Die doop met water is nie noodsaaklik om die Heilige Gees te ontvang nie

Ek het ‘n navraag gehad oor die doop met water en of dit nie noodsaaklik is om die Heilige Gees te ontvang nie.  Die kort antwoord is: Nee.  Hier is my uitgebreide antwoord daarop.

In net 3 gevalle in die Nuwe Testament word die Heilige Gees direk na die doop met water ontvang

In die Nuwe Testament was die ontvangs van die Heilige Gees ‘n paar keer iets wat direk na die waterdoop gebeur het.

  • Jesus het dit so ervaar (Luk 3:21-22);
  • Die drieduisend op Pinksterdag het dit so ervaar (Hand 2:38);
  • Die gelowiges in die platteland van Efese, wat vroeër die doop van Johannes ontvang het, het dit ook so ervaar.  Hulle word met die “Jesus-doop” gedoop en ontvang die Heilige Gees (Hand 19:1-6).

In die meeste gevalle in die Nuwe Testament was daar egter nie so ‘n direkte verband tussen die doop met water en die ontvangs van die Heilige Gees nie.

Die Heilige Gees word ontvang deur in Jesus Christus te glo

Die belangrikste boodskap van die Nuwe Testament oor die ontvangs van die Heilige Gees, is dat Hy ontvang word deur in Jesus Christus te glo.

Hier is ’n voëlvlug oor die gegewens in Handelinge oor geloof, die doop en die ontvangs van die Heilige Gees:

Die doop met water en die ontvangs van Gees gebeur ook op verskillende tye.

  • Die evangelie word deur Filippus (een van die “diakens” van Hand 6) in Samaria verkondig en die mense word gedoop.  Die apostels word egter ingeroep om te bid vir hierdie gedooptes dat hulle die Heilige Gees kan ontvang (Hand 8:4-17) deur handoplegging.  Die doop met water en die ontvangs van die Heilige Gees gebeur hier dus op verskillende tye.

Die doop met water word vertel sonder om ook van die Gees se ontvangs te vertel.

  • Die Etiopiese amptenaar word gedoop sonder dat spesifiek gesê word dat hy ook die Gees ontvang het (Hand 8:26-40).  Die feit dat hy sy reis met blydskap voortsit (‘n vrug en gawe van die Gees) in ‘n konteks waar die Gees Filippus stuur om met die Etiopiër te praat, en Filippus selfs fisies weer daarna wegneem na ‘n ander plek, beteken dat die Gees natuurlik sterk betrokke is by die hele gebeure.

Die Heilige Gees word soms ontvang om eers daarna met water gedoop te word.

  • Interessant genoeg, is die orde waarin dit gebeur, klaarblyklik ook nie belangrik nie – Kornelius sowel as Paulus ontvang eerste die Heilige Gees en word eers daarna gedoop (Hand 10:44-48; 9:17-19).

Geloof in Jesus is belangrik, baie keer sonder dat die doop of die ontvangs van die Heilige Gees eksplisiet beklemtoon word.

  • Soos die evangelie oor grense verkondig word, word merendeels oor die geloof en bekering van die gelowiges gepraat, baie keer sonder om van die doop of die ontvangs van die Heilige Gees te praat.  Dit is die geval in Antiogië (Hand 11:19-24), in Pafos (Hand 13:4-12), in Ikonium (Han 14:1-7), in Listra (Hand 14:8-20), in Derbe (Hand 14:21), in Filippi (Hand 16:13-15, 29-34 – die tronkbewaarder was wel vol van blydskap!), in Tessalonika (Hand 17:4), in Berea (Hand 17:12), in Atene (Hand 17:34).  Die punt is dat geloof belangrik is, om die Here te volg in dissipelskap, om vervul te lewe met die Gees, nie die doop of die eksplisiete eenmalige ontvangs van die Gees as sodanig nie.

Geloof en ontvangs van die Heilige Gees word soms beklemtoon, sonder om van die doop te vertel.

  • In Antiogië in Pisidië (Hand 13:13-52) word interessant genoeg glad nie van die doop gepraat nie, maar net genoem dat die gelowiges vol was van die Heilige Gees.
  • In die vergadering in Jerusalem oor die saak van die besnydenis, is dit opmerklik dat Petrus klem lê op die geloof van die bekeerlinge tot Christus, en die feit dat hulle die Heilige Gees ontvang het, sonder om enigsins oor die doop te praat.  Die doop is dus nie ‘n vereiste om die Gees te ontvang nie, geloof wel.
  • In Efese wanneer die towenaars tot geloof en bekering kom, word nie vertel van die doop of die ontvangs van die Heilige Gees nie, wel van die openlike belydenis en verbranding van hulle boeke (Hand 19:17-20). Hierdie publieke verbranding het dus vir hulle die funksie van ’n publieke geloofsbelydenis  gehad, in ’n sekere sin presies wat baie mense vandag met hulle “groot-doop” doen.

Geloof en die doop word weer op ander plekke beklemtoon, sonder om van die ontvangs van die Heilige Gees te praat.

  • In Korinte (Hand 18:8) weer word van die doop en geloof gepraat en nie van die Heilige Gees nie, hoewel ‘n mens uit die briewe aan die Korinte kan aflei dat die gawes van die Heilige Gees ‘n groot rol gespeel het, ‘n té groot rol, veral in hulle oorbeklemtoning van die tale, sê Paulus, waarin hy hulle wys op die liefde wat belangriker is as die gawes van die Heilige Gees.

Die doop word aan huisgesinne bedien (soms op grond van die geloof van ‘n ouer) sonder om van die ontvangs van die Heilige Gees te vertel.

  • Daar word baie gemaak van die huisgesinne (oikos – huise) wat tot bekering kom, en gedoop is, en telkens word daar nie gemeld van die Heilige Gees wat hulle ontvang het nie.  Dit is die geval in Filippi (Hand 16:15 – op Lidia se geloof gebaseer; Hand 16:33-34), in Korinte (Hand 18:8).  Telkens is die klem op die geloof (veral van die hoof van die huisgesin) en dat hulle gedoop word om daarmee as dissipels van die Here geïdentifiseer te word, sonder om daarmee die kinders uit te sluit.

Die doop van Jesus word nie altyd weer bedien aan dié wat met die doop van Johannes gedoop is nie.

  • Dit is baie interessant dat Appollos nie weer gedoop word toe hy dieper ingelei word in die leer van die Here Jesus nie (Hand 18:24-26).  Die doop van Johannes was as genoegsaam geag, omdat die werk van God in sy lewe reeds duidelik sigbaar was.  Daar was dus ‘n onderskeid tussen hom en die gelowiges in die platteland in Efese, wat gedoop word spesifiek omdat hulle nie van die werk van die Heilige Gees in hulle lewe kon getuig nie (Hand 19:1-6).

Hieruit kan ‘n mens die gevolgtrekking maak, dat die geloof in Jesus en ‘n lewe in die Heilige Gees belangrik is, en bo alles beklemtoon moet word.  Die doop is wel belangrik, maar die doop is nie noodsaaklik om die Heilige Gees te ontvang of om in Hom te lewe nie.

‘n Mens hoef dus nie uit te stel tot met ‘n “groot doop” om die Heilige Gees te ontvang nie.  ‘n Mens ontvang die Heilige Gees met geloof in Jesus Christus (die Triniteit is ‘n eenheid) wanneer dit ook al gebeur.

Van die refleksies van Paulus hieroor in sy briewe bevestig dit:

  • Gal 3:2 – Ons het die Heilige Gees ontvang deurdat ons die evangelie geglo het.
  • Gal 3:22 – Die belofte word vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus.
  • Rom 8:10 – Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe.

Gelowiges verskil oor wanneer kinders van gelowiges gedoop moet word

Daar is ’n kleiner verskil oor die standpunte oor die doop tussen voorstanders van die “groot doop” en voorstanders van die “kinderdoop”  as wat mense normaalweg besef.

Alle Christelike groepe doop groot.  As iemand tot bekering kom, en nog nie gedoop is nie, doop beide die “grootdopers” en die “kinderdopers” sulke gelowiges groot.

Die verskil is net tussen wat met die kinders van gelowiges moet gebeur.

Die vraag is: Moet kinders van gelowiges klein gedoop word?…  Of moet ’n mens wag met kinders van gelowiges totdat hulle deur die kategese sisteem self belydenis van geloof kan aflê en hulle dan doop?  Hopelik hoef hulle nie tot dan te wag om die Heilige Gees te ontvang nie!

