Skip to main content

Openbaring 1 – Jesus Christus maak bekend wat hierna gaan gebeur

Die eerste hoofstuk kan in vier dele opgedeel word:

  • ’n Openbaring deur Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat binnekort moet gebeur – vers 1-3;
  • Johannes se boodskap aan die sewe gemeentes in die provinsie Asië – vers 4-5a;
  • ’n Lofprysing aan die Verlosser, dié Een wat weer kom, gebaseer op God se selfbekendmaking as die Alfa en die Omega, die Een wat is, wat was en wat kom – vers 5b-8;
  • Johannes se visioen van Jesus Christus wat hom inspan om aan die sewe gemeentes in Asië te skryf – vers 9-20.

’n Openbaring deur Jesus Christus – vers 1-3

In die volksmond praat ons baie keer van die Openbaring van Johannes.  Dit is verkeerd.  Die boek is duidelik ‘n openbaring van Jesus Christus wat deur God aan Hom gegee is.  Jesus tree aan die eenkant nie op sy eie op nie.  God die Vader stuur Hom met ’n baie spesifieke opdrag.  Aan die ander kant tree Jesus met volle gesag op om aan die gelowiges te toon wat binnekort moet gebeur, soos die Vader Hom gewys het.  Daarvoor gebruik Jesus ‘n engel.

Wat die engel vir Johannes gewys het, raak nou die “woord van God” aan die gelowiges.  Dít is die laaste woorde van Jesus aan sy mense in verband met die eindtyd wat naby is.  Maar belangrik: dié woord van God is nie die getuienis oor Jesus Christus nie, maar “die getuienis deur Jesus Christus”, soos die N.A.V. se vertaling: “wat Jesus Christus bevestig het” eintlik oorspronklik lui.  Jesus word as die uitvoerder van God se opdrag aangedui en die Een wat deur die getuienis van Johannes aan die woord kom.  Kragtig!  In die lees van dié boek het ons dus met die selfgetuienis van Jesus Christus te make.  Hy praat met ons deur die boek.

Daarom sê Johannes dat God almal wat dié profesie van die boek (voor)lees – d.w.s. die leraars of bedienaars van die Woord wat dit voorlees – geseënd verklaar , sowel as dié wat daarna luister en belangrik, dit wat daarin geskrywe staan, nakom.  Die dringendheid hiervan het met die tydsgewrig te make waarin hulle lewe.  Die openbaring gaan oor wat binnekort moet gebeur.  Die tyd is naby.

Johannes se boodskap – vers 4-5a

Die aanhef van die brief volg nou waarin Johannes die sewe gemeentes in die provinsie Asië (Wes-Turkye) aanspreek en groet met die Drie-enige genade (Griekse seënbede) en vrede (Hebreeuse sjalôm) van 1) die Vader wat is en wat was en wat kom – ’n beskrywing van die dinamiese karakter van God – van 2) die sewe Geeste voor sy troon – ‘n beskrywing van die Heilige Gees in sy omvattende teenwoordigheid en werk (vgl. ook 3:1; 4:5; 5:6 asook Sag. 4:6)  – en 3) van Jesus Christus. Die sewe gemeentes verteenwoordig die hele Christelike kerk.

Jesus word as die geloofwaardige of betroubare getuie geteken – d.w.s. sy getuienis kan geglo word – die Een wat nie net as Eersgeborene uit die dode opgestaan het nie, maar ook reeds die heerser oor die konings van die aarde is.  Ons hoor hierin die getuienis van Psalm 2 weerklink, dat God se gesalfde koning is en dat almal vir Hom ontsag moet hê.  Let ook op hoe dit as ’n teenswoordige realiteit beskryf word, nie iets wat eers met die Wederkoms aanbreek nie.

’n Lofprysing aan die Verlosser – vers 5b-8

Aan dié betroubare getuie kom waarlik die heerlikheid en sterkte toe vir ewig en ewig, soos Johannes in ’n lofprysing dit uitbasuin.  Dit is Hy wat ons nie net liefhet en verlos het nie, maar ons ’n koninkryk gemaak het, priesters vir God, sy Vader (vgl. ook 1 Pet. 2:9).  Daarmee word nie net sy werk as Verlosser verheerlik nie, maar ook ons taak en opdrag as ’n koninkryk van priesters vir God, sy Vader, uitgespel, om met Hom in kontak te lewe voor die mense en Hom publiek te dien.

In ’n verdere lofprysing word nie net Jesus se eerste koms in herinnering geroep nie, maar ook sy tweede koms, ’n koms met die wolke, waarin die Hemelvaart van Handelinge 1 in herinnering geroep word, maar ook die wederkoms vooruitgesien word, een van die sleuteltemas van die boek Openbaring.  Almal sal Hom dan sien, selfs ook dié wat Hom verwerp het en aan die kruis deurboor het (vgl. Joh. 19:37).  Al die volke op aarde sal oor Hom treur, waarskynlik van berou.

Hierdie Verlosser, verklaar die Here God, die Almagtige, dan, is die Alfa en die Omega – die eerste en die laaste letter van die Griekse alfabet – die Een wat is en wat was en wat kom, waarmee dieselfde beskrywing van God die Vader (vgl. 1:4b) op Jesus van toepassing gemaak word.

Johannes se visioen van Jesus Christus – vers 9-20

Johannes noem homself hulle broer (N.A.V. vertaling het “medegelowige”) en ’n deelgenoot in drie werklikhede: die verdrukking onder Domitianus wat hom na Patmos verban het, die koninkryk van God wat onkeerbaar aan die kom is in die wêreld en “die volharding in ons verhouding met Jesus”, soos dit letterlik daar staan.

Dit is ’n ongelooflike troosvolle beskrywing.  Hy het nie net deel aan die verdrukkende werklikheid van die Romeinse vervolging van gelowiges nie – spesifiek omdat hy die woord van God verkondig het, d.w.s. die getuienis deur Jesus Christus – maar ook aan die koninkryk van God wat besig is om in te breek in hierdie wêreld.  En hy praat oor volharding as ’n gawe van God wat Johannes van Jesus binne die verhouding met Hom ontvang.  Volharding is dus vir Johannes nie net ’n opdrag wat uitgevoer moet word nie, maar ook ‘n gawe wat ontvang en vasgehou moet word.  Dit moet hom laat moedskep!

Johannes vervolg dan met die beskrywing van die visioen van Jesus Christus wat hy gesien het, op die dag van die Here, dit is Sondag, toe die Gees van hom “besit geneem” het (“meegevoer” het die N.A.V. dit vertaal) en die Here Jesus die opdrag herhaal aan Johannes om aan die sewe gemeentes te skryf wat hy sien.

Jesus het tussen sewe goue kandelare gestaan – die simbole van die sewe gemeentes – en Johannes eien Hom as die Seun van die Mens, op voetspoor van Daniël se vroeëre beskrywing (Dan. 9:13).  By sy lang kleed het hy ’n goue band om sy bors gedra, dié plek waar werkers gewoonlik hulle gordel vasgemaak het ná hulle klaar gewerk het.  Sy werk word dus as afgehandel geteken.  Sy voorkoms was verder besonder treffend en uitermate verheerlik met veral die skerp swaard met twee snykante uit sy mond – ’n toespeling op die kragtigheid en deurpriemende karakter van sy woorde (vgl. Hebr. 4:12) – en die feit dat hy sewe sterre in sy regterhand gehou het – die simbool van die leraars van die gemeentes – die uitstaande kenmerke.

Jesus word dus as die handelende instrument van God in die lewe van die gemeentes sowel as die leraars geteken, een wat die reg verdien het om op te tree en wat dit met gesag en effektiwiteit doen.

Hierdie visie se doel was om Johannes gerus te stel dat Jesus die dood oorwin het – trouens dat Hy die sleutels van die dood en die doderyk (Hades of onderwêreld) besit en vir ewig en ewig lewe – en nou aan almal kan bekend maak wat reeds gebeur het, nou aan die gang is en hierna gaan gebeur – verlede, hede en toekoms.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Openbaring


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar