Skip to main content

Author: Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Psalm 119:145-152

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dit is duidelik in hierdie negentiende deel van dié Psalm, waarvan elkeen van die 8 versreëls met die Hebreeuse letter kof begin, dat die teenwoordigheid van die Here in sy geskrewe openbaring beleef word. Dit is wanneer ‘n mens nadink oor wat die Here reeds gesê het, dié dinge wat reeds bekend is, dat daar nie net nuwe insigte opdaag nie, maar die verlossende krag van die Here aan die werk kom om dié openbaring van God na te kom en uit te voer. Dit is van ewige waarde (Ps. 119:152).

Bid die Psalm

“Ek roep tot U met my hele hart; antwoord my tog, Here! U voorskrifte sal ek gehoorsaam. Ek roep na U: Red my, en ek sal u vereistes gehoorsaam. Voor dagbreek roep ek om hulp, en plaas my hoop op u woord. Die hele nag lê ek wakker om u woord te oordink. Luister na my roepstem, Here, op grond van u troue liefde. Laat my lewe op grond van u regverdigheid. Sluwe vervolgers kom al nader, maar lewe ver van u gebooie af. Maar U is naby, Here, en al u gebooie is betroubaar. Van lankal af het ek geweet dat u eise nooit verander nie.” NLV

Boodskap en betekenis

God is naby ons deur dít wat skriftelik aan ons oorgelewer is, die Bybel. Ons beleef God se teenwoordigheid in die voorskrifte, bepalings, woorde, woord (‘imrâh – waarskynlik in die sin van ‘n belofte), beslissing, wet, en gebooie van sy openbaring. Ons beleef God se teenwoordigheid in die beweging wat die Bybel in ons aan die gang sit. Die Psalmis wys vir ons hoe die skriftelike openbaring ons innerlike mens in beweging moet bring: “Ek roep met my hele hart.” Hart sluit hier ons gevoelens, gedagtes en wil in (Ps. 119:145). Hy wys vir ons ook hoe die Bybel ons uiterlike mens, d.w.s. ons nougesette gehoorsaamheid in gedrag, in beweging moet bring: “U voorskrifte wil ek nakom!” (Ps. 119:146). God is natuurlik ook in die Skepping teenwoordig en dit is ongelooflik wonderlik (Ps. 19). Hy is ook in die lewe teenwoordig in alles wat met ons gebeur (Ps. 42:5). Hy is immers die bron van ons lewe, soos die Psalmis vroeër bely: ”U is my lewe.” (Ps. 16:5). Hy is ook in ons midde waar gelowiges die wil van die Here soek en probeer onderskei (Matt. 18:20). Maar dit is juis deur die lig wat Hy vir ons gee uit sy geskrewe openbaring wat ons op die beste manier tot insig kom en die lig vir ons pad kry (Ps. 119:105). Dít is waarom dit so belangrik is dat God se skriftelike openbaring die belangrikste plek in ons lewe moet inneem. Dit moet ook van ons waar wees, soos die Psalmis op ‘n ander plek sê: “U woord is my hele lewe.” (Ps. 40:9). Dit is immers waarom die Psalmis vroeër ook kan skryf dat hy ‘n vriend is van almal wat vir die Here ontsag het en sy opdragte nakom (Ps. 119:63). Let op hoe die Psalmis daarom met sy hele hart na die Here se voorskrifte roep, dat hy reeds voor die oggendskemer al op God se woorde wag (Ps. 119:147), trouens in die nag al oor God se woord nadink (Ps. 119:148 – die nagwaak waarna hier verwys word, is waarskynlik die tyd tussen 2 en 6 uur in die oggend).  Die Psalmis luister ook nie net nie. Hy vra dat God na hom sal luister en hom sal verlos en bewaar van mense wat slinkse planne het. Dit is immers wat God se Woord doen. Dit roep om ‘n antwoord van ons; dit roep om ‘n gesprek met ons, sodat ons nie net met vreugde God se woorde kan ontvang nie, maar met blydskap dit kan gehoorsaam. Dit is in hierdie lees en luister na God se Woord en woorde wat ons met oorgawe en oorvloed kan leef. Die Woord is inderdaad ‘n huis waarin ons kan woon.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 119:137-144

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dit is net ongelooflik hoe hierdie Psalm my woorde gee om my ervarings te verwoord. Ek is  in my lewe dikwels gekonfronteer met die teologiese stelling dat die Bybel God se Woord is, maar nie God se woorde nie. D.w.s. dat die Bybel as ‘n boek geïnspireer is deur God, maar dat dieselfde nie van elke woord daarvan gesê kan word nie. Die Bybel is mense se woorde oor God, nie noodwendig in elke detail daarvan God se woorde aan ons nie. Hoe anders praat Psalm 119 nie hieroor nie! En veral in hierdie agtiende deel van die Psalm. Let op hoe vier die Psalmis juis die fynste detail van God se woord soos dit in sy openbaring beskrywe word. Dit is in die detail van God se openbaring wat die Psalmis die lig vir sy pad ontdek. Dit is in God se beskrywing van wat regverdig is, wat hy homself verlustig, nie maar net in sy eie verwoording en interpretasie daarvan nie. Daarom sal hy God se bevele nie vergeet of verontagsaam nie, want hy weet God se regverdige optrede, ook in die gee van sy openbaring, is billik en betroubaar (Ps. 119:142). Al oorval benoudheid en angs hom weens die minagting van sy teenstanders wat God se woorde in die wind slaan, sal hy steeds in God se gebooie sy vreugde vind, want dít is die lewe, al word hy deur ander verguis.

Bid die Psalm

“Here, U is regverdig, en u oordele is reg. U vereistes is regverdig; dit is baie betroubaar. My ontsteltenis oorweldig my, want my vyande verontagsaam u woorde. U beloftes is deeglik beproef; u dienaar het dit lief. Al is ek gering en verag, ek misken nie u bevele nie. U regverdigheid duur vir altyd, en u gebooie is betroubaar. Angs en benoudheid sak op my toe, maar u gebooie is my vreugde. U vereistes is altyd regverdig; gee my insig sodat ek kan lewe.” NLV

Boodskap en betekenis

Dié Psalm onderstreep vir my wat die Nederlandse Geloofsbelydenis ook sê oor die boeke van die Bybel as die Woord van God: “Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself…” (artikel 5). Sedert die eerste keer wat ek God se stem in standerd 5 by huisgodsdiens in Romeine 8:14-16 gehoor en in trane uitgebars het weens die roering in my hart, só is dit vandag nog en sal dit vir altyd wees. En ek wil vanuit die diepste dieptes van my hart vir die Here dankie sê vir die betroubaarheid van Sy stem in die Bybel. Aan Hom behoort my hele lewe. Sy boodskap is vandag nog net so gesagvol en betekenisvol as wat dit ooit in die loop van die geskiedenis was. Ek wil dit vir jou ook deurgee vir jou eie lewe as boodskap. God is regverdig en sy Woord wil niks anders doen as om ons in trou en regverdigheid voor Hom te laat lewe nie. Soos Peterson sê: “He manufactures truth and justice; All his products are guaranteed to last—Never out-of-date, never obsolete, rust-proof. All that he makes and does is honest and true.” (Ps. 111:8).

  • Dit is waar van die Woord en die woorde van God in die boeke van die Bybel. Die Woord het nie ‘n vervaldatum nie. God se woorde in die Bybel het ook nie ‘n vervaldatum nie. Dit is vandag nog geldig en genoegsaam vir ons geloof en ons lewe. Daarop kan jy staatmaak.
  • Dit is waar van die Gees wat ons help om die Woord reg te interpreteer. Die Gees is ook nooit van verbygaande aard nie. Soos Hy met my gepraat het as kind, só praat Hy met my as volwassene, en sal Hy by my wees, selfs as ek nie meer kan praat nie. Dit sal ook só wees vir jou.
  • Dit is waar van die kerk wat vir mekaar gegee is om saam te onderskei wat die Woord van die Here vir ons wil sê, selfs oor die moeilikste dinge waaroor ons moet en kan nadink. Die kerk sal ook nooit vergaan nie. Dit is ook waar van die geloofsgemeenskap waar jy jou ook al mag bevind. Selfs al verander ons gemeentes van gedaante, selfs al skuif ons na ‘n ander woongebied, of selfs na ‘n ander wêrelddeel, of al verander ons denominasie, die breë geloofsgemeenskap waarvan ons deel is as die liggaam van Christus, sal nooit ophou bestaan nie.

Sela.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 119:129-136

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Ná die pynlike insig wat in die vorige deel van die Psalm verwoord is, verwonder die Psalmis hom in die sewentiende deel van Psalm 119 oor die lig wat God se woorde in sy lewe aansteek: “As u woorde oopgaan, gee dit lig.” (Ps. 119:130). Dit is waarom die Psalmis nie omgee om God se bepalings na te kom nie, want dit is – ten spyte van die pyn van gehoorsaamheid – uiteindelik “wonderlik” (Ps. 119:29), want dit gee vir die eenvoudige (onervarene) insig (Ps. 119:130).

Bid die Psalm

“U voorwaardes is wonderlik; daarom gehoorsaam ek hulle. Begrip van u woord bring lig; dit gee insig aan die eenvoudige. My mond is oop en ek snak na asem, want ek verlang na u gebooie. Kyk tog na my in u genade, soos U doen vir almal wat u Naam liefhet. Rig my treë deur u woord sodat boosheid my nie oorval nie. Red my van menslike verdrukking sodat ek u bevele kan gehoorsaam. Laat u guns oor u dienaar skyn; leer my al u voorskrifte. Trane vloei in strome oor my wange omdat mense u gebooie minag.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalmis bly hy met sy hele wese smag na God se gebooie, want dit is vol van genade. Dit getuig van God se omarming van ons. Hoor net hoe pragtig sê hy dit in sy gebed: “Kyk tog na my in u genade, soos U doen vir almal wat u Naam liefhet.” (Ps. 119:132). Genade is God se Gewoonte teenoor Gelowiges! ‘n Mens kan ‘n lewe lank oor die betekenis van hierdie vers nadink! God se woord doen nog meer as net om genade uit te deel. God se woorde rig ‘n mens se treë, sê die Psalmis, sodat geen onreg oor ons kan heers nie, of die kwaad oor ons die oorhand kry nie, sodat ons uiteindelik van onderdrukking of verontregting deur mense verlos kan word, en enduit aan God se opdragte kan vashou (Ps. 119:133-134). Gehoorsaamheid aan die woord is dus God se manier om ons pad in die lewe te beveilig, soos Psalm 1 ook sê: “die Here sorg vir die pad van regverdiges, maar die pad van goddelose mense loop dood.” (Ps. 1:6). Dit laat die lig van God se teenwoordigheid oor sy diensknegte skyn sodat God se voorskrifte in sy lig geleer kan word (Ps. 119:135). Die donker kant in hierdie deel van die Psalm is dat daar egter steeds mense is wat – al is die lig in God se voorskrifte te vinde – God se wet nie onderhou nie, tot groot verdriet van die Psalmis: “Trane vloei in strome oor my wange omdat mense u gebooie minag.” (Ps. 119:136). Die openbaring van God gee die Psalmis dus beide vreugde as verdriet – vreugde oor die betekenis daarvan vir hom; verdriet omdat daar mense is wat die betekenis mis, omdat hulle hulle nie daaraan hou nie.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 119:121-128

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die kumulatiewe gewig van die getuienis van Psalm 119 dat God se openbaring saak maak, begin in hierdie sestiende deel van die Psalm my bewussyn só diepsinnig binnedring dat dit vir my voel asof die Psalmis se ervarings en gebede my eie raak.

Bid die Psalm

“Moenie my oorlaat aan die genade van my vyande nie, ek het gedoen wat reg en regverdig is. Beloof tog dat dit goed sal gaan met u dienaar. Moenie dat verwaande mense my verdruk nie. Ek ooreis my oë om u redding te sien en u woord van geregtigheid. Behandel u dienaar volgens u troue liefde, en leer my u voorskrifte. Ek is u dienaar; gee my die vermoë om te onderskei sodat ek u voorwaardes kan verstaan. Dis tyd dat U optree, Here, want hulle het u gebooie oortree. Daarom is ek lief vir u opdragte, meer as goud, selfs die fynste goud. Omdat elkeen van u bevele reg is, haat ek elke verkeerde pad.” NLV

Boodskap en betekenis

Aan die een kant oorrompel die geheelboodskap van die Psalm my dat dit goed gaan met dié wat wandel volgens die woord van die Here. Aan die ander kant is ek net so intens bewus van die pyn en verguising wat saamgaan daarmee om die openbaring van die Here onwrikbaar en sorgvuldig na te kom (Ps. 119:128). En bid ek ook die gebed van die Psalmis: “Moenie my oorlaat aan die genade van my vyande nie, ek het gedoen wat reg en regverdig is.” (119:121). En kan ek vandag elkeen van hierdie verse van harte bid: “Beloof tog dat dit goed sal gaan met u dienaar. Moenie dat verwaande mense my verdruk nie.” (Ps. 119:122). As dit dan só is dat dit goed gaan met dié wat wandel volgens die woord van die Here, soos die Psalm sê, waarborg dit dan vir my; sorg dat dit vir my in vervulling laat gaan; sorg dat die goeie my nie verbygaan nie …

  • Ek ooreis my oë om u redding te sien en u woord van geregtigheid.” (Ps. 119:123).
  • Behandel u dienaar volgens u troue liefde…” (Ps. 119:124a).

Die oplossing vir die pyn van dissipelskap lê egter nie in die vermyding van die pyn van gehoorsaamheid nie, maar in die omhelsing daarvan, om IN die pyn te leer wat God se voorskrifte is. Want, dit is dié wat ly wat gehoorsaamheid leer ken, wat deur God geleer word, hoe nou verder. Dit is die punt van dié Psalm. Ons is God se diensknegte beide in die ervaring van sy troue liefde as in die ervaring van die pyn van gehoorsaamheid. Daarom, steeds die versugting, selfs en veral in die pyn van navolging: “…en leer my u voorskrifte.” (Ps. 119:124b).

Ek het altyd gewonder wat presies dit beteken dat Jesus gehoorsaamheid geleer het deur sy pyn, tot ek Hebreërs 2 vroeër bestudeer het en agtergekom het dat die pyn van gehoorsaamheid jou verlos van jou vrees vir die dood. Trouens, die deel kry aan die “littekens van Jesus” is ons “handelsmerk” as kinders van die Here. Paulus gebruik dié beskrywing in Galasiërs 6:7 waar hy verwys na die wonde wat hy in sy navolging van die Here opgedoen het. Die wonde het hom “gekenmerk” (die Griekse woord stigma word gebruik) as ‘n volgeling van Jesus. Die wonde was nou sy “handelsmerk”. Lyding in gehoorsaamheid het egter nie net die effek dat dit jou vrees vir die dood wegneem nie, maar dit verdiep ook jou vreugde om een met die Leidsman en Voleinder van ons geloof te wees, as jy ook deel in sy lyding. Daar is ‘n ongekende diep vreugde – iets wat jy net leer ken as dit gebeur – in ‘n mens as jy bevoorreg genoeg is om vir die Here te ly, soos die verhaal van Dmitri ons ook geleer het. Lyding oortuig jou op ‘n vreemde, maar diepsinnige manier, dat jy deel is van sy heilige familie!

Daarom is my behoefte vandag dieselfde as die Psalmis s’n: “Ek is u dienaar; gee my die vermoë om te onderskei sodat ek u voorwaardes kan verstaan.” (Ps. 119:125). Want, ek leer hier dat kennis nie net met verklaring te make het nie, hoe belangrik dit ook al is. Kennis het met insig te make, en dié insig kom baie keer eers tot jou as jy pyn in jou gehoorsaamheid van God se openbaring ervaar. Insig lê anderkant die pyn van gehoorsaamheid.

Daarmee saam bid ek ook dat die Here in sy regverdigheid sal optree, omdat dit net só duidelik is vir my vandag dat mense rondom ons die openbaring (wet) van God kragteloos maak met hulle oortredings daarvan (Ps. 119:126). Soos dit in die Psalmis se tyd was, só is dit ook vandag. Daarteenoor moet die Psalmis natuurlik homself aan God se bevele en opdragte oorgee om dit sorgvuldig na te kom, soos dit ook gevra word van elkeen van ons (119:128a). Daarom sê die Psalmis, het hy God se bevele lief: “meer as goud, selfs die fynste goud.” (Ps. 119:127). En die omgekeerde is net so waar: “Omdat elkeen van u bevele reg is, haat ek elke verkeerde pad.” (Ps. 119:128b).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 119:113-120

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die vyftiende deel van hierdie Psalm onderstreep die krag van God beide om te ondersteun en onderskraag sowel as om te verwerp en verwyder. God se openbaring struktureer die werklikheid op ‘n omvattende manier. Hy bepaal wat gebeur. Hy doen wat Hy openbaar. Hy self is getrou aan wat Hy sê, soos die Psalmis dit hier uitdruk met die woorde gebooie, woord, bevele/gebooie, voorskrifte, waarskuwings – vyf van die woorde wat in die Psalm daarvoor gebruik word. Om die openbaring van God met alles wat in jou is, na te volg, is dus nie net die beste pad nie. Dit is die enigste pad wat jy kan volg. Jou liefde vir God se openbaring, moet opgevolg word, en word verdiep deur, jou uitvoering en nakoming daarvan in die fynste detail. Hy is ‘n skuilplek en ‘n skild, ‘n plek van veiligheid en beskerming. Sy woorde is ‘n huis om in te woon. Dit is daarom dat die kontras tussen die gelowiges en die goddeloses geteken word in vers 117-118 deur te wys op die plek wat hulle aan God se openbaring in hulle lewe gee. Die Psalmis verklaar onomwonde dat hy voortdurend aan God se voorskrifte wil aandag gee. Die teenoorgestelde is waar van die goddeloses van die aarde wat van God se voorskrifte afdwaal. Nog erger is mense wat dubbelhartig is, d.w.s. huigel. Mense wat op die oog af instemming betuig met die woord van God, maar hulle lewens nie daardeur laat bepaal nie. Mense wat hoor, maar nie doen nie,

Bid die Psalm

“Ek haat besluitelose mense, maar u gebooie het ek lief. U is my toevlug en beskermer; ek vertrou op u woord. Gaan weg van my, kwaaddoeners, want ek gehoorsaam die gebooie van my God. Hou my staande soos U beloof het sodat ek kan lewe. Laat my nie beskaam wees in my hoop nie. Ondersteun my en ek sal gered word; ek sal u voorskrifte altyd eerbiedig. U verwerp almal wat van u voorskrifte afwyk. Hulle ontrou lei tot selfbedrog. Al die bose mense van die aarde is soos skuim wat U afskep; daarom het ek u waarskuwings lief. Ek bewe van vrees vir U; ek vrees u oordeel.” NLV

Boodskap en betekenis

Dieselfde boodskap as in dié gedeelte van die Psalm word deur Jesus en Jakobus lank hierna uitgespel:

  • Jesus som die Bergrede op met die voorbeeld van die onverstandige man wat sy huis op die sand gebou het en nie kan standhou in die reën nie versus die verstandige met sy huis op die rots wat Jesus se woorde navolg (Matt. 7:24-27)
  • Jakobus spel die gevolge uit van mense wat hoor en nie doen nie met die voorbeeld van die man wat in ‘n spieël na homself kyk, maar dan vergeet hoe hy gelyk het (Jak. 1:19-27). Trouens, Jakobus gaan aan om hierdie ongelooflike belangrike seën uit te spreek – en let op dat hy steeds van God se wet praat wat vrymaak: “Maar wie diep in die volmaakte wet van vryheid inkyk en daarby bly, sal geseënd wees in wat hy doen, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n doener wat sy werk doen.” (Jak. 1:25)

Sulke mense staar verwerping en verwydering in die oë, sê Psalm 119: “soos metaalskuim verwyder U al die goddelose van die aarde.” (Ps. 119:119). Jy kan nie na God se woorde luister en dit nie doen nie. Dit is die dood in die pot vir jou lewe. En, sê die Psalmis, jy moet jou afskei van mense wat kwaaddoen, sodat jy die openbaring van God kan nakom.

Die Psalm ontlok in my dieselfde ontsag vir God se woord as wat ek in die Psalmis raaksien: “Ek bewe van vrees vir U; ek vrees u oordeel;” (Ps. 119:120). Dit ontlok ook in my dieselfde gebed: “Hou my staande soos U beloof het sodat ek kan lewe. Laat my nie beskaam wees in my hoop nie. Ondersteun my en ek sal gered word; ek sal u voorskrifte altyd eerbiedig.” (Ps. 119:116-117). Ondersteuning en onderskraging. My gebed vir dié dag terwyl ek die wil van die Here soek en doen.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Onlangse kommentaar