Die wet in die 3 Formuliere van Eenheid

Ons het uitvoerig gisteraand oor die wet gesels.  Ek het besluit om ‘n slag deeglik te gaan kyk wat ons belydenisskrifte daaroor sê.  Ek wil êrens in die toekoms dan aandag gee aan wat die Bybelse boodskap, meer spesifiek Paulus, daaroor sê.

Die wet word nie in die 3 ekumeniese geloofsbelydenisse: die Apostoliese Geloofsbelydenis of 12 artikels, en die Geloofsbelydenisse van Athanatius en Nicea genoem of aangewend om die Christelike geloof te definieer of verduidelik nie.  Baie word oor God en die kerk en die geloof bely.  Niks oor die wet nie.

Ek vind dit insiggewend.  Dit kom vir my baie ooreen met die manier wat Paulus oor die wet skryf in Galasiërs en Romeine, waarin hy hom sterk verset teen die poging van die Joodse Christene om sekere dele van die wet: die Sabbat, die besnydenis en die eetgewoontes op Christene uit die heiden nasies af te forseer.  Vir hom is geloof in Jesus Christus en die lewe deur die Gees genoegsaam om mense se lewenswandel te rig, en enige poging om die wet hierby te sleep is op sy beste onnodig, en op sy slegste ‘n verdraaiing van die evangelie.  Dit kan jou die genade van God laat verbeur.

Maar daaroor sal ek nog verder wil nadink.

Die situasie is egter merkbaar anders in die Gereformeerde wêreld.  Die wet word uitvoerig in die 3 Formuliere van Eenheid gebruik, die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), die Heidelbergse Kategismus (HK) en die Dordtse Leerreëls (DL).  En wat opval is die leerstellige en praktiese gebruik van die wet, dws om aan te dui hoe ons oor die wet en sy funksie moet dink en hoe ons die wet moet toelaat om ons lewens te rig.  Daar word egter nie gepoog om ‘n Bybelse teologie van die wet te beskryf nie.

Terloops: die Belhar belydenis beweeg weer weg van die wet as ‘n riglyn, en gee geen aandag aan die wet in sy dogmatiese of Bybelse betekenis nie.

Ek sou graag in die toekoms as deel van die Bybelskool ‘n Bybelse teologie van die wet wou begin skryf, as aanvulling van die leerstellige uitspel daarvan in die belydenisskrifte.

Maar dit nou eers daargelaat.  Kom ons kyk na die wyse waarop die wet in ons 3 Gereformeerde belydenisskrifte beskryf word. Want dit het ‘n onmeetbare invloed in ons selfverstaan en begrip van die geestelike lewe gehad.  Die tanende invloed daarvan maak die wêreldbeeld wat dit help skep het nie sommer so ongedaan nie.  En ek dink die bril wat dit ons gee waardeur ons die Bybel lees – ten regte of ten onregte – kan ons nie onderskat nie.

Nederlandse Geloofsbelydenis

In die Nederlandse Geloofbelydenis word na die wet op 2 plekke verwys: artikels 25 en 34.

Die wet word net op twee maniere gedefinieer:

1.       as die seremonies en heenwysings wat voorafskaduwings van Jesus Christus was (artikel 25 – een van die betekenisse wat die Heidelbergse Kategismus gebruik);

2.       as ‘n getuienis saam met die profete om ons in die evangelie te bevestig, waarin waarskynlik die Pentateug bedoel word (artikel 25, 34).

Twee funksies word aan die wet toegeken:

1.       Hierdie wet – as seremonies en heenwysings – is volgens die NGB afgeskaf, maar die waarheid en inhoud daarvan bly in Jesus Christus vir ons bestaan (artikel 25).

2. Ons kan die getuienis van die wet (waarskynlik die Pentateug) gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig (artikel 25, 34).

Aan die een kant word Jesus Christus dus as die einde van die wet beskryf waardeur die gebruik van die seremonies en heenwysings van die wet afgeskaf is.  Daar word aan die ander kant egter ook geleer dat die waarheid en inhoud daarvan in Christus Jesus bly bestaan, omdat dit in Hom ‘n vervulling gekry het.  Die getuienisse van die wet (en die profete) kan daarby nog steeds gebruik word om ons in die evangelie te bevestig en ons lewe in eerbaarheid en tot God se eer en volgens sy wil in te rig.

Die NGB illustreer dié gebruik van die wet deur die noodsaak van die doop aan gelowiges se kindertjies te motiveer “soos die Here in die wet beveel het om hulle kort na die geboorte deel te laat hê aan die sakarament van die lyding en sterwe van Christus deur vir hulle ’n lam te offer, wat ’n sakramentele heenwysing na Jesus was” (artikel 34).

Heidelbergse Kategismus

Die wet word in die Heidelbergse Kategismus regdeur uitvoerig gebruik.

Die wet word op 5 maniere gedefinieer as:

1.       die liefdesgebod van Matt 22:37-40 (vr &antw  4)

2.       die wetboek wat van toepassing bly op die ongehoorsames (vr &antw 9-10)

3.       die offers en seremonies wat Christus as Middelaar uitbeeld (vr &antw 18-19)

4.       die wet van God sonder nadere beskrywing wat sy geregtigheidseis uitspel sowel as wat goeie werke is (vr &antw 62 en 92)

5.       die wet van die Here wat direk met die Dekaloog of Tien Gebooie verbind word en uitvoerig behandel word as riglyn vir ons dankbaarheid  (vr &antw 91-115)

Sewe basiese funksies word daaraan toegeken:

1.       Die wet as liefdesgebod laat ons ons ellende leer ken, die ellende van die sonde en ons sondige natuur (vr & antw 4, 115);

2.       Die wetboek bly van toepassing op die ongehoorsames en spel hulle straf uit (vr & antw 9-10) ;

3.       Die offers en seremonies van die wet stel ons (onder andere) aan die Verlosser bekend (vr & antw 18-19), en

4.       skep in ons die verlange na die vergewing van sondes en die geregtigheid in Christus deur die genade van die Heilige Gees (vr & antw 115), en

5.       Die Dekaloog of Tien Gebooie spel vir ons uit wat goeie werke is en

6.       hoe ons ons teenoor God moet gedra en

7.       wat ons ons naaste verskuldig is (vr & antw 91-115).

Dordtse Leerreëls

Die Dordtse Leerreëls gebruik ook die wet en voeg interessant ‘n belangrike Bybelse betekenis van die wet by.

Die wet word op 3 maniere gedefinieer as:

1.       die werke van die wet in die algemeen, sonder om dit verder uit te spel, maar waarmee waarskynlik die Tien Gebooie bedoel word, veral omdat die gebruik van die frase in hoofstuk 3 en 4 direk aan die Tien Gebooie verbind word: (Hfst 1, Afd 2, Art 3; Hfst 2, Afd 2, Art 4; Hfst 3 en 4, Afd 1, Art 5)

2.       die Tien Gebooie waar dit eksplisiet so genoem word (Hfst 3 en 4, Afd 1, Art 5);

3.       innerlike wet wat God op ons harte skryf waardeur die nuwe eienskappe van geloof, gehoorsaamheid en die besef van sy liefde in ons harte uitgestort word (Hfst 3 en 4, Afd 2, Art 6).

Terwyl die idee van die wet as ‘n voorwaarde om God se genade te verdien en die ewige lewe as beloning te ontvang as ‘n dwaling afgeskryf word (Hfst 1, Afd 2, Art 3; Hfst 2, Afd 2, Art 4) word daar wel vier funksies aan die wet toegeken:

1.       die wet (Tien Gebooie) vlek die grootheid van die sonde oop (Hfst 3 en 4, Afd 1, Art 5), en

2.        oortuig die mens hoe langer hoe meer van sy skuld (Hfst 3 en 4, Afd 1, Art 5), maar,

3.       omdat dit deur die sondige natuur kragteloos gemaak is, laat dit die oortreder onder die vloek van die wet bly (Hfst 3 en 4, Afd 1, Art 5) ;

4.       Daarteenoor is daar ‘n positiewe funksie van die wet wat God op ons harte skryf: dit gee ons die nuwe eienskappe van geloof, gehoorsaamheid en die besef van God se liefde wat Hy in ons harte uitstort met verwysing na Jer. 31:33 (Hfst 3 en 4, Afd 2, Art 6).

Samevattend

Kom ons neem nou al die inligting en voeg dit saam en kyk wat ons hieruit kan leer.  Let op dat ek die funksies van die wet beskryf aan die hand waarop ek dink dit gedefinieer is in die Formuliere.  Dit is dus slegs my eie interpretasie.

Die wet word in die 3 Formuliere op vier maniere gedefinieer:

1.       Wetboek of Pentateug:

  • Hier word verwys na die seremonies en heenwysings van die wet wat voorafskaduwings van Jesus Christus was en Hom as Middelaar uitgebeeld het (NGB artikel 25; HK vr &antw 18-19);
  • Dit vorm ‘n getuienis saam met die profete om ons in die evangelie te bevestig (NGB artikel 25, 34);
  • Dit bly ook van toepassing op die ongehoorsames (HK vr &antw 9-10)

2.       Liefdesgebod van Matt 22:37-40

  • Dit verwoord die eis van God aan ons (HK vr &antw  4)

3.       Tien Gebooie

  • Dit spel sy geregtigheidseis uit sowel as wat goeie werke is (HK vr &antw 62 en 92; sien ook DL Hfst 1, Afd 2, Art 3; Hfst 2, Afd 2, Art 4; Hfst 3 en 4, Afd 1, Art 5);
  • Dit is die riglyn vir ons dankbaarheid  (HK vr &antw 91-115, sien ook DL Hfst 3 en 4, Afd 1, Art 5);

4.       Innerlike wet

  • God skryf dit op ons harte waardeur die nuwe eienskappe van geloof, gehoorsaamheid en die besef van sy liefde in ons harte uitgestort word (DL Hfst 3 en 4, Afd 2, Art 6).

Elf funksies word in die 3 Formuliere aan die wet toegeken:

1.       Die waarheid en inhoud van die wet as seremonies en heenwysings is afgeskaf maar bly in Jesus Christus vir ons bestaan (NGB 25).

2.       Die getuienis van die Pentateug bevestig die evangelie aan ons (NGB 25).

3.       Die getuienis van die Pentateug help ons om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig (NGB 25).

4.       Die Liefdesgebod sowel as die Tien Gebooie laat ons ons ellende leer ken en oortuig ons van ons skuld.

  • Dit het veral betrekking op die ellende van die sonde en ons sondige natuur (HK vr & antw 4, 115);
  • Dit vlek die grootheid van die sonde oop (DL Hfst 3 en 4, Afd 1, Art 5).
  • Dit oortuig die mens hoe langer hoe meer van sy skuld (DL Hfst 3 en 4, Afd 1, Art 5), maar,omdat dit deur die sondige natuur kragteloos gemaak is, laat dit die oortreder onder die vloek van die wet bly (DL Hfst 3 en 4, Afd 1, Art 5).

5.       Die Pentateug bly van toepassing op die ongehoorsames en spel hulle straf uit (HK vr & antw 9-10).

6.       Die wet as offers en seremonie stel ons aan die Verlosser bekend (HK vr & antw 18-19).

7.       Die wet as seremonies en heenwysings skep in ons die verlange na die vergewing van sondes en die geregtigheid in Christus deur die genade van die Heilige Gees (HK vr & antw 115).

8.       Die Tien Gebooie spel vir ons uit wat goeie werke is (HK vr & antw 91-115).

9.       Die Tien Gebooie spel vir ons uit hoe ons ons teenoor God moet gedra (HK vr & antw 91-115).

10.   Die Tien Gebooie spel vir ons wat ons aan ons naaste verskuldig is (HK vr & antw 91-115).

11.   Die innerlike wet gee ons die nuwe eienskappe van geloof, gehoorsaamheid en die besef van God se liefde.

  • Dit is ‘n baie positiewe funksie van die wet, die wet wat God op ons harte skryf waardeur die besef van God se liefde in ons harte uitgestort word (met verwysing na Jer. 31:33 – DL Hfst 3 en 4, Afd 2, Art 6).

Sal graag hoor hoe julle hieroor dink!

In die meegaande dokument Die wet in die 3 formuliere van Eenheid gee ek bogenoemde inligting sowel as die teks van die 3 Formuliere met die relevante gedeeltes in rooi gemerk, sodat jy dit self kan nagaan – as jy tyd het.

View all posts in this series

wet


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (5)

  • Dat die mense van die Ou Testament die wet nodig gehad het as riglyne vir hulle lewe om God te dien, is verstaanbaar. Ons in die Nuwe Testament, onder die genade verbond, besit die Heilige Gees wat ons lewens beheers volgens die twee gebooie van liefde vir God en die naaste. Daar is ‘n teks wat sê: “Ek graveer dit op julle verstand en skryf dit op julle harte.” My lewe word dus van binne gerig om reg te leef voor God en my naaste. Ek wil God en my naaste liefhê. Die Gees laat my wil, en help my om so te leef.
    Is die wet wat van “buite” kom, dan nog nodig?

    • Die wet kan natuurlik nie weggewens word nie! God het dit immers met ‘n bepaalde doel gegee en dit het ‘n bepaalde rol gespeel in Israel sowel as in die lewe van Jesus. Daarby kom die innerlike wet ooreen met die beginsels en waarheid wat in bv die Tien Gebooie opgesluit lê. Romeine 2:15 sê selfs dat die wet in heidene se harte geskrywe is. Presies watter wet dit is – morele wet, wet van goed en kwaad? – kan ek moeilik daar uit die konteks aflei, maar dat dit op baie punte met die Tien Gebooie sal ooreenkoms kan ‘n mens aanvaar, doodgewoon omdat iets soos jy mag nie doodslaan nie na ‘n soort universele wet lyk. Daarby het die eksterne wet die funksie dat dit van Christus getuig (Rom 3:21) en ‘n oppasser na Hom toe is (Gal 3:23-24). Maar dit word deur die interne wet vervang wanneer Christus in iemand kom woon deur sy Gees (Heb 8:8-13; 10:15-17).

  • Chris maar hoe verstaan mens dan dat die Bybelse Sabbat (7de dag) nie meer gehou word nie? Dis tog deel van die 10 gebooie.

    Dankie ek hoor graag jou verduideliking.

    • Hi Ernst. Die vierde gebod word Bybelsgesproke deur twee goed gemotiveer.

      • Israel moes die sabbatdag vier, om hulle te herinner daaraan dat God alles goed gemaak het, soos Hy op die sewende dag gerus het na al sy werk aan die skepping (Eks. 20). Met die viering van die sabbatdag het hulle erkenning aan God gegee vir alles wat Hy gemaak het.
      • Israel moes ook die sabbatdag vier, om hulle te herinner daaraan dat hulle God se volk is, soos God hulle uit die slawerny van Egipte verlos het (Deut. 5). Met die viering van die sabbatdag het hulle erkenning aan God gegee vir die verlossing wat hulle in die regte verhouding met God gebring het.

      Die NT beskou die sabbatdag as ‘n skaduwee van wat sou kom. Die werklikheid is Christus. Dié wat dus in Christus is, vier hulle afhanklikheid van God elke dag, nie net op een dag nie. Hulle vier ook hulle rus van die sonde elke dag, nie net op een dag nie. Hulle het dus nie meer nodig om een dag bó ‘n ander te vier nie, hoewel hulle welkom is om dit te doen, en dit ‘n gesonde ritme van rus en werk kan skep. Niemand mag Christene egter voorskryf daaroor nie.

      Drie NT Skrifgedeeltes dra dié boodskap.

      • Paulus sê: “Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus. Moenie dat iemand wat behae skep in danige nederigheid en in die aanbidding van engele en wat voorgee dat hy allerhande visioene gesien het, julle daarmee mislei nie. So iemand verhef hom oor wat hy in eiewaan van homself dink, en hy hou nie aan die hoof, aan Christus, vas nie. Uit Christus groei die hele liggaam, ondersteun deur die gewrigte en saamgebind deur die spiere, soos God dit laat groei.” (Kol. 2:16-19).
      • Paulus sê ook: “Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil … Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ’n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting. Die een wat ’n bepaalde dag op ’n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here … Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword: om Here te wees van die dooies en die lewendes. Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn, want daar staan geskrywe: ‘So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.’ (Jes. 45:23). Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.” (Rom. 14:1-12).
      • Die Hebreërskrywer skryf: “Daar wag dus nog steeds ’n sabbatsrus vir die volk van God, want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand hulle voorbeeld van ongehoorsaamheid navolg en ook omkom nie.” (Hebr. 4:9-11).

      Paulus het op sy sendingreise saam met die Jode die sabbatdag gevier in ‘n poging om die evangelie aan hulle te verkondig. (Hand. 13:42 44; 16:13; 18:4). Saam met die Christene het hy egter die eerste dag van die week gevier met nagmaal, in herinnering aan die kruisdood en opstanding van die Here Jesus, en die ander kerklike dinge, soos die insamelinge van die dankoffer, nagekom (Hand. 20:7; 1 Kor. 16:2).

      Dit lê agter die ontwikkeling in die Christelike kerk om op Sondag bymekaar te kom eerder as op die sabbatdag.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: