Jesus is die Begin en Voleinder van ons geloof – Opmerkings oor die rolprent “Silence”
Dit was met groeiende onrus wat ek die rolprent “Silence” gekyk het. Dit beeld die geweldige vervolging uit wat Japanese Christene beleef het in die vroeë 17de eeu, die tyd van die Kakure Kirishitan (“Hidden Christians”).
Martin Scorsese kies om die verhaal te vertel aan die hand van twee Jesuïte priesters, Sebastião Rodrigues en Francisco Garupe, wat na Vader Christovão Ferreira, ‘n werklike historiese figuur, gaan soek wat volgens gerugte die Christelike geloof afgesweer het.
Die twee priesters tref klein gemeenskappies Japanese Christene aan in hulle soektog wat aan die geloof vashou ten spyte van onmenslike wrede vervolging. Hulle word egter albei uiteindelik gevang en gemartel. Die een, Garupe, sterf ‘n martelaar in die proses, terwyl die ander een, Rodrigues, uiteindelik in sy gevangenskap vir Christovão Ferreira ontmoet.
Ferreira bevestig aan Rodrigues dat hy inderdaad die Christelike geloof afgesweer het. Dit lei daartoe dat Rodrigues ook sy geloof afsweer – deur op ‘n fumi-e, ‘n afbeelding van Jesus aan die kruis, te trap – en saam met Ferreira die Japanese owerhede vir die res van hulle lewe help in die onderdrukking van die Christelike geloof. Die fliek eindig met ‘n vae suggestie dat Rodrigues in die geheim ‘n Christen gebly het.
My onrus oor die rolprent was dat die fliek eintlik probeer sê dat geloof nie stand kan hou in uiterste vervolging nie, en dat dit beter is, trouens van die Here verwag word, dat geloof afgesweer word. Rodrigues en Ferriera se “apostasy” (afvalligheid) en verloëning van die Here Jesus word baie sterker deur Martin Scorsese vertel as die ongelooflike lojaliteit en martelaarskap van talle in die rolprent (duisende Japanese Christene in werklikheid, soos ons histories weet) asook die priester Garupe.
Die toppunt van afgryse was vir my toe Rodrigues in ‘n besondere traumatiese toneel sy geloof afgeweer het nadat ‘n stem, die “Here Jesus” wil Martin Scorsese vir ons suggereer, vir hom sê dat dit reg is om op Jesus te trap, want dit is waarvoor Hy gekom het. Verloëning van Jesus in uiterste omstandighede is dus die evangelie volgens Martin Scorsese. Soos een resensent sê, Martin se punt is dat daar geen punt aan geloof is nie.
Die werklikheid is egter dat daar baie meer martelare as afvalliges was onder die Christene in die 17de eeu in Japan. Ses-en-twintig martelare is bv. in 1597 tereggestel in Nagasaki waarvan die verhale gedokumenteer is (hier is die hele verhaal: Martyrs of Nagasaki). Hoewel die getal Christene in Japan van tussen 300 000 en 500 000 in die 16de-17de eeu in die volgende 250 jaar na net ongeveer 30 000 verminder het, het hierdie Kakure Kirishitan– geheime Christene – met die koms van godsdiensvryheid in 1873 na vore gekom en in die openbaar weer hulle geloof beoefen. ‘n Fassinerende verhaal van volharding in absoluut uitdagende omstandighede.
Dít is die groter en sterker verhaal van die Christelike geloof! Nie die verhale van afvalligheid nie, al was daar natuurlik ook altyd diesulkes.
Maar wat my regtig in opstand laat kom teen die rolprent is die feit dat Martin Scorsese nie die hele verhaal van Christovão Ferreira vertel nie. Afvalligheid was nie die laaste woord oor Ferreira se lewe nie!
Martin Scorsese ignoreer volledig die rapporte oor Christovão Ferreira se uiteindelike bekering en martelaarskap na ongeveer twintig jaar van afvalligheid. Dit is ‘n gruwelike lakune in sy werk.
Gelukkig is daar mense wat dié geskiedenis nagevors het, soos bv. in die navorsing van J.F. Schütte. Schütte het al die oorspronklike dokumente wat uit daardie tyd in Rome bewaar is, nagegaan, en die oorsprong en betroubaarheid van die gerugte en getuies ondersoek. Sy artikel: “Ist P. Christovão Ferreira als Martyrer gestorben? Nach dem Bericht eines japanischen ‘Mandarinen’ in Tongking” kan in die boek Kirisuto-ki und Sayō-yoroku (MN Monograph No. 1, Tokyo, 1940) van Voss & Cieslik gelees word (pp. 202-8).
Ek haal uit Hubert Cieslik se 2010 artikel daaroor aan (“The Case of Christovão Ferreira.” In Francis Britto’s All About Francis Xavier. Retrieved from http://pweb.cc.sophia.ac.jp/britto/xavier). Terloops, die jaar 1652 wat hierin genoem word, is natuurlik ook die jaar van Jan van Riebeeck se aankoms aan die Kaap de Goede Hoop!:
“In the center of the affair is a Japanese Christian merchant by name of Paulo de Bada (Wada?), who in 1652 brought to Tongking the news that Ferreira’s property had been confiscated. In the following two years there were further reports about his martyrdom.
Schutte is inclined to believe that in substance the reports are trustworthy and at the end of his research summarizes the various accounts as follows:
Fr Ferreira was already more than 80 years old (As Schűtte notes, Ferreira was in fact about 70 at the time of his death), and for years had been confined to bed by sickness and weakness. A great change took place in his soul and his deed now appeared to him in a completely different light. He abhorred his action as a cowardly betrayal of God and expressed his inner convictions in a loud voice. His neighbors heard him talking and finally informed the soldiers of the governor. They visited the house of the sick tsūya (Tsūya is probably derived from tsūji 通事, meaning ‘interpreter’. Ferreira is often called ‘Edo-tsūya’ in the Dutch letters.) and asked him the reason for his grief. The Father explained to them with all frankness and firmness his sorrow and his inner conversion. The soldiers joked and made fun of him, saying that he was out of his mind, but he contradicted them firmly. On the contrary, he showed himself ready to die for his faith.
The soldiers then reported this to the governor, who hesitated for a while but, after he had ascertained the facts, condemned Christovão to death in the pit. The sentence, however, was to be carried out in all secrecy so as to avoid causing excitement in the city. The soldiers returned to Ferreira’s house, and seeing that he remained constant in his intention, they dragged him off to the torture of the pit. However, they were not able to prevent many Japanese, both Christian and non-Christian, as well as non-Christian Chinese, from attending the martyrdom. The soldiers bound Ferreira and hanged him head downward into the pit. With this torture Ferreira ended his life courageously for Christ (Schűtte, in Voss & Cieslik, p. 208.).”
In hierdie Paastyd is dit ‘n wonderlike getuienis van die oorwinning wat die Here Jesus nie net self oor die dood en die doodse magte deur sy opstanding uit die dood behaal het nie, maar ook van die krag wat Hy uitoefen in elkeen wat in Hom glo. Ek loof Hom vir sy getrouheid dat Hy selfs in die haglikste omstandighede waarin van sy getrouste getuies blyk voete van klei te hê, Hy hulle steeds nie los nie en hulle uiteindelik tot inkeer bring.
Dít is die God wat ons aanbid. Dít is die God wat ook vir ons enduit getrou sal hou, selfs al faal ons langs die pad en worstel ons met die “stilte” van God wanneer die beproewings van die lewe ons geloof in stryd bring.
Ek hoor die oproep van die Hebreërskrywer weer helder vandag:
“Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.” (Hebr. 12:1-3).
De Wet
Chris, dankie vir ‘n goeie resensie. En veral die agtergrond inligting. Ek het nog nie die fliek gesien nie. Weet ook nie of ek die stamina sal hê nie. Alhoewel dit lyk of Pous Francis waardering het vir Scorsese se fliek.
Die tema van volharding wanneer God se stem stil geraak het, maak soveel sin. Een resensent skryf: “At various points in the film the screen is consumed simply by a portrait of Christ by El Greco, staring right at us, into our doubts and loneliness and hopes and fears. The deep, deep love of Jesus is right there in his eyes. Scorsese said he picked the El Greco image because it seemed to communicate to the viewer: “I will not abandon you” (Brett McCracken in Christianity Today van 16 Desember 2016).
Chris van Wyk
Dankie De Wet. As Scorsese net gebly het by daardie uitbeelding van Christus sou ek geen probleem gehad het nie, maar wanneer die versoeking om afvallig te raak op sy ergste is, verbreek Scorsese die stilte met die stem van Christus wat sê dit is ok om Hom te verloën. Dit is só lynreg teenoor die teks wat ek vanoggend op pray-as-you-go.org uit Lukas 9 gelees het, en ons na presies die teendeel oproep: ““As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg, want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit behou. Wat help dit ’n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan? Elkeen wat hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom, beklee met sy heerlikheid en die heerlikheid van die Vader en van die heilige engele.” (Luk. 9:23-26). Die gewone Japanese Christene volg hierdie Jesus na, selfs die een priester Garupe volg Hom tot in die dood. Maar, die ander twee, Rodrigues en Ferreira, draai teen Christus en help die owerhede téén die Christene in Japan. En Scorsese sê met sy fliek dit is ok. Trap maar op Jesus. Dit is waarvoor Hy gekom het. En dan praat ‘n mens nie eers van die feit dat hy die uiteinde van Ferreira se verhaal nie inbring nie.