Skip to main content

VINCENT BRÜMMER – WHAT ARE WE DOING WHEN WE PRAY?

Ek het ‘n navraag gekry oor vas en gebed en hoe God ons gebede beantwoord.  Ek het onmiddellik gedink aan ‘n kort opsomming wat ek vroeër gemaak het van die boek van Vincent BrümmerWhat are we doing when we pray? Dit was in my evaluasie daarvan vir die Andrew-Murray-Desmond-Tutu prys, ‘n prys wat sy boek toe inderdaad ook in 2009 gewen het.  Dit bly ‘n uiters sinvolle en gewigtige hantering van die onderwerp van gebed.

Ek stel dit graag beskikbaar.  Vincent onderstreep daarin onder andere die geloofsfeit: “God gives us some things, not only as we wish, but because we wish.” (Geach, God and the Soul).  Dit beteken nie dat gebed dus gebeure outomaties veroorsaak nie.  Dit is nie vanweë die gebed wat God antwoord nie, maar vanweë sy eie besluit om die gebed te beantwoord.

Daarom neem ek ook hierdie Woensdag, 24 Januarie 2018, deel aan die landwye gebed vir reën in die Wes- en Oos-Kaap, soos ons gemeente ook onafhanklik daarvan besluit het.  En roep ek almal op om môre om 13:00, waar jy jou ook al mag bevind, vir reën te bid.

God gee vir ons reën, nie net soos ons dit wil hê nie, maar omdat ons daarvoor vra.

Bespreking van die boek

What are we doing when we pray? is ‘n hersiene en uitgebreide uitgawe deur Ashgate in 2008 van die oorspronklike boek van die gebore Suid-Afrikaner, Vincent Brümmer (1984 – ook in Nederlands en Duits beskikbaar). Soos die subtitel aandui, fokus die boek On Prayer and the Nature of Faith waarvan die tweede deel van die titel ook die onderwerp van die uitbreiding verteenwoordig.  Drie nuwe hoofstukke is bygevoeg wat ‘n opmerking van GK Chesterton ontwikkel, wat sê, geloof: “is not a thing like a theory but a thing like a love affair.”

Vincent sluit aan by die gedagte van Gerard Ebeling dat gebed die sleutel is om die wese van God te verstaan.  Hy werk met ‘n oop perspektief op God, wat sommige “open theism” noem, omdat gebed nie eintlik met ‘n ander perspektief nog gebed genoem kan word nie.

Daarby voeg hy dat gebed ook gesien moet word as die “language game of faith” op voetspoor van Anthony Thiselton, wat ‘n gloeiende kommentaar op die agterblad geskrywe het: “Vincent Brümmer is a well-known world-class philosopher … I have always regarded What are we doing when we pray? as obligatory reading.

Hy is oortuig dat gebed nie van spiritualiteit en die geloofslewe geskei kan word deur dit bv. te beskou as terapeutiese meditasie nie omdat gebed fundamenteel eksistensieel en nie bloot intellektueel is nie.  “Prayer is a ‘school of seeing’” (John Drury).

Die boek is in twee dele geskryf: deel een oor gebed en deel twee oor die onderskeid tussen geloofsvertroue (faith) en godsdienstige geloof (belief).

Deel 1 – Prayer

Putting prayer to the test

In hoofstuk 1 werk Vincent met die vraag of gebed getoets en geverifieer kan word soos in ‘n wetenskaplike eksperiment.  Hy antwoord negatief, met Elia en Einstein as voorbeelde vanweë vier betekenisvolle verskille:

  1. Wetenskaplike teorieë, ook Einstein s’n, is hipoteses wat altyd oop is vir valsifikasie. Elia gee homself in gebed oor aan God se sigbare antwoord, wat dit ook al mag wees.  As Hy God sou toets, sou dit juis sonder die geloof gedoen word, wat inderdaad nodig is vir die gebed om effektief te wees.
  2. Wetenskaplike teorieë en eksperimente is veralgemeenbaar en kan telkens herhaal word. Elia se ervaring op die berg Karmel is nie herhaalbaar op dieselfde manier nie.
  3. Wetenskaplike eksperimente hou altyd ‘n risiko vir die teorie in. Gebed hou ‘n risiko vir die bidder in – daarom dat gebed baie keer in ‘n voorwaardelike vorm uitgedruk word.
  4. Wetenskaplike teorieë is van toepassing op natuurlike fenomene, terwyl Elia se gebed op die berg Karmel gebaseer is op sy geloof in die bemiddeling van ‘n persoonlike God. Die natuur word deur oorsaaklike noodsaaklikheid beheer – God is per definisie buite sodanige beheer.

Gebed as ‘n eksperiment kan dus nie werk nie, omdat dit nie manipulerend van aard of ‘n vorm van towery is nie, maar eerder binne ‘n persoonlike verhouding met God funksioneer.

Therapeutic Meditation

In hoofstuk twee hanteer Vincent die siening dat gebed ‘n vorm van meditatiewe terapie verteenwoordig.  Hy bespreek Immanuel Kant se siening oor die onderskeid tussen rasionele geloof (Vernunftglaube) en geopenbaarde godsdiens (Kirchenglauben) wat geleer het dat in ware gebed ‘n mens eintlik met jouself besig is in jou morele vorming.  So noem hy ook die sieninge van TR Miles wat soortgelyk gebed as ‘n vorm van self-terapie gesien het.

Hy spreek ‘n waarderende woord uit vir die klem op terapie in hulle sieninge, omdat dit inderdaad is wat baie keer in gebed gebeur, dat in die uitdrukking van gevoelens en houdings teenoor hulleself, God en die wêreld, die regte houdings in gelowiges tot stand kom (Augustinus en Calvyn werk ook met dié perspektiewe).

Maar teenoor hulle idee dat ‘n mens sonder geloof kan bid, wys hy hoe sekere geloofsfeite oor God fundamenteel is om die praktyk van gebed te konstitueer, selfs die meditatief-terapeutiese karakter daarvan.  Gebed raak fundamenteel onverstaanbaar en self-misleidend as hierdie geloofsfeite afgewys word.  Om te bid tot God as jou krag en jou beskermer is net moontlik as jy inderdaad glo dat Hy dit is.  ‘n Mens kan nie ‘n God dank wat nie bestaan nie: “the worst moment for the atheist is when he is really thankful and has nobody to thank.” (Chesterton).

Praying for things to happen

In hoofstuk drie skryf Vincent oor gebed as perpetratory (smeking) en hoe dit in verband staan met God se almag, onveranderlikheid en alomteenwoordigheid (en in hoofstukke vier en vyf sy goedheid en bemiddeling).

Smeking veronderstel ‘n uitdrukking van ‘n mens se afhanklikheid.  Dit maak staat op die geloofsfeit: “God gives us some things, not only as we wish, but because we wish.” (Geach, God and the Soul) – in hoofstuk vier onderskei hy hierdie siening van gebed ook van die idee dat gebed gebeure veroorsaak vanweë die gebed, wat ‘n deterministiese en outomatiese karakter daaraan verleen.

Asking an omnipotent God

Hy haak aan by die idee van Geach dat gebed ‘n “two-way contingency” (voorwaardelikheid of gebeurlikheid) het,

  1. God se antwoord is nie onmoontlik óf onvermydelik nie
  2. Gebed is ‘n noodsaaklike maar nie ‘n genoegsame voorwaarde vir God se antwoord nie.

Die voorwaardelikheid bepaal die grense van wat betekenisvol van God gevra kan word. God kan bv. 1) nie logies-onmoontlike dinge verhoor nie (bv. om te vra dat iets beide wit as swart gemaak moet word) of 2) iets wat teen sy eie natuur is nie (bv. om te vra dat Hy sondig).

Aan die ander kant het God Homself ook beperk.  Die feit dat God Hom in liefde aan mense verbind het, is ‘n illustrasie hierdie self-opgelêde beperking.  God het Homself uit vrye keuse beperk in die mate van invloed wat Hy op mense kan uitoefen om met hulle in verhouding te kan lewe.  Hy sal dus niemand dwing om met Hom in ‘n liefdesverhouding te staan nie, anders sal dit nie meer ‘n liefdesverhouding wees nie.

Asking an immutable God

Teenoor die statiese idee van God as onveranderlik, wys Vincent uit hoe gebed die verhouding tussen God en die bidder verander wat daardeur ‘n werklike veranderings effek op beide het.  (On)veranderlikheid is altyd ‘n dinamiese begrip omdat dit ‘n onvolledige konsep is – God is onveranderlik in sy goedheid en getrouheid, maar veranderlik ten opsigte van gebeurlikhede.  Anders sou hy nie ‘n persoon wees nie.

Asking an omniscient God

Hy skiet die populêre gedagte van Boethius af dat God alwetend ten opsigte van die toekoms is, deur van buite ons realiteit, uit die ewigheid, na ons gebeure in tyd te kyk en dus te reageer op die gebeure soos dit gebeur, en dus nie voor die dinge gebeur nie.  Dit maak nie logiese sin volgens Vincent nie, want ons ervaring van tyd sal dan ‘n illusie word.    Selfs die verlede, hede en toekoms sal dan van God se perspektief een punt in tyd word en ononderskeibaar.

Vincent stel eerder voor dat God se alwetendheid ten opsigte van die toekoms gesien moet word as dat Hy te alle tye van alle toekoms moontlikhede bewus is, en ook die relatiewe waarskynlikheid van elke gebeurlikheid ken.  Hy kan dus die toekoms antisipeer, 1) omdat Hy ons intensies ken, maar 2) ook sy eie bedoeling tot uitvoer kan bring.

Ten opsigte van die feit dat God ons behoeftes ken, kan ‘n mens aanvaar dat God baie van ons behoeftes vervul sonder dat ons vra, maar weens sy behoefte om met ons in ‘n verhouding te lewe, sommiges net gee omdat ons vra.  Anders sou ons óf oorweldig wees deur die vervulling van ons onuitgesproke behoeftes óf bederf deur te dink dat ons behoeftes outomaties, sonder ‘n verhouding, bevredig word (Eleonore Stump, “Petitionary prayer” in American Philosophical Quarterly 16 [1979] se gedagtes).

Prayer and the goodness of God

In hoofstuk vier skryf Vincent oor gebed en die goedheid van God, en verbind dit aan die koninkryk van God.    Aan die een kant erken die gebed die bidder se onderwerping aan God se gesag as Koning, en maak dit aan die ander kant staat op die Koning se aanvaarding van dié gesag.  Daarvoor het die bidder die gawe van enlightenment (om sy wil te ken), empowerment (om sy wil te kan doen) en taste for the good (om sy wil uit liefde te doen) nodig.  Hierdie trinitariese verklaring (enlightenment – Jesus; empowerment – Vader; motivation [soos hy dit vêrderaan noem] – Gees) is kenmerkend van sy teologie.

God se goedheid is die onderbou van die bidder se vertroue om te vra.

In verband met Intersessie maak hy eers die stelling dat hy God se optrede as die primêre oorsaak beskou wat Hy bemiddel deur sekondêre oorsake, waarvan die belangrikste mense se optredes is.  Dit maak daarom van Intersessie ‘n gebed wat primêre optrede van God vra, maar ook ‘n gebed word wat die bidder beskikbaar stel om een van die sekondêre redes te word waardeur God die gebed kan beantwoord.

Dit beteken dat die gebed van meer intersessors meer effektief is, nie omdat hulle meer druk op God kan plaas nie, maar omdat dit meer mense intrek wat God se wil kan uitvoer!

Prayer and the agency of God

In hoofstuk vyf skryf hy oor gebed en die bemiddeling van God en hoe dit met die natuurlike verloop van natuurwette saamhang.

Aan die een kant is sy waarneming dat God nie normaalweg gebede beantwoord deur middel van wonderwerke wat die natuurlike orde van dinge ophef nie.

Aan die ander kant sluit hy aan by die moderne kwantum-fisika se idee dat die natuurwette van Newton nie deterministies is nie, maar statisties.  Dit bepaal nie elke individuele geval nie, maar kan slegs proporsies van wat gebeur op ‘n groot skaal voorspel.  Die weer is ‘n goeie voorbeeld hiervan – jy kan statisties voorspel wat gaan gebeur met ‘n mindere of meerdere mate van waarskynlikheid, maar nie die noodwendigheid van ‘n gebeurlikheid voorspel nie.

Dit bring ons terug by sy idee van noodsaaklikheid en genoegsaamheid.  Die onbepaaldheid van gebeure beteken nie dat ons nie van sekere noodsaaklike voorwaardes vir ‘n sekere gebeurlikheid kan praat nie.  Maar dit beteken nie dat ‘n volledige stel oorsaaklike toestande genoegsaam is om elke gebeurlikheid te laat gebeur nie.

Dit beteken dat God se antwoorde nie die natuurlike orde in elke geval moet ophef nie, maar juis deur die natuurlike orde kan laat gebeur.

Dieselfde geld die verband tussen Goddelike bemiddeling en menslike vryheid.  Ons is vry om iets te doen wat noodsaaklik is daarvoor dat dit gebeur.  Maar ons besluit is nooit ‘n genoegsame oorsaak op sy eie nie.  Ek kan net doen wat ‘n moontlikheid in my eie situasie is.  Ek kan dus bydra tot iets wat gebeur, maar nie noodwendig die algenoegsame oorsaak daarvan wees nie.

Die Trinitaries God kan aan die een kant deur sy verligting (Seun), voorsiening (Vader) en motivering (Gees) die noodsaaklike toestande vir ons optrede verskaf, maar kan aan die ander kant ons nie dwing tot gehoorsaamheid en optrede nie.

Dit beteken ook weer nie dat ons die menslike vermoë moet oorskat om God se bedoelinge te dwarsboom nie, en ook nie God se vermoë moet onderskat om genoegsaam daarop te reageer nie.

John Lucas (Freedom and Grace) het die briljante voorbeeld wat ‘n metafoor vir hierdie samewerking tussen ons bemiddeling en God s’n verskaf, dié van Persiese tapytmakers.  In elke familie werk die pa aan die eenkant en die kinders aan die ander kant.  Die kinders faal baie keer daarin om presies te doen wat die pa sê, maar die pa is vaardig genoeg om sy patrone aan te pas om hulle foute te inkorporeer en in ‘n fassinerende, konstant-ontwikkelende ontwerp te verander.

God se werk moet dus nie as ‘n bloudruk verstaan word nie, maar eerder as ‘n goddelike projek wat God ontwikkel in gemeenskap met menslike deelnemers.  Dit het ‘n effek op hoe ons die eskatologie sien – in stede van ‘n vaste uitkoms, is die eschaton iets waaraan ons as medewerkers met God saamwerk.

Wat tel dan as ‘n antwoord op gebed?    God is immers nie ‘n sigbare agent in die wêreld nie en onverwagte toevallighede kan kwalik ‘n genoegsame verklaring vir God se werk in die wêreld wees nie.

Vincent is oortuig die oplossing lê in die gedagte dat vir ‘n gebeure om as ‘n wonderwerk van God se optrede te tel, die gebeure geloofsbetekenis vir ‘n mens moet hê. Dit is net gelowiges wat iets ‘n wonderwerk kan wees.  Dit beteken nie dat ons gebede net subjektief is nie, maar net dat soos met alle gebeurlikhede, wat interpretasie nodig het, voor dit betekenis het, is dit ook so vir gebedsverhoring.  Dit beteken egter nou weer nie dat die dinge nie regtig gebeur het nie, maar net dat die betekenis daarvan net vir geloofsoë sigbaar is.  Dit is in die sin dat John Drury gebed “the school of seeing” noem, waardeur die gelowige die voorsienige handelinge van God herken.

Praying and relating to God

In hoofstuk ses hanteer Vincent die wyse waarop gebed ‘n verhouding met God begin en bevestig, en veral die rol wat die drie hoof elemente van gebed speel: vra (petition), belydenis (penitence) en danksegging.

Petition and establishing a relation with God

Hy beskryf die verhouding as ‘n persoonlike een wat simmetries is, in terme van die vrye samewerking wat nodig is en die gevolglike risiko wat daaraan verbonde is.

Hy skryf hierna uitvoerig oor twee soorte mistiese belewenis, unitive mystics – God en mens raak onties een wese – en personal mystics – God en mens is in ‘n baie naby verhouding, maar as twee persone.  Hy sien dit as ‘n kontinuum waarin die twee pole basiese tendense beskryf.

In unitive mysticism word die wêreld en die self verloën, sodat persoonlikheid verdwyn en geabsorbeer word in die Godheid.  Die grense tussen God en mens verdwyn.

Daarteenoor, in personal mysticism ontwikkel daar ‘n liefdevolle gemeenskap tussen God en die mens, waarin hulle onafhanklike persoonlikhede bly en daar van geen absorpsie sprake is nie.

Die een is ervarings-matig, en die ander verhoudings-matig.

Die een is geskoei op die idee dat God staties is en die mens moet daarin oplos.

Die ander is geskoei op die idee dat God ‘n persoon is, en dat die mens met Hom in verhouding moet tree.

Gebed is vir die een ‘n ekstatiese vereniging.  Vir die ander ‘n lewende gemeenskap.

Nodeloos om te sê – Vincent kies vir laasgenoemde.  Dit is nie die aflê van die self wat die hoogste goed is nie, maar die aflê van die begeerte om God te dwing om te doen wat ek wil hê wat die hoogste goed is: “We ought not only to ask God for the things we want, but equally to ask God what things we ought to want.” (96).

Penitence and restoring a relation with God

Vincent werk met die idee van twee verhoudinge wat tussen mense (en tussen God en mense) moontlik is: ‘n liefdesverhouding en ‘n ooreenkoms van regte en verpligtinge.

‘n Breek in dié verhoudinge kan net herstel word, as die breuk in die verhouding ‘n groter boosheid is as die skade wat berokken is.  Vergifnis kan ook net werklik wees as daar inderdaad iets is om te vergewe, anders kondoneer ‘n mens dit asof dit nie groot skade aangerig het nie óf jy gee iets in ruil (satisfaction) óf jy straf die persoon.  Vergifnis kos altyd iets.

Vergifnis kan ook net effektief wees as daar die noodsaaklike belydenis en berou is, hoewel dit nie ‘n genoegsame voorwaarde vir vergifnis as sodanig hoe te wees nie.  Vergifnis kan nie verdien word nie.

Dit werk min of meer dieselfde in ons verhouding met God, hoewel Hy ook sonde kan vergewe.

Thanksgiving and acknowledging a relation with God

Danksegging is ‘n uitdrukking van gratitude vir wat God doen en Lofprysing ‘n uitdrukking van admiration vir wie God is.

Praying and relating to the world

In hoofstuk sewe skryf Vincent oor die wyse waarop gebed in verhouding staan met die wêreld.

Sy motto is ora et labora – bid en werk.

In verband met moraliteit wys hy die eksterne verband met godsdienstige geloof (belief) af, en kies vir ‘n interne verband met geloofsvertroue (faith).

Deel 2 – Faith and Religious Belief

Prayer and the nature of faith

In hoofstuk agt skryf Vincent oor geloof en die verhouding daarvan met gebed.

Sy standpunt is dat gebed betekenisloos is sonder geloofsvertroue.  Met verwysing na Descartes se poging om ‘n eksklusiewe epistemiese fokus op die lewe te fundeer waarin net die (menslike) rede en (wetenskaplike) ervaring gesag het, saam met ‘n kritiese instelling, waardeer Vincent wel die effek wat dit op die ontwikkeling van die moderne wetenskaplike navorsing gehad het.

Maar hy is baie duidelik oor die disastrous effek wat dit gehad het op die wyse waarop die betekenis en die redelikheid van geloof verstaan is.  Hy wys hoe selfs Darwin in sy The Origin of the Species rekening gehou het met ‘n lewegewende aktiwiteit wat die proses van evolusie aan die gang gesit het.  Geloof in God is dus nie per definisie onversoenbaar met evolusie nie, teenoor die idees van Neo-Darwiniste soos Richard Dawkins nie.

Die probleem met moderniste is dat hulle intuïtiewelik aanvaar dat godsdienstige geloof (belief) ‘n verklaringsbeginsel is soos dié van wetenskap, terwyl, volgens Vincent, gebed en nie wetenskap die sleutel is om die wese van geloofsvertroue (faith) te verstaan.

Geloofsvertroue is “not a thing like a theory but a thing like a love-affair” (Chesterton).  Geloofsvertroue is altyd iets wat kom uit ‘n belyning van die hart of die wil met God, ‘n lojaliteit en ‘n vertroue.  Geloofsvertroue is daarom ‘n manier van kyk na die lewe in die lig van die erfenis van metafore en stories, die morele beginsels, aannames en geestelike praktyke wat deur die gemeenskap van gelowiges deur die eeue gevestig is.

Hierdie manier van kyk verskaf betekenis aan ons lewe en ons ervaring van die wêreld en bepaal die houdinge en optredes wat gepas is vir die wêreld waarin ons lewe.

The eyes of faith

In hoofstuk nege skryf hy oor gebed en geloof en hoe God se werk net raakgesien kan word met die oë van geloof.  Inteendeel, die geloof is ‘n gawe van God aan gelowiges.

Ons geloofservaring is hermeneuties in die sin dat dit betekenis gee aan gewone gebeure. Dit is nie ‘n ekstra-sensoriese persepsie nie, maar kom ook nie natuurliker-wys na ons toe nie.  Dit word bemiddel deur die Heilige Gees en is transformerend.

Die vraag na boosheid in die wêreld vind hy ‘n absurde vraag, “since it asks for the point of something that by definition cannot have a point!

In die lig van sy vroeëre standpunt oor die metaforiese karakter van die erfenis van ons tradisie, vind hy enige poging om die Christelike skat van stories te ontmitologiseer reduksioneel van aard, omdat dit die omvattende verstaansraamwerk van gelowiges dwarsboom waarmee hulle sin maak van dit wat hulle in die lewe en wêreld ervaar.

Faith and the nature of religious belief

In hoofstuk tien werk hy verder met die metaforiese besinning onder die hofie van die verskil tussen geloofsvertroue (faith) en godsdienstige geloof (belief).

Metafore moet op een of ander manier een of ander feitelike basis hê of ten minste die realiteit uitbeeld, anders ondergrawe dit die optredes en houdings wat daarop gebaseer is fundamenteel.

Hy onderskei tussen drie soorte waarheidsaansprake: empiries, ervaring en metafisies.

Die aansprake wat hierop gegrond word, kan verwerp, aanvaar of herinterpreteer word.

Om egter die waarheid van God se teenwoordigheid en optrede in die wêreld te aanvaar, is net moontlik vanuit ‘n geloofsperspektief.  Dit beteken dat dit die gevaar loop om as ‘n sirkel-argument afgewys te word.

Hy is daarom oortuig dat die bestaan van God ‘n noodsaaklike waarheid vir gelowiges is, anders raak enige gesprek oor geloof en God per definisie absurd.

Die gesprek oor geloof moet dus volgens hom gaan oor ‘n paar sake: is dit credible, consistent, en coherent?  Is dit relevant, genoegsaam en verstaanbaar en kan mense dit met integriteit volhou?  En van ateïste word dieselfde verwag!

Evaluasie

In What are we doing when we pray? fokus Vincent Brümmer op gebed en die wese van geloofsvertroue.  Hy identifiseer die kompleksiteite inherent aan gebed en gebedsverhoring baie duidelik en bied ‘n skat van weldeurdagte perspektiewe, bv.:

  • die idee van ‘n oop perspektief op God, wat in verhouding met ons kan verander omdat ons vra;
  • die idee dat gebed nie van spiritualiteit en die geloofslewe geskei kan word deur dit bv. te beskou as terapeutiese meditasie nie, omdat gebed fundamenteel eksistensieel en nie bloot intellektueel is nie;
  • die idee dat die betrokkenheid van God by gebed trinitaries gefundeer is, met die Seun wat verlig, die Vader wat bemagtig en die Gees wat motiveer.
  • die idee dat gebed altyd sekere noodsaaklike elemente moet bevat (afhanklikheid, geloofsvertroue) maar nie daarmee ‘n noodwendige karakter aanneem, asof God dan onder verpligting is om te antwoord nie.
  • die idee dat die bestaan van God ‘n noodsaaklike waarheid is vir gelowiges om te aanvaar, anders raak geloof per se absurd.

gebed


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar