Skip to main content

Author: Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Psalm 125

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm vertolk die vertroue van die pelgrims op die Here. God is vir hulle net so onwankelbaar soos die Sionsberg waarop die tempel gebou is. Trouens, soos hulle na die omringende berge om Jerusalem kyk – omtrent soos ‘n muur van berge wat almal hoër was as die berg in Jerusalem – weet hulle dat die Here sy volk net só sal beskerm, “van nou af tot in ewigheid.” Elke keer as hulle by Jerusalem aankom en die bekende simbole van hulle geloof sien, word hulle dus in dié geloof in God bevestig. God is net so onwankelbaar as die Sionsberg. Hy is net so beskermend soos die muur van berge om Jerusalem. Dit ontlok in hulle die belydenis dat God se onwrikbare beskerming sal keer dat die: “septer van goddeloses” – die simbool van die gevaar van ‘n goddelose regering – nie vir altyd die regverdiges sal verguis, en hulle verlei word om self op ‘n onregverdige manier daarteen op te tree nie. Hiermee verwys die Psalmis na die goddelose heersers wat van tyd tot tyd oor hulle grondgebied die botoon gevoer het. Dit kan selfs wees dat hy verwys na van hulle eie heersers wat die Here nie gedien het nie. Die Psalmis verlaat hom egter nie op die moontlikheid om die reg in eie hande te neem nie, maar op sy vertroue dat die Here nie sal toelaat dat goddeloses vir altyd sal oorheers nie. Daarom is sy belydenis ook ‘n implisiete afwysing van enige poging van die regverdiges om hulle hande met onregverdige optrede vuil te maak. Die enigste legitieme weerstand lê in die vertroue op God self.

Bid die Psalm

“’n Pelgrimslied. Hulle wat op die Here vertrou, is soos Sionsberg; hulle is onbeweeglik en sal vir altyd bly bestaan. Soos daar berge is rondom Jerusalem, so is die Here rondom sy volk nou, en vir altyd. Die septer van goddeloses sal nie bly heers oor die land wat aan regverdiges gegee is nie, anders kan ook húlle in kwaad verval. Here, doen goed aan dié wat goed is, hulle wat opreg van hart is. Maar mag die Here dié verwyder wat saam met boosdoeners op verkeerde paaie loop. Mag daar vir Israel vrede wees.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalmis bid drie gebede vir en oor die geloofsgemeenskap in vers 4-5. Drie gebede wat jy gerus vandag vir jouself en jou mense, sowel as vir ons land kan bid.

  • Here, doen goed aan die goeies.
  • Here, suiwer die gemeenskap van u kinders van meelopers van boosdoeners.
  • Gee vrede vir u kinders.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 124

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm van Dawid is bedoel vir die einde van ‘n tydperk van dreigende gevaar. Die gevaar is getrotseer en die belydenis dat die Here vir hulle is, het geblyk nie net teoreties waar te wees nie, maar in die praktyk van die lewe. Hulle – let op die meervoud – voel soos ‘n klomp voëls wat in ‘n net vasgevang was, maar die net is gebreek en hulle kon ontvlug. Nou begelei die liturg die pelgrims by die tempel om die vreugde van hulle verlossing te bely: “laat Israel dit nou maar sê”. Almal neem die refrein waarmee die liturg begin op, en sê saam: “As die Here nie aan ons kant was nie… sou hulle ons lewendig ingesluk het in die hitte van hulle toorn teen ons.”

