Skip to main content

Inleiding op Openbaring

Die boek Openbaring is die belangrikste boodskap wat Jesus Christus aan sy kerk gegee het in ’n openbaring aan Johannes.  Dit is aan die een kant die testament van sy nalatenskap aan ons, maar aan die ander kant ook sy agenda met die verlossingsplan vir die wêreld.  Die agenda sluit die kerk in, dit omvat die heelal en dit word in die geskiedenis uitgewerk.

Openbaring handel nie net oor die apokaliptiese dinge van die eindtyd wat naby is nie, maar bemoedig en versterk gelowiges om vas te staan in geloof en getrou te bly aan die opdrag om as koninkryk van priesters vir God die Vader op te tree (Openb. 1:6) ten spyte van die aanslag op hulle lojaliteit en verbintenis aan God (12:17; 13:7-10, 11 vv).  Die motivering vir hierdie opdrag is dat God  besig is om sy heerskappy te vestig om as alleenheerser ook op die aarde erken te word (Openb. 11:15) soos dit reeds die geval in die hemel is.

Dié boodskap sluit aan by die boodskap van die Evangelies sowel as die Briewe van die NT.  Met Jesus se menswording het die eindtyd immers reeds aangebreek, die kairos (tyd) is vervul vir die tyd van God se koninkryk, die tyd van die evangelie.  Dit roep mense op tot bekering en geloof (Mrk. 1:15).  Petrus sê daarom van Jesus se menswording dat dit in die “laaste tye geopenbaar is” (1 Pet. 1:20 – soos dit oorspronklik in die Grieks geskryf is).  En Johannes verwoord die tyd waarin ons nou leef as die “laaste uur” (1 Joh. 2:18), die tyd net voor die einde, dié dinge wat “gou moet gebeur” (Openb. 1:1).

Skrywer

Openbaring is waarskynlik geskryf deur die apostel Johannes (Openb. 1:2, 4, 9), een van die seuns van Sebedeus, wat ook verantwoordelik was vir die evangelie van Johannes, sowel as die drie Johannese briewe.  Só word dit in die kerklike tradisie aangedui, onder andere deur Justinus die Martelaar (155 n.C.), hoewel daar nie enige interne getuienis daaroor in die geskrif self is nie.  Johannes het saam met sy broer, Jakobus, wat ook een van die apostels was, by Jesus die bynaam van Boanerges of “manne van die donder” gekry (Mrk. 3:17), maar hy was ook bekend as die een wat Jesus lief gehad het (Joh. 21:20).

Johannes was ten tye van dié openbaring op die eiland Patmos.  Patmos was naby aan Efese in die Egeïese See van Klein-Asië (Turkye) geleë.  Omdat ons weet dat die apostel Johannes die laaste deel van sy lewe daar deurgebring het, maak dit die identifikasie van die skrywer van Openbaring met die apostel Johannes heel waarskynlik.

Daar is redelike eenstemmigheid dat hy die visioene aan die einde van die tyd van keiser Domitianus (81-96 n.C.) , ongeveer 95 n.C., gesien het. Dit is onder andere volgens die getuienis van die kerkvader Irenaeus oor Johannes, maar klop ook met die interne gegewens van die boek oor die vervolging waaraan die gemeentes blootgestel is.  Irenaeus het in die laaste helfte van die 2de eeu n.C. opgetree, is interessant genoeg juis gebore in een van die gemeentes wat in Openbaring genoem word, Smirna,  maar word later biskop in Lyons, Frankryk, vêr van sy geboorteland,  Hy is een van die groot apologete van sy tyd wat vir die waarheid van die evangelie gestry het, sowel as ’n uitnemende pastor wat in sy gemeente en geloofsgemeenskap daarvoor geëer is.

Indeling

Daar is baie maniere om die boek Openbaring in te deel.  Sommige kyk spesifiek na die wydverspreide voorkoms van die getal sewe (gemeentes, seëls, trompette, bakke en so meer) en deel die boek aan die hand daarvan in (vgl. by Aune vir ’n deeglike bespreking).

Ek vind myself in die indeling van Jan Du Rand (Die A-Z van Openbaring) wat die boek in drie dele aanbied.  Dit maak baie sin in terme van die inhoud wat in die onderskeie dele aan die orde gestel word:

  • God is deur Christus in sy kerk teenwoordig soos gesien kan word in die wyse waarop Hy die sewe gemeentes begelei (hfst. 1-3);
  • God is deur Christus besig om in die heelal verlossing en oordeel te laat ontplooi, veral aan die hand van die beskrywing van die sewe seëls van die boekrol wat deur die Lam oopgemaak word, wat op hulle beurt die sewe trompette wat God se heerskappy aankondig, inlei (hfst. 4-11);
  • God is deur Christus besig om in die geskiedenis verlossing en oordeel te laat ontplooi wat begin met die geboorte van die Christuskind (12:1-2) en eindig met die wederkoms van Jesus Christus (19:1 vv.).  Die bose driemanskap – die draak (12:3), die dier uit die see (13:1) en die dier uit die aarde (13:11) – veg om die lojaliteit van die gelowiges (12:11,17), maar word in die proses deur die Drie-enige God – die Vader (14:1), Christus die Lam (14:4) en die Gees (14:13) – getroef in ’n reeks oordeelsvoltrekkings wat met sewe bakke beskryf word, waarna die bruilof van die Lam ’n aanvang neem met die aanbreek van die nuwe hemel en aarde (hfst. 12-22).

God is dus besig in die kerk, in die heelal, en in die geskiedenis. Hy doen dit as Vader deur Sy Seun Jesus Christus en deur die Gees. Hy fokus op verlossing asook op oordeel. Hy staan die Bose teë in die stryd om gelowiges se lojaliteit.  Dit is ook die hart van die boodskap van die boek.

Dis daarom ‘n boek wat ons visie op God en sy betrokkenheid by alles wat bestaan wil verdiep sodat ons met moed en verwagting die geloofstryd in die koms van die koninkryk sal stry.

Wat meer is, Hy stuur ons as gelowiges onder begeleiding van die Heilige Gees om die wêreld daarvan te oortuig. Hy is die alleenheerser in die heelal en wil almal op die aarde onder sy heerskappy verenig.

Boodskap

Openbaring is gerig aan die diensknegte van Jesus Christus (1:1) en aan die sewe gemeentes in die provinsie Asië (1:4) – Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.

Dit was ’n tyd waarin keiserverering ’n hoogty gevier het, met ’n tempel wat onder andere in Efese ter ere van Domitianus opgerig is, waarin hy waarskynlik ook aanbid is.  Dit het groot druk op die Christen gelowiges geplaas, waarin hulle nie net vervolg is nie – soms openlik en bloedig, en ander kere meer subtiel – maar ook blootgestel is aan die verleiding om kompromieë met hulle omgewing se waardes, houdings en lewenstyl aan te gaan.  Daarom gebruik Openbaring sulke simboliese taal, soos om die naam Babilon vir Rome te gebruik, sodat die boodskap by die mense vir wie dit bedoel is, kan uitkom, sonder om hulle die gramskap van die owerhede op die hals te haal.  Johannes was immers verban ná Patmos toe as deel van die vervolging (1:9).

Die Christene was egter nie net onder skoot van die Romeine nie.  Daar was ook ’n aktiewe veldtog teen die Christene vanuit die Joodse sinagoges wat die Christene as ketters beskou het en met venyn en vyandigheid hanteer het (vgl. Openb. 2:9 waar Johannes van die Jode as ’n sinagoge van Satan praat wat die gelowiges in Smirna verdruk het en Openb. 2:13 waar hy van die martelaar Antipas praat wat doodgemaak is “daar by julle waar die Satan bly”).

Tussen dié twee vyandige pole moes die Christene hulle weg vind.  Johannes bemoedig hulle met die visie op wie God is en hoe Hy op allesomvattende wyse in die kerk, die heelal en die geskiedenis te werk gaan.

’n Paar opmerkings oor die boek en sy boodskap:

  • Die boek is die openbaring (apokalips – dit beteken ook onthulling of bekendmaking) van Jesus Christus deur ’n engel aan sy dienskneg Johannes om aan Sy ander diensknegte te toon wat gou gaan gebeur (1:1). Dit dra die boodskap oor dat: 1) verlossing nie van binne af uit die wêreld moontlik is nie, maar van buite af moet kom – soos dit altyd in apokaliptiese geskrifte beskryf is – en 2) dat die verlossing van God af, van Jesus Christus en die Gees af, sal kom.
  • Alles wat in die boek beskryf word, gebeur tussen Jesus Christus se eerste koms en sy tweede wederkoms. Dit beteken dat Openbaring nie ‘n suiwer apokalips is nie, maar ook ‘n profetiese geskrif wat God se wil uitspel vir die hede. Apokalipse het tradisioneel net ‘n radikale breuk met die hede verwag in ‘n toekomstige transformasie. Die boek Openbaring verwag ook ‘n radikale transformasie in die toekoms, maar hou volledig rekening met die verandering wat God reeds in Jesus Christus gebring het met sy eerste koms, en sy voortgaande uitwerking daarvan in verlossing en oordeel in die kerk, heelal en die geskiedenis. Die boek is dus eerder ‘n profetiese geskrif wat vanuit ‘n apokaliptiese perspektief geskryf is.
  • Jesus Christus is die instrument van God se verlossing asook van sy oordeel. Só word Hy in die eerste hoofstuk aan ons bekend gestel. Hy is: “die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde. Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen. Kyk, Hy kom met die wolke, en al die mense sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; en al die volke van die aarde sal oor Hom in selfverwyt weeklaag. Ja, dit is seker!” (Openb. 1:5-6). Jesus bring dus verandering van buite af (apokalipties) en van binne af (profeties) – en daarby kan jy voeg, ook priesterlik (5:12 – die Lam wat geslag was) en koninklik (11:15) soos die res van Openbaring gaan uitlê.
  • Johannes tree as Jesus Christus se profeet en gestuurde op om dit aan gelowiges in die gemeentes van Klein-Asië wat vervolg word, bekend te maak, om hulle te bemoedig in hulle geloofstryd. Die visie op God en sy betrokkenheid in die kerk, heelal, en geskiedenis moet hulle hande sterk om aan God getrou te bly in die hede, en die boodskap van sy teenwoordigheid vandag in verlossing en oordeel uit te dra. Hulle is sy koninkryk van priesters vir God sy Vader.
  • Johannes tree beide as profeet en apokaliptiese prediker op en gebruik apokaliptiese visioene om sy boodskap oor te dra. Hy sien die Goddelike agenda ontvou in visioene, hy hoor God se geopenbaarde wil vir die lewe en hy dra dit in opdrag van Jesus Christus aan almal oor wat ore het om te hoor en oë om te lees. Daarom word sy boodskap ook as ‘n brief aan die gelowiges van sy tyd geskryf en gestuur. Die boek kan dus drievoudig beskryf word, as ‘n apokalips, ‘n profesie, en ‘n brief (Du Rand, hfst. 1).
  • Die sewe gemeentes wat in hoofstuk 1-3 genoem word, het in volgorde in ‘n halwe sirkel gelê in Klein-Asië, die hedendaagse Turkye. Hulle ligging het dus waarskynlik die orde bepaal waarin Johannes sy boodskap aan hulle geformuleer het.
  • Die getalle en tydperke in Openbaring moet teologies verstaan word – en terme van wat dit oor God en sy werk sê – en nie as mistieke letterlike berekenings van gebeure in die toekoms nie. Dit probeer iets oor God en sy heerskappy sê en nie soseer iets oor datums in die geskiedenis nie (Du Rand hfst. 1).

Hoe om Openbaring te lees

Hierbo het ek reeds ’n hele paar leidrade gegee wat jou kan begelei in die lees van die boek Openbaring.  Soos jy vorder met die lees van die boek, kan jy gerus van tyd tot tyd terugkom en jouself herinner aan die feit dat jy teologies moet lees, dat die boek jou wil help verstaan wat God doen, wat aan die gang is in die wêreld en hoe jy daarop moet reageer.

Maar, uiteindelik moet ’n mens die boek ook “geestelik” lees, as God se woord aan jou in jou spesifieke omstandighede.  Die inligting wat ek gee, help jou om sin te maak van gedeeltes wat moeiliker is om te verstaan en gee jou ’n groter raamwerk om jou eie verstaan in te pas en ook te toets, sodat jy nie van die spoor afgaan met moeiliker gedeeltes nie.  Maar, die Bybel is God se woord aan jou en daarom moet jy dit ook binne jou verhouding met die Here lees.

Ek het al baie maniere van lees deur die loop van die Bybelskool voorgestel.  Die een wat vir myself die beste werk, is soos volg:

  1. LEES – Raak stil voor die Here.  Lees die teksgedeelte deeglik deur, desnoods 2 of 3 keer, hardop as dit kan.  Wat tref jou?  Let op vir temas in die gedeelte.  Wat sê dit van God?  Wat sê dit van mense?  Wat sê dit van die wêreld?  Soek vir een sleutel gedagte wat jou besonderlik tref.  Skryf dit in jou joernaal neer.  Lees dan wat ek geskryf het (ek lees daarvoor kommentare) en dink na oor wat jou daarin tref.
  2. LUISTER – Dink na oor wat God vir jou deur die sleutel gedagte wil sê.  Waar raak hierdie gedagte jou lewe in die praktyk?  Wat vra dit van jou?  Wat belowe dit vir jou?  Wat moet jy dink of doen daarmee?  Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe?  Dit help my sin maak van my eie ervarings in die lig van God se Woord.
  3. LEEF – Besluit hoe jy daarop gaan reageer.  Sê dit vir die Here in gebed.  Skryf dit in jou joernaal.  Geniet Sy teenwoordigheid.  Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag.  Leef dit uit.

Die proses sal gou só deel van jou manier van lees word, dat jy dit eintlik outomaties sal kan doen: lees, luister, leef.  Jy is welkom om dit só te gebruik of aan te pas vir jou eie behoeftes.

Lectio Divina

Indien jy ’n meer omvattende Lectio Divina metodiek wil gebruik, kan jy hierdie een van Alice Fryling (The Art of Listening) gebruik wat ek self baie sinvol vind, hoewel ’n mens meer tyd hiervoor opsy moet sit.  Dit werk met 6 bewegings:

  1. Silencio – kom tot rus voor God en aanvaar die uitnodiging om in Sy teenwoordigheid te wees.  Gebruik musiek, óf ’n Psalmvers, óf ’n meditasie oefening, óf net die stilte van die omgewing.  Dink na oor wat sleg was die afgelope dag (week).  Vra die Here vir vergifnis, verandering, vertroosting.  Dink na oor wat goed was die afgelope dag (week).  Sê vir die Here dankie daarvoor.  Bid vir insig in jou lees van die Bybel.
  2. Lectio – lees die Skrifgedeelte, hardop indien moontlik, en fokus op die verse of gedagtes wat jou tref.  Dink na oor temas in die gedeelte.  Wat sê dit van God?  Wat sê dit van mense?  Wat sê dit van die wêreld?  Soek vir een  sleutel gedagte wat jou besonderlik tref.  Skryf dit in jou joernaal neer.  Lees my bydrae en dink na oor wat jou daarin tref.
  3. Meditatio – kies een gedagte, en oordink die praktiese impak van die gedagte op jou lewe.  Dink na oor wat God vir jou deur die sleutel gedagte wil sê.  Waar raak die gedagtes in die Bybel jou lewe in die praktyk?  Wat vra dit van jou?  Wat belowe dit vir jou?  Wat moet jy dink of doen daarmee?  Wat is die boodskap van dié gedagte vir jou dag en lewe?  Besluit hoe jy gaan reageer daarop.
  4. Oratio – antwoord God in gebed daarop.  Fokus op dit wat jy ervaar die Here op jou hart lê.  Doen ook voorbidding.  Skryf dit alles neer in jou joernaal.
  5. Contemplatio – geniet God se teenwoordigheid sonder om te praat.  Dit kan ’n paar minute wees of langer.  Spandeer een keer ’n week ’n bietjie meer tyd hieraan.
  6. Incarnatio – wees gehoorsaam aan wat God sê.  Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

As jy meer oor die tradisionele aanpak van Lectio Divina wil lees, kan jy Luke Dysinger se weergawe hier aflaai (http:/www.ngkerksomerstrand.co.za/blog/WP-content/uploads/2010/01/LectioDivina.pdf).

Vir Bybelstudiegroepe en Bybelskole

Laat elkeen die gedeeltes lees wat ek publiseer by www.bybelskool.com (registreer by die webtuiste as jy dit in jou Inbox wil ontvang) en vir hulle persoonlike stiltetyd gebruik soos hierbo beskryf.  Kom ooreen op die aantal hoofstukke wat julle elke week gaan lees.  Julle kan byvoorbeeld kies om 5 gedeeltes ’n week te lees, soos ek doen, en dan weekliks by mekaar kom om dit te bespreek.  Julle kan dit natuurlik ook oor ’n langer tydperk deurlees.

Gebruik dan die volgende proses vir julle byeenkoms:

  1. LEES – Raak stil voor die Here.  Gebruik van die voorstelle hierbo van die Silencio  van Lectio Divina.  Laat elkeen een kort teksgedeelte voorlees uit die hoofstukke wat julle gelees het, en deel wat hom of haar daarin getref het.  Gebruik julle joernale.  Deel dan met mekaar watter temas julle raakgesien het in die onderskeie bydraes.  Watter ander gedagtes wil julle byvoeg?  Wat sê dit van God?  Wat sê dit van mense?  Wat sê dit van die wêreld?
  2. LUISTER – Dink na oor wat God vir julle as groep deur al die gedagtes wil sê.  Waar raak hierdie gedagtes julle lewe in die praktyk?  Wat vra dit van julle?  Wat belowe dit vir julle?  Wat moet julle dink of doen daarmee?  Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir julle lewe?
  3. LEEF – Besluit hoe julle daarop gaan reageer.  Sê dit vir die Here in gebed.  Doen ook voorbidding.  Geniet Sy teenwoordigheid.  Laat die boodskap wat God julle gee met julle saamgaan tot die volgende byeenkoms.  Leef dit uit.

Indien die stof in ’n Bybelskool hanteer word, en daar baie deelnemers is, kan die groep óf in kleiner groepe opgedeel word, met ’n kleingroepleier wat die gesprek in elke kleiner groep begelei, waarna terugvoer gegee word aan die hele groep.

Óf die leier van die Bybelskool kan in wisselwerking met die groep meer tyd spandeer om  hulle insigte en vrae te fasiliteer en hoofstuk vir hoofstuk of tema vir tema deur die Bybelteks werk.  Fokus telkens op wat die afgelope week se leeswerk vir julle van God sê, van mense, en van die wêreld.

Probeer om deelnemers se verstaan van die Bybelteks op te helder, veral in die hantering van hulle insigte en vrae.  Lei die gesprek altyd ook in die rigting van die betekenis daarvan vir julle as gemeente, en vir elkeen persoonlik.  En beklemtoon dat ons eers regtig die teks verstaan wanneer ons begin om dit wat ons lees ook uit te leef.

Skedule vir die leeswerk

Teks Datum

Byeenkoms

Open. 1-5 17-23 Okt.

23 Okt.

Open. 6-10 24-30 Okt.

30 Okt.

Open. 11-15 31 Okt-6 Nov.

06 Nov.

Open. 16-22 7-13 Nov.

13 Nov.

1 Joh. 1-5 14-20 Nov.

20 Nov.

2&3 Joh., Judas 21-27 Nov.

27 Nov.

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Openbaring


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar