Profete vandag
Die profesie wat Angus Buchan onlangs gelewer het oor die droogte wat in die Kaap gebreek sal word teen Maart 2018 het gelowiges gaande. Sommige is positief daaroor. Ander negatief.
Ek wil my nie soseer uitspreek oor sy profesie nie. Tyd sal leer of hy dit van God af gekry het of nie. ‘n Profeet se integriteit word getoets aan die uitkoms daarvan (Deut. 18:21-22).
Ek wil wel iets sê oor die NT lering oor profete, want dit lyk my daar is verwarring daaroor.
Met die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag het Joël se profesie in vervulling gegaan. Dit het ingesluit dat gelowige “seuns en dogters” as profete begin optree en die boodskap van Jesus begin verkondig het (Hand. 2:17-18; Joël 2:28). Profesie was dus ‘n teken van die nuwe bedeling wat met die Heilige Gees se koms aangebreek het.
Daarom was daar profete wat vanaf Jerusalem die evangelie begin verkondig het tot in Antiogië (Hand. 11:27). Van die name van profete in die NT is daarom ook aan ons bekend: Judas, Silas (Hand. 15:32) en Agabus (Hand. 21:10) van wie ook ‘n vervulde profesie opgeteken is.
In sommige gemeentes, bv. die gemeente in Antiogië, het die profete saam met die leraars diens in die gemeente gelewer (Hand. 13:1). Ook Filippus het vier dogters gehad wat as profetesse opgetree het (Hand. 21:9).
Meesal het hulle egter wyer gewerk. Paulus het bv. die profeet Silas gekies om saam met hom te werk (Hand. 15:40) en hom selfs ingesluit in die aanhef van sy briewe aan die Tessalonisense (1 Tes. 1:1; 2 Tes. 1:1 – Silvanus = Silas).
In die vroeë kerk was profete dus deel van die gawes wat God aan die kerk gegee het (1 Kor. 12:28-29; Ef. 4:11) en was daar reëlings vir hoe hulle in die gemeente moes optree (1 Kor. 14:29). Daarom word die kerk ook gewaarsku teen vals profete wat die boodskap van die Skrif verdraai (1 Joh. 4:1) waarvan Barjesus een was (Hand. 13:6) asook Isebel (Openb. 2:20).
Ek wil ook iets sê oor Calvyn se standpunt oor profete, omdat hy verkeerdelik aangehaal word asof hy geleer het dat profete net tot die NT tyd beperk was. Dit is nie korrek nie.
Gaan lees wat hy self geskryf het in sy Institusie. Op grond van Efesiërs 4 aanvaar hy daar dat profete steeds in sy tyd, d.w.s. in die verlengde ook vandag, kan optree. Hy sê bv.: “Die Here … wek hulle (profete) soms nog op namate die tydsgewrig dit vereis.” (Hfst. 3). Profete is wel volgens hom “minder opsigtelik” weens die buitengewone aard daarvan.
Laat ons verseker versigtig wees met die uitsprake van mense wat hulle as profete voordoen, soos die Skrif ons leer, maar nie die kind met die badwater uitgooi nie. “Blus die Gees nie uit nie. Verag die profesieë nie. Beproef alle dinge. Behou die goeie.” (1 Tess. 5:19-21 – OAV).
En laat ons ook onthou dat elke gelowige ingesluit is in die koninklike priesterdom wat die verlossingsdade van God aan hierdie wêreld moet verkondig (1 Pet. 2:9). Ons is Intersessors en Woordvoerders van God, soos Hy ons deur sy Woord en Gees lei, presies soos die profete dit nog altyd was (Profete in die OT).
Die wens van Moses, dat die hele volk profete sou wees (Numeri 11), het vir ons in Christus deur die kragtige werking van die Heilige Gees waar geword met Pinksterdag.
Jan Louw
Dankie vir ‘n ewewigtige en insiggewende bydrae oor die gawe van profesie. Ek is ook maar skepties oor sommige aansprake uit charismatiese kringe oor die werkinge van die Gees, maar is ook huiwerig om kategoriese uitsprake te maak.
Adri
Dagsê Chris, dankie vir jou gehoorsaamheid aan onse Vader, Rabbi en Meester. Jou ‘werk’ verryk my lewe.
Onlangs het ek en ‘n vriendin effe verskil juis oor profete. Sy reken mens kan leer om ‘n profeet te wees? Of liewer geleer word? Is dit nie ‘n gawe van God af nie. Ek voel mens kan ‘leer’ luister en moet ‘n diep verhouding met God hê sowel as ‘n daaglikse “walk with God” en dat die Heilige Gees ons leermeester is? Slegs dan sou ons ons gawe kan sien, ontwikkel en gebruik?
Dan sal ek ‘n bietjie meer inligting re besnydenis waardeer. Ek verstaan nie werklik hoekom dit nodig was nie. Waarom juis besnydenis? Ek besef dit was ‘n teken? Maar verstaan nie die belangrikheid van die fisiese aksie nie. Hoekom ook is daar dan die teken van mans verwag en nie noodwendig vroue nie? Ek hoop ek druk myself reg uit
Mag God jou hierdie jaar seen dat jy kan voortgaan om vir ander ‘n seen te wees
Shalom, Adri
Chris van Wyk
Hi Adri, my voorreg.
Oor profesie
Dit is ‘n gawe van God, ja (1 Kor. 12:1-11), maar ook iets wat ontwikkel moet word (Rom. 12:6-8; 1 Pet. 4:10-11) altyd onder leiding van die Heilige Gees (1 Joh. 2:27) met die doel om op te bou, te troos en te bemoedig (1 Kor. 14:3). Vir dié ontwikkeling is onder andere mense as gawes gegee om juis daarmee te help (Ef. 4:11-16). Profesie is daarbenewens een van die gawes waarvoor gebid kan word (1 Kor. 12:31), trouens, waarvoor veral gebid moet word (1 Kor. 14:1,39). Profesie natuurlik verstaan as om die boodskap van God vir ‘n situasie te bring nie as toekomsvoorspelling nie.
Oor besnydenis
Ek het in my bydrae oor Genesis 17 die volgende oor die besnydenis geskryf:
“Waar Noag die reënboog in die hemel gekry het as teken van die verbond, kry Abraham die besnydenis van elke manlike nasaat as teken van die verbond.
Die reënboog is iets wat God op ‘n natuurlike wyse laat verskyn as ‘n teken van sy verbintenis aan die aarde. Dit is eintlik ‘n herinneringsteken vir God self. Elke keer wat die reënboog op aarde sou verskyn, sou dit God herinner daaraan dat Hy die aarde en sy mense genadig moet wees.
Die besnydenis darenteen is iets wat van Abraham gevra word as verbintenis aan die verbond. Met elke manlike geboorte sou dit die geloofsgemeenskap herinner aan hulle blywende verbintenis aan God. Net so permanent as wat die besnydenis in die vlees van elke man sou wees, so permanent is die verbintenis aan God in die verbond wat Hy met hulle gesluit het.
Trouens, elke keer wat ‘n man met ‘n vrou gemeenskap sou hê, sou die besnydenisteken hulle herinner aan die feit dat God van hulle vra dat hulle naby Hom en onberispelik moet leef. ‘n Kragtige herinnering nie net aan ‘n moreel-etiese lewe binne die uitdagings van die Kanaänitiese afvallige seksuele praktyke nie, maar ook ‘n herinnering daaraan dat hulle onberispelik voor God moet leef.
Dit is interessant dat die Joodse skrywer Philo, ‘n tydgenoot van Jesus en Paulus, vier redes lys waarom die besnydenis as teken gekies is. Dit was volgens hom vir: 1) gesondheid, 2) reinheid, 3) ‘n herinnering aan voortplanting en 4) vrugbaarheid (Special Laws). Hy lys dan twee redes wat sy eie denke verteenwoordig, maar wat hy as die mees belangrike beskou:
Eerstens om die volk op ‘n simboliese manier te leer dat hulle wellus moet vermy en hulle gedagtes rondom seks moet beheer;
Tweedens om die volk te leer dat ‘n mens nie geestelik volmaak kan word as jy nie alle boosheid uit jou hart weer nie.
Uiteraard het dié teken dus om baie meer gegaan as net die moreel-onberispelike seksuele lewe wat daarmee van die volk gevra is. Dit het oor die hele wandel met God gegaan. Reeds in Deuteronomium word die besnydenis as ‘n teken van ‘n dieper geestelike realiteit gebruik – die besnydenis van die hart – wat dui op ‘n onberispelike gehoorsaamheid aan die wet en Woord van God (Deut. 10:16; 30:6), iets waarop Jeremia (Jer. 4:4; 9:25) en later Paulus ook klem gelê het, met spesifieke verwysing na Abraham (Rom. 2:28-29; 4:11-12; 1 Kor. 7:19: “Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God”; Gal. 5:6,11; 6:15; Fil. 3:3: “Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie.”).”