Skip to main content

Die bestaan van die duiwel, demone en engele

Ek het ‘n navraag gekry oor die bestaan van die duiwel, demone en engele. Ek haal ‘n stuk aan uit my boek Bid of Baklei? wat daaroor handel. Geniet!

Hoewel die angelologie (leer van die engele) en die demonologie (leer van demone) nie as ‘n deeglike uitgewerkte sisteem in die Skrif voorkom nie, word die bestaan van die engele, demone en die duiwel[i] deur die Skrifboodskap eenvoudig as ‘n werklikheid aanvaar. Daar is ‘n wye aanvaarding van engele en demone in die Bybel en ook in die ander Joodse tekse van daardie tyd (De Villiers, 1997:16.4), sonder om te veel oor hulle uit te brei.

Daar is byvoorbeeld geen sprake van ‘n dominerende rol wat hulle sou speel nie. Die enigste bestaansruimte wat hulle het, is een waarin hulle as ondergeskik aan Jahwe geteken word – die engele in die teenwoordigheid van God en die demone meesal weg van sy teenwoordigheid op die aarde en onder die aarde. Veral demone het in die Ou Testament ‘n totaal ondergeskikte plek gehad as dit vergelyk word met hulle rol in ander godsdienste (Vergelyk die groot voorkoms van byvoorbeeld besweringsformules in tekse uit die Ou Nabye Ooste teenoor die min gegewens hieroor in die Bybel). Daar is byvoorbeeld geen duidelike geval van duiweluitdrywings of bevrydingspraktyke in die Ou Testament nie.

Die bestaan van bose geeste word erken sonder om te veel daarvan te maak. Ons lees byvoorbeeld van Dawid wat vir Saul op die lier gespeel het toe ‘n bose gees – deur God gestuur! – hom ontstel het (vergelyk 1 Sam 16:14vv), sonder dat die duiwel uitgedryf is. In 1 Kon 22:21-22 kry Miga ‘n visioen van ‘n gees wat aan God voorstel dat hy ‘n leuengees word, wat Agab so ver moet kry om na die oorlog te gaan om te sneuwel, sonder enige betrokkenheid van mense in die proses nie. Soms is ‘n bose gees eerder ‘n aanduiding van ‘n slegte gesindheid wat tussen mense veroorsaak word – op gesag van die Here! Hy stuur vyandskap tussen samesweerders om hulle en hulle planne te ontwrig (Rigt 9:23 – Abimelek versus Sigem).

Een van die redes vir dié onderbeklemtoning kan gevind word in die Joodse monoteïstiese oortuiging dat Jahwe alleen God is en dat alles aan hom ondergeskik is. Daarom is demone en bose geeste op die perifirie van die lewe en is die bediening van bevryding doodgewoon nie nodig nie. Elke Israeliet wat voor die aangesig van Jahwe gelewe het, was onder sy beheer. Selfs die min kere dat die Satan op die toneel verskyn, is hy volledig gebonde aan die besluit en wil van Jahwe (vergelyk Job 1).

Dit kontrasteer skerp met die leefwêreld van Mesopotamië, Babilonië en selfs Kanaän, waar die geestelike wêreld en sy invloed ‘n baie reële en konstante werklikheid vir mense was. Amulette wat mense teen bose geeste kon bewaar, offers aan ‘n verskeidenheid van gode en verskillende towerspreuke of beswerings (incantation) deur dreunsang (chants) gewoonlik deur priesters, was deel van die alledaagse wyse waarop mense hulle teen bose geeste beskerm het.

In die Tussen-testamentêre tydvak (byvoorbeeld die apokalipse IV Esra en II Barug asook I Henog) het die idee van Satan as maghebber oor ‘n koninkryk groter prominensie begin kry en ‘n neerslag gevind in die wyse waarop die Nuwe Testament oor demone skrywe. Satan en sy ryk word al hoe meer die verpersoonliking van alles wat boos is (sonder om die menslike vleeslikheid en die “mag” van die sonde te verskoon) wat ‘n noodsaaklike konteks vorm waarbinne die kruisevangelie van Jesus Christus se oorwinning oor die dood, verstaan moet word. Deur die duiwel uit die verhale van die evangelies en die briewe uit te haal, word ‘n belangrike deel van die boodskap van die Skrif en van die werk van Christus sonder konteks en sonder betekenis gelaat.

Die erkenning van die Satan en sy ryk het egter nie beteken dat die prominente praktyke van die Hellenistiese tydvak (waarby die Jode ook betrokke was) waardeur die invloed van duiwels deur magie en towery bekamp is, op enige wyse ‘n neerslag gevind het in die wyse waarop Jesus en die kerk opgetree het nie. Jesus dryf duiwels uit met slegs ‘n gesagvolle woord (Luk 8:29; Mrk 1:27; 9:25), selfs wanneer Hy nie eers teenwoordig was nie (Matt 15:22-28; Mrk 7:24-30). Sy woorde was genoeg sonder dat Hy ‘n ritueel van een of ander aard moes benut.

Die apostel Petrus bestraf Simon die towenaar wat moontlik gedink het dat hy deur die gawe van die Heilige Gees sy besweringspraktyk kan uitbou (Hand 8). Petrus dryf nie eers ‘n duiwel uit Simon nie, maar roep hom onomwonde tot bekering en gebed tot God op! Paulus dryf wel duiwels uit, maar eers onder groot provokasie (Hand 16:18)!

Dit wil verder blyk dat een van die redes waarom daar soveel minder in Handelinge en die briewe van die Nuwe Testament oor demone en hulle uitdrywing gepraat word, ‘n skuif van direkte magskonfrontasies na “truth encounters” is (Moreau 1995:29). Die begrip en toepassing van die waarheid het ‘n belangriker rol begin speel as die weg tot ware vryheid (Vergelyk reeds Jesus se eie klem daarop in Joh 8:31 vv).

Tog beteken hierdie skuif wat in die Nuwe Testament merkbaar is, nie dat die werklikheid van demone en die duiwel ontken is nie. Veral in Openbaring word weer helder op die apokaliptiese betekenis van demone ingegaan. Feit bly dat die duiwel se werk erken word.

En dis juis hierdie duidelike erkenning van die werklikheid van die duiwel en demone wat in skerp kontras staan met die moderne siening dat demone deel is van die pre-moderne Bybelse sisteeem en nie meer vandag geldig is as ‘n verklaringsbeginsel nie. Die Bybel se demonologiese beskrywings word eenvoudig deur ‘n rasionele verklaring van die onderskeie verhale en fenomene ontken met die gebruikmaking van wêreldbeskoulike argumente (du Toit 2000:47).

Aan die een kant is dit natuurlik só dat nie alle “pre-moderne” mense geglo het aan die heersende interpretasies van die bo-natuur, die liggaamlike opstanding of die bestaan van geeste en engele nie. Vergelyk die rusie tussen die “sekularistiese” Sadduseërs – wat volgens die teks nie aan bo-natuurlike wesens geglo het nie[ii]– en die Fariseërs, wat wel aan hulle geglo het (Hand 23:7-8). Daar is werklik niks nuuts onder die son nie. CS Lewis skryf dat die enigste vrou wat hy ooit geken het wat ‘n spook gesien het, stellig verklaar het dat sy nié in hulle glo nié en haar waarneming daarom ‘n illusie moes wees (1947:7)!

Aan die ander kant is die lyne tussen ‘n pre-modernistiese, modernistiese en post-modernistiese wêreldbeskouing nie waterdig nie. Daar is eerder in alle standpunte ‘n vervlegting te bespeur van dié perspektiewe, wat aanleiding gee tot ‘n kritiese onderlinge debat tussen verskillende maniere om die waarheidsaansprake van uitsprake/idees/waarnemings te beskou (Cilliers:2002, 2).

Maar belangriker as dit, is die implikasie wat só ‘n ontkenning vir die res van die Bybelse boodskap en geloof inhou.

Eerstens: Die beskrywing van Jesus se bediening op aarde, sowel as dié van sy dissipels, speel grotendeels af in die konteks van ‘n stryd met en bevryding van demone. Indien die demone verklaar word as psigologiese en/of sosiologies-gekondisioneerde (taboes) afwykings, moet die ervarings wat mense van bevryding gehad het, ook psigologies en sosiologies verklaar word – ‘n anakronistiese poging wat ‘n hedendaagse paradigma van toepassing probeer maak op gegewens uit die verlede. Psigologiese en sosiologiese veranderinge gebeur egter nie sonder die inskakeling van die bewussynsprosesse van die individu of groep nie. Selfs in hipnose as terapie is die medewerking van die kliënt noodsaaklik en kan geen verandering bewerk word sonder dat dit kongruent is met die verwysingsraamwerk van die kliënt nie. In die evangelies gebeur duiweluitdrywing meesal eenvoudig met ‘n gesagvolle woord (Matt 17:18; Luk 9:42). ‘n Psigologiese of sosiologiese verklaring van bevryding kan dus moeilik rasioneel verdedig word.

Tweedens: Die bediening van Jesus was verder gekenmerk deur die wonders van genesing, wonderbaarlike voorsienings (vermeerdering van die brood) en selfs opwekkings uit die dood (Matt 9:25; Joh 11) as teken van die boodskap van die evangelie. Dit ís so dat sommige van die toestande wat Jesus genees het, simptomaties met ‘n vorm van epilepsie verbind sou kon word. Maar die genesing daarvan sonder om van een of ander farmaseutiese behandeling gebruik te maak, is moeilik verklaarbaar sonder ‘n aanvaarding van die moontlikheid van wonders. Siektes soos melaatsheid is nooit as demonies geïnterpreteer nie en die genesing daarvan ook nie as demoniese uitdrywing hanteer nie. Die genesing daarvan met slegs ‘n woord van Jesus, kan moeilik anders interpreteer word as dat dit ‘n wonderwerk was – om nie te praat van ‘n opwekking uit die dood nie, behalwe as Mohammed se voorbeeld gevolg word wat die dood van Jesus as ‘n skyndood geïnterpreteer het. Wonderwerke kan gevolglik net ontken word as die verskynsel van die genesing as sodanig ontken word. Dit kan egter ook net gedoen word na aanleiding van die sekulêre idee van die modernisme dat slegs dit wat in die hede as werklik ervaar kan word, in die verlede kon gebeur het.

Derdens: Indien die bestaan van demone en engele ontken word, kan die bestaan van God en die Heilige Gees moeilik volgehou word. Die rede hiervoor is dat die bestaan van God nie berus op rasionele of empiriese argumente nie, maar op die getuienis van die Bybel[iii]. Dit wil sê, dit is ‘n geloofs- en belydenisstandpunt. Indien die demone en engele se bestaan op grond van rasionele argumente betwyfel word – dat daar ander verklarings vir hulle werkinge is en hulle nie empiries waargeneem kan word nie – geld dieselfde ook vir die bestaan van God – daar is ander verklarings moontlik vir die werk wat die Bybel sê Hy doen en Hy kan ook nie empiries waargeneem word nie.

Aan die ander kant is die beskrywings van demone en duiwels in die Bybel so sober en sonder sensasie dat die werk van die duiwel ook nie oorskat mag word nie. Dit bring veral ‘n korreksie op die perspektiewe uit die kringe waarin die Bybelse gegewens gereeld ondergeskik gestel word aan die ervarings wat moderne geestelike oorlogvoerders opdoen en waar hulle ervarings uiteindelik beslissend hulle teologiese raamwerke bepaal. Jakobus sê immers dat die duiwel wegvlug van ‘n knielende mens wat biddend weerstand bied teen hom (4:1-10)!

Meesal moet die Skrif in beide bogenoemde verklaringsmetodes op ‘n baie lukrake en spitsvondige manier aangehaal word om óf die ervarings wat gelowiges het, te begrond en te bewys óf om dit juis weg te verklaar.

Die Skrif waarsku juis dat die duiwel beide ‘n brullende leeu (1 Pet 5:8) is as ‘n engel van die lig (2 Kor 11:13). Misleiding lê waarskynlik beide in ‘n ontkenning van die bestaan van die duiwel én in die oorskatting van sy werk – soos C S Lewis al gewaarku het in sy populêre boekie The Screwtape Letters (1942:9). As alles demonies is, is niks werklik demonies nie! Aan die ander kant: as jy niks demonies ervaar nie, kan jy nie met gesag op grond van jou of ander se gebrek aan ervaring ‘n uitspraak maak oor die bestaan al dan nie van demone nie.

Daarom dat Lausanne heel Skriftuurlik en onomwonde bely: “Satan is a real, personal spiritual and created being …” (Consultation Statement: 2000). Daarmee kan ons breedweg identifiseer, want dit is hoe die Bybel die duiwel beskrywe, hoewel ons nie kan ontken dat byvoorbeeld sosiale of politiese strukture ook magte sou kon wees nie (Vergelyk Walter Wink se trilogie oor die magte: Naming the Powers [1984], Unmasking the Powers [1986] en Engaging the Powers [1992]) en dat boosheid ook as ‘n menslike verskynsel bestaan, met sy oorsprong in die hart of gedagtes van mense (Du Toit:2000, 48).

[i] Vir meer inligting oor die die duiwel en verwante onderwerpe, vgl die werke van J B Russell (The Prince of Darkness : Radical Evil and the Power of Good in History 1992; Mephistopheles : The Devil in the Modern World, 1986; Lucifer : The Devil in the Middle Ages, 1984; Satan : The Early Christian Tradition, 1981; The Devil : Perceptions of Evil from Antiquity to Primitive Christianity, 1977) en B P Levack (redakteur van ‘n 12 volume werk: Witchcraft, Magic and Demonology, 1992) wat ‘n enorme hoeveelheid inligting beskikbaar gestel het hieroor. Vgl ook die werk van P Carus (The history of the Devil and the Idea of Evil, 1900) wat as ateïs reeds aan die begin van die vorige eeu gesoek het na die waarheid agter die mite en simboliek van die duiwel. Vergelyk ook L Els & K Jonker Satanism in South Africa, 2000.

[ii] Sommige verklaarders betwyfel dié interpretasie, op grond van die feit dat ‘n ander antieke bron, Josefus, niks hieroor van die Sadduseërs vermeld nie en dit verder bekend is dat die Sadduseërs die Pentateug aanvaar het, waarin wel van engele sprake is. Marshall (1980:365) verbind byvoorbeeld die verwysing na engel en gees in die teks aan die tipe opstandingsliggaam wat gelowiges sou hê, wat met die bestaande inligting oor die Sadduseërs se ontkenning van die opstanding sou ooreenstem. Wat ‘n mens se keuse egter ook al is, die feit is dat die Sadduseërs met die heersende verstaansraamwerk verskil het.

[iii] Die getuienis oor God uit die algemene openbaring van die skepping kan op dieselfde wyse aanvaar of verwerp word.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar