Skip to main content

Die wet in die 3 Formuliere van Eenheid

Ons het uitvoerig gisteraand oor die wet gesels.  Ek het besluit om ‘n slag deeglik te gaan kyk wat ons belydenisskrifte daaroor sê.  Ek wil êrens in die toekoms dan aandag gee aan wat die Bybelse boodskap, meer spesifiek Paulus, daaroor sê.

Die wet word nie in die 3 ekumeniese geloofsbelydenisse: die Apostoliese Geloofsbelydenis of 12 artikels, en die Geloofsbelydenisse van Athanatius en Nicea genoem of aangewend om die Christelike geloof te definieer of verduidelik nie.  Baie word oor God en die kerk en die geloof bely.  Niks oor die wet nie.

Ek vind dit insiggewend.  Dit kom vir my baie ooreen met die manier wat Paulus oor die wet skryf in Galasiërs en Romeine, waarin hy hom sterk verset teen die poging van die Joodse Christene om sekere dele van die wet: die Sabbat, die besnydenis en die eetgewoontes op Christene uit die heiden nasies af te forseer.  Vir hom is geloof in Jesus Christus en die lewe deur die Gees genoegsaam om mense se lewenswandel te rig, en enige poging om die wet hierby te sleep is op sy beste onnodig, en op sy slegste ‘n verdraaiing van die evangelie.  Dit kan jou die genade van God laat verbeur.

Maar daaroor sal ek nog verder wil nadink.

Die situasie is egter merkbaar anders in die Gereformeerde wêreld.  Die wet word uitvoerig in die 3 Formuliere van Eenheid gebruik, die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), die Heidelbergse Kategismus (HK) en die Dordtse Leerreëls (DL).  En wat opval is die leerstellige en praktiese gebruik van die wet, dws om aan te dui hoe ons oor die wet en sy funksie moet dink en hoe ons die wet moet toelaat om ons lewens te rig.  Daar word egter nie gepoog om ‘n Bybelse teologie van die wet te beskryf nie.

Terloops: die Belhar belydenis beweeg weer weg van die wet as ‘n riglyn, en gee geen aandag aan die wet in sy dogmatiese of Bybelse betekenis nie.

Ek sou graag in die toekoms as deel van die Bybelskool ‘n Bybelse teologie van die wet wou begin skryf, as aanvulling van die leerstellige uitspel daarvan in die belydenisskrifte.

Maar dit nou eers daargelaat.  Kom ons kyk na die wyse waarop die wet in ons 3 Gereformeerde belydenisskrifte beskryf word. Want dit het ‘n onmeetbare invloed in ons selfverstaan en begrip van die geestelike lewe gehad.  Die tanende invloed daarvan maak die wêreldbeeld wat dit help skep het nie sommer so ongedaan nie.  En ek dink die bril wat dit ons gee waardeur ons die Bybel lees – ten regte of ten onregte – kan ons nie onderskat nie.

Nederlandse Geloofsbelydenis

In die Nederlandse Geloofbelydenis word na die wet op 2 plekke verwys: artikels 25 en 34.

Die wet word net op twee maniere gedefinieer:

1.       as die seremonies en heenwysings wat voorafskaduwings van Jesus Christus was (artikel 25 – een van die betekenisse wat die Heidelbergse Kategismus gebruik);

2.       as ‘n getuienis saam met die profete om ons in die evangelie te bevestig, waarin waarskynlik die Pentateug bedoel word (artikel 25, 34).

Twee funksies word aan die wet toegeken:

1.       Hierdie wet – as seremonies en heenwysings – is volgens die NGB afgeskaf, maar die waarheid en inhoud daarvan bly in Jesus Christus vir ons bestaan (artikel 25).

2. Ons kan die getuienis van die wet (waarskynlik die Pentateug) gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig (artikel 25, 34).

Aan die een kant word Jesus Christus dus as die einde van die wet beskryf waardeur die gebruik van die seremonies en heenwysings van die wet afgeskaf is.  Daar word aan die ander kant egter ook geleer dat die waarheid en inhoud daarvan in Christus Jesus bly bestaan, omdat dit in Hom ‘n vervulling gekry het.  Die getuienisse van die wet (en die profete) kan daarby nog steeds gebruik word om ons in die evangelie te bevestig en ons lewe in eerbaarheid en tot God se eer en volgens sy wil in te rig.

Die NGB illustreer dié gebruik van die wet deur die noodsaak van die doop aan gelowiges se kindertjies te motiveer “soos die Here in die wet beveel het om hulle kort na die geboorte deel te laat hê aan die sakarament van die lyding en sterwe van Christus deur vir hulle ’n lam te offer, wat ’n sakramentele heenwysing na Jesus was” (artikel 34).

Heidelbergse Kategismus

Die wet word in die Heidelbergse Kategismus regdeur uitvoerig gebruik.

Die wet word op 5 maniere gedefinieer as:

1.       die liefdesgebod van Matt 22:37-40 (vr &antw  4)

2.       die wetboek wat van toepassing bly op die ongehoorsames (vr &antw 9-10)

3.       die offers en seremonies wat Christus as Middelaar uitbeeld (vr &antw 18-19)

4.       die wet van God sonder nadere beskrywing wat sy geregtigheidseis uitspel sowel as wat goeie werke is (vr &antw 62 en 92)

5.       die wet van die Here wat direk met die Dekaloog of Tien Gebooie verbind word en uitvoerig behandel word as riglyn vir ons dankbaarheid  (vr &antw 91-115)

Sewe basiese funksies word daaraan toegeken:

1.       Die wet as liefdesgebod laat ons ons ellende leer ken, die ellende van die sonde en ons sondige natuur (vr & antw 4, 115);

2.       Die wetboek bly van toepassing op die ongehoorsames en spel hulle straf uit (vr & antw 9-10) ;

3.       Die offers en seremonies van die wet stel ons (onder andere) aan die Verlosser bekend (vr & antw 18-19), en

4.       skep in ons die verlange na die vergewing van sondes en die geregtigheid in Christus deur die genade van die Heilige Gees (vr & antw 115), en

5.       Die Dekaloog of Tien Gebooie spel vir ons uit wat goeie werke is en

6.       hoe ons ons teenoor God moet gedra en

7.       wat ons ons naaste verskuldig is (vr & antw 91-115).

Dordtse Leerreëls

Die Dordtse Leerreëls gebruik ook die wet en voeg interessant ‘n belangrike Bybelse betekenis van die wet by.

Die wet word op 3 maniere gedefinieer as:

1.       die werke van die wet in die algemeen, sonder om dit verder uit te spel, maar waarmee waarskynlik die Tien Gebooie bedoel word, veral omdat die gebruik van die frase in hoofstuk 3 en 4 direk aan die Tien Gebooie verbind word: (Hfst 1, Afd 2, Art 3; Hfst 2, Afd 2, Art 4; Hfst 3 en 4, Afd 1, Art 5)

2.       die Tien Gebooie waar dit eksplisiet so genoem word (Hfst 3 en 4, Afd 1, Art 5);

3.       innerlike wet wat God op ons harte skryf waardeur die nuwe eienskappe van geloof, gehoorsaamheid en die besef van sy liefde in ons harte uitgestort word (Hfst 3 en 4, Afd 2, Art 6).

Terwyl die idee van die wet as ‘n voorwaarde om God se genade te verdien en die ewige lewe as beloning te ontvang as ‘n dwaling afgeskryf word (Hfst 1, Afd 2, Art 3; Hfst 2, Afd 2, Art 4) word daar wel vier funksies aan die wet toegeken:

1.       die wet (Tien Gebooie) vlek die grootheid van die sonde oop (Hfst 3 en 4, Afd 1, Art 5), en

2.        oortuig die mens hoe langer hoe meer van sy skuld (Hfst 3 en 4, Afd 1, Art 5), maar,

3.       omdat dit deur die sondige natuur kragteloos gemaak is, laat dit die oortreder onder die vloek van die wet bly (Hfst 3 en 4, Afd 1, Art 5) ;

4.       Daarteenoor is daar ‘n positiewe funksie van die wet wat God op ons harte skryf: dit gee ons die nuwe eienskappe van geloof, gehoorsaamheid en die besef van God se liefde wat Hy in ons harte uitstort met verwysing na Jer. 31:33 (Hfst 3 en 4, Afd 2, Art 6).

Samevattend

Kom ons neem nou al die inligting en voeg dit saam en kyk wat ons hieruit kan leer.  Let op dat ek die funksies van die wet beskryf aan die hand waarop ek dink dit gedefinieer is in die Formuliere.  Dit is dus slegs my eie interpretasie.

Die wet word in die 3 Formuliere op vier maniere gedefinieer:

1.       Wetboek of Pentateug:

  • Hier word verwys na die seremonies en heenwysings van die wet wat voorafskaduwings van Jesus Christus was en Hom as Middelaar uitgebeeld het (NGB artikel 25; HK vr &antw 18-19);
  • Dit vorm ‘n getuienis saam met die profete om ons in die evangelie te bevestig (NGB artikel 25, 34);
  • Dit bly ook van toepassing op die ongehoorsames (HK vr &antw 9-10)

2.       Liefdesgebod van Matt 22:37-40

  • Dit verwoord die eis van God aan ons (HK vr &antw  4)

3.       Tien Gebooie

  • Dit spel sy geregtigheidseis uit sowel as wat goeie werke is (HK vr &antw 62 en 92; sien ook DL Hfst 1, Afd 2, Art 3; Hfst 2, Afd 2, Art 4; Hfst 3 en 4, Afd 1, Art 5);
  • Dit is die riglyn vir ons dankbaarheid  (HK vr &antw 91-115, sien ook DL Hfst 3 en 4, Afd 1, Art 5);

4.       Innerlike wet

  • God skryf dit op ons harte waardeur die nuwe eienskappe van geloof, gehoorsaamheid en die besef van sy liefde in ons harte uitgestort word (DL Hfst 3 en 4, Afd 2, Art 6).

Elf funksies word in die 3 Formuliere aan die wet toegeken:

1.       Die waarheid en inhoud van die wet as seremonies en heenwysings is afgeskaf maar bly in Jesus Christus vir ons bestaan (NGB 25).

2.       Die getuienis van die Pentateug bevestig die evangelie aan ons (NGB 25).

3.       Die getuienis van die Pentateug help ons om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig (NGB 25).

4.       Die Liefdesgebod sowel as die Tien Gebooie laat ons ons ellende leer ken en oortuig ons van ons skuld.

  • Dit het veral betrekking op die ellende van die sonde en ons sondige natuur (HK vr & antw 4, 115);
  • Dit vlek die grootheid van die sonde oop (DL Hfst 3 en 4, Afd 1, Art 5).
  • Dit oortuig die mens hoe langer hoe meer van sy skuld (DL Hfst 3 en 4, Afd 1, Art 5), maar,omdat dit deur die sondige natuur kragteloos gemaak is, laat dit die oortreder onder die vloek van die wet bly (DL Hfst 3 en 4, Afd 1, Art 5).

5.       Die Pentateug bly van toepassing op die ongehoorsames en spel hulle straf uit (HK vr & antw 9-10).

6.       Die wet as offers en seremonie stel ons aan die Verlosser bekend (HK vr & antw 18-19).

7.       Die wet as seremonies en heenwysings skep in ons die verlange na die vergewing van sondes en die geregtigheid in Christus deur die genade van die Heilige Gees (HK vr & antw 115).

8.       Die Tien Gebooie spel vir ons uit wat goeie werke is (HK vr & antw 91-115).

9.       Die Tien Gebooie spel vir ons uit hoe ons ons teenoor God moet gedra (HK vr & antw 91-115).

10.   Die Tien Gebooie spel vir ons wat ons aan ons naaste verskuldig is (HK vr & antw 91-115).

11.   Die innerlike wet gee ons die nuwe eienskappe van geloof, gehoorsaamheid en die besef van God se liefde.

  • Dit is ‘n baie positiewe funksie van die wet, die wet wat God op ons harte skryf waardeur die besef van God se liefde in ons harte uitgestort word (met verwysing na Jer. 31:33 – DL Hfst 3 en 4, Afd 2, Art 6).

Sal graag hoor hoe julle hieroor dink!

In die meegaande dokument Die wet in die 3 formuliere van Eenheid gee ek bogenoemde inligting sowel as die teks van die 3 Formuliere met die relevante gedeeltes in rooi gemerk, sodat jy dit self kan nagaan – as jy tyd het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

wet


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar