Word verander deur die vernuwing van julle gemoed
Ek het ‘n bietjie nagedink oor die belangrike opdrag van Paulus in Romeine 12: “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer—dit is julle redelike godsdiens. Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom 12:1-2 – OAV).
Daar is vier opdragte in die teks.
- Die eerste opdrag is om ons liggaam aan God as ‘n lewende, heilige en aan Hom welgevallige offer te stel. Die Griekse woord wat vir liggaam gebruik word, soma, dui hier die hele persoon aan. Ons soma, dws ons hele menswees, moet dus ge-“offer” word aan God. Dit is die wesenlike van ons godsdiens. Die drie beskrywings – lewende, heilige, aan God welgevallige – is nie eintlik drie verskillende goed nie. Al drie die beskrywings van hierdie “offer” sê eintlik dieselfde. Ons hele menswees behoort aan God. Ons is “lewende” offers soos wat die Leviete in die tabernakel se hele lewe aan God toegewy is (Num 8:11). Ons leef dus nie meer vir onsself nie, maar vir God. Maar nie as dooie mense nie, as lewendiges. Ons is “heilige” offers soos wat die Leviete afgesonder is vir die diens aan God. Alles wat hulle gedoen het, het op een of ander manier met hulle verhouding met God te make gehad. God se heiligheid bepaal ons heiligheid. Ons is “aan God welgevallige” offers, soos Hy dit vir ons in die Bybel beskrywe. Dit wil sê daar is nie ‘n deel van ons lewe uitgesluit waaroor God nie ‘n sê het nie.
- Die tweede opdrag is om nie aan hierdie wêreld gelykvormig te word nie. Dit verwys terug na die gedrag wat die eerste vers beveel dat ons hele lewe as ‘n offer aan die Here geleef moet word. God moet ons gedrag en gebruike bepaal, nie die media of die gemeenskap nie. Hy bepaal die norme en waardes waarvolgens ons moet leef. Die skema van die wêreld moet ons nie inperk om volgens die wêreldse beginsels te leef nie.
- Die derde opdrag is om God toe te laat om jou gedagtes, jou manier van dink, te vernuwe deur die waarheid van die Skrif. Dit het met houdings, gesindhede en denkpatrone te make. Hoe meer ‘n mens die Skrif lees, daaroor nadink, dit toelaat om jou gedagtes te vorm, hoe meer kan God deur sy Gees jou binnewêreld verander en vernuwe.
- Die vierde opdrag is om te onderskei tussen verskillende idees van wat reg en verkeerd is, sodat jy in staat sal wees om moreel-eties reg op te tree in lyn met die wil van God in die Skrif. Daarvoor moet ‘n mens die Skrif gebruik, want dit is die enigste standaard van wat goed en volmaak in lyn met God se wil is.
Wat my egter baie gehelp het om dié opdrag te verstaan is Paulus se uitbreiding hierop in Efesiërs 4:17-5:21 te lees. Dit is ‘n uitgebreide kommentaar op hierdie gedeelte wat ons oproep tot heiligmaking te midde van die bedorwe sedes van hierdie wêreld. Die sentrale agent van hierdie verandering is natuurlik die Heilige Gees soos Paulus dit daar uitlê.
In plaas daarvan dat ek self dus verder kommentaar gaan lewer, lees gerus dié gedeelte as ‘n uitleg van Romeine 12:1-2. Dit is die beste kommentaar op Romeine wat jy sal kry.
Die Christelike heiligmaking teenoor die bedorwe sedes van die heidene.
4:17Dit sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie — 18mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart; 19wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe.
20Maar julle het Christus nie so leer ken nie, 21as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus: 22dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, 23en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed24en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.
25Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede. 26Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie; 27en gee aan die duiwel geen plek nie.
28Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het. 29Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.
30En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.
31Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. 32Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.
5:1Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders; 2en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ’n gawe en offer aan God tot ’n lieflike geur.
3Maar hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam; 4ook nie gemeenheid en dwase of lawwe praatjies wat nie pas nie, maar liewer danksegging.
5Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat ’n afgodedienaar is, ’n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie.
6Laat niemand julle met ydel woorde verlei nie, want daardeur kom die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid. 7Wees dan nie hulle deelgenote nie.
8Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here—wandel soos kinders van die lig. 9Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.
10En beproef wat die Here welbehaaglik is; 11en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer. 12Want wat in die geheim deur hulle gedoen word, is skandelik selfs om te noem.
13Maar al die dinge wat deur die lig bestraf word, word openbaar; want alles wat openbaar word, is lig. 14Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.
15Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; 16en koop die tyd uit, omdat die dae boos is. 17Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is.
18Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.
19Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here, 20terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus, 21en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God.
View all posts in this series
- Die brief aan die Romeine - October 20, 2010
- Romeine 1 – God spreek mense vry enkel en alleen omdat hulle glo - October 21, 2010
- Die wet in die 3 Formuliere van Eenheid
- Romeine 2 – Die innerlike lewe lei na goeddoen eerder as die wetsvoorskrifte - October 22, 2010
- Romeine 3 – God gee vryspraak sonder onderskeid aan elkeen wat glo - October 25, 2010
- Romeine 4 – Die genade van geloof - October 26, 2010
- Beoefen vandag Lectio Divina - October 27, 2010
- Romeine 5 – Vryspraak lei tot vrede en vrye toegang - October 28, 2010
- Romeine 6 – Om vir God te lewe en nie vir die sonde nie - October 29, 2010
- Romeine 7 – Die Gees is die agent van verandering, nie die wet nie - November 1, 2010
- Romeine 8:1-17 – Die Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is - November 2, 2010
- Romeine 8:18-39 – As God vir ons is, wie kan teen ons wees - November 3, 2010
- Romeine 9-11 – Die Jode se volle getal sal gelowig word - November 4, 2010
- Romeine 12 – Ons het ’n paar kopskuiwe nodig - November 5, 2010
- Romeine 13 – Julle moet mekaar liefhê - November 8, 2010
- Romeine 14 – Aanvaarding eerder as argumente - November 9, 2010
- Romeine 15-16 – Aanvaar mekaar soos Christus julle aanvaar het - November 10, 2010
- Die fundamentele vertrekpunt in etiese sake - September 9, 2017
- Word verander deur die vernuwing van julle gemoed - June 13, 2018
- Uitverkiesing en die eindoordeel - September 6, 2018
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Cila Janse van Rensburg
Het per toeval hierop afgekom. Baie, baie dankie. Aan ons God al die eer!
Philip
Chris – – waar kan ek Kommentaar blad kry – – –
Chris van Wyk
Hi Philip – jy het so pas daarop geskrywe. Onder aan elke bydrae is daar ‘n spasie om kommentaar te lewer of vrae te vra.