Skip to main content

Aan die Galasiërs

Paulus skryf hierdie brief aan die “gemeentes in Galasië” (Gal. 1:2) wat aandui dat dit as ’n omsendbrief bedoel was.  Hy skryf dit saam met/namens al die gelowiges by hom, óf van Korinte óf van Efese af.  ’n Sekretaris het hom heel moontlik weer bygestaan (Gal. 6:11).

Watter Galasië?

Dit is onseker watter Galasië bedoel word, omdat daar twee landstreke was wat Galasië genoem is:

  1. Die suidelike etnies-geografiese gebied Galasië in sentraal Klein-Asië (Turkye) waar immigrante van Gallië (Frankryk) hulle gevestig het in die 3de eeu v.C. en wat die gebiede van Pisidië (Hand. 13:14; 14:24), Likaonië (Hand. 14:6 – twee van die stede hier word ook deur Lukas genoem: Listra en Derbe) en Frigië (Hand. 2:10 – van die Joodse gelowiges van hier af was op Pinksterdag in Jerusalem; Hand. 16:6; 18:23) ingesluit het (die sogenaamde Suid-Galasië-teorie).
  2. Die Romeinse provinsie van Galasië wat ook die noordelike dele van Klein-Asië ingesluit het (die sogenaamde Noord-Galasië-teorie).

Indien Paulus aan gemeentes in die etnies-geografiese gebied geskryf het – Suid-Galasië-teorie –  ’n streek wat Paulus op sy eerste en tweede sendingreis besoek het, het Paulus die brief aan die Galasiërs waarskynlik uit Korinte geskryf in dieselfde jaar as die briewe aan Tessalonika, ongeveer in die jaar 50 n.C.  Dan verwys hy ook in Galasiërs 4:13 na sy eerste besoek aan hulle, soos Lukas dit in Handelinge 13-14 beskrywe het.  Sy tweede besoek was dan op sy tweede sendingreis, soos Handelinge 16:6 dit beskrywe.

Indien die brief aan die breër Romeinse provinsie geskryf is – Noord-Galasië-teorie – ’n streek wat Paulus op sy tweede sendingreis besoek het (Hand. 16:6), het Paulus die brief aan die Galasiërs waarskynlik uit Efese geskryf in dieselfde jaar as die briewe aan Rome, ongeveer in die jaar 53 n.C.  Dan verwys Galasiërs 4:13 waarskynlik na sy eerste besoek, soos Lukas in Handelinge 16:6 dit beskryf, en was sy tweede besoek aan hulle op sy derde sendingreis, soos Handelinge 18:23 dit beskryf.

As ’n mens die inhoud van die brief vergelyk met wat met sy besoek aan die etnies-geografiese gebied Galasië gebeur het, lyk die eerste moontlikheid meer waarskynlik – Suid-Galasië-teorie – hoewel ’n mens moet erken dat daar te min oor die ander besoeke (Hand. 16 en 18) bekend is, om ’n besliste keuse te maak.

Ooreenkomste met Handelinge 13

Die brief pas baie goed in by die situasie wat Lukas vir ons in Handelinge 13 beskrywe.  Dit sal baie help om Handelinge 13:13-51 as agtergrond vir ‘n studie van Galasiërs te gebruik.

In Antiochië in Pisidië het Paulus op sy eerste sendingreis ’n belangrike toespraak in die sinagoge gehou, waar hy baie spesifiek nie net aansluit by die Joodse geskiedenis van Moses tot Dawid nie, maar die gelowiges die nakomelinge van Abraham noem (Hand. 13:26 – vgl. Gal. 3:29).  Baie van die Jode en ook heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, het Paulus se boodskap aanvaar.  Hoewel die Jode die volgende sabbat begin het om die stad teen Paulus op te sweep (byna die hele stad was daar – Hand. 13:44!), het ook baie heidene die woord van die Here aanvaar en gelowig geword.  Dit het die evangelie soos ’n veldbrand vanuit hierdie stad dwarsdeur die hele streek laat versprei.

En let op hoe Lukas die gelowiges van Antiochië (onthou daar was ook ’n ander Antiochië in Sirië, vanwaar Paulus telkens sy sendingreise onderneem het – vandag Antakya in Turkye) beskryf as “vol blydskap en vol van die Heilige Gees” (Hand. 13:52), die ander groot tema waarop Paulus in die brief aan die Galasiërs sal uitbrei (Gal. 3-6).

Die hart van die Christelike geloof

Onthou dat dit nog in die vroeë jare van die vestiging van die Christelike geloof was, skaars 20 jaar na die kruisdood en opstanding van Jesus Christus.  Daarom verdedig Paulus nie net sy apostelskap in hierdie brief nie (“Ek is … aangestel … deur Jesus Christus en deur God die Vader” – Gal. 1:2), maar ook die evangelie (“Jesus Christus het dit in ’n openbaring aan my gegee” – Gal. 1:12), veral teen die bedreiging wat sekere Joodse gelowiges se idees oor die belang van hulle kultuurgebruike vir die kerk in die breë gehad het.

Joodse kultuurgebruike?

Een van die kernvrae vir die kerk was: Moet Christene uit die heidene ook die Joodse kultuurgebruike – soos die wet dit voorskryf – aanneem of nie?  D.w.s., moet gelowiges uit die heidene 1) besny word, 2) volgens die Joodse eetgewoontes leef, en 3) die Joodse feeste vier, waarvan die Sabbat die belangrikste viering was.

Sommige Joodse Christene het gedink dat die Joodse besnydenis, dieet en feeste lewensbelangrik was vir gelowiges uit die heidene.  Paulus het hom egter vurig daarteen verset en wys met hierdie brief die gevaar van só ’n standpunt onomwonde uit.  Die nuwe bedeling draai om geloof in Jesus Christus en het afskeid geneem van ’n godsdiens gebaseer op die wet (besnydenis, dieet, feeste).  Ons leef nou in die bedeling van die Gees.  En almal wat in Christus is, is kinders van Abraham en daarom deel van die een Godsvolk.

Dit is die evangelie, en enigiemand wat 1) Joodse kultuurgebruike op ander af forseer of 2) hulleself afskei van mense wat nie die kultuurgebruike nakom nie (Petrus!) rand die evangelie aan.  Dit is die hart van die Christelike geloof en die hart van die boodskap van hierdie brief aan die Galasiërs.

Geen wonder dat Paulus kort hierna – as ’n mens aanvaar dat die brief op sy eerste sendingreis geskryf is aan die suidelike etnies-geografiese gebied, Suid-Galasië-teorie – saam met ander gelowiges van Antiochië in Sirië na Jerusalem toe is om uitsluitsel oor hierdie brandende vraag te kry.  En soos Lukas in Handelinge 15 vertel, het hierdie vergadering van gelowiges besluit om gelowiges uit die heidendom nie te dwing om die Joodse kultuurgebruike na te kom nie, soos Paulus inderdaad geleer het.

Daarom bly die Galasiërbrief so belangrik vir die kerk deur die eeue.  Telkens as mense afdwaal van die kern van die Christelike geloof deur ander (kultuur) reëls neer te lê vir die Christelike lewe of hulleself afskei van mense wat nie soos hulle leef nie, herinner hierdie brief ons om ons eenheid te soek in ons geloof in Christus, en nie in ons kultuureie nie.

Vryspraak, verbondsgemeenskap en vryheid

Nadat Paulus in hoofstuk 2 sy greep op die evangelie verdedig het, raak hy drie kernsake in die res van die brief aan:

  1. die vryspraak (of regverdiging, d.w.s in die regte verhouding met God gebring) wat God aan gelowiges gee in Christus Jesus (Gal. 3:1-4:20),
  2. die verbondsgemeenskap wat Hy deur sy Gees tussen gelowiges skep (Gal. 4:21-5:12) en
  3. die vryheid wat gelowiges geniet van beide die Joodse wet sowel as die sondige lewenswyse van die heidene (Gal. 5:13-6:17).

Hierdie gawes van God word deel van gelowiges se lewens op grond van die historiese kruisdood en teenswoordige opstandingslewe  van Christus Jesus (Gal. 2:19b-20) sowel as deur die kragtige toerustende en bemagtigende werk van die Heilige Gees in hulle lewens (Gal. 3:5; 5:25).

En die radikale betekenis en impak hiervan mag onder geen omstandighede verswak word deur weer die wet te probeer onderhou (Gal. 2:16) en/of in eie krag te lewe nie (Gal. 3:3).  Dan plaas jy jouself immers weer onder die vloek van die (nakoming van die) wet (Gal. 3:10) en is jy uitgelewer aan die begeertes van jou sondige natuur (Gal. 5:16-18).

Daarom skryf Paulus met soveel passie en dringendheid: die evangelie is op die spel.  Die vryspraak van God wat jou in die regte verhouding met Hom bring, die verbondsgemeenskap met Hom en mekaar wat ‘n nuwe lewensgemeenskap skep en die vryheid wat Christus deur sy Gees gebring het en ‘n ander lewenswyse moontlik gemaak het, is in gedrang.

En dit is nie net ’n teoretiese stuk lering nie.  Dit is van deurslaggewende praktiese belang vir die gelowiges wat uit die heidendom kom.  Hulle is juis verbondsgemeenskap ontsê deur sommige gelowiges uit die Joodse geledere en nie as ware kinders van Abraham gereken nie.  Daarom dat Paulus soveel tyd spandeer aan sy lering oor wie deel het aan die belofte van Abraham (die woord Abraham word 9 keer gebruik in die brief), wie geloof het soos Abraham en wie sy kinders is.  En telkens spel hy dit uit dat die gelowiges uit die heidendom volledig deel van die verbondsgemeenskap geword het.  Hulle is kinders van Abraham (Gal. 3:29).

Geen wonder dat Luther so baie van hierdie brief gehou het nie.  Dit is aan die een kant ’n baie suiwer uiteensetting van die evangelie, maar aan die ander kant ook van groot praktiese betekenis.  Hy noem Galasiërs: “my own epistle, to which I have plighted my troth; my Katie von Bora” (sy vrou – aangehaal in Longenecker, Richard N.: Word Biblical Commentary : Galatians. Dallas : Word, Incorporated, 2002 (Word Biblical Commentary 41).

Lees, Luister, Leef

Vandag wil ek iets sê oor ons lees van die Bybel in hierdie Bybelskool en jou daarna net herinner aan ‘n verskeidenheid ander maniere om die Bybel te lees.  In die volgende paar weke kan jy enigeen van dié metodes gebruik (of afwissel) om die betekenis van die teks vir daardie dag te ontsluit.

My passie is om die Woord só oop te sluit vir ons dat ons – in die woorde van Eugene Peterson – daarvan ‘n woonplek maak.  My droom is dat die Bybel vir ons ‘n ruimte word waarbinne ons God sal ontmoet en waardeur Hy ‘n lewende metgesel op ons reis deur die wêreld raak.

Daarom is dit so belangrik om 1) die Bybel self eers te lees … voordat jy my bydraes daaroor lees … EN 2) daaroor te reflekteer.  Geestelike groei kom as ‘n mens albei doen, deeglik lees EN deeglik nadink daaroor.  Eers daarna kan jy lees wat ek daaroor skrywe, en met my ook in gesprek tree daaroor, ook jou vrae vra, en met ons almal deel wat die Here vir jou in die gedeelte laat duidelik word het.

‘n Nuwe manier wat ek wil voorstel – veral as jy, soos nou, ‘n hoofstuk op ‘n slag lees – is die volgende:

  • LEES – Lees die gedeelte deeglik deur, desnoods 2 of 3 keer.
    • Bestudeer die karakters – Maak ‘n lys van die persone of groep in die gedeelte en dink na oor wat van hulle gesê word en hoekom.
    • Oorweeg die sleutelgedagte – Kies ‘n vers of frase wat die hoofstuk vir jou die beste opsom.
    • Maak ‘n opsomming – Skryf ‘n kort opsomming van die inhoud met die klem op wat jou getref het.  Dit help ook om ‘n opskrif vir die gedeelte te kies.
  • LUISTER –  Dink na oor wat God vir jou deur die gedeelte wil sê.
  • LEEF – Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag.

Hier is nog ander metodes wat jy by jou eie behoeftes kan aanpas.

Paulus en sy briewe

Ek het in die vorige Bybelskool probeer om Paulus se briewe in die konteks van Handelinge te plaas en ook so een en ander oor homself te skrywe.  Verfris jou geheue deur die volgende artikels weer te lees (of vir die eerste keer as jy nuut by ons aangesluit het):

Onlangse kommentaar