Openbaring 4 – God word as Skepper in die hemelse troonsaal aanbid
Ons kom by die volgende hoofdeel van Openbaring – hfst. 4-11. Die sentrale tema handel oor God wat deur Christus besig is om in die heelal verlossing en oordeel te laat ontplooi, veral aan die hand van die beskrywing van die sewe seëls van die boekrol wat deur die Lam oopgemaak word, wat op hulle beurt die sewe trompette wat God se heerskappy aankondig, inlei.
Die oorhoofse prentjie van Deel II
Hou die breë oorhoofse prentjie van hierdie hoofdeel in gedagte soos jy dit deurlees. Dit kan soos volg ingedeel word:
- God word as Skepper in die hemelse troonsaal aanbid – hfst. 4
- Die verseëlde boekrol – hfst. 5
- Die eerste ses seëls – hfst. 6
- Die 144 000 word met ’n seël gemerk – hfst. 7:1-8
- Die groot skare in die hemel – hfst. 7:8-17
- Die sewende seël word oopgebreek – hfst. 8:1-5
- Die eerste vier trompette – hfst. 8:6-13
- Die vyfde trompet – hfst. 9:1-12
- Die sesde trompet – hfst. 9:13-21
- Die oop boekrol – hfst. 10
- Die twee getuies – hfst. 11:1-14
- Die sewende trompet – hfst. 11:15-19
Dit is weereens Jesus wat die leiding neem om Johannes in te lig, soos dit was met die boodskap aan die gemeentes in hfst. 1-3. Let ook weereens die Drie-enige God aan die werk – die stem van Jesus, die Gees wat van Johannes besit neem en die Skeppergod wat op die troon sit.
God word as Skepper in die hemelse troonsaal aanbid
Waar die eerste drie hoofstukke gehandel het oor God se teenwoordigheid op aarde in die midde van die gemeentes, handel die volgende agt hoofstukke oor God se teenwoordigheid in die hemel wat op alles wat bestaan ’n verlossende en veroordelende impak het. Daarom word Johannes opgeneem deur die geopende deur in die hemel om vanuit die hemelse perspektief te kan besef wat hierna moet gebeur.
God se troon in die hemel word met min detail beskryf, behalwe die omringende reënboog wat soos smarag (groen) lyk en dat vanuit die troon weerligstrale, ’n gedreun en donderslae gekom het. Die troon bevestig God se heerlikheid en heerskappy oor alles vanuit die hemel, ten spyte van die pogings van die keisers en konings van die aarde om hulleself te laat geld in die prag en praal van hulle koninkryke.
God self se voorkoms word met edelgesteentes beskryf – jaspis ([of opaal] – dis gewoonlik dofgeel tot rooi, maar hier waarskynlik bedoel as ’n wit kristalhelder steen [vgl. Openb. 21:11]) en karneool ([of sardoniks] – dit is helderrooi) wat sy heerlikheid uitbeeld. Sommige verklaarders sien in die jaspis iets van God se heiligheid, in die karneool iets van sy oordeel en in smarag iets van sy genade, maar dit is onwaarskynlik.
Voor die troon van God het sewe vuurfakkels gebrand, die sewe Geeste van God, die simbool van die Heilige Gees. Voor dié vuurfakkels was ’n kristalhelder see van glas, altans só het dit vir Johannes gelyk.
Twee groepe wat God in die hemel aanbid, word beskryf: die vier lewende wesens (hele skepping) en die 24 ouderlinge (hele Godsvolk).
- Die vier lewende wesens verteenwoordig die hele skepping. Hulle het ses vlerke soos die serafs van Jesaja (Jes. 6:2) en is vol oë aan die voor- en agterkant, soos met die wesens van Esegiël se wiele vol oë (Eseg. 1:18). Hulle stel God se alwetendheid (oë) en alomteenwoordigheid (vlerke) voor in die hele skepping (Du Rand, hfst. 8). In hulle aanbidding verteenwoordig hulle dan ook die hele skepping met die gesigte van die leeu, bul(kalf), mens en arend. Interessant genoeg het die Joodse rabbi’s dié vier voorstellings as verteenwoordigend van die hele skepping soos volg uitgelê: dit stel die edelste (leeu), die sterkste (bul), die slimste (mens) en die vinnigste (arend) in die skepping voor. Nog ‘n ander interpretasie is om die leeu as simbool van die wilde diere te neem, die bul as simbool van die mak diere, die mens uiteraard as simbool van die mensheid en die arend as simbool van die voëls in die lug.
- Rondom God se troon is die 24 trone van die ouderlinge – waarskynlik ’n simboliese getal vir die 12 aartsvaders van die OT stamme en die 12 apostels van die NT. Hulle verteenwoordig dus die hele volk van God, in die ou bedeling/verbond, sowel as in die nuwe bedeling/verbond.
Let op dat die vier lewende wesens God aanbid “sonder om te rus” en “dag en nag”, d.w.s. 24 uur elke dag. Hulle aanbid God vir sy grootheid en sy heerlikheid soos uitgedruk in sy alwetendheid en alomteenwoordigheid in die hele skepping. Daarin volg die ouderlinge hulle na, wat beteken dat aanbidding die hele skepping en die hele Gods volk se primêre en belangrikste roeping is. Dit moet alles kleur wat ons doen, dag en nag, vir altyd, eintlik sonder ophou.
Openbaring 4 begrond dus alles wat hierna gebeur, elke detail daarvan, in God se heerskappy wat alles omvat. Hy is nie net die Een wat was nie, maar ook die Een wat is, sowel as die Een wat kom, soos dit van Jesus vroeër gesê is. Daarin lê ons hoop en ons verwagting.
View all posts in this series
- Die Openbaring aan Johannes – Jesus Christus se testament en agenda - September 9, 2013
- Inleiding op Openbaring - October 16, 2013
- Openbaring 1 – Jesus Christus maak bekend wat hierna gaan gebeur - October 17, 2013
- Openbaring 2 – Bly getrou tot by die Wederkoms - October 18, 2013
- Openbaring 3 – Fokus op gemeenskap met Jesus - October 21, 2013
- Opsomming van Jesus se boodskap aan sy kerk
- Openbaring 4 – God word as Skepper in die hemelse troonsaal aanbid - October 22, 2013
- Openbaring 5 – Die Lam van God is waardig om God se agenda uit te voer - October 23, 2013
- Openbaring 6 – God se oordeel ontvou met ses seëls - October 24, 2013
- Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskap - October 25, 2013
- Openbaring 8 – God hoor die gebede van die heiliges en verskerp sy verlossende oordeel - October 28, 2013
- Openbaring 9 – God se oordeel bring nie die mense tot bekering nie - October 29, 2013
- Openbaring 10 – Die kerk het die taak om die verlossing en die oordeel van God te verkondig - October 30, 2013
- Openbaring 11 – God beskerm sy mense en vestig sy heerskappy deur hulle getuienis - October 31, 2013
- Openbaring 12 – God beskerm sy kerk teen alle aanslae van die draak - November 1, 2013
- Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloof - November 4, 2013
- Openbaring 14 – Die oes van gelowiges en ongelowiges word ingesamel - November 5, 2013
- Openbaring 15 – Die oordeel breek onafwendbaar aan - November 6, 2013
- Openbaring 16 – God se oordeel tref die hele kosmos en vernietig Rome - November 7, 2013
- Openbaring 17 – Die omvang van Rome se bose invloed op die nasies word ontbloot - November 8, 2013
- Openbaring 18 – Die oordeel oor Babilon-Rome bring bevryding vir die kerk van die eeue - November 11, 2013
- Openbaring 19 – Gelowiges jubel oor die bruilofsfees van die Lam en God se regverdige oordeel en uitwissing van die Bose - November 12, 2013
- Openbaring 20 – Die oordeel oor die Satan baan die weg vir die bekendmaking van die mense in die Boek van die Lewe - November 13, 2013
- Openbaring 21 – God skep hemel op aarde vir sy volk, die Nuwe Jerusalem - November 14, 2013
- Openbaring 22 – God bring lewe en genesing – Die Here Jesus is op pad terug - November 15, 2013
- Opsomming van die boodskap van Openbaring
- Gemeentes in die weegskaal - July 29, 2019
- Pinkster 2020 – “Ek kom gou!” - May 8, 2020
- “Ek kom gou” – ‘n boek oor Openbaring deur Chris van Wyk - May 14, 2020
- Die “see van glas” soos kristal in Openbaring 4 - April 30, 2022
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Alwyn
Elke keer as ek hoofstuk 4 lees en oordeink word dit meer aangrypend Hierdie wonderlike ervaring om te kan deel in die Hemelse erediens waar God in al sy heerlikheid die prediker is. Praise en Glory soos dit nerens anders as in die Hemel ervaar word nie.
Chris van Wyk
Ek stem saam. Ons is geneig om te vlak te dink oor die liturgie in die erediens, so asof dit maar net uit ‘n paar liedere en gebede bestaan. Die hemelse liturgie is die basis van alles wat bestaan. Vanuit die hemelse liturgie verlos God die heelal, sorg Hy dat reg geskied, sorg Hy dat sy koningskap regdeur alles wat bestaan gevestig en geëer word. Net so behoort ons eie liturgie ons bediening te struktureer. Die erediens is baie belangriker as wat ons besef. Dit is die sentrale energiepunt waar ons by God se werk op aarde ingesluit word IN ons aanbidding.