Skip to main content

Author: Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12

Ons lees vervolgens Matteus se vyf verhale van Jesus se kinderjare of meer korrek, sy peuter jare (0-3).

Matteus fokus op die reaksies van ’n wye reeks mense op die bekendstelling van God se herderleier, Jesus, in vervulling van die OT beloftes. Hy vertel vir ons van die besoek van die sterrekundiges, die reaksies in Jerusalem, die ontmoeting in Betlehem, die vlug na Egipte, die kindermoord deur Herodes, die terugkoms uit Egipte, en die uiteindelike verblyf in Nasaret.

Die gebeure van hoofstuk 2 vind duidelik ‘n tyd ná die geboorte van Jesus plaas. Die sterrekundiges gaan “in die huis” in om voor Jesus neer te kniel en Hom te aanbid. Hulle is dus nie meer in die stal nie. Josef-hulle het dus ‘n geruime tyd in Betlehem gebly vóór hulle eers na Egipte toe uitgewyk het, en daarna in Nasaret gaan bly het.

Continue reading

‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25

18 Die geboorte van Jesus Christus was só: Toe Maria, sy moeder, aan Josef verloof was, voor hulle intiem verkeer het, het dit geblyk dat sy swanger is deur die Heilige Gees.

19 Josef, haar man, was wetsgehoorsaam, maar wou haar nie in die openbaar verneder nie, en het besluit om in die geheim die verlowing met haar te verbreek.

20 Terwyl hy dit oorweeg het, het daar ’n engel van die Here in ’n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om Maria as jou vrou by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is deur die Heilige Gees.

21 Sy sal geboorte gee aan ’n Seun, en jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes verlos.”

22 Dit alles het gebeur sodat vervul sou word wat deur die Here deur middel van die profeet gesê is:

23 “Kyk, die maagd sal swanger word

en geboorte gee aan ’n Seun,

en hulle sal Hom Immanuel noem,” (Jes. 7:14)

wat vertaal word: “God is met ons.”

24 Toe Josef uit sy slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het, en hy het haar by hom as vrou geneem.

25 En hy het nie met haar intiem verkeer totdat sy geboorte gegee het aan ’n seun nie. En hy het Hom Jesus genoem.

Continue reading

Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17

Jesus word as Messias en Koning vir Israel en die nasies gebore

Die Evangelie volgens Matteus word nie om dowe neute aan die begin van die NT geplaas nie. Dit is die Evangelie wat die verhaal van Jesus Christus op die mees direkte wyse aan die OT verbind.

Jesus is volgens Matteus die hoogtepunt en vervulling van die Messiaanse verwagting van die hele OT verhaal. Dit sien ‘n mens in die baie moeite wat Matteus regdeur sy Evangelie doen om Jesus se lewe en bediening aan die vervulling van OT beloftes en profesieë te koppel (meer as 60 aanhalings en toespelings).

Jesus se lewensveranderende woorde (aangebied in vyf toesprake), sy magtige werke (geïllustreer onder andere deur agtien wonderwerke) en sy simboolryke dade (bv. die reiniging van die tempel en die vervloeking van die vyeboom) wys onomwonde dat Hy die langverwagte Messias van die profetiese tradisie is.

Jesus is ook die “Seun van Dawid” (Matt. 1:1 en nog agt ander kere só genoem) en die “Seun van God” (Matt. 14:33 en nog sewe ander kere só genoem, onder andere deur die duiwel, die dissipels en die Romeinse offisier en sy soldate by die kruisiging). Dit is titels wat beide sy menslike as sy Goddelike kant beklemtoon. Hy is beide die nakomeling van Dawid as nakomeling van God.

Hierdie Jesus, sê Matteus, se geboorte kondig sy Koningskap vir Israel en die nasies aan. Sy Koninkryk word veral openbaar deur sy wonderwerke en woordbediening totdat hy sy Koninkryk gevestig het met sy lyding, kruisdood en opstanding aan die einde van die Evangelie.

Geen wonder dus dat dié Evangelie die mees-gebruikte Evangelie van die vroeë kerk was nie, soos ons aflei uit die feit dat die vroeë kerkvaders twee keer meer keer uit dié Evangelie aanhaal in hulle geskrifte as uit die ander drie Evangelies saam.

Continue reading

Inleiding

Matteus

Matteus, die skrywer van hierdie Evangelie, is die dissipel en apostel Matteus in die Evangelies (Matt. 9:9; 10:3) soos deur talle kerkvaders bevestig. Markus en Lukas beskryf hom as Levi in hulle Evangelies (Mrk. 2:14; Luk. 5:27), hoewel hulle hom slegs as Matteus in die lys van apostels insluit (Mrk. 3:18; Luk. 6:15).

Dit is egter waarskynlik dieselfde persoon, omdat al drie Evangelieskrywers dieselfde gebeure met Matteus/Levi se roeping beskryf. Matteus en Levi is beide Hebreeuse name, maar die naam Matteus het ook ‘n Griekse ekwivalent gehad wat “dissipel” beteken. Dit kan die gebruik van die twee name vir Matteus verklaar, die een ‘n Griekse (Matteus), en die ander ‘n Hebreeuse naam (Levi).

Hoewel Matteus/Levi – soos Jakobus, die “Kleinere” – as die “seun van Alfeus” beskrywe word (Mrk. 2:14; vgl. Matt. 10:3; Mrk. 3:18; 15:40; Hand. 1:13), is daar is geen ander historiese getuienis wat hulle as broers aan mekaar koppel nie. Hulle was dus waarskynlik uit verskillende huise afkomstig.

Continue reading

Psalm 150

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 150 roep alles wat asem het op om God te loof: “na die omvang van sy grootheid.” Dit is die laaste van die Psalms wat ingesluit is in die kanon en sluit die vyfde Psalmboek met lof af. Waar elkeen van die ander vier Psalmboeke egter afgesluit is met ‘n vers van lof (Ps. 41:14; 72:18-19; 89:53 en 106:48), word die hele Psalmboek hiermee met ‘n volle loflied afgesluit. Die Psalm bevat tien reëls wat op dieselfde patroon die lof van God besing, amper soos ‘n Tien Gebooie van lof, wat afsluit met ‘n elfde oproep: “Alles wat asem het, moet die Here loof”.

Bid die Psalm

“Loof die Here! Loof God in sy heiligdom! Loof Hom onder sy magtige uitspansel! Loof Hom vir sy magtige dade. Loof Hom vir sy eindelose grootheid. Loof Hom met die ramshoring. Loof Hom met lier en harp! Loof Hom met tamboeryn en koordanse. Loof Hom met snaarinstrumente en fluite! Loof Hom met die klank van simbale. Loof Hom met galmende simbale. Laat alles wat lewe, die Here loof! Loof die Here!” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalm is eintlik baie eenvoudig saamgestel. Die eerste twee verse verklaar dat God oral geloof moet word, in die heiligdom op aarde sowel as in die hemel. Twee redes word gegee:

  1. God se kragtige dade waarmee die geskiedenis waarskynlik betrek word.
  2. God se omvangryke grootheid waarmee die skepping waarskynlik betrek word.

Die laaste vier verse dien as aanmoediging om jou eie stem by dié van die Psalm te voeg en die Here ook waar jy is, te loof met wat ook al tot jou beskikking is. Tien opsies word gegee: ramshorings, harpe, liere, tamboeryne, koordanse, snaarinstrumente, fluite, simbale (2 keer genoem, wat ‘n mens by tien uitbring!), of jou eie stem. Die punt is natuurlik nie dat dié lys van instrumente jou moet beperk nie. Dit moet jou juis vrystel om jou eie stem van lof te vind voor die Here. En sy kragtige dade sowel as sy omvangryke grootheid moet in jou lof ‘n getuienis aan hierdie wêreld word: “Alles wat asem het, moet inderdaad die Here oral loof!”

Dit is die doel van jou bestaan en die hart van jou bestemming as mens.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Dankie vir die saamreis met die Psalms! Môre val ons weg aan die Evangelie van Matteus. Geniet dit!

Onlangse kommentaar