Openbaring 2 – Bly getrou tot by die Wederkoms
Die Here Jesus dikteer vervolgens aan Johannes sy onderskeie boodskappe aan die sewe gemeentes. Telkens lui die opskrif van die (brief)boodskappe: “Skrywe (ook) aan die boodskapper van die gemeente in …” Die term boodskapper val op, want dieselfde woord as dié vir engel in 1:1 word gebruik. Hier is dit egter nie die engel van Jesus Christus nie, maar die engel of boodskapper van die gemeente, d.w.s. die leier, leraar of voorganger van die gemeente, soos dit in baie vertalings weergegee word.
Meesal word die boodskapper in die enkelvoud aangespreek wat die boodskap oordra dat die leierskap in die gemeente ’n baie spesifieke verkondigingstaak het, ’n taak wat die Here self aan hulle opgelê het en waaraan Hy hulle getrouheid, al dan nie, meet. Die N.A.V. vertaal ongelukkig regdeur in die meervoud, wat dié feit wegvertaal.
Maar dit is darem ook duidelik dat die boodskap vir die hele gemeente bedoel is, soos dit ook eksplisiet in die brief aan Tiatira vermeld word (2:23-24) en elke keer aan die einde van ’n brief meervoudig geïnterpreteer word: “luister na wat die Gees aan die gemeentes sê.” Elke boodskap bevat ook elemente wat eintlik op alle gemeentes van toepassing is (2:23). Soos die opskrif van elke brief aan ’n gemeente oorspronklik geskryf is, rus daar egter ook ’n dure plig op dié in leierskap om hulle begeleidingsrol – soos deur die Here aan hulle toevertrou – met oorgawe te vervul.
In vier van die briewe word gefokus op ’n eerlike beoordeling van die sterk en swak punte van die gemeentes, en word hulle begelei met vermaninge en voorstelle hoe om te luister na wat die Gees sê en hulle lewens daarom heen in te rig – Efese, Pergamum, Tiatira en Sardis. Twee gemeentes – Smirna en Filadelfia – word net geprys en een gemeente – Laodisea – word net bestraf.
Wat ook opval is dat van die beskrywings van Jesus in hoofstuk een verspreid teruggevind kan word in die briewe aan die sewe gemeentes – sewe sterre en lampe in die brief aan Efese; Eerste en Laaste in die brief aan Smirna en so meer.
Die boodskap aan Efese: “Herontdek julle eerste liefde” – 2:1-7
Die stad Efese was nie net die belangrikste stad in Wes-Turkye nie, maar het ook die belangrikste gemeente in daardie geweste gehuisves. Die uitstaande kenmerk van die voorganger en daarom ook van die gemeente was dat hulle nougeset gedoen het wat God vra en veral sorg gedra het dat alles leerstellig suiwer gebeur. Daarom het hulle valse apostels uitgewys en die Nikolaïete se dade (nie die mense self nie) gehaat. Die Nikolaïete – wat ook in Pergamum voorgekom het (2:15) – was mense wat godsdienstige en sedelike kompromieë met hulle omgewing aangegaan het, hoewel dit nie nader beskryf kan word nie.
Maar die voorganger en die gemeente het hulle eerste liefde verlaat. Hulle het God nie meer so lief gehad soos by die begin van hulle Christelike lewe nie. Hulle dade was onberispelik, hulle het volhard onder moeilike omstandighede, hulle het suiwerheid in leer en lewenswandel nagejaag, maar hulle het hulle entoesiasme en Gees-drif verloof. Dit is immers waarvoor Paulus hulle vroeër geprys het in sy brief aan die Efesiërs uit Rome in die sestigerjare. Maar nou, skaars dertig jaar later, was hulle nie meer gewortel en gegrondves in die liefde nie (Ef. 3:17-19). Hulle was baie besig met die dinge van die Here, maar nie meer so baie met die Here van die dinge nie.
Jesus se boodskap aan hulle is – onthou en herstel die verhouding soos dit aan die begin was. Daarom herinner Hy hulle in die eerste vers aan sy teenwoordigheid by beide die voorgangers (sterre) en in die gemeentes (kandelare). Anders loop die gemeente die gevaar om tot niet te gaan. Sy belofte is dat Hy dié wat oorwin van die boom van die lewe wat in God se paradys staan, sal laat eet. Dit is die boom wat Adam en Eva versmaai het en ná hulle ongehoorsaamheid vir hulle onbereikbaar gemaak is (Gen. 3:24). Dit word nou die hart van die belofte aan hulle, soos die boom se blare aan die einde van die boek die belofte van genesing van alle nasies sal word (22:2).
Die boodskap aan Smirna: “Bly getrou tot die dood toe” – 2:8-11
Die voorganger en gemeente in Smirna word net geprys en dit vir hulle “rykdom” in God deur getrou te bly ten spyte van hulle armoede, die groot lasterlike teenstand van die Jode – die sinagoge van Satan – en die verdrukking deur die duiwel self, God se groot teenstander. Wat hulle moet help om vas te staan, is die besef dat die funksie van die teenstand en verdrukking is om hulle volharding te toets. Daardeur word hulle die voorreg gegee om hulle diep solidariteit met die lydende Christus ten toon te stel.
Die Here Jesus bemoedig die voorganger en gemeente aan om getrou te bly, selfs al kos dit hulle dood. Só sal hulle verseker nie die tweede dood smaak nie (vgl. 20:14; 21:8) en die oorwinnaarskrans (soos die lourierskrans wat met oorwinning geassosieer is) van die lewe ontvang. En Hy bemoedig hulle deur hulle te herinner daaraan dat Hy self tot die dood toe getrou was en uit die dood opgestaan het.
Die boodskap aan Pergamum: “Getroue bekeerlinge ontvang geestelike voedsel” – 2:12-17
Pergamum was een van die hoofsentrums van keiseraanbidding in die streek, met ’n reuse-altaar vir Zeus, die verlosser god. Dit was ook die plek waar Asklepius, die god van gesondheid – gesimboliseer deur ‘n slang (mediese simbool) – aanbid is.
Midde-in hierdie uitdagende omgewing – waar die Satan bly – het die voorganger en die gemeente aan die Here getrou gebly selfs toe Antipas, een van die gemeente se getroue getuies, die hoogste prys vir sy getrouheid moes betaal.
Hulle getrouheid het ongelukkig nie uitgesluit dat sommige van hulle die onsedelike leer van Bileam aangehang het wat tot afgodsdiens gelei het nie, sowel as die soortgelyke leringe van die Nikolaïete, wat ook die geval was in Efese. Nie net die afvalliges nie, maar die hele gemeente word daarom opgeroep om hulle daarvan te bekeer, anders sal die Here self die gemeente bestry deur een of ander vorm van oordeelsprediking (swaard van my mond).
Twee geskenke sal gegee word aan dié wat oorwin: die verborge manna en ’n wit klippie.
- Die verborge manna kan verbind word met óf die kruik manna in die ark as vooruitskouende simbool van die hoëpriesterlike werk van Christus (Eks 16:32-24; Hebr. 9:4 vv), óf die nagmaal (só praat Paulus oor die manna in 1 Kor. 10:3-4), óf geestelike voedsel wat weggesteek word vir ongelowiges. Dit kan ook ’n kombinasie van dié drie perspektiewe wees (Du Rand, hfst. 6).
- Die wit klippie met ’n nuwe naam (vgl. Jes. 62:2 waar dieselfde gedagte voorkom) daarop gegraveer, funksioneer – soos dit in die Griekse wêreld die geval was – as toegangsbewys tot die bruilofsfees van die Lam.
Die boodskap aan Tiatira: “Hou vas aan die Seun van God tot met sy wederkoms” – 2:18-29
Tiatira was bekend vir sy groot hoeveelheid gildes of vakbonde waarom die lewe in die stad gedraai het. Lidia van Filippi, die vrou wat met wol handel gedryf het, was bv. van Tiatira afkomstig (Hand. 16:12-15). Omdat die gode aan dié gildes verbind was, het dit die werksituasie van Christene baie bemoeilik.
Jesus kondig Homself nou in teenstelling met dié gode as die Seun van God aan in die gemeente van Tiatira, die Een wat nie net alles sien nie (oë soos ’n vlammende vuur), maar in sy wese standvastig en heerlik is (voete soos gloeiende koper). Hy kan midde-in só ’n verlammende situasie stabiliteit bring, vir dié wat aan Hom sal vashou tot met die Wederkoms.
Jesus prys hulle vir hulle dade, liefde, diens en volharding (soos dit in die oorspronklike staan) wat op die koop toe steeds in ’n groeiende fase is.
Hy het net een ding teen hulle en dit is dat hulle nie optree teen die vrou Isebel nie, die een wat ons herinner aan die Baäl-aanbiddende koningin van Israel, Agab se vrou, wat met Elia swaarde gekruis het (1 Kon. 17 vv). Sy het hulle verlei om kompromieë aan te gaan met hulle omgewing wat tot onsedelikheid aanleiding gegee het en van die gemeentelede die sogenaamde “diepere dinge van Satan” laat leer ken het. Dit dui waarskynlik op die Gnostiese leerstellings wat geleer het dat dit nie saak maak hoe jy lewe nie, maar net saak maak wat jy weet en wat jy glo. Jou geloof hoef dus nie in ’n lewenstyl beliggaam te word nie.
Die probleem was nie net dat Isebel toegelaat is om haar verleidelike invloed in die gemeente uit te oefen nie, maar dat sommige van die gelowiges haar nagevolg en haar leer aangegryp het en daaraan meegedoen het. Dit het die getuienis van die gemeente ernstig in die gedrang gebring.
Interessant genoeg word Isebel ’n kans gegee om haar te bekeer deur haar aan siekte te onderwerp. Dieselfde geld haar volgelinge. Dié oordeel sal God se regverdigheid en soewereiniteit bevestig, sodat almal sal weet dat dit Hy is: “wat die niere en harte deurgrond,” ’n Hebreeuse idioom wat dui op die mens se diepste begeertes (niere as setel van emosies) en gedagtes (hart as setel van die intellek).
Dié wat egter kies om aan God getrou te bly, spring dié oordeel vry. Hulle sal ook ’n deel kry aan die Messiaanse heerskappy oor die nasies in ’n sinspeling op Psalm 2 en ontvang Venus, die môrester, die simbool van die nuwe dag wat in God se koninkryk met Jesus se Wederkoms sal aanbreek.
View all posts in this series
- Die Openbaring aan Johannes – Jesus Christus se testament en agenda - September 9, 2013
- Inleiding op Openbaring - October 16, 2013
- Openbaring 1 – Jesus Christus maak bekend wat hierna gaan gebeur - October 17, 2013
- Openbaring 2 – Bly getrou tot by die Wederkoms - October 18, 2013
- Openbaring 3 – Fokus op gemeenskap met Jesus - October 21, 2013
- Opsomming van Jesus se boodskap aan sy kerk
- Openbaring 4 – God word as Skepper in die hemelse troonsaal aanbid - October 22, 2013
- Openbaring 5 – Die Lam van God is waardig om God se agenda uit te voer - October 23, 2013
- Openbaring 6 – God se oordeel ontvou met ses seëls - October 24, 2013
- Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskap - October 25, 2013
- Openbaring 8 – God hoor die gebede van die heiliges en verskerp sy verlossende oordeel - October 28, 2013
- Openbaring 9 – God se oordeel bring nie die mense tot bekering nie - October 29, 2013
- Openbaring 10 – Die kerk het die taak om die verlossing en die oordeel van God te verkondig - October 30, 2013
- Openbaring 11 – God beskerm sy mense en vestig sy heerskappy deur hulle getuienis - October 31, 2013
- Openbaring 12 – God beskerm sy kerk teen alle aanslae van die draak - November 1, 2013
- Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloof - November 4, 2013
- Openbaring 14 – Die oes van gelowiges en ongelowiges word ingesamel - November 5, 2013
- Openbaring 15 – Die oordeel breek onafwendbaar aan - November 6, 2013
- Openbaring 16 – God se oordeel tref die hele kosmos en vernietig Rome - November 7, 2013
- Openbaring 17 – Die omvang van Rome se bose invloed op die nasies word ontbloot - November 8, 2013
- Openbaring 18 – Die oordeel oor Babilon-Rome bring bevryding vir die kerk van die eeue - November 11, 2013
- Openbaring 19 – Gelowiges jubel oor die bruilofsfees van die Lam en God se regverdige oordeel en uitwissing van die Bose - November 12, 2013
- Openbaring 20 – Die oordeel oor die Satan baan die weg vir die bekendmaking van die mense in die Boek van die Lewe - November 13, 2013
- Openbaring 21 – God skep hemel op aarde vir sy volk, die Nuwe Jerusalem - November 14, 2013
- Openbaring 22 – God bring lewe en genesing – Die Here Jesus is op pad terug - November 15, 2013
- Opsomming van die boodskap van Openbaring
- Gemeentes in die weegskaal - July 29, 2019
- Pinkster 2020 – “Ek kom gou!” - May 8, 2020
- “Ek kom gou” – ‘n boek oor Openbaring deur Chris van Wyk - May 14, 2020
- Die “see van glas” soos kristal in Openbaring 4 - April 30, 2022
Andre Kritzinger
Dankie – dis weer eens so ryk en so vol dat ek dit nie in een sessie kan “verteer” nie. Seënwense vir Openbaring.
Chris van Wyk
Ja, ‘n mens het eintlik tyd nodig om elke brief in ‘n aparte sessie te verteer, om só die betekenis daarvan kans te gee om diep in ‘n mens se lewe te laat insink.