Skip to main content

Die Comma Johanneum in 1 Johannes 5:7-8

Ek het ‘n navraag gekry oor die “weglating” van die woorde in 1 Johannes 5:7-8.  Hier is ‘n paar opmerkings om jou te help om self te besluit hoe jy daaroor dink.

Die 10de weergawe van die Griekse Textus Receptus (1598) bevat die volgende ekstra woorde in 1 Johannes 5:7-8:

(7Want daar is drie wat getuig …)

“in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; 8 en daar is drie wat getuig op die aarde”

(…: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.)

Dit kan jy in die OAV (1933) naslaan waar nie net die dele in hakies voorkom soos in die NAV (1983) is nie, maar ook dít wat vetgedruk is.

Dit is die “berugte” Rooms-Katolieke Comma Johanneum soos dit in die KJV (1611) en die OAV (1933) vertaal is.

Die ekstra woorde is egter sonder enige twyfel ‘n byvoeging en nie deel van die oorspronklike Griekse teks nie.

Hier is die storie sodat jy self daaroor kan oordeel:

  • Die Comma Johanneum was nie deel van die eerste uitgawe van die Textus Receptus van Erasmus in 1516 nie. Dit alleen bewys alreeds dat dit nie oorspronklik is nie.
  • Hoekom was dit nie deel van die Textus Receptus nie?
  • Want Erasmus het gesê hy kon dit nêrens in ‘n Griekse teks vind nie.
  • Daarom sal ‘n mens dit ook nie in Luther se Duitse vertaling van die NT in 1522 vind nie, want hy het die Textus Receptus gebruik (die tweede druk van 1519), en die frase was nie deel daarvan nie.
  • Vir die Rooms-Katolieke was dit egter nie aanvaarbaar nie.
  • Hoekom nie?
  • Want, die Comma Johanneum was ‘n baie belangrike deel van die Rooms-Katolieke dogma. Dit was ‘n primêre formulering van die Triniteit wat in ‘n 4de eeuse preek op 1 Johannes 5:7-8 gebruik is en toe in die Latynse Vulgaat (NT vertaling) ingeskryf is daarna.  Die preek se formulering het deel van die Latynse vertaling van die Bybel geword.
  • Erasmus wou egter nie daaraan byt nie en het geweier om sy teks te verander, sonder ‘n Griekse teks wat die woorde bevat.
  • Die Rooms-Katolieke kerk was egter nie links nie, en het ‘n Griekse teks geproduseer met dié frase ingesluit (kodeks 61 van 1520).
  • Druk is toe op Erasmus uitgeoefen om in sy Griekse NT dié frase in te voeg, op grond van die nuwe kodeks wat net ná sy Textus Receptus geproduseer is, en hy het ingegee en van die derde uitgawe af die frase ingesit. Beza het dit daarom ook ingesluit in die uitgawes wat vandag as die Textus Receptus gebruik word (die 10de uitgawe van 1598) wat vir die KJV (1611) gebruik is.
  • Met verdere navorsing is wel agtergekom dat daar 5 Griekse manuskripte is waarin die Comma Johanneum voorkom, maar die vroegste is eers uit die 14de eeu nC (ms 629) en heel waarskynlik onder invloed van die Latynse Vulgaat.
  • In nog 4 ander Griekse manuskripte word die woorde ook gevind, maar dan slegs in ‘n kantaantekening en hulle is almal ook latere uitgawes, die vroegste is uit die 12de eeu nC. Die teks verskil ook nog van manuskrip tot manuskrip en spesifiek van die uiteindelike Textus Receptus se weergawe.

Nie een van die talle uitstekende Griekse manuskripte uit die eerste Millennium bevat daarom die woorde nie. Dit is duidelik ‘n byvoeging uit die tweede Millennium onder invloed van die Rooms-Katolieke.

Jy kan meer lees in die The NET Bible First Edition Notes, Biblical Studies Press, 2006.

En onthou dat die leerstuk van die Triniteit nie deur die “weglating” beïnvloed word nie.  Ek het in twee boeke wat binnekort uitgegee word (Wie is God? vir volwassenes en Wat glo jy? vir kinders) die  volgende oor die Triniteit geskryf:

Wat is die Drie-eenheid?

Antwoord:

God is een Wese in wie drie Persone is: Vader, Seun en Heilige Gees. Die Vader is
die oorsaak en oorsprong van alles. Die Seun is die Woord en Beeld van die Vader. Die
Heilige Gees is die ewige Krag en Mag van die Vader en die Seun. Hulle is een in
waarheid, mag, goedheid en barmhartigheid.

Oorweeg die volgende teksverwysings:

Die engel het geantwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou toevou. Daarom sal die kind wat gebore word, heilig en die Seun van God genoem word.” (Lukas 1:35)

Ná Jesus se doop het Hy dadelik uit die water geklim. Net daar gaan die hemel toe vir Hom oop, en Hy sien hoe die Gees van God soos ’n duif op Hom afdaal. Daar kom toe ’n stem uit die hemel wat sê: “Hý is my geliefde Seun, ’n Kind so na my hart.” (Matteus 3:16-17)

Wanneer die Raadgewer kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader af uitgaan, sal Hy oor My in die openbaar getuienis aflê. (Johannes 15:26)

Omdat julle sy kinders is, het God die Gees van sy Seun gestuur om in ons te lewe. Die Gees in ons roep voortdurend na God: “Abba!” – wat die Aramese woord is vir “Vader”. (Galasiërs 4:6)

Die Seun is die sigbare uitbeelding van die onsigbare God. Hy is die Eerste van die hele skepping, omdat God alles deur Hom geskep het. Ja, alles in die hemel en op die aarde – die dinge wat gesien kan word en die dinge wat nie gesien kan word nie, of dit nou konings of heersers, regeerders of maghebbers is – álle dinge is deur Hom en vir Hom geskep. Hý was daar vóór alles, en in Hom word alles saamgebind. (Kolossense 1:15-17)

Daar is dié drie wat getuienis aflê: die Gees, die water en die bloed en al drie is dit eens. (1 Johannes 5:7-8)

Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. (Matteus 28:19)

Mag die genade van die Here Jesus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees met julle almal wees. (2 Korintiërs 13:13)

Oorweeg ook die volgende artikels in die belydenisskrifte:

Geloofsbelydenis van Athanasius 1-28; Nederlandse Geloofsbelydenis 8-9; Heidelbergse Kategismus 25; Westminster Geloofsbelydenis 2.3 – beskikbaar op dié webtuiste.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bybel, Geloofsbelydenis, Geloofsbelydenisse


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders