Inleiding op die boek Rigters
Die boek Rigters
Die skrywer(s) van Rigters is nie vir ons bekend nie. Die verhale is as deel van die Vroeë Profete – Josua, Rigters, 1&2 Samuel, 1&2 Konings – versamel en waarskynlik voltooi deur ‘n redaksie proses óf net ná die tyd van die oorlog teen die Filistyne in ongeveer 1070 vC (1 Sam 4) óf net na die Assiriese ballingskap van die tien noordelike stamme in 722 vC (2 Kon 15:29).
Dit lei ons af uit Rigters 18:30-31 waarin die verwysing na Silo ons aan die Filistynse oorlog in die 11de eeu vC laat dink en die verwysing na die ballingskap aan die wegvoering na Assirië in die 8ste eeu vC.
Dit kan ook wees dat die ballingskap – die plek waarheen word nie in die teks gespesifiseer nie – eintlik na die verwoesting van Silo verwys, dws dat dit dieselfde gebeurtenis was soos dit moontlik uit ander verwysings in die Bybel daarheen afgelei kan word (Jer 7:12,14; 26:6; Ps 78:60). Die argeologiese getuienis dui ook in die rigting daarvan dat Silo in 1050 vC verwoes is wat beteken dat dit ‘n meer lokale wegvoering kon wees net ná die gebeure in 1 Samuel 4.
Hoe dit ook al sy, die boek is waarskynlik lank vóór die latere ballingskap na Babilon in die vroeg 6de eeu vC voltooi.
Die stryd om te oorleef tussen die nasies
Die boek handel oor die tyd na die aanvanklike inname van die land deur Josua. Die stryd om te oorleef in die land tussen die nasies wat steeds daar gebly het, is in volle swang. Die boek dek dus die verhaal van die wel en wee van die volk tussen ongeveer 1400 en 1050 vC. Dit lei ons af uit die verhaal van Jefta wat optree in ongeveer 1100 vC (ongeveer ‘n halwe eeu voor Saul se koningskap vanaf 1050 vC as ‘n mens Jefta se ses jaar by dié van Ibsan se sewe en die Filistynse oorheersing van 40 jaar in die tyd van Simson bymekaar tel tot en met Samuel se rigterstyd). Die Intog het volgens Jefta 300 jaar gelede gebeur (Rigt 11:26).
Dit is duidelik dat die tyd van die rigters ‘n tyd van groot afvalligheid en ongehoorsaamheid aan die Here was. Die volk het telkens weer afvallig geraak van die Here en die omringende nasies se afgode aanbid en by hulle onsedelikheid betrokke geraak. Presies dié dinge waarteen Josua, en voor hom Moses, hulle gewaarsku het.
Die leiers wat die Here gebruik het om van tyd tot tyd in te gryp, was egter nie van dieselfde statuur as ‘n Moses en ‘n Josua nie. Dit het beteken dat die verlossing wat die Here deur hulle bewerk het, meesal net vir ‘n tyd was, waarna die volk weer afvallig geraak het.
Waar Josua die land aanvanklik in ‘n groot “platvee”-veldtog aan Israel onderhorig gemaak het, was elke stam verantwoordelik daarvoor om in ‘n langdurige “skoonmaak”-veldtog die gebied wat aan hulle toegeken is, te verower.
Al die stamme het egter nie met ewe veel sukses hulle gebiede verower nie. Juda het wel die meeste sukses daarmee behaal, behalwe vir die gebied rondom Jerusalem. Maar die ander stamme was minder suksesvol. Geen wonder dat met die eerste ballingskap in 722 vC dit die tien noordelike stamme was wat eerste weggevoer is nie. Hulle kon nie daarin slaag om volhardend die suigkrag van die Kanaänitiese invloed te ontvlug nie.
Die inname van en vestiging in Kanaän was daarom net nie omvattend genoeg nie. ‘n Groot aantal Kanaänitiese volkere het tussen die Israeliete bly voortbestaan. Dit het beteken dat daar telkens die versoeking was om deel te neem aan die heidense feeste, waarin veral die afgodery en onsedelikheid daarvan ‘n impak op die volk en hulle verhouding met die Here gehad het.
Een uitsondering was die Keniete wat waarskynlik saam met Israel getrek het en ‘n deel van die grondgebied van Juda gekry het. Hulle was familie van Israel via Jetro. Hy was ‘n afstammeling van Abraham se seun Midian by sy vrou Ketura. Moses was ook getroud met Jetro se dogter, Sippora, ‘n Kenitiese vrou.
Daarom veg die Keniete saam met Israel in verskillende gevegte teen die Kanaäniete, soos die verhaal van Jael wat vir Sisera doodgemaak het, illustreer (Rigt 4).
Die siklus van verval, straf, roep na God en verlossing
Die verskillende verhale van dié Rigterstyd word kenmerkend in dieselfde patroon gegiet:
- VERVAL: Elke verhaal begin met die volk wat afvallig word.
- STRAF: Die Here straf die volk en gee hulle oor aan onderwerping en onderdrukking deur die omringende nasies.
- ROEP NA GOD: As die volk te swaar begin kry, kom hulle tot inkeer, en roep na die Here om uitkoms.
- VERLOS: Dan luister die Here, stuur ‘n leier om hulle uit hulle penarie te red en verlos hulle.
Net om daarna maar weer te sien dat die volk afvallig word, gestraf word, roep na die Here en uit genade verlos word. ‘n Konstante siklus van verval en verlossing.
Die leier wat die Here telkens gestuur het, was soms ‘n onbelangrike persoon – Gideon – óf ‘n onkonvensionele een – Ehud en Jael was sluipmoordenaars, Jefta was ’n huursoldaat, óf ‘n persoon van twyfelagtige moraliteit – Simson wat net nie vroue kon uitlos nie.
Aan die een kant wys dit iets van die beskikbare leierskap materiaal, maar aan die ander kant darem ook iets van die genade van die Here wat deur enigiemand sy verlossingswerk tot stand kan bring. Daar was darem ook die onkreukbare Debora!
Geeneen van hierdie leiers kon egter daarin slaag om Israel in ‘n standvastige lojale verhouding met die Here te plaas nie. Die boek eindig dus op ’n noot van wanhoop wanneer daar nie eers meer rigters in Israel te vinde is nie en elkeen begin doen het wat reg is in sy eie oë: “In daardie tyd was daar nog nie ’n koning in Israel nie, en elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.” (Rigt 21:25).
Die verhaal van Rut, ‘n Moabiet, wat met Boas trou en met dié tyd verbind word, was hierin ‘n hoopvolle uitsondering. Sy het die Here met haar hele hart gedien en is daarom soos Ragab, ma van Boas, ingesluit in die geslagsregister van die uiteindelike Messias, Jesus Christus. Ragab was dus, naas Naomi, Rut se tweede skoonma!
Die wanhoop waarmee die boek Rigters afsluit, het daarmee egter die tafel gedek vir die behoefte aan en verwagting vir ‘n koning wat met die verhale van die profeet en rigter Samuel en die salwing van die konings Saul en Dawid, in vervulling gaan.
Wie was die Rigters?
Sommige geleerdes maak baie van ‘n vermeende verskil tussen die sogenaamde groot rigters (Debora-Barak, Gideon, Simson) en die klein rigters (Tola, Jair). Hulle beskryf die groot rigters as charismatiese leiers, wat vir hulle taak deur God geroep is, en die kleiner rigters as regters wat die volk met regsuitsprake gedien het.
Die meeste ander geleerdes dink egter dat die verskil eintlik net daaraan te wyte is dat daar oor sommige rigters meer geskrywe is as oor ander, moontlik omdat hulle meer vir Israel op militêre gebied beteken het. Debora, ‘n sogenaamde groot charismatiese rigter, het duidelik ook regspraak beoefen (Rigt 4:4-5).
Die Hebreeuse woord vir rigter (šôp̄ēṭ) word daarom as regter, regeerder of leier verklaar (so vind ons dit ook in die Mari-tablette en Ugaritiese tekste) wat jou ‘n oorhoofse idee gee van wat die rigters gedoen het. Hulle is almal deur die Here geroep om die volk as leiers te verlos. Hulle het baie keer regspraak beoefen (Debora). Hulle het soms as regeerders opgetree hoewel met wisselende sukses (Abimelek).
Weens die charismatiese kant van baie van die rigters kan hierdie tyd as ‘n tyd van helde beskryf word, wat die epiese aard van die verhale verklaar.
Dit is egter duidelik dat elkeen van hierdie rigters hulle roeping van die Here as die eintlike Rigter (of Regter) ontvang het, soos Hy dit inderdaad genoem word in die boek (Rigt 11:27). Dit is hierdie Goddelike Rigter wat deur die menslike rigters sy beslissings uitgevoer het.
Indeling van die boek
Die boek bestaan uit drie dele:
1. Die siklus van verval, straf, roep na God, verlossing – Rigters 1:1-3:6
In die eerste deel word die tema van die boek ingelei in twee dele:
- die verloop van die verowering van die land in die suide en noorde van die land en
- ‘n samevatting van die patroon wat in die res van die boek gevolg sal word: afvalligheid, straf, roep na God, verlossing deur ‘n rigter.
2. Variasies op die siklus van verval en verlossing – Rigters 3:7–16:31
In die tweede deel word die verhale van afvalligheid, straf, roep na die Here en verlossing deur 12 verskillende leiers (wat ooreenstem met die aantal stamme van Israel) in die proses van die verowering van die land vertel:
2.2 Ses groter rigters
- Otniël – hy kom uit Juda en veg teen die Arameërs. Sy verhaal is ‘n patroon vir die verhale van die res van die rigters wat hierna vertel word – Rigters 3:7-11;
- Ehud – uit Benjamin teen die Moabiete – Rigters 3:12-30;
- Debora (en Barak) – uit Efraim teen die Noordelike koalisie – Rigters 4:1-5:31;
- Gideon (Jerubbaäl – en sy seun Abimelek) – uit Manasse teen die Midianiete en Amalekiete – Rigters 6:1-9:57;
- Jefta – uit Manasse teen die Ammoniete – Rigters 10:6-12:7;
- Simson – uit Dan teen die Filistyne – Rigters 13:1-16:31;
Gideon se verhaal kan as die hart van hierdie gedeelte geneem word, waarmee eintlik ‘n vraag op die tafel gesit word: Wie is Israel se koning? Dit lei ons ook af uit die feit dat Gideon se seun se naam Abimelek is, dit beteken “My pa is koning”.
2.3 Ses kleiner rigters
Ons vind hulle verspreid deur die boek in drie (vier) hoofstukke – Rigters 3 (5), 10, en 12.
- Samgar – Rigters 3:31 (5:6);
- Tola – Rigters 10:1-2;
- Jaïr – Rigters 10:3-5;
- Ibsan – Rigters 12:8-10;
- Elon – Rigters 12:11-12;
- Abdon – Rigters 12:13-15.
3. Die dreigende anargie van hierdie tyd – Rigters 17:1–21:25
Die derde deel skets die onverkwiklike situasie wat dreig dat die volk in totale anargie kan verval, waar elkeen uiteindelik slegs na eie goeddunke sal optree.
- Dit sluit afgodediens in met Miga wat sy eie afgode maak en ‘n Leviet as priester aanstel om die guns van die Here te probeer verseker (Rigt 17). Dit lei ironies genoeg tot die kaping van dié Leviet deur die manne van Dan, aan die trek na hulle eie grondgebied, wat hom en die afgodsbeelde vir hulleself neem, tot groot ontsteltenis van Miga (Rigt 18).
- Dit sluit erge onsedelikheid in met die grusame verhaal van die manne van Gibea in Benjamin wat (‘n ander) Leviet gewelddadig wou verkrag soos die manne van Sodom en Gomorra dit vroeër met Lot se engel-gaste wou doen. Die Leviet gee egter sy byvrou vir hulle wat hy so pas by haar pa gaan haal het in Betlehem, nadat sy ontrou was aan hom. Sy sterf weens die grusame groepsverkragting (Rigt 19).
- Die reperkussies hiervan is groot met amper die hele Israel wat teen Gibea in Benjamin optrek in ‘n burgeroorlog met groot verliese onder al die stamme, maar met Benjamin uiteindelike die grootste verloorder. Hulle word amper heeltemal uitgewis (Rigt 20).
- Dit lei tot ‘n uiters onverkwiklike besluit om by ‘n volksvergadering die mense wat nie opgedaag het vir die gesamentlike fees nie – die mense van Jabes in Gilead – in ‘n volksmoord uit te wis en hulle dogters vir die Benjaminiete te gee sodat die stam weer gevestig kon word. Toe daar egter nie genoeg vrouens was nie, het hulle die Benjaminiete toegelaat om vir hulle vrouens te steel en ontvoer by die jaarlikse fees in Silo. Skrikwekkend (Rigt 21).
Elkeen het doodgewoon gedoen wat reg was in sy eie oë. Daar was nie ‘n wydverspreide gesonde geestelike omgewing nie. Daar was geen algemene gesonde gemeenskapslewe nie. Daar is gehuiwer op die rand van anargie in sy ergste vorm. Dié situasie is eers met die koms van die priester-profeet-rigter Samuel (1 Samuel) in die regte rigting gestuur met veral koning Dawid (2 Samuel) en koning Salomo met die bou van die tempel (1 Konings) wat ‘n stuk stabiliteit en voorspoed gebring het, hoewel selfs dit op die lang termyn uiteindelik ook nie genoeg was nie, en die volk in ballingskap gevoer is (2 Konings). ‘n Tragiese geskiedenis.
‘n Terugblik uit die OT
Die bril van Samuel
In die OT verwys Samuel terug na die rigters. Hy sluit homself in by hulle, want hy was natuurlik inderdaad ‘n rigter, iemand wat vir ‘n spesifieke tyd en taak geroep is (sy voorganger Eli was natuurlik ook ‘n rigter, hoewel baie oneffektief – 1 Sam 4:18). Samuel is eerlik oor die tragedie van die volk se vergeetagtigheid die afgelope paar eeue en die onafwendbare negatiewe reaksie van die Here telkens daarop.
Samuel verwys na drie van dié konflikte, dié binne die land met Jabin van Hasor, dié met die Filistyne in die weste en dié met die Moabiete in die ooste, sonder om daarmee volledig te probeer wees: “Maar julle voorvaders het die Here hulle God vergeet. Hy het hulle oorgegee in die mag van Sisera, die leëraanvoerder van Hasor, en in die mag van die Filistyne en van die koning van Moab, wat almal teen julle voorvaders oorlog gemaak het.” (1 Sam 12:9).
Hy oordeel egter geweldig positief oor God se ingrype deur die rigters wat Hy ook telkens gegee het as die volk na Hom geroep het om hulp en hulle sondes van afgodery bely het (1 Sam 12:10). Samuel noem dan drie van die rigters, weereens sonder om volledig te probeer wees. Samgar en Simson het bv teen die Filistyne geveg, maar word nie hier uitgesonder nie.
Samuel noem Jerubbaäl (Gideon – teen die Midianiete), Barak (teen Hasor), en Jefta (teen die Moabiete) wat in daardie tyd as rigters geroep is en sluit homself daarby in.
Die Here se ingrype het telkens die gewenste uitwerking gehad. Deur hierdie rigters het die Here die volk telkens bevry uit die mag van die vyande rondom hulle “sodat julle rustig kon woon.” (1 Sam 12:11).
Samuel spreek daarom die volk aan oor hulle behoefte aan ‘n koning, omdat uit sy perspektief die Rigterstyd eintlik bewys dat die Here nie net die koning oor hulle is nie, maar in staat is om die anargie hok te slaan deur die mense wat Hy daarvoor opgewek het. (1 Sam 12:12).
Samuel was baie bang dat in plaas daarvan dat die vreemde nasies van tyd tot tyd oor hulle sou heers, dit nou die verskillende konings sou wees wat oor hulle heers. Dit wou hy voorkom, maar die aandrang op ‘n koning was net te groot. En die Here het dié verandering goedgekeur nadat die volk herhaaldelik daarvoor gevra het.
Daarom het Samuel vir Saul en later Dawid as konings gesalf. ‘n Instelling wat sy voordele gebring het, maar uiteindelik ná die verdeling in twee ryke tot twee ballingskappe gelei het.
Die punt is egter net dat hierdie perspektief van Samuel die ontsteltenis wat die voortdurende siklus van verval en verlossing by ‘n mens bring, ‘n bietjie temper. Die rigters wat uit die volk vir ‘n spesifieke doel geroep is en wat net vir ‘n spesifieke tydperk gesalf is, het goed gewerk. Die konings het miskien ‘n meer stabiele samelewing gebring, veral aanvanklik, maar het ook ‘n situasie van uitbuiting geskep deur die mag wat in die koning se hande geplaas is.
Die oordeel wat ons oor die tyd van die rigters fel, moet dus met hierdie meer positiewe perspektief getemper word. Met die koms van die Messias kry ons in ‘n sekere sin eintlik die bedeling van die Rigterstyd terug met die Here Jesus Christus as koning wat sy mense van hulle afvalligheid genees, en deur sy Gees genadegawes uitdeel waarmee Hy sy koninkryk vestig.
Die bril van Psalm 106
Hierdie tragiese geskiedenis word ook in Psalm 106:34-46 gebruik as enersyds ‘n teregwysing van die volk in ballingskap, waarskynlik in die 6de eeu vC, om nie in dieselfde slaggate te trap as hulle voorouers nie. Dit word andersyds ook as ‘n aanmoediging gebruik om in hulle predikament staat te maak op die Here se genade en geduld wat hulle kan red, soos Hy dit telkens deur die rigters gedoen het.
Daarom kan die Psalmis die gemeente oproep: “Red ons, Here ons God, maak ons bymekaar tussen die volke uit, dat ons u heilige Naam kan loof en ons in u lof kan verheug. Aan die Here die God van Israel kom die lof toe tot in die allerverste toekoms. Die hele volk moet sê: “Amen! Prys die Here!” (Ps 106:47-48 –Dawid het dié verse ook gebruik in ‘n ander konteks met die ontvangs van die ark in Jerusalem: 1 Kron 16).
God se troue liefde is regtig vir ewig. Dit sien ons ook in hierdie verhaal van die opstaan en val, opstaan en val van die volk van Israel. Telkens red die Here hulle weer. Hoekom? Want Hy is fundamenteel goed. En Hy wys dit deur sy troue liefde.
God se troue liefde is daarom die basis vir ons eie vertroue op God. So leer ons alreeds in die OT. In sy troue liefde sien ons God se goedheid en motiveer dit ons om ten spyte van watter situasie ons ons ook al in mag bevind, ons Hom om uitkoms kan nader.
Dit is die diep boodskap van die evangelie soos die Reformasie dit onder andere geformuleer het: uit genade alleen (Sola Gratia). Daarby kom natuurlik ook die ander solas: deur geloof alleen (Sola Fide), deur die Skrif alleen (Sola Scriptura), deur Christus alleen (Solus Christus), en aan God alleen al die eer (Soli Deo Gloria).
Maar in hierdie Psalm staan die genade voorop, God se guns ten spyte van sonde en opstand. Dit is op God se genade wat ons onsself kan verlaat, dié Een wat ewig is en goed, en dit wys in sy troue liefde.
“U het ons verlos, Here ons God. Prys die Here!”
‘n Terugblik uit die NT
Dit is waarom die oordeel van die NT oor die Rigterstyd ook nie so negatief is as wat ons miskien sou verwag nie. Ja, die anargie, veral dit wat in die laaste vier hoofstukke beskryf word, was verskriklik. Maar dit is nie al waarvan die boek ons vertel nie. En die NT is nie blind daarvoor nie.
Stefanus verwys alreeds kursories na die Here se hand in die Vestiging in die land, sonder om die rigters by name te noem (Hand 7:45).
Paulus verwys op sy eerste sendingreis ook met groot lof na alles wat God in dié tyd gedoen het in sy toespraak in Antiogië in Pisidië (Turkye). Die Here het die volk reeds in die woestyn geduldig verdra, sê Paulus, en daarna die sewe nasies in die land Kanaän uitgewis om hulle land aan die Israeliete te gee. Dit is onder sy leiding wat die rigters oor die land geregeer het tot met die tyd van die konings (Hand 13:19-20 – die 450 jaar waarna hy verwys, is waarskynlik die 400 jaar in Egipte, die 40 jaar in die woestyn en ‘n 10 jaar vir die aanvanklike Intog se oorloë, waarna die rigters opgetree het).
Maar dit is veral die Hebreërskrywer wat vol lof is ook vir die rigters self. As hy terugdink aan die Rigterstyd dan sluit hy vyf van die rigters in as geloofshelde: “En wat moet ek nog meer sê? Die tyd ontbreek my om te vertel van Gideon (Jerubbaäl), Barak, Simson en Jefta, van Dawid, Samuel en die profete.” (Hebr 11:32). Hulle word in dieselfde asem as koning Dawid en die profete genoem. Trouens, nie een van die profete se name word genoem nie, net dié van die rigters.
Die skrywer lys van die dinge wat hierdie rigters onder andere gedoen het wat hulle laat kwalifiseer vir die galery van geloofshelde: “Deur die geloof het hulle koninkryke verower, die reg van God gehandhaaf en verkry wat God beloof het; hulle het leeus se bekke toegestop, gloeiende vuur geblus en aan die swaard ontkom; hulle het in swakheid krag ontvang, was sterk in oorlog en het die leërs van vreemdes op die vlug gejaag. Vroue het hulle dooies teruggekry, opgewek uit die dood. Ander gelowiges wou nie die prys vir hulle eie vrylating betaal nie en is doodgemartel; hulle wou die opstanding tot ’n beter lewe deelagtig word. Ander weer het bespotting en lyfstraf verduur, selfs boeie en gevangenskap. Gelowiges is met klippe doodgegooi, in stukke gesaag, met die swaard vermoor. Hulle het rondgeswerf in skaapvelle en in bokvelle. Hulle het gebrek gely, is verdruk en mishandel. Die wêreld was hulle nie werd nie; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en het in grotte en in gate in die grond gelewe.” (Hebr 11:33-38).
Die beste perspektief hou die Hebreërskrywer egter vir laaste, en dit is dat baie van dié geloofshelde nie gekry het wat beloof is nie, al het hulle met hulle hele wese uitgesien daarna, omdat God nie wou hê dat hulle die voleinding bereik sonder ons nie: “En hoewel daar oor hulle almal vanweë hulle geloof met soveel lof getuig is, het hulle nie verkry wat beloof is nie, omdat God vir ons iets beters beoog het, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie.” (Hebr 11:39-40).
Voordat ons dus ‘n te onbarmhartige oordeel oor die rigters fel en oor die tyd waarin hulle opgetree het, dink daaraan dat dit deel van God se beplanning was ter wille van ons. As hulle die voleinding sou bereik het in hulle eie tyd, sou ons miskien nooit die lig gesien het nie.
Maar, dit beteken ook dat ons die oproep in Hebreërs 12 moet hoor dat ons die laste moet afgooi en die sonde wat ons so maklik verstrik en ons geloofswedloop hardloop met die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinding van die geloof.
Ons moet immers die geduld wat ons Here met ons het, beskou as geleentheid om gered te word, soos Petrus ons herinner (2 Pet 3:15). En al die verhale van die rigters, hoe gebrekkig hulle ook al opgetree het, is vir ons ‘n aansporing en bemoediging in die geloof, omdat ons in hulle God se geduld en genade aan die werk sien.
Anders loop ons ook die gevaar van anargie in ons eie geestelike lewe, waar elkeen doodgewoon doen wat reg is in sy eie oë.
View all posts in this series
- Inleiding op die boek Rigters - February 22, 2018
- Rigters 1:1-2:5 – Die geduld en genade van die Here met die verval en verydeling van hierdie tyd - February 23, 2018
- Rigters 2:6-3:6 – Die volk vergeet die groot dade van die Here en verval in ongehoorsaamheid - February 26, 2018
- Rigters 3:7-31 – Otniël, Ehud en Samgar red en rig die volk - February 27, 2018
- Rigters 4 – Debora, die formidabele moeder in Israel - February 28, 2018
- Rigters 5 – Die lied van Debora en Barak - March 1, 2018
- Rigters 6 – Die Here se geduld met Gideon maak hom gereed as rigter - March 2, 2018
- Rigters 7 – Gideon oorwin die Midianiete met 300 man - March 5, 2018
- Rigters 8 – Gideon verhinder die Here se invloed deur politiekery, gierigheid en afgodery - March 6, 2018
- Rigters 9 – Die Here straf Abimelek vir al die onreg wat hy pleeg - March 7, 2018
- Rigters 10 – Tola en Jaïr lei Israel vir 45 jaar maar die Here raak onwillig om te red - March 8, 2018
- Rigters 11-12 – Die Gees verander Jefta van dapper held en militêre leier in ‘n rigter - March 9, 2018
- Rigters 13 – Simson word as rigter gebore vir die vrou van Manoag - March 12, 2018
- Rigters 14-15 – Simson word verraai deur Timna asook Juda, maar verlos telkens sy mense - March 13, 2018
- Rigters 16 – Simson word verraai deur Delila, maar vernietig die tempel van Dagon - March 14, 2018
- Rigters 17-18 – Miga illustreer die waarheid dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg deurtrek - March 15, 2018
- Rigters 19-21 – Drie uitmergelende verhale - March 16, 2018
- Rigters 19 – Die gruwelike verkragting
- Rigters 20 – Die gruwelike burgeroorlog - March 19, 2018
- Rigters 21 – Die gruwelike ontvoering - March 20, 2018
Danel Fourie
Halo Chris
Baie dankie vir jou website. Ek het heeltemal iets anders gegoogle en toe op iets van jou af gekom.
Anyway
Jy het nie dalk skrywe van wie elke boek geskryf nie
thanks baie
Danel Fourie
Chris van Wyk
Hi Danel, jy is welkom. Bedoel jy die Bybelboeke? Die NT is redelik maklik, behalwe Hebreërs. Die evangelies is deur Matteus, Lukas, Markus en Johannes geskrywe. Die dertien briewe deur Paulus. Die res deur Jakobus, Judas, Petrus en Johannes. Handelinge deur Lukas. Hebreërs weet ons nie. Die OT is moeiliker. Moses het ‘n hand in die Pentateug gehad, maar daar was ook ander redaktors of skrywers betrokke. Die Vroeë Profete weet ons nie. Die 15 Skrifprofete is verbind aan die profeet wie se naam dit dra, maar weereens was daar ‘n proses van redaksie. Die Psalms se titels verklap soms wie die skrywers was, en soms nie. Die wysheidsboeke word aan Salomo verbind, maar weereens was daar ander betrokke. Selfs Daniël is deur ‘n proses voor dit as boek bekend geraak het.