Bid die Psalm

“’n Pelgrimslied. Van Dawid. As die Here nie aan ons kant was nie, laat Israel dit nou maar sê, as die Here nie aan ons kant was toe mense ons aangeval het nie, sou hulle ons lewendig ingesluk het in die hitte van hulle toorn teen ons. Die waters sou ons oorspoel het; strome sou ons oorweldig het. Die woeste waters sou ons weggesleur het. Lof aan die Here wat ons nie as prooi aan hulle oorgegee het nie. Ons het ontsnap soos voëls uit ’n voëlvanger se wip. Die wip is gebreek, en ons het ontvlug! Ons hulp kom van die Here, wat hemel en aarde gemaak het.” NLV

Boodskap en betekenis

Die verlossing van die Here het in ‘n situasie van opstand en woede gebeur waarin dit gevoel het asof hulle lewendig ingesluk word in ‘n vernietigende konflik, asof ‘n stroom tierende waters besig was om hulle lewens te oorweldig. Maar, nou kan hulle hier in die tempel die Here kom prys dat Hy hulle nie oorgegee het aan die verskeurende tande van woedende mense nie, en hulle laat ontvlug het van die valstrik wat vir hulle gespan is. Daarom kan hulle (weer – vgl. Ps. 121) met nog meer oorgawe bely: “Ons hulp kom van die Here, wat hemel en aarde gemaak het.” Inderdaad! Onthou, elke keer as ‘n predikant dié vers weer aanhaal aan die begin van ‘n erediens, dít is die agtergrond van dié belangrike bevestigende belydenis. God se hulp kom IN die konflik van die lewe tot sy reg. En ons almal kan daarvan getuig, waar ons getrou bly aan die Here, ons oë gerig is op sy hand (Ps. 123:2), ons in afhanklikheid van Hom lewe: “As die Here nie vir ons was nie…”

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Nuusbrief Augustus 2026

Ek deel graag in hierdie nuusbrief ‘n refleksie “Wanneer die storm kom”, ‘n paar veranderinge in my opdrag in Veritas, twee getuienisse van ons MA studente, ‘n getuienis uit die Libanon waar ons fondasie opleiding regtig grond gevat het, ‘n paar gebedsversoeke onder andere vir die groei in my bediening en ek sluit met ‘n persoonlike woord van bemoediging.

Lees meer…

Skryf hier in vir die nuusbrief

Psalm 123

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm gebruik die metafoor van ‘n huishouding waar daar ‘n eienaar en eienares is saam met slawe (meervoud) en slavinne (eintlik enkelvoud: “slawedogter”, want daar was waarskynlik minder vroulike slawe as manlikes) en plaas die geloofsgemeenskap in die skoene van hierdie slawe. Hulle is volledig afhanklik van die genade van hulle eienaars. Hulle oë is gerig op die geringste beweging van die hand van hulle eienaars om bv. vir hulle kos te gee of in ander behoeftes te voorsien. Só is ons ook totaal afhanklik van die genade van die Here, ons God, wat in die hemel heers.

Bid die Psalm

“’n Pelgrimslied. Ek kyk op na U, U wat in die hemel woon. Soos oë van slawe gerig is op die hand van hulle meester, soos die oë van ’n slawedogter gerig is op die hand van haar werkgeefster, so is ons oë gerig op die Here ons God totdat Hy genadig is oor ons. Wees genadig oor ons, Here, wees ons genadig, want ons het baie veragting verduur. Ons het baie spot verduur van hoogmoediges, en veragting van die hooghartiges.

Boodskap en betekenis

Dit is die geloof wat die pelgrims voor mekaar bely het terwyl hulle deur die veld gestap het onder die blote hemel op pad na Jerusalem. Dit is hierdie erkenning waarin hulle almal hulle hoop vind in hulle verhouding met die Here. Maar, dit is nie net ‘n belydenis nie. Dit is ook hulle gebed. As ‘n mens weet dat jy van God afhanklik is, soos Jesus in die Bergrede ons ook geleer het, dán verander die kwaliteit van jou gebede. Dán weet jy dat goeie dinge altyd en alleen uit God se hand na jou toe kom. Soos Psalm 145:15-16 later die prentjie van God sal inkleur: “Die oë van almal is op U gerig, en U gee hulle kos op hulle tyd. U maak u hand oop en skenk u guns in oorvloed aan al wat leef.” Dit is die God wat ons dien! Daarom bid hulle saam – oral op hulle reis, selfs in Jerusalem – dat God se genade oorvloedig sal wees oor hulle, veral waar hulle as gelowiges baie keer uitgelewer is aan mense wat hulle hooghartig minag en selfvoldaan spot. Daarom die gebed: “wees ons genadig, want ons het baie veragting verduur.” Presies waaroor dié spotlag en minagting gegaan het, word nie uitgespel nie, maar dit beteken dat elkeen van ons eintlik ons eie situasie daarin kan lees, soos inderdaad die pelgrims ook kon doen. En let op dat die Psalmis sê dat ons oë op God gerig is totdat Hy ons genadig is. Bely daarom jou afhanklikheid voor die Here en stort jou hart uit voor hom oor dié dinge wat ook jou keel vandag wil laat toetrek. En moenie ophou nie. Die Here sal luister en Hy sal jou deur enigiets dra. Laat jou oë gerig wees op die geringste handbeweging van die Here, ons Here, totdat Hy jou genadig is.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 122