Ek is oortuig ’n mens hoef nie te wag met die doop nie.  Kinders van gelowiges kan gedoop word as kinders.  Van my redes is as volg:

  • Om die doop vir kinders van gelowiges uit te stel, totdat hulle deur die kategese van ’n kerk as belydende lidmate bevestig kan word, word deur die doop wat aan huisgesinne bedien is (Hand 16:15; 33-34; 18:8) as onnodig uitgewys.  Dit sou beter wees, dink ek, veral as ’n mens sterk gevoelens hieroor het, om ten minste dan te doop wanneer sulke kinders ’n eenvoudige geloofsbelydenis kon maak.
  • Die doop as ‘n mens klein is, en natuurlik deel van ‘n gelowige huisgesin, is ‘n hand van God wat na jou uitgesteek word (in die naam van die Vader, Seun en Heilige Gees) om jou in te trek in sy genade (1 Kor 7:14).  Dit beklemtoon dat dit God is wat in die doop aan die werk is, en nie ek wat met my gelowige reaksie in die sentrum kom staan nie.  Dit maak dat die doop ’n genade karakter behou, en nie misverstaan word as ’n beloning vir jou geloof nie.  God handel in die doop, nie ek nie.
  • Die doop is nie al manier waarop ’n mens ’n publieke verbintenis aan die Here kan of hoef te maak nie.  Die verbranding van towerboeke was in Efese die openbare belydenis van die gelowiges se toewyding aan die Here, nie die doop nie (Hand 19:17-20).  ’n Mens kan in elke situasie dus op ’n unieke manier ’n belydenis doen as jy tot geloof of bekering kom, wat saamhang met die situasie waaruit jy dit doen.
  • Soos ‘n mens in geloof op God se werk in die doop reageer, ontvang jy dan al die gawes van God, ingeslote die gawe en vrug van die Heilige Gees.  ’n Mens hoef regtig waar nie te wag vir ’n gebeure in die toekoms (na kategese) nie.  Die uitstel van die doop (aan kinders) ontneem hulle van die geweldige versekering dat God hulle uitkies en aan hulle alles wat gee wat Hy bedoel het vir ons.  Dit kan ’n diep onsekerheid by kinders skep of God dit ernstig bedoel met hulle.
  • Die belangrike vraag vir volwassenes is doodgewoon: glo jy in die Here Jesus of nie?  Appollos is nie weer gedoop, al is hy met ’n “voorlopige” doop, die doop van Johannes gedoop (Hand 18:24-26). Hoekom nie?  Omdat dit duidelik was dat hy reeds in Jesus geglo het, besig was om Hom te dien, en net afronding nodig gehad het in terme van sy verstaan van die evangelie.  
  • Gelowiges hoef dus nie weer oorgedoop te word nie.
View all posts in this series

Handelinge


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

  • Ek het ‘n week na my doop met water ‘n baie sterk ervaring gehad toe ek die Heilige Gees ontvang het. Die Heilige Gees het gedurende die nag as ‘n baie sterk wind deur die kamer gewaai, oor my en deur my. In so ‘n mate dat die lug uit my longe gewaai het tog het ek nie na asem gesnak nie.Ek het nie dadelik besef wat gebeur nie en het begin bid, maar daar was verwondering en nie vrees nie. Ek het God my Vader net gevra wat is besig om te gebeur, maar die wind het ook deur my bein gewaai en my gebed uit my kop gewaai. Ek kon die letters van die woorde in my gees sien en sien soos die gebed vorm , het die letterjies weg waaina bo uit my kom met ‘n opwaarte beweging. Die wind was so sterk dat dit gevoel het of ek van die bed afgewaai gaan word, tog het ek stil bly lê. Ek kon ook die wind hoor waai. Dit het gevoel of dit baie lank geduur het, maar skielik het dit gestop en alles was normaal.Ek het my nie daarteen probeer verset nie maar het op ‘n stadium probeer omdraai terwyl die wind so oor my gewaai het, maar die drukking was te sterk en ek kon nie beweeg nie.Na dit kon ek bid en het onmiddelik aan die slaap geraak. My lewe het daarna drasties verander en daar het baie verdieping in my geestelike lewe gekom.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: