. 47-48).
Ten spyte van sy ernstige poging om dié geloof uit te roei deur vervolging en die doodstraf, is daar nie een enkele getuienis van ’n navolger van Christus uit die eerste eeu wat die geloof opgesê het in die aangesig van die wye en verbete vervolging sowel as die wrede voltrekking van die doodstraf nie.
Dít is ’n kragtige bevestiging van die geloofwaardigheid van die Christene uit die eerste eeu wat aan die gebeure van die opstanding van die Here Jesus Christus uit die dood vasgehou het as die goeie nuus vir hierdie wêreld.
Hiervoor sal ek my lewe gee
Dit is op hulle getuienis wat ek my geloof bou: die ooggetuies van die opstanding, die primêre getuienis van die NT skrywers sowel as die sekondêre getuienis van Joodse en Romeinse geskiedskrywers daaroor en die geloofwaardigheid wat bevestig word in die getrouheid van die eerste paar geslagte van die Christelike kerk aan die evangelie van die opstanding van die Here Jesus Christus.
Hiervoor sal ek ook my lewe gee.
by Chris van Wyk