Skip to main content

Openbaring 9 – God se oordeel bring nie die mense tot bekering nie

Die oordele van die vyfde en sesde trompet tref veral die mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie.  Die vyfde trompet kom ooreen met die vyfde seël deurdat die gelowiges in bewaring bly midde in die verdrukking.  Die sesde trompet kom ooreen met die sesde seël in terme van die vier engele wat vroeër vasgehou is en nou losgelaat word.

Die vyfde trompet pynig die mense sonder God se seël

Met die blaas van die vyfde trompet is daar ’n ster wat uit die hemel op die aarde val wat die bodemlose (onderaardse) diepte oopsluit, die plek waar bose geeste en demone gevange gehou is (vgl. die verhaal van Legio in Luk. 8:31).  Dit is ook die tuiste van die dier uit die see, en die Satan, soos ons later in Openb. 13:1 en 20:1-3 gaan lees.  Die ster wat hier ter sprake is, is  ’n engel of  boodskapper van God wat in opdrag van Hom boosheid op die aarde loslaat en moet onderskei word van die koning van die bodemlose diepte, Abaddon/Apollion (vers 11).  Dieselfde engel tree in Openb. 20 op om die draak, die duiwel en Satan, te bind in die bodemlose diepte.

Uit die skag van dié verskriklike plek het daar nie net rook geborrel wat die son en die lug verduister nie, maar ook sprinkane wat na die aarde geswerm het en die mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie, gefolter het met hulle skerpioensterte.

Die sprinkane het soos perde gelyk wat vir die oorlog gepantser is met borsplate en daarby het hulle goue krone op hulle koppe, mensgesigte, vrouehare en leeutande gehad.  Dit herinner aan die sprinkane met ruiters waarvan Joël 2 praat sowel as die agste plaag in Egipte.  Hulle leier se naam was Abaddon (Hebreeus) of Apollion (Grieks) wat Verwoester beteken.  Interessant genoeg was die Griekse god Apollos se teken dié van ’n sprinkaan.  Keiser Domitianus het homself graag as Apollo incarnates beskou (Apollos wat mens geword het), wat beteken dat dié metafoor ’n fynbeplande stekie in die rigting van die keiser ingehou het (Du Rand, hfst. 12)!

Die feit dat hierdie oordeel vyf maande lank duur, dui nie soseer op die ongeveer jaar lange volle lewensiklus van sprinkane nie (min of meer 10 maande as eier, 2 maande as ’n nimf-voetganger en ’n maand as ‘n volwasse sprinkaan), maar op die feit dat die tyd afgemeet en beperk is deur die Here self.

Die sesde trompet maak ’n derde van die mense dood

Waar die vyfde trompet die mense gepynig het, maak die oordeel van die sesde trompet ’n derde van die mense dood.  Die oordeel word waarskynlik deur dieselfde engel wat die wierookbak met die gebede van die heiliges op die aarde uitgegooi het, uitgevoer.  Dit laat ’n ongekende krag los teen die mensdom in die vorm van ’n ontsaglike aantal ruiters op perde wat verwoesting saai.  Die kleure van die borsplate – vuurrooi, diepblou en swaelgeel – kom ooreen met die vuur, rook en swael wat uit hulle monde borrel en die mense doodmaak.  Hulle het ook sataniese slangsterte en kragtige kake soos dié van leeus wat hulle teen die mense gebruik.

Tóg het dié oordeel geen effek op die res van die mensdom nie.  Hulle gaan doodeenvoudig voort om die lewelose afgode (oortreding van die tweede gebod), wat hulle self gemaak het, te aanbid en daarmee saam ook nog demone.  Hulle kom nie tot inkeer van hulle wetsoortredinge nie.  Vier goed word genoem: moorde (oortreding van die sesde gebod), toordery (demoniese gedrag), onsedelike gedrag (oortreding van die sewende en tiende gebod) en stelery (oortreding van die agste gebod).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Openbaring


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…