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm van Dawid reflekteer die vreugde van die aankoms van die pelgrims in Jerusalem. Die Psalmis was alreeds bly toe hulle weggetrek het na die huis van die Here, maar nou is sy voete in die poorte van Jerusalem, dié stad wat gebou is in die eerste plek as ‘n stad wat die volk as ‘n eenheid saamsnoer en waar die Here volgens sy eie voorskrifte geloof kan word. Nie net is dit in die tweede plek die stad waar die lofsange vir God weerklink nie, maar dit is ook in die derde plek die stad waar regspraak gelewer word onder die bekwame leiding van die koning. Dit is daarom ook die drievoudige seën van Jerusalem: dit skep eenheid onder die volk, dit bring lof aan God vanuit die geloofsgemeenskap, en dit bring vrede deur die regspraak wat billik en volgens God se voorskrifte geskied.

Bid die Psalm

“’n Pelgrimslied. Van Dawid. Ek was bly toe hulle vir my gesê het: “Kom ons gaan na die huis van die Here.” Nou staan ons voete hier, binne-in jou poorte, Jerusalem. Jerusalem is ’n stad wat stewig gebou is, waarheen die stamme opgaan, die stamme van die Here. Dis ’n vereiste vir Israel dat die Naam van die Here daar geprys moet word. Daar staan die trone vir regspraak, die trone van die huis van Dawid. Bid vir die vrede van Jerusalem, vir kalmte by almal wat jou liefhet. Mag daar vrede wees binne jou mure, rus in jou paleise. Ter wille van my broers en vriende is my wens: “Mag daar vrede in jou wees!” Ter wille van die huis van die Here ons God bid ek: “Mag dit goed gaan met jou!” NLV

Boodskap en betekenis

Omdat Jerusalem, die sentrum van die geloofsgemeenskap se aanbidding, só belangrik was, nooi die Psalmis sy medepelgrims uit om in die eerste plek te bid vir vrede vir Jerusalem, die plek self, sodat dié wat in hulle liefde vir die plek verenig is, rustig kan woon, en sy verdedigingswalle kan hou teen alle aanvalle en daar rustigheid in die vestings van die volk kan wees. In die tweede plek nooi hy sy medepelgrims uit om te bid ter wille van gelowiges (familie en vriende) in Jerusalem sodat hulle vrede kan geniet. In die derde plek nooi hy sy medepelgrims uit om te bid ter wille van die tempel, die plek van God se teenwoordigheid, in Jerusalem sodat dit altyd met hulle goed sal gaan. Dit is daarom ook die drievoudige gebed vir Jerusalem: die stad self het vrede nodig, die gelowiges het vrede nodig, en die tempel het vrede nodig, sodat die drievoudige seën, die eenheid onder die volk, die lof aan God en die vrede deur regspraak tot hulle reg kan kom. Ons onderskat soms die effek wat vrede kan hê op eenheid, lof en regspraak. Dit is daarom een van die mees basiese dinge waarvoor ons kan bid. Soos Paulus in die NT vir Timoteus oproep om sy mense te leer: “Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid.” (1 Tim. 2:1-2).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Onlangse kommentaar