Openbaring 10 – Die kerk het die taak om die verlossing en die oordeel van God te verkondig

Soos daar midde-in die ontplooiing van die oordele van die sewe seëls – tussen die sesde en sewende seël – gefokus is op die verseëling en bewaring van die 144 000 diensknegte van God, sowel as die visie op die versorging in die hemel van dié wat oorwin het,  só word daar op soortgelyke wyse tussen die sesde en sewende trompet gefokus op die rol en funksie van die kerk, soos gesimboliseer deur Johannes (Openb. 10) en die twee getuies (Openb. 11).

Dit is ’n uiters noodsaaklike visie wat die oordeel van God in konteks plaas.  Terwyl die vlakke van onderlinge boosheid toeneem in die wêreld, beide in terme van die selfvernietigingsdrang van mense en die oordele van God, bring die diensknegte van God die verlossende boodskap dat daar in Jesus Christus ’n nuwe toekoms aangebreek het.

Die oop boekrolletjie

’n Ander sterk, enorme en ontsagwekkende engel daal neer uit die hemel met ’n oop boekrolletjie in sy hand wat God se boodskap vir alle volke, nasies, tale en konings bevat.  Dié engel is van dieselfde statuur as die een wat in hfst. 5 die boekrol vir die Lam gee.  Nóg ’n sterk engel sal later in hfst. 18 vir Babilon (Rome) se val verantwoordelik wees.

Die sterk engel se  verskyning gaan gepaard met sewe donderslae wat ’n boodskap dra, maar vir eers geheim gehou moet word deur Johannes.  Dit laat ’n mens dink aan Paulus wat ook goed in die hemel gesien het waaroor hy nie mag gepraat het nie (2 Kor. 12:4).

Die engel kondig die einde van die tyd aan wat met die blaas van die sewende trompet ingelei sal word.  Dán sal God se misterie, sy verborge bedoelinge, sy doel bereik soos wat Hy dit as blye boodskap aan die profete verkondig het.  Dit is die een kant van die boodskap wat aan die kerk toevertrou is, die evangelie, die goeie nuus van verlossing.

Johannes word ook aangesê om die boekrolletjie uit die hand van die engel te gaan haal, dit te eet en die boodskap daarvan verder te gaan verkondig.  Dit bevat die verlossingsplan vir die aarde wat aan die kerk toevertrou is, op soortgelyke wyse as wat die vorige boekrol in hfst. 5 die verlossingsplan van die heelal wat aan Jesus Christus toevertrou is, bevat.  Dit kan daarom met die Woord van God verbind word en is iets wat eintlik vir die hele kerk gegee word.  Johannes verteenwoordig dus hier die kerk as sodanig.

Die simboliek van die soet smaak (vgl. Eseg. 3:3) en die bitter uitwerking in die maag dui op die ervaring wat gelowiges telkens het – die besigwees met God se Woord en sy opdragte aan ons roer ons hart en bring ons in beweging, terwyl die uitwerking van die gehoorsaamheid aan die Woord baie keer tot konflik, stryd en teenstand in hierdie wêreld lei, soms selfs tot konflik in jouself en binne die gemeenskap van gelowiges.  Dit is die ander kant van die boodskap wat aan die kerk toevertrou is, die aankondiging van God se oordeel.

In beide hierdie aspekte van die boodskap van die kerk, lê ons opdrag.  Aan die eenkant moet ons die genade van die verlossing met alles wat in ons is aan alle mense so vêr as wat ons dit kan doen, verkondig.  Aan die ander kant moet ons die sekerheid van die oordeel van God oor sonde en afvalligheid verkondig aan die hele wêreld.  Dit is die somtotaal van ons getuienis.  En belangrik, dit is ook nodig dat leiers (konings) dit hoor, nie net die gewone mense van die nasies van hierdie wêreld nie.

View all posts in this series

Openbaring


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: