Psalm 121
Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.
Ons Vader
“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)
Teks en konteks
Hierdie Psalm verwoord die bewussyn van pelgrims dat hulle nie op hulle eie die gevaarlike tog na Jerusalem kan aanpak, sonder dat die Here as hulle Beskermer optree nie. Trouens, sy beskerming is nodig in elke faset van die lewe. Die Psalmis kyk dus op na die berge en vra amper op ‘n retoriese wyse vanwaar sy hulp sal kom. En antwoord onmiddellik dat dit van die Here, die Skepper (Maker) van die hemel en die aarde af sal kom. Die berge kan op verskillende maniere geïnterpreteer word (negatief of positief):
- Dit kan die fisiese berge wees wat ‘n uitdaging was op hulle reis (vgl. Ps. 23:4 se “donker klowe”) (negatief).
- Dit kan die berge van Jerusalem wees waarop die tempel gebou was as simbool van God se teenwoordigheid (positief).
Die beskrywing van God is dan met die negatiewe interpretasie ‘n uitkoms in gevaar, en met ‘n positiewe interpretasie die bron van die uitkoms in gevaar. Hoe dit ook al sy, die Psalm besing dus die beskerming van die Here teen fisiese en geestelike gevaar. Regdeur word die klem daarop geplaas. Ses keer word verskillende verbuigings van die Hebreeuse woord beskerm of wag hou (sjâmar) gebruik wat op God se beskerming van die pelgrims van toepassing gemaak word.
Bid die Psalm
“’n Pelgrimslied. Ek kyk op na die berge. Kom my hulp daarvandaan? Nee, my hulp kom van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Hy laat jou voet nie struikel nie; Hy wat waak oor jou, slaap nie. Hy wat oor Israel waak, sal nooit sluimer of slaap nie. Die Here waak self oor jou. Die Here is jou beskermer aan jou regterkant. Die son sal jou bedags nie aantas nie, nog minder die maan in die nag. Die Here bewaar jou van alle kwaad en Hy beskerm jou lewe. Die Here hou wag oor jou, of jy kom of gaan, nou en vir altyd.” NLV
Boodskap en betekenis
Dié Psalm bely dus ‘n God wat op omvattende wyse vir sy mense sorg. Hy is paraat in elke omstandigheid wat hulle kan tref. En Hy doen dit: “nou en vir altyd”:
- Twee keer word gesê dat dié Beskermer van Israel nie insluimer of slaap nie, d.w.s Hy sal dus nie toelaat dat jou voet struikel nie. Hy is met jou in alles wat jy doen (Ps. 121:3). GOD LAAT NIE TOE DAT JY STRUIKEL NIE.
- Die Beskermer doen dit nou en vir altyd, d.w.s. Hy sal nie soos ‘n wag op diens aan die slaap raak nie. Hy is dus met jou selfs wanneer jy slaap (Ps. 121:4,8). GOD HOU ALTYD WAG OOR JOU.
- Hierdie Beskermer is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie (Ps. 121:5). GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
- Hierdie Beskermer sorg dat die son jou nie bedags “dodelik tref” nie en snags ook nie die maan nie (Ps. 121:6). Die son en maan is baie keer met “gode” verbind. Dit kan ook as metafore staan vir alles wat ‘n mens kan tref regdeur die dag. God is dus daar waar jy nie noodwendig beheer het nie. GOD SORG VIR JOU TEEN BOSE AANVALLE.
- Die Beskermer beskerm teen alle onheil wat jou lewe bedreig. Hy is daar waar jy geen impak kan maak uit eie krag nie (Ps. 121:7). GOD SORG VIR JOU IN ALLE ONHEIL.
- Die Beskermer sorg vir jou uitgaan en jou terugkoms, d.w.s. wanneer jy van die huis af weggaan en wanneer jy daarheen terugkeer (Ps. 121:8). GOD SORG VIR JOU OP ELKE REIS.
Jy kan dus vandag ingaan met dié versekering van God as Beskermer. Daar is nie ‘n beter belofte as dít nie. Jy kan op Hom staatmaak en van Hom afhanklik lewe. Hy is in staat om vir jou te sorg. In die NT word dié belydenis uitgebrei dat hierdie beskerming van God nie net met aardse beskerming te make het nie, maar veral met die beskerming vir God se koninkryk. Ons oog is dus nie meer soseer op die aardse Jerusalem gerig nie, maar op die hemelse Jerusalem. Ons kan dié Psalm dus ontvang as ‘n belofte dat die Here ons sal beskerm om in sy hemelse koninkryk aan te kom. Soos Paulus dit ook bely: “Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid! Amen.” (2 Tim. 4:18).
Lofprysing
“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)
Onlangse kommentaar