Skip to main content

Openbaring 3 – Fokus op gemeenskap met Jesus

Hierdie hoofstuk bevat die laaste drie briewe wat Jesus aan die gemeentes dikteer.

Die boodskap aan Sardis – “Skrik wakker en versterk dié wat oorbly” – vers 1-6

Weereens hou die prentjie van Jesus verband met die prentjie van die gemeente.  Jesus word geteken as die Een wat nie net die Gees van die Here in sy volheid besit nie – voorgestel deur die sewe Geeste van God – maar ook die sewe sterre in sy hand hou – die sewe voorgangers van die gemeentes.  In Hom het hulle alles wat nodig is om oorwinnend te lewe.

Die boodskapper van die gemeente, sowel as die gemeente self, is egter in ’n tragiese geestelike toestand.  Hulle het die naam dat hulle lewe, maar hulle is eintlik geestelike lyke.  Hulle dade is in die oë van God net nie goed genoeg nie.  Al raad is om vyf dinge te begin doen, soos dit in vers 2-3 uitgespel word:

  • Hy/hulle moet wakker skrik uit die doodslaap van selfgenoegsaamheid waarin hulle verval het;
  • Hy/hulle moet dié versterk wat nog oorgebly het, sodat die herlewing van hulle af kan versprei;
  • Hy/hulle moet die boodskap – waarskynlik beide die roepingsboodskap van die boodskapper as die evangelie boodskap soos die apostels dit aan hulle oorgelewer het – in herinnering roep, dit weer omarm en daarvolgens begin lewe.
  • Hy/hulle moet dit bewaar, d.w.s. daarin volhard;
  • Hulle moet tot bekering kom, d.w.s. hulle lewens en denke vernuwe om volgens dié evangelie te leef.

Anders is dit verby met die boodskapper en die gemeente.

Tog is daar steeds klein tekens van lewe in die gemeente, mense wat hulle klere nie besoedel het met afgodsdiens en heidense gebruike nie, wat wit klere – simbool van suiwerheid en oorwinning – uit die hand van die Here sal ontvang, saam met die versekering dat hulle name nooit uit die boekrol van die lewe geskrap sal word nie.  Trouens Jesus belowe dat Hy self hulle in herinnering sal roep voor sy Vader en die engele.

Die boodskap aan Filadelfia – “Hou vas wat julle het, totdat Ek kom” – vers 7-13

Soos die geval was met die gemeente van Smirna, het die Here Jesus net goeie woorde wat Hy aan die boodskapper van die gemeente van Filadelfia rig. Ironies genoeg is dit ook die twee gemeentes waar die Joodse teenstand op sy hewigste was. Weereens hou die beskrywing van Jesus as die Een wat die sleutelmag het, verband met die oop deur wat Hy vir hulle en die verkondiging van die evangelie gee.

Hulle gehoorsaamheid is volgehou ten spyte van min krag.  Daarom sal die Here self die teëstanders voor hulle laat buig – die Joodse sinagoge, wat in hulle teëstand trekke van Satan aangeneem het – en hulle in die beproewing wat wêreldwyd kom, bewaar.  Hulle moet net vashou wat hulle het, totdat die Here Jesus kom.

As beloning sal hulle nie net ’n vaste pilaar in die tempel van God word nie, maar sy Naam sal op drie verskillende wyses op hulle geskryf word, as teken daarvan dat hulle totaal aan Hom behoort en dat Hy Hom met hulle assosieer.

Die boodskap aan Laodisea – “Wees dan ywerig en bekeer jou” – vers 14-22

Die skerpste oordeel van Jesus word gereserveer vir die boodskapper van die gemeente van Laodisea.

Die boodskap aan Laodisea  was dat hulle nóg koud, nóg warm is, maar louwarm.  Hulle was trots op hulle materiële voorspoed, maar het daarom nie hulle geestelike armoede raakgesien nie.  Daarom raai Jesus hulle aan om eerder ryk in God te word (suiwer goud van Hom te koop), onberispelik te lewe (wit klere om hulle onsedelikheid te bedek) en in geestelike insig (salf vir hulle oë) toe te neem.

Die gebruik van die terme koud, warm en louwarm moes besonder treffend Jesus se boodskap gekommunikeer het, want almal in Laodisea het geweet dat hulle water nie met dié van Kolosse (heerlike koue waterbronne), so tien km oos van hulle, en dié van Hiërapolis (heerlike warm waterbronne), so tien km noord van hulle, vergelyk kon word nie.  Hulle water het van die Danisli-bronne gekom en nadat dit oor ’n kalkkrans gestort het, louwarm en onsmaaklik by hulle aangekom.

Hulle geestelike lewe  was dus so louwarm en onsmaaklik soos hulle water!  Die oplossing was om God ywerig te begin gehoorsaam, aan sy stem gehoor te gee, die geestelike deur van hulle persoonlike en gemeentelike lewe vir Hom oop te maak en in gemeenskap met Hom te leef.  Só sou hulle deel kon hê aan die koninkryk van God saam met Jesus.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Openbaring


